Die snip van Sesdorings. Ettie Bierman

Читать онлайн книгу.

Die snip van Sesdorings - Ettie Bierman


Скачать книгу
kliënte oophou? Dis gruwelik eiegeregtig om die motor te laat wegsleep en sonder die eienaar se toestemming te verkoop. En wat sou daardie rekening vir die herstel van beskadigde eiendom wees? En die obstruksie? Nog steeds te doene met daardie lyndrade wat Oupa noodgedwonge moes knip en die motorhek wat hy nie anders kon as om te breek nie? Of was dit iets anders waarvan oupa Drik haar nie geskryf het nie?

      Hennie het gedink haar terugkeer na Sesdorings sal vol nostalgie en mooi herinnerings wees. Dog die Meirings het dít ook vir haar bederf en sy merk skaars die kameeldorings wat in volle geel bloei staan en die ondergaande son wat die Noord-Transvaalse bosveld in ’n sagte ligroos wasigheid kleur. Die mooi prentjie van die tarentale wat streep-streep slaapplek vir die nag soek, is vir haar verlore en so ook die blinkvlerkspreeu wat protesterend uit ’n wilde seringboom vlieg toe ’n rooi gevaartetjie met skuiwende bande en gehul in ’n stofwolk om die draai verskyn.

      Die Volkswagen se afstandsmeter werk nie, maar Hennie het op die kop halfses van die nasionale teerpad afgedraai en ’n gemiddelde snelheid van omtrent veertig kilometer per uur gehandhaaf. Toe dit kwart voor sewe word, werk sy uit dat sy nou ongeveer vyftig kilometer ver gery het en kyk solank uit vir die twee plat koppies net duskant Sesdorings. Daar is egter geen teken van die rantjies nie en skielik kom sy agter dat die masjien nie reg dreun nie. Daar is ook ’n eienaardige reuk in die motor.

      Hennie sprinkel ’n halfbottel eau de Cologne oor haar hemp en seilbroek en sluit haar ore vir die geluid wat soos skuurpapier teen metaal klink. Was haar pa reg? Het sy met hierdie vernielde klein motortjie vir haar ’n kat in die sak gekoop?

      Ná nog omtrent ’n driekwartier se ry is daar nog steeds geen teken van ’n rooi baksteengeboutjie in ’n plaat doringbome nie. Haar bottel reukwater is leeg, die bedompige reuk het haar ’n hoofpyn gegee en die masjien ruk-ruk elke keer as sy die brandstofpedaal wegtrap.

      “Asseblief,” vra Hennie woordeloos. “Laat ek om die volgende draai daardie twee plat koppe in die motorligte sien. Asseblief, moenie dat ek verdwaal het nie. Moenie dat ek iewers verkeerd afgedraai het of dat die pad dalk verlê is sedert ek laas hier was nie.”

      Dog om die volgende draai is daar nog steeds net plat wêreld en ’n mielieland en skielik uiter die arme siek masjien ’n laaste patetiese klettering, voordat dit vir oulaas ruk en dan heeltemal staak.

      Hennie trap die brandstofpedaal paniekbevange en ruk en pluk die aansitter, dog daar is geen reaksie nie. Daar is te veel diep sand in die pad en die momentum van die motor is nul. Hennie kry dit nie eers uit die middel van die pad nie en toe sy uitklim om dit te probeer stoot, steek die Volkswagen viervoet was en kan sy hom geen sentimeter verroer nie.

      “Jy kan nie dít aan my doen nie, Vollie,” praat Hennie mooi. “Ek het duur vir jou betaal en jy kan my nie in die steek laat nie.” Sy druk ’n soentjie op die stowwerige rooi neus. “Asseblief, nog net so ’n ou entjie … Ek is seker Sesdorings lê net om die draai. Gaan jy my soontoe neem? Toe, jy en ek het mos vriende gemaak toe ek jou so mooi skoongemaak het …”

      Hennie se vriendjie wil egter niks weet nie. Die masjien is morsdood en al teken van lewe is die twee kopligte wat half skeel en oormekaar die donker lug in wys en die toeter wat darem nog werk.

      Wat nou? wonder Hennie. Die motor sluit en begin aanstap met die hoop dat Sesdorings regtig net om die volgende draai lê, soos sy haar al die afgelope twee uur optimisties probeer wysmaak het? Hennie kyk na die donker veld om haar en sy sien nie kans vir dáárdie proposisie nie. Nee, besluit sy. Sy kan dit nie doen nie. ’n Motor wat vinnig om die draai kom, sal die Volksie dalk nie sien staan nie en dit kan ’n ongeluk veroorsaak. En wie sê hier is nie dalk leeus in die omgewing nie? Nee, sy sal maar die deure sluit, die parkeerligte aangeskakel hou en haarself so gemaklik moontlik vir die nag maak. Koud sal sy nie kry nie en van honger en dors sal sy ook nie omkom nie. Sy het komberse in die motor en ses blikke vol klein koekies en beskuit en nog ’n halwe termosfles koffie oor. Sy is moeg na die lang dag op die pad en môre in die daglig sal sy dalk haar rigting kry. Sy is vies vir haarself omdat sy verdwaal het. Was dit omdat sy die pad nie meer so goed onthou as wat sy gedink het nie of omdat sy ingedagte was? As dit nie was dat sy so onnosel was nie, kon sy nou reeds op Sesdorings gewees het … Deksels!

      Hennie het haar reeds met die gedagte versoen dat sy nie vanaand die begeerde lekker warm bad en sagte bed sal hê nie. Sy verwyt haarself ook nie meer so erg omdat sy verdwaal het nie en het opgehou om vir die motortjie vies te wees. Sy het koffie gedrink, die passasiersdeur gesluit en is besig om in die deurmekaar kattebak komberse uit te grawe. Omdat sy amper halflyf in die bagasiebak ingeklouter het, hoor sy nie die dreuning van ’n motor nie. Sy skrik toe ’n paar helder ligte skielik vol op haar skyn en ’n motor met skreeuende bande om die draai skuif, om twee handbreedtes van die Volkswagen se neus tot stilstand te kom. Hennie bondel armsvol koekblikke, skoene, boeke, truie en handdoeke terug in die kattebak en probeer dit toedwing, dog dis te vol en haar reënjas bly onder die knip steek.

      Carl Meiring sien net die sitvlak in die verbleikte denimbroek en die arms wat tevergeefs spook om die bagasie teruggedruk te kry. Aanvanklik was hy vies omdat die vent nie sy motor uit die pad getrek het nie, maar nou merk hy dat dit blykbaar ’n jong skoolseun is en hy voel meer simpatiek.

      “Die enjin sit aan die ander kant!” spot hy toe hy uit sy motor klim. “Hoe sukkel jy dan aan die verkeerde kant om die motor weer aan die gang te kry?”

      Hennie kry self lag oor die spektakel wat die man moes begroet het toe hy om die draai gekom het. Dis nie baie vleiend of baie vroulik om sitvlak-in-die-lug in ’n paar helder motorligte betrap te word nie. Sy wil ’n grap daaroor maak, maar toe sy sien dat die vreemdeling ’n jong man is – en nog lank, donker en aantreklik boonop – is sy skielik verleë en verwens die dekselse reënjas wat bly afgly en keer dat sy die chaotiese kattebak betyds toegedruk kan kry.

      “Ek het die dreuning van jou motor gehoor en selfs in my sitkamer kon ek hoor die enjin is op die punt om tien bearings te slaan,” sê Carl geamuseerd. “Dit het toe ’n minuut later gebeur en dit was nie nodig om jou ligte te flikker of toeter te blaas nie. Ek was reeds op pad om te help.”

      Hennie bondel die moedswillige reënjas agter die noodwiel in en knip die kattebak toe.

      “Baie dankie,” sê sy verleë. “Ek het ’n Barmhartige Samaritaan baie nodig.”

      Carl verstyf en die simpatieke glimlag op sy gesig verdwyn. Dis ’n dekselse vroumens hierdie en dit moes hy verwag het. Net ’n vroumens sal so onnosel wees om haar stukkende motor in die middel van die pad te los sodat hy nou-nou amper daarin vasgery het. En net ’n vroumens sal so dom wees om ’n motor sonder olie te ry. Dis haar verdiende loon dat die Volkswagen met haar gaan staan het.

      Hennie voel ongemaklik toe die man nie antwoord nie en ook nie meer te begerig lyk om haar te help nie. Het sy iets verkeerd gesê? Moes sy hom nie ’n Barmhartige Samaritaan genoem het nie? Maar hy het tog gesê hy het gekom om haar te help, so wat was verkeerd daarmee?

      Carl sou verkies het om om te draai, in sy motor te klim en weg te ry, maar hy weet hy kan die meisiekind nie hier alleen in die veld laat nie. Hoflikheid dwing hom om haar seker maar te help en so gou moontlik van haar ontslae te raak.

      “Ek sal na die enjin kyk,” sê hy kortaf.

      “Dis … e … Dis daardie kant,” stamel Hennie verleë.

      Die man verwerdig hom nie om te antwoord nie en hy beskou haar opmerking blykbaar ook nie as ’n grap nie. Hy stryk sonder ’n woord na die masjien aan en pluk die kap oop.

      Reeds van ver af kon Carl die hitte voel wat deur die masjien uitgestraal word en toe hy die kap oplig, kry hy die skerp reuk van kokende olie. Hierdie masjien was op die punt om aan die brand te slaan. Die meisiemens is gelukkig dat die motor betyds gaan staan het en nie in die ry begin brand het nie. Sy lyk die tipies onbeholpe soort wat nie sal weet om sand op te gooi of so vinnig moontlik pad te gee as dit lyk of die brandstoftenk kan ontplof nie.

      Carl het gehoop hy kan aanraai dat sy die masjien kans gee om af te koel, maar nou sien hy dis hopeloos. Hierdie masjien is behoorlik gekook en dit sal ’n besoek aan ’n motorhawe kos voor die motor weer een enkele tree verder sal


Скачать книгу