Ver bo korale. Susanna M Lingua

Читать онлайн книгу.

Ver bo korale - Susanna M Lingua


Скачать книгу
on>

      

      Susanna M Lingua

      Ver bo korale

      Melodie

Ver bo korale

      1

      Daar is ’n blye glimlaggie om die vyf-en-twintigjarige Elaine se sagte mond, hier waar sy in die trein langs die oop venster sit. ’n Ligte windjie waai deur die venster en speel tergerig met haar rooi hare, terwyl haar groot, groen oë in die verte staar.

      Elaine het pas haar dienstyd as huisdokter in Johannesburg se hospitaal agter die rug, en nou is sy onderweg na haar ouerhuis en na haar geboorteplaas, Boskloof.

      Wel, dokter Enslin, spreek sy haarself in haar gedagtes aan, oor vier weke gaan jy werk dat jy opslae maak. Die tyd van dag- of nagdiens is vir jou helaas iets van die verlede. In die vervolg sal dit dag- én nagdiens wees, ou kinta . . .

      Die trein fluit en sy is meteens die draad van haar gedagtes kwyt. Sy voel nogtans diep gelukkig omdat sy na sewe jaar eindelik vir goed huis toe, na Boskloof toe gaan. Sy is nou wel ’n geneesheer, maar in wese bly sy steeds die plaasdogter van weleer, met ’n diep liefde vir haar geboorte­plaas.

      Maar oor Elaine se blydskap hang daar ook ’n klein wolkie wat ’n onwelkome skadu oor haar blye opgewondenheid werp: die Durandts van hulle buurplaas, Bordeaux.

      Dis waar, kry haar gedagtes weer koers, as dit nou net nie vir daardie ellendige . . . vir oubaas Jacques en sy seun Niel was nie, sou die ou wêreld inderdaad ’n baie aangenamer plek gewees het om in te lewe. Maar met hulle twee so naby Boskloof . . .! Hulle moet my net nie vir siekte ontbied nie, dink sy, want nugter weet of selfs siekte my sal kan beweeg om ’n voet op Bordeaux te sit . . . Dis waar, met hulle twee wil ek inderdaad niks te doen hê nie. As ek hulle oor honderd jaar te sien kry, sal dit vir my nog te gou wees.

      Die trein gaan om die punt van ’n hoë berg, en daar in die verte lê Leeudrif, die dorp waar sy van die grade af tot in matriek skoolgegaan het . . . Leeudrif wat net agt kilometer van Boskloof af is.

      Hulle nader die dorp nou vinnig. Elaine kom vlugtig orent en begin haar bagasie solank bymekaarkry. Sy weet dat haar pa op die stasie sal wees om haar te ontmoet; hy is trouens altyd daar wanneer sy tuis kom, en hy is ook altyd betyds.

      Met ’n lang, uitgerekte gefluit en ’n gekla van remme, rammel die lang passasierstrein eindelik Leeudrif se stasie binne.

      Elaine se blik gaan vlugtig oor die wagtende groepie op die perron. Dan sien sy haar pa waar hy half eenkant staan. Met ’n breë glimlag roep sy na hom en waai uitgelate met haar sakdoekie.

      Die lang ysterreus kom met rukke en stote tot stilstand. Daan Enslin is dadelik by om sy dogter se tasse deur die venster te neem. Elaine rank halflyf deur die venster, soen haar pa hartlik en gee haar tasse vir hom aan.

      “Kragtie, kleintjie, is daar dan geen einde aan jou bagasie nie?” wil Daan weet toe Elaine die een tas na die ander vir hom deur die venster aangee.

      “Maar, Pappa, ek is mos nou sak en pak tuis!” sê sy laggend met groen oë wat straal van lewensblyheid. “Ek kom mos nou vir ou dokter Swanepoel hier op Leeudrif help! O, dis wonderlik om eindelik vir goed tuis te wees.”

      “Ja, dit is wonderlik, ounooi. Maar jy sal nou moet gou maak en uitklim, anders ry die trein met jou weg!”

      “Dis nou die laaste tas, Pappa,” sê sy vrolik. “Ek klim nou af.”

      Onderweg na Boskloof gesels Elaine vrolik en opgewek. Sy is Daan en Gerda se enigste kind, derhalwe is hulle baie geheg aan mekaar. Ofskoon Elaine lustig gesels, is sy heimlik daarvan bewus dat haar pa hom oor iets kwel. Sy merk dat hy soms stil en afgetrokke is, byna asof sy gedagtes elders is, en dis nie soos sy hierdie liewe ou paps van haar ken nie.

      Hierdie afgetrokkenheid van Daan noop Elaine later om ondersoekend na hom te kyk. Sy merk dat hy moeg en afgerem lyk, en haar hart gaan dadelik na hom uit. Sy weet dat daar jare was toe hy noustrop getrek het weens droogtes, hael, sprinkane en kommandowurms, maar hy het darem nog altyd daarin geslaag om kop bo water te hou.

