Liefde in laslap. Elsa Winckler

Читать онлайн книгу.

Liefde in laslap - Elsa Winckler


Скачать книгу
Natalie? Hy weet sy het ook sonder ouers grootgeword, maar hy kon nog nie uitvind wat sy in haar lewe mis nie. Mis sy hoegenaamd iets?

      Sonder om werklik iets in te neem tuur hy oor die berge. Wie hy is, sy identiteit, het baie te doen met die manier waarop hy grootgeword het, die manier waarop sy gesin funksioneer.

      Maar hoe vorm jy ’n identiteit, hoe weet jy wie jy is as daar niks is om te onthou nie . . . wanneer jou enigste verwysingsraamwerk ’n weeshuis is?

      Sy gedagtes begin rondspring en sonder dat hy baie daaroor dink, stap hy terug in sy huis, reguit na sy studeerkamer toe. Hy gaan sit en maak sy rekenaar oop. Hy soek nou al drie maande lank inspirasie vir ’n nuwe storie en hier, heel onverwags, gooi die muse iets op sy hart waaroor hy kan skryf. Moet skryf.

      ’n Ryk vrou Magda Venter weet sy het nie meer baie lank oor om te lewe nie. Sy nooi vir Lalie Mynhardt om haar biografie te kom skryf. Sy het vier kinders, die een misliker as die ander, húlle telge net so vol dinge. Lalie begin werk in die groot huis se biblioteek waar sy bokse briewe en koerantartikels kry wat Magda uitgepak het vir haar om deur te gaan. Lalie het blonde hare en groen oë. Sy vingers struikel oor die sleutelbord en vries.

      Waar de hel kom dit vandaan? Sy is nie die protagonis in die storie nie, Magda is. Maar sonder om langer oor die beskrywing te dink vlieg sy vingers weer oor die sleutelbord voordat hy sy gedagtes nog behoorlik agtermekaar het . . .

      Natalie maak die kasdeur oop en sug behaaglik. Sy voel altyd soos ’n dogtertjie voor ’n Kersboom wanneer sy haar lapkas oopmaak. Sy onthou die een wintervakansie toe die weeshuis naaimasjiene present gekry het. Die matrone van daardie tyd het hulle leer knip en stik, en Natalie het haar liefde vir lap ontdek. Dit was die jaar voordat hulle hoërskool toe is.

      Van toe af het sy lap bymekaargemaak. Die een plaaslike dekorwinkel op die dorp het gereeld oorskietlap spotgoedkoop verkoop en wanneer sy kon, het sy ’n paar stukkies gekoop. Elke rok, romp of broek wat te klein geword het, is opgeknip. Op die boonste rak in haar kas lê al hierdie oorskietlap, netjies geknip, gewas en gestryk en volgens kleur gepak. Stukkies van haar verlede – die stukkies wat sy beleef het, wat sy onthou.

      Vandat sy self begin verdien het, koop sy gereeld nuwe materiaal aan. Dié was sy, stryk dit sorgvuldig en pak dit dan by die stygende stapeltjies in haar kas. Maar sy gaan soek ook gereeld in antiekwinkels na ou klere wat niemand meer kan dra nie. Die materiaal wat sy uit hierdie soms verslete klere kan knip, is vir haar baie spesiaal. Dit het aan iemand anders behoort, het dalk ’n heeltemal ander doel gehad, maar sy gaan dit lostorring, knip en iets nuuts daarmee skep.

      Sy het nie ’n eie verlede nie; sy ken nie haar storie nie, nóg nie. En deur lap uit ander mense se verlede te gebruik, kan sy dalk sin van haar eie lewe maak. Hóé is sy nog nie presies seker nie, maar wanneer sy reg is, sal sy weet.

      Intussen het sy begin om klas te loop by ieder en elk wat ’n laslapkursus aanbied. Sy het al die tegnieke min of meer onder die knie en gebruik haar nuutgevonde vaardighede om geskenke vir vriendinne te maak.

      Dis ook vir haar heerlik om te lees oor die geskiedenis en die mees onlangse herlewing van hierdie kunsvorm. Dis asof die derde feministiese beweging die tipies huishoudelike kunsvorme waarop vroeër neergesien is en wat afgemaak is as onbelangrik, weer terugeis. Selfs aktrises uit Hollywood gee nie om as hulle in ’n tydskrif verskyn met ’n breipen in die hand nie.

      Vandag word kunsvorme soos kwiltwerk en breiwerk beoefen vanuit ’n plek van mag en nie onderdanigheid nie. Die naald is nou ’n kreatiewe uitlaatklep wat vroue se individuele mag kommunikeer. Dit is asof die naald wat in al hierdie kunsvorme gebruik word, ’n sigbare en tasbare metafoor word en die vrou se woede oor haar onderdrukking, maar ook haar trots op haar geslag, simboliseer. Die naald steek terwyl dit skep; garing of wol word geforseer om deel van die skepping te word.

