Donna en die droomman. Anita du Preez
Читать онлайн книгу.keel, maar hy draai haar stewig na hom en sit sy vinger ferm oor haar mond.
“Ek weet.”
Sy voel sy asem teen haar voorkop en is erg bewus van die man se soliede warmte so dig by haar.
“Ja, maar …”
Sy hande gly teen haar rugwerwels af tot heel onder by die punt van die ritssluiter van die uitdagende swart nommer waarin die vervlakste Karen haar ingepraat het. In een vlietende Bridget Jones-oomblik onthou sy die vleeskleurige ondersteuningsgewaad waarin sy haar kurwes moes wikkel vir die verdomde, nommerpas rok. Sy hou op asemhaal toe sy besef waarheen dié soort gedagtes neig. Genade! Sy sluk hard en probeer weer.
“Ek is nie gewoonlik …”
“Sjjjj.”
Die effens growwe vinger is terug op die sagte vlees van haar mond. Sy herken die reuk van seep en die nadraai van die wit wyn aan sy hand. Toe sy verder probeer praat, sluit sy lippe hard oor hare. Dit skok dwarsdeur haar. Sy knyp haar oë toe en vir een oomblik gee sy haarself verlof om die lieflike opruiende sensasie van die wildvreemde droommond te ontvang en te proe.
Toe neem haar kop weer oor. Skielik is daar tog ’n vreemde dowwe verdriet in haar omdat hy nie Ruhan is nie. Sy druk haar weg en kyk die man vir die eerste maal vol in die gesig. Haar frons verdiep toe sy onthou dat sy haar bril en haar handsakkie langs haar wynglas gelos het. Maar nee, sy het haar nie netnou misgis met die woeste afdraende wenkbroue bokant die ruwe gelaatstrekke nie. Nee. Hy lyk nie eens naastenby na Ruhan nie, en dis seker ’n goeie ding. Die een of ander tyd moet ’n vrou tog immers aangaan met haar lewe? Of nie?
“Hoor hier, is ek veronderstel om jou te ken?” vra sy. “Wiedejoos ís jy?Wat doen ons?”
Sy maak ’n wit glim van tande uit in die halfdonker voor hy heserig antwoord: “Hmmmm. Drie vrae?” Hy vryf met een hand oor sy mond.
“Ek moet weet,” hou sy vol.
“Goed. Een: nee, jy ken my nie. Twee: maak dit regtig nóú op hierdie ongelooflike sexy oomblik saak wat of wie ek is? En … e … wel … drie, ek weet self nie mooi waarmee ons hier besig is nie, maar … dis …”
“Vreeslik verkeerd?” Sy probeer hard om op sy gesigsuitdrukking te fokus.
“Erg.”
Haar oë rek. “Erg verkeerd?”
“Nee, erg romanties. Iets wat só voel, kan nie die verkéérde soort verkeerd wees nie.”
Hy vryf liggies oor haar vol onderlip terwyl hy praat en sy Leonard Cohen-stem streel haar sinne. Toe sy haar ken lig sodat hy nie moet ophou nie, weet Donna skielik presies hoe haar vet kat George-André voel wanneer sy hom tussen sy ore streel en hy al nader kom vir nog. Sy krom haar nek halfverleë verby sy strelende vingers en voel die warmte van sy keel en die vou van sy hemp se kraag onder haar voorkop.
Haar woorde kom gesmoord uit. “Maar ons ken mekaar nie eens …”
“Nie? Dis nie hoe dit vir my voel nie. En jy?”
“Ek … wel …?”
“Ek weet, ek weet. Maar glo my, die anonimiteit hiervan maak dit juis so asemrowend,” fluister hy terwyl hy sy warm hande oor haar ore vou. “Mens maak nie heel wat nie stukkend is nie, en op dié oomblik voel dit vir my so reg dat dit alles sal bederf as ons nóú met name en vanne lol.” Hy laat gly sy vingers oor die sagte vlees van haar keel en lig haar ken weer effens om haar vas in die oë te kan kyk. “Kom ons hou hierdie oomblik skoon. Ons los ons geskiedenis. Die verlede en al sy pyne. Ons sal nog daarby kom. Later,” belowe hy voordat hy afbuig en sy mond weer hard en dringend oor hare sluit.
