Goue horisonne. Annelize Morgan

Читать онлайн книгу.

Goue horisonne - Annelize Morgan


Скачать книгу
“Maar ons bou daardie skuurtjie sommer in ’n japtrap.”

      Hendrieka knik.

      “Dis goed. Ek wil nie hierdie winter weer sukkel nie.” Sy aarsel. “Julle sal voor die winter klaar wees, dan nie?”

      Hy lag.

      “Dis nog maar Februarie, mevrou. Dit sal nie langer as drie weke duur nie.”

      Hendrieka kyk na die ander twee mans.

      “Wie is jou helpers?”

      Harrison kyk om na die ander en wink hulle nader. Hulle klim van die perde af en kom by die groepie staan.

      “Hierdie is George Honeyball en die ander een is George Walker,” stel Harrison sy vriende voor.

      Hendrieka kyk fronsend van die een na die ander.

      “En hoe dink julle moet ek julle miskien aanspreek? As ek George sê, dan gee al drie antwoord! Dit sal nooit deug nie.”

      Walker grinnik. Hy is ’n jong man van om en by drie-en-dertig jaar met bruin hare en donker oë.

      “Gebruik maar die vanne, mevrou.”

      Hendrieka druk haar vuiste in haar sye.

      “Nou maar goed, dan maak ek so. Neem julle perde na die stal. Jantjie sal hulle daar versorg. Dan kom julle kombuis toe sodat ons oor ’n koppie koffie sake kan gesels.”

      Die drie kry koers na die stal en Hendrieka gaan die huis binne. Carolien bly nog ’n paar oomblikke ingedagte op die stoep staan. Harrison is ’n koddige, maer man met ’n yl baard en ruie wenkbroue. Honeyball is skynbaar die een wat die minste ooit te sê het en met sy vaal, oninteressante voorkoms is dit ook nie eienaardig nie. Walker is die een wat haar aandag die langste gevange gehou het. Waarom het ’n jong man soos hy ’n swerwer geword? Sy het van sy oop, vriendelike glimlag gehou en sy is bly dat een van die drie darem nog jonk is. Dit raak baie eensaam hier op die plaas en geselskap van enige aard is skaars.

      Toe sy eindelik by haar moeder in die kombuis aansluit, is die ander drie reeds daar. Hulle het die ergste stof van hulle gesigte en hande afgewas voordat hulle by die tafel kom sit het.

      Hendrieka is besig om aan hulle te verduidelik wat sy van hulle verwag. Carolien begin in stilte die aandete berei, terwyl sy met ’n halwe oor na haar ma luister. Haar moeder het die afgelope paar jaar oud en hard geword. Sy is nie meer die vriendelike, opofferende vrou wat sy geken het nie. Hendrieka is deesdae agterdogtig en veral bitter omdat die lewe haar telkens ’n streep trek.

      Haar blik dwaal na Walker wat aandagtig na haar moeder luister. Hy is skynbaar die een met die meeste verstand van die drie en dis duidelik dat hy presies snap wat Hendrieka wil hê. Hy vra min vrae en kibbel ook nie te veel oor die betaling nie. Op die oomblik is hy heeltemal onbewus van Carolien se teenwoordigheid. Toe hy en sy makkers eindelik tot ’n vergelyk oor die betaling kom, ontspan hy en leun terug in sy stoel. Toe kyk hy op en net ’n oomblik lank rus sy blik op Carolien.

      Hendrieka volg sy blik en verstyf.

      “Net nog een ding,” sê sy. “My dogter is nie by enige deel van die ooreenkoms ingesluit nie. Julle werk net hier en ek sal geen vrypostigheid duld