      In Amerika is kwiltwerk al vir meer as tweehonderd jaar ’n manier om in families se behoeftes te voorsien, asook ’n manier waarop die persoon wat die kwilt skep, uitdrukking aan haar skeppingsvermoë gee. ’n Kwilt is baie meer as net ’n voorwerp; dit word ’n simbool van omgee en van gedeelde ondervinding.

      Elke familie sit iets van sy eie geskiedenis in ’n kwilt. Dis een van die redes hoekom die maak van die kwilt wat sy vir Amelie se klein Christo gegee het, vir haar ’n heerlike en baie spesiale ervaring was.

      Die klein mannetjie was nog nie eens gebore nie, maar omdat sy sy ouers en grootouers ken, kon sy vir hom ’n kwilt maak van skerwe lap wat iets van sy herkoms verklap. So saam met die motortema het sy ook iets probeer uitbeeld van die liefde van sy oupa, die skoolhoof, vir lees en die omgee van sy ouma, die sielkundige, vir mense. Daar is êrens ook ’n Karoohuisie ingebring om die Karoo- nasionale park voor te stel – die plek waar Amelie en Chris mekaar leer ken het.

      En sy weet nou ook wat sy met die lap wil doen wat sy en Amelie vandag vir die nuwe babatjie gekoop het. Sy het die lap reeds uitgespoel en kan nie wag om met die kwilt te begin nie.

      Natalie streel oor die lap in die kas. Iewers moet sy begin met die kwilt vir haarself waaroor sy al so lank droom. Sy het nog altyd ’n vae idee gehad van wat sy daarmee wil doen, maar dit was eers die afgelope drie jaar dat sy die idees op papier kon begin sit. Sy moet egter nog inligting kry – oor haarself, oor waarvandaan sy kom – voordat sy ’n volledige prentjie kan kry van wat sy wil doen.

      Sy het reeds e-posse begin uitstuur en weer kontak gemaak met die weeshuis waar sy was. Maar sy wil nie te veel daaraan dink nie. Sy het nie eens vir Amelie van haar navraag vertel nie.

      Sy wil die lap die volgende paar aande knip. As Amelie nou nie so geneul het oor môre nie, kon sy dan al begin het. Vies druk sy die kas toe. Dis vir haar heerlik om saam met Amelie en haar mense te kuier. Maar ai, daai vent!

      Haar voordeurklokkie lui. Sy kyk op haar horlosie en frons terwyl sy voordeur toe stap. Wie sou so laat op ’n Saterdagmiddag by haar aanklop? Sover sy weet, het sy geen afspraak nie.

      Sy kyk deur die loergaatjie. ’n Netjiese man staan voor haar deur, maar dis nie iemand wat sy ken nie. Sy maak die voordeur oop, maar hou die veiligheidshek gesluit.

      “Kan ek help?” vra sy.

      Hy staan met sy hande op sy heupe, ’n halwe glimlag lig die een kant van sy mond op. Sy sluk. Hy lyk so bekend.

      “Natalie? Natalie Olivier?” vra hy.

      “Ja?” sê sy onseker.

      Hy kyk af na sy voete, maak sy keel skoon en toe hy sy kop oplig, blink sy oë.

      “My naam is Francois. Francois Olivier, en ek dink ek is jou broer.”

      3

      Natalie stap op en af in die sitkamer. Amelie sal seker nou-nou hier wees om haar te kom oplaai, en sy kan nie wag om vir haar van Francois te vertel nie. Sy het laas nag niks geslaap nie, net met wydgesperde oë na die dak lê en staar.

      Sy is skepties. Baie skepties. Is hy regtig haar broer soos hy voorgee om te wees? Maar hoekom sou hy sê hy is? Om seker te wees moet sy wag tot Maandag. Die adminpersoneel van die weeshuis sal eers dan weer beskikbaar wees, en sy gaan sorg dat sy daar is.

      ’n Motor hou voor haar huis stil, en sy gryp haar sak en voordeursleutels. Sy storm voordeur toe, maak die deur oop en onthou van die poeding wat sy gemaak het. Sy draf weer terug kombuis toe. Amelie wil nooit hê sy moet iets saambring nie, maar sy moes iets doen om haar nag om te kry. Teen drie-uur vanoggend het poeding maak na ’n goeie idee geklink.

      “Ek kom, ek kom,” roep sy vir Amelie toe sy voetstappe in die gang hoor. “Ek kry net gou die poeding.”

      Sy sit die bak in ’n mandjie en draai deur toe. “Jy sal nooit raai wie gister by my opgedaag . . .”

      Haar woorde droog op. Dis nie Amelie nie, maar Neethling wat nadergestap kom. En sjoe. Haar hart gaan vrolik aan die huppel. Hy het jeans aan met ’n ligte wit langmoutrui en lyk ongelooflik, onbehoorlik, onregverdig sexy.

      “Waar is Amelie?” vra sy, sommer ergerlik. Sy is nie voorbereid om die vent nou al te sien nie. Sy sou nog die hele


Скачать книгу