Ver bo korale. Susanna M Lingua

Читать онлайн книгу.

Ver bo korale - Susanna M Lingua


Скачать книгу
’n mens spekuleer nie,” sê Daan. “Dit is ’n plaas wat ’n mens graag vir jouself wil hou. Ek is jammer, maar ek het reeds Niel se aanbod aanvaar en die Van Deventer-kêreltjie is ook al besig om die koopbriewe op te stel.”

      Elaine kyk haar pa vraend aan. “Die . . . Van Deventerkêreltjie?”

      “Ja, die prokureurtjie, kleintjie . . . meneer Van Niekerk se jong vennoot,” verduidelik Daan.

      “Ek vrees ek het nog nie met die Van Deventer-kêrel kennis gemaak nie, maar wat Boskloof betref . . . is daar geen manier om die plaas te behou nie, Pappa?”

      Daan skud sy kop.

      “Ek verseker jou, ek het aan elke moontlikheid gedink, maar daar is geen uitweg nie, kleintjie.”

      “Dis . . . dis ’n ramp,” sê Elaine moedeloos. Etlike sekondes sê sy nie ’n woord nie. Dis asof sy ’n verposing nodig het om haar pa se laaste woorde te oorweeg. Toe sê sy afgetrokke: “Ek gaan nie toelaat dat my ou paps in die hoedanigheid van ’n kneg hier op Boskloof bly nie. Die Enslins was nog nooit slawe vir ander mense nie. Mamma en Pappa sal by my op die dorp moet kom bly. Ek sal vir julle tweetjies sorg! Ons sal nou wel vir ’n maand of wat noustrop trek, maar daarna sal dit beter gaan . . .”

      Niel se mooi, diep stem laat haar meteens swyg.

      “Verskoon my, dokter Enslin,” sê hy, “maar ek dink jy weet net so goed soos ek dat dit ’n ramp sal wees om jou pa van die plaas af weg te neem. Jy het self flussies gesê dat julle drie nooit op die dorp sal aard nie. Jou pa is ’n boer in murg en been, en die grond is soos lewensbloed in sy are; neem jy hom daarvan weg, sal hy sommer vinnig oud word en wegkwyn. Maar ek dink jy weet dit.”

      Daar is ’n gesteurde frons op Elaine se voorkop toe sy sê: “Ons sal ’n huis huur waar hy ’n groentetuin kan aanlê.”

      “Moenie dat ek lag nie,” val Niel haar geamuseerd in die rede. “Jou pa is nie die soort man wat sy dae met ’n groentetuintjie sal kan verwyl nie. Hy is ’n man wat ruimte om hom wil hê, uitgestrekte lande en groot troppe vee in die veld wil sien. Hy gaan nie ’n kneg of ’n bywoner wees nie, nooientjie. Ek en oom Daan gaan van Boskloof ’n pronkplaas maak. Jou ouerhuis sal ook nog steeds hier op jou geboorteplaas wees, soos altyd!”

      Elaine se oë vlam en ook haar stem is ongeduldig, verwytend toe sy sê: “Probeer jy my met hierdie leë woorde troos, meneer Durandt?”

      “Nee, ek probeer jou nie troos nie, ou groenoog,” sê Niel goedig, “ek wou maar net ’n paar feite onder jou aandag bring.”

      “Daardie feite baat my niks,” sê sy ergerlik.“Sodra my pa Boskloof verkoop het, sal die lewe hier op die plaas vir hom en my ma nie meer dieselfde wees nie.”

      Niel se donker wenkbroue vorm ’n vraagteken. Hy vind Elaine inderdaad ’n moeilike en koppige mensie, maar sê nogtans: “Mag ek vra waarom die lewe vir hulle nie meer dieselfde sal wees nie?”

      “Natuurlik mag jy vra, meneer Durandt!” antwoord sy snipperig, ongeduldig. “As ek iets wil weet, vra ek gewoonlik, en as ek iets wil sê, dan sê ek dit. Dit is tog vanselfsprekend, is dit nie? As my pa vir jou moet werk, sal hy bevele van jou moet neem, en dit, meneer Durandt, is iets wat die Enslins van Boskloof nie ken nie. Hulle het hul nog nooit aan ander mense verhuur nie. Van my ou moedertjie sal natuurlik verwag word om vir jou en jou pa te lap, te stop en te bak, en boonop sal sy moet spring wanneer jy haar bevele gee.”

      Daan se stem is skerp toe hy haar bestraffend vermaan: “Kleintjie, ek dink jy gaan nou te ver . . .”

      “Laat haar begaan, oom Daan,” sê Niel haastig. “ ’n Mens moet eers ’n sweer oopsteek en dit reinig as jy wil hê dit moet genees. Ek verkies te alle tye dat mense openlik met hul griewe vorendag moet kom. Elaine herinner my nogal sterk aan my pa.”

      Elaine ruk haar weer dadelik op. “Wat! Aan jou pa!” kom dit bitter verontwaardig. “Ek sal dit waardeer as jy my naam asseblief nie saam met jou pa s’n noem nie.”

      “So, en wat bedoel jy miskien daarby, doktertjie?” wil oubaas Jacques ietwat geraak weet. “Dink jy miskien . . .?”

      “Oubaas, ek wil nie onbeleef wees nie,” sê Elaine, “maar hierdie saak het niks met jou te doen nie. Trouens, ek dink jy en jou seun het reeds genoeg ergernis veroorsaak.”

      “Ek dink weer jy is ’n rissie, doktertjie,” laat oubaas Jacques streng, bestraffend hoor. “Maar ek sê nou vir jou: As ek eendag siek is, wil ek jou nie naby my hê nie.”

      “Die gevoel is wederkerig, oubaas, want sien, die versoeking om jou met ’n dik, stomp naald in te spuit, sal vir my net te sterk wees om te weerstaan.”

      “Jy sal nooit die kans kry nie,” begin oubaas Jacques, maar Niel maak dadelik ’n einde aan wat hy nog alles wou sê.

      “Wag ’n bietjie, Pa,” keer Niel. “Hierdie stryery tussen jou en Elaine bring ons niks verder as wat ons is nie. Laat ons liewer terugkeer na die onderwerp van bespreking . . .”

      “O, so!” werp die oubaas vinnig terug. “Ek moet stilbly as die meisiekind my beledig?”

      Daar is ’n blinkheid van lag in Niel se donker oë toe hy gerusstellend sê: “Sy het Pa nie regtig beledig nie, en . . . nou ja, julle twee kan later julle . . . e . . . gesprek voortsit, daar is gewigtiger sake wat nou bespreek moet word.”

      “O, nou toe dan maar,” gee oubaas Jacques die stryd gewonne. “Ek sal haar anderdag op haar plek sit.”

      “Dit sal twee van jou soort neem om mý op my plek te sit, oubaas,” kap Elaine onthuts terug. “Jy het gans te ’n vry sê oor ander . . .”

      “Maar sal julle twee nou ophou met stry?” kom dit half radeloos van Niel. Hy kyk sy pa en Elaine beurtelings met ’n frons aan.

      “Vermaan jou pa, nie vir my nie,” voeg Elaine hom uit die hoogte toe.

      “Wil jy nou vir mý die skuld gee?” laat oubaas Jacques weer dadelik van hom hoor. “Dis jý wat vir Niel gesê het hy moenie jou naam saam met myne noem nie, meisiekind.”

      “Wel?” Sy kyk die oubaas met opgetrekte wenkbroue aan.

      “Wel wat?”

      “Natuurlik wil ek nie my naam saam met joune hoor nie, oubaas! Jy weet tog seker al teen dié tyd dat ek allergies is vir julle Durandts van Bordeaux!”

      “Dokter Enslin,” begin Niel voordat sy pa weer ’n woord kan sê, “jy het flussies gesê dat die lewe vir jou ouers nie meer dieselfde sal wees as die plaas verkoop is nie, maar nou wil ek graag weet hoe die verkoop van die plaas jóú lewe gaan beïnvloed. Jou ouerhuis sal nog steeds hier op Boskloof wees . . .”

      “Hier waar jy die septer sal swaai en die diktator sal wees, meneer Durandt,” antwoord Elaine. “Maar laat ek jou sommer nóú reghelp: ek koester geen planne hoegenaamd om bevele van jou of jou pa te neem nie. Ek is net ’n slaaf van my beroep en van niemand anders nie. Ek sal dit ook nie kan verduur om te sien hoe my ouers hulle vir julle Durandts afsloof nie, daarom sal ek maar liewer op die dorp gaan woon.”

      “O nee, dit sal ek en jou ma nie toelaat nie, ounooi,” sê haar pa. “Die plan was nog altyd dat jy hier by ons sal inwoon.”

      “Heeltemal reg, Pappa, maar dinge het intussen verander. In elk geval, ons gaan nie nou daaroor gesels nie. Ek verkies om hierdie saak later met Pappa en Mamma te bespreek. Ek is daarvan oortuig dat ons tot ’n aanneemlike vergelyk sal kan kom . . .” Elaine wil nog meer sê, maar dan hoor sy hoe oubaas Jacques keel skoonmaak en sy weet intuïtief dat hy op die punt staan om iets te sê.

      “Daan,” sê hy, “jy en Gerda sal daardie dogter van julle moet kortvat. Dit lyk vir my sy draai julle skoon om haar pinkie.”

      “Nee wat, Jacques,” sê Daan goedig, “dis darem nie so erg as wat dit lyk nie. Dis maar net die skok omdat ek Boskloof moet verkoop . . . Sit, ounooi, waarheen wil jy nou gaan?”

      “Ek


Скачать книгу