      Sy plaas haar hand liefdevol op sy arm en vra sag: “Wat is verkeerd, Pappa? Jy is so afgetrokke en jy lyk so . . . so moeg. Voel jy nie gesond nie, of is dit probleme met die boerdery?”

      “Ons sal hierdie ding later bespreek wanneer ons tuis is, ounooi,” antwoord Daan. “Ek vrees daar het die afgelope drie jaar baie dinge gebeur; dinge waarmee ek en jou ma jou nie wou belas nie. Maar soos ek reeds gesê het, ons sal daaroor gesels sodra ons tuis is.”

      Hierna is Elaine ook stil en afgetrokke, en ná ’n paar minute hou hulle voor die wit gewelhuis van Boskloof stil.

      Gerda is dadelik by toe die motor voor die deur stilhou. Sy en Daan voel baie trots op hulle mooi dogter en haar prestasies. Dit is net jammer dat hierdie ramp hulle juis nóú moes getref het. Dinge kon so anders gewees het . . .

      Gerda se groet is warm en hartlik, maar in haar oë sien Elaine kommer en verslaentheid. Dit ontstel haar, want sy het haar ouers nog nooit in so ’n vreemde gemoedstemming gesien nie. Albei lyk vir haar moeg en neerslagtig, maar sy swyg wyslik.

      Gearmd bestyg hulle die trap wat na die voorstoep toe lei. Op hierdie oomblik vorm hulle ’n eenheid wat deur geen ramp of teenspoed vernietig kan word nie, want dit is bande van bloed wat hulle in so ’n hegte eenheid hou.

      Terwyl hulle koffie in die sitkamer geniet, word daar oor plaaslike aangeleenthede gesels. Daan en Gerda probeer hard om gesellig voor te kom, maar Elaine se noulettende oë het lankal die spanning in hulle opgemerk.

      “Wel, noudat ons drie so gesellig hier sit en ontspan, sal ek graag wil hoor hoe dit met al die vriende gaan,” sê sy. “Ek vrees ek het die afgelope sewe jaar heeltemal uit voeling met hulle geraak.” Elaine kyk na albei haar ouers hier waar sy teenoor hulle langs die koffiewaentjie sit.

      “Dan weet jy natuurlik nog nie dat Niel . . .” begin Gerda, maar Elaine gee haar nie kans om meer te sê nie.

      “Mamma, die Durandts, Niel en oubaas Jacques, tel nie onder my vriende nie. Vir daardie uitgesproke oubaas wat so ’n vry sê oor almal het, het ek nog nooit tyd gehad nie, en wat sy seun betref . . . Wel, ek dink ek het Niel laas gesien toe ek nog in die laerskool was, maar ek twyfel of hy my al ooit raakgesien het. Ek onthou nog dat hy swart hare en bruin oë het, maar dis ook al. Ek onthou nie eens meer hoe hy lyk nie. Maar gaan maar voort, Mamma wou my iets van hom vertel het.”

      “Genade, jou stortvloed woorde het my skoon van my wysie af, kind,” kla Gerda goedig. “Waar was ek nou weer . . .? O ja, ek wou jou van Niel vertel het. Nogal ’n innemende en aangename man.”

      “Wat! ’n Durandt innemend en aangenaam?” roep Elaine met ’n frons en ’n eienaardige trek in haar oë uit. “Praat Mamma nie dalk van iemand anders nie? Is my ou mams seker jy verwar Niel nie straks met iemand anders nie?”

      “My liewe kind, ek is nog lank nie seniel nie,” bestraf sy die voortvarende Elaine. “Ek sal dit ook waardeer as jy ophou om my telkens in die rede te val.”

      “Jammer, my ou mams,” laat sy berouvol hoor. Sy beloon haar ma met haar mooiste glimlaggie. “Ek belowe plegtig om nie weer te oortree nie. Wat wou Mamma my van Niel vertel het?”

      Sy naam laat Elaine se bloed heimlik kook. Maar sy vertel haar ouers nie dat sy en ’n klasmaat, terwyl hulle kaartjies vir ’n skoolkonsert verkoop het, deur ’n twintigjarige Niel aangesê was om te skoert toe hulle kaartjies aan hom en twee van sy universiteitsvriende wou verkoop nie. Sy was maar tien jaar oud, maar sy onthou daardie afjak nog steeds, en van daardie dag af het sy ’n ewige hekel aan Niel Durandt.

      Maar dan sê haar ma: “Wel, eintlik wou ek maar net sê dat Niel ses maande lank oorsee was en pas tuis gekom het.”

      “Gelukkige vent. Dit moet bepaald aangenaam wees om ses maande lank in die vreemde rond te kuier,” sê Elaine sonder veel belangstelling in Niel Durandt se doen en late. Sy pa, oubaas Jacques, is algemeen bekend as ’n trotse ou rykaard wat neerbuigend neersien op sy minder gegoede medemens, en om daardie rede koester Elaine geen liefde vir oubaas Durandt nie.

      Die


Скачать книгу