Net daar besluit Donna om hom te glo. Hy is reg. Sy gaan haar eenvoudig oorgee aan die magic of the moment. Hier is sy op ’n mooi aand op die regte plek in ’n hot little dress en beeldskone skoene met ’n gevaarlik sexy man. Hoekom nie? Te hel met haar gerouery oor Ruhan wat haar gelos het, te hel met haar Calvinistiese skuldgevoelens, te hel met haar afskuwelike Playtex support garment, en al haar foefies en neuroses. En te hel met die spul pretensieuse sotte wat daar binne hande klap vir die openingstoespraak deur die een of ander Belangrike Professorale Persoon, terwyl sy voor haar siel weet hier is min van hulle wat Anton Kannemeyer se kontroversiële kunswerke hoegenaamd eens kan ontrafel. Te hel met alles. Sy wat Donna Ferguson is, is een-en-dertig en hoef aan niemand enigiets te verduidelik nie. Net vanaand. Sy mag maar …
Sy vroetel albei haar hande in die sysagte weligheid van sy donker hare, en soen die heerlike, wildvreemde man met oorgawe terug. Hy vat haar stewig teen sy harde borskas vas, en sy voel hoedat alles wat sy die afgelope sewe maande in haar styf gesnaarde binneste opgekrop het, eenvoudig wegsmelt.
2
Donna klop die klonterige kussing vies plat en wikkel haar rug reg teen die bedstyl. Sy skreef haar oë teen die sonlig wat nader kruip deur die oop slaapkamervenster van haar halwe huisie in Observatory. Die peperduur moddermasker wat die vrypostige Israeli’tjie in die gangetjie by die inkopiesentrum aan haar afgesmeer het met die belofte dat dit direk uit die Dooie See kom, begin effens kriewel op haar gesig, presies soos wat op die potjie staan. Natuurlik begin haar selfoon juis nou benoud piep. En dit gaan aanhou tot sy toegee. Sugtend stoot sy haar vet mannetjieskat, George-André, eenkant toe en vat haar swartraambril op die bedkas raak. George maak net een geelgroen oog lui oop, rol om en slaap pote in die lug voort. Donna moet oor sy warm wollerigheid rek om haar foon nader te trek.
Dis Karen. Wie anders? Koek & kofi by Arnlds. Ons km hl jou.
Half moedeloos, half ergerlik antwoord sy: Nee dankie. Is nog effe beneuk. Gaan sonder my. Onthou jou pille.
Ai, dink sy, terwyl sy haar bril weer versigtig afhaal. Hulle twee se SMS’e spreek boekdele omtrent hulle verskille. Karen mors nie tyd met klinkers nie. Die lekkertes van die lewe sluk sy skil en al in, terwyl Donna weer alles stadig en presies wil proe sodat dit langer kan hou en sy die sin daarin kan vind. Karen, die een wie se hart alreeds nie reg klop nie, leef vreesloos voluit, bekommer haar nie oor die dag van môre nie, en sý, wat niks makeer nie, hou haar suinig in toom asof sy bang is dat iets iewers sal opraak. Dit is seker maar waarom haar eie bloedsuster na jare nog steeds nie kan verstaan waarom sy net met rus gelaat moet word nie. Sy wíl nie saam met Karen en haar nuutste geur-van-die-maand gaan ontbyt eet in Kloofstraat óf koffie drink by Blouberg óf aandete eet by die Taphuis of enige ander plek waarmee Karen haar voortdurend dreig nie. Veral nie nou nie. Maar Karen kry nie end nie. So was dit maar van kleins af.
Met ’n driftige gebaar skakel sy haar sel af en plak dit neer. Kamtige slimfoon. Jammer sy kan die foon nie leer om Karen te herinner om ekstra betablokkers in haar handsakke te hê nie. Sy wat Donna is, het ’n break nodig van haar rol as ousus en noodwiel.
Sy is gedaan. As haar mense net wil verstaan sy is nié eensaam nie, het niemand se hulp nodig nie en cope in haar eie opinie besonder goed vir een wat al meer as ses maande sonder haar man sit. Dit was ’n flippen harde jaar by Buitenkant Produksies en sy wil so min moontlik in haar vakansie doen. Sy moet haar kragte herlaai.
Dis nie kinderspeletjies om jou eie ontwerp- en reklamemaatskappy suksesvol in vandag se ekonomiese klimaat te bestuur nie. Hulle het lanklaas lekker kontrakte losgeslaan en sal moet uithaal om voor te bly. Donna se maag maak benoude draaie. Sy weet hoeveel bloedsweet, networking en slapelose ure dit nou weer gaan verg. Nog iets wat Ruhan nooit wou hoor nie.
“Wat doen julle heeldag? Hoe lank kan dit nou vat om ’n paar prentjies vir mense se ontwerpies en goed bymekaar te sit? Of om een van julle amateurvideo’tjies te skiet? Jy hét mos personeel. Jy, ou girl, moet leer om te delegeer!”
Sy weet sy is besig om haarself gek te maak. Nie álles tussen haar en Ruhan was sleg nie. Sy moet aan iets anders dink. Eintlik is sy mos veronderstel om te ontspan en die skoonheidsmasker sy werk te laat doen. Maar oor en oor grawe sy elke kwade woord tussen haar en Ruhan uit die sloot. En daar’s baie om van te kies.
Eindelik gryp ’n paar ongekondisioneerde breinselle dankbaar na ’n ander, veiliger onderwerp. Karen se nuwe aanhangsel.