Pruimtwak en skaduboksers. Danie Marais
Читать онлайн книгу.
Pruimtwak en skaduboksers
rubrieke, heildronke en nagedagtes
Danie Marais
Tafelberg
VIR PA-CALLIE EN MA-CECILE
AAN WIE EK NOOIT GENOEG BOEKE SAL KAN OPDRA NIE
“’n mens kan baie praat tog sukkel om sin te maak
almal weet perspektief is nie ’n speelding nie”
Fokofpolisiekar – “Oop vir misinterpretasie”
“In and of itself, nothing really matters.
What matters is that nothing is ever ‘in and of itself’.”
Chuck Klosterman – Sex, Drugs, and Cocoa Puffs: A Low Culture Manifesto
PRUIMTWAK
RUBRIEKE OOR POPKULTUUR EN BOEKDINGE
WANNEER “LONDON CALLING” EN LOLLOS ONTMOET
Hoe gaan my kinders dit ooit eendag regkry om my te skok? het ek nou en dan gewonder toe ek as vyftienjarige Vrydagmiddae in Pretoria bus gery het na die skemerdonker platebiblioteek in Sunnyside se Nedbank-plaza.
Daardie platebiblioteek was in die laat 1980’s ’n alternatiewe werklikheid waar ek al die musiek waarteen die kerk en skool gewaarsku het, rustig kon beluister voor ek dit uitneem om by die huis te gaan af-tape. My besoeke was ’n gereelde afspraak met verbode vrugte; ’n bedwelmende glimp van die moontlikheid dat my hele saai, voorstedelike bestaan net ’n onbeduidende stukkie van ’n veel wyer werklikheid was; iets wat ek weldra soos my lastige onskuld en onkunde heeltemal sou kon afskud.
Toe ek in daardie platebiblioteek die eerste keer die omslag van The Clash se London Calling-album (1979) versigtig, soos ’n handgranaat, vashou, het ek gevaarlik naby aan vryheid gevoel. Die grafiese verwysing na Elvis se debuutalbum-omslag het ek nog nie gesnap nie, maar dat daardie kitaar eenvoudig stukkend gebliksem móés word en dat iets belangriks daarmee saam sou breek, was vir my duidelik.
Die titelsnit het my dronkgeslaan met punkrock, die adrenalien van anargistiese rebellie en die No Future-generasie se omhelsing van dreigende ondergang:
London calling to the faraway towns
Now war is declared and battle come down
London calling to the underworld
Come out of the cupboard, you boys and girls
…
The ice age is coming, the sun is zooming in,
Meltdown expected, the wheat is growin’ thin
Engines stop running, but I have no fear
’Cause London is drowning, and I, I live by the river
As melkbaard-rebel sou ek nooit kon droom my vierjarige dogter gaan my eendag met haar reaksie op dié einste strydkreet skok nie. Maar nee, Lea het nie punkrock as anti-outoritêre opvoedkundige maatreël met moedersmelk en vaderliefde ingekry nie. Ek het bloot agtergekom sy het groot plesier aan verskeie pop- en rockliedjies wat in animasieprente soos Shrek gebruik is. Vandat ek vir haar ’n CD vir die motor gemaak het met musiek van die Shrek-, Fantastic Mr Fox-, Cars-, Toy Story- en Rio-klankbane, was die gort gaar. Wanneer sy nou van enige liedjie in ’n fliek of TV-program hou, sê sy dadelik: “Pappa, jy moet hóm kry.”
Wanneer sy so ’n liedjie weer in die motor hoor, noem sy dit na die fliek of toneel waaruit dit kom. “London Calling” is dus die seerowerliedjie, want sy’t dit die eerste keer op haar vierde verjaardag gehoor toe sy The Pirates! Band of Misfits gesien het. Dit was liefde met die eerste hoorslag. Ná die eerste paar akkoorde het sy gesê: “Dís ’n lekker liedjie! Pappa, jy moet hóm kry.” (My neef Francois het in Londen ’n soortgelyke ervaring gehad. “London Calling” het Lea se vyfjarige kleinniggie, Issey, in die fliekteater laat uitroep: “Daddy, what marvellous music!”)
My dogter sou my dus nie skok deur iets subversiefs te luister en te geniet nie, maar deur dít wat vir my ’n musikale petrolbom was tot “lekker liedjie” te verklaar – een wat sy lustig in haar karstoeltjie, Lollos-pop op die skoot, probeer saamsing, hoewel sy niks van goed soos “phony Beatlemania” en “imitation zone” verstaan nie.
Joe Strummer se romantiese misnoeë met die wêreld gaan haar waarskynlik eendag, nes die temaliedjies van Heidi, Liewe Heksie en Pinocchio, nostalgies herinner aan ’n tyd voor ernstige probleme en verantwoordelikhede – aan onskuld.
En miskien is Lea reg. “London Calling” is dalk niks meer as ’n lekker liedjie nie, al is dit vir ouer mense sinoniem met ’n beweging vol revolusionêre aspirasies. Geen wêreldorde het saam met daardie kitaar aan stukke gespat nie – rockmusiek was net ’n subkategorie ryker.
Die mitiese status wat Strummer en sy Clash in die rockwêreld geniet, word opgesom deur die kultusgroep The Hold Steady in nog ’n lekker liedjie, “Constructive Summer”: “Raise a toast to saint Joe Strummer / I think he might have been our only decent teacher”. Maar die Pulitzerwenner Stephen Dunn se prosagedig “Saints” maan ons om weer te dink oor heiliges en revolusionêre (my vertaling): “Heiliges loop, soos revolusionêre, kop eerste teen die koel, droë wind in, altyd in diens van ’n verborge vlam. Hulle is skrikwekkend vanweë alles wat hulle nie nodig het nie. Die heilige vra: ‘Waarvoor sal jy sterf?’ Die revolusionêr voeg by: ‘Waarvoor is jy bereid om dood te maak?’ In ieder geval, die bring van offers is ’n lelike storie, so lelik soos die geskiedenis self. Kies tussen hierdie verskriklike goed, gebied die geskiedenis dikwels. Ons is net kommentators totdat dit, vir ons, tot daardie keuse kom.”
Só gesien, is protessangers en ook die woedendste punkrockers niks meer as kommentators en bloggers nie.
Lea en haar kleinniggie se spontane reaksies op “London Calling” herinner aan iets wat musiekskrywers graag vergeet: Rock gee in die eerste plek uiting aan ’n gevoel, nie aan ’n ideologie nie.
Nou die dag op pad kleuterskool toe versoek Lea dringend die koei-liedjie, dit wil sê “I Won’t Back Down” – die Johnny Cash-weergawe – wat ’n tekenprent-bees uitdagend met ’n kitaar in Barnyard sing terwyl hy gereed maak om die plaas se hoenderhok teen ’n nare bende jakkalse te verdedig. Terwyl Cash verklaar: “You can stand me up at the gates of hell, but I won’t back down”, ry ek 80 in ’n 60-sone en onderbreek Lea haar samesang om te sê: “Pappa, jy ry te vinnig. Ek hou van te vinnig ry.”
Is dit nie ook maar wat “London Calling” beteken nie?
“EK IS JOU VADER”
Party liedjies bly jou by soos tatoes – die Cowboy Junkies se “A Horse in the Country”, byvoorbeeld. ’n Strofe uit daardie ballade van hul wonderlike vierde album, Black Eyed Man (1992), is met ’n passer in die kougombeplakte skoolbank van my hart uitgekrap:
And all my friends have settled down
become their mothers and their fathers
without a sound
Except for Cathy,
she bought a one-way subway ticket
and left us all behind
Dié strofe neem my oombliklik terug na iemand wat ek was, of liewer wou wees. Ek en my beste vriende het daardie hele plaat uit ons kop geken toe ons studente was, en ons was almal destyds oortuig dat ons Cathy sou wees. Douglas Coupland se debuutroman, Generation X (1991), het ons diep beïndruk. Ons het ons skeptisisme en allesverterende ironie daarin erken, uitdagend oorbelle ingeskiet en/of hare lank en deurmekaar gedra, swart leerbroeke begeer en in Europa gaan sukkel omdat ons eenvoudig moes wegkom van al die leuens wat ons ouers so skynbaar heel gesluk het – nie net apartheid nie, maar die hele calvinistiese ding van jou sweet, bloed en beste gee vir die vrot maatskappy so asof jy jou sieldodende, ondankbare werk eintlik vir die koninkryk in die hemel doen. Wat, behalwe backpacker-toere, presies ons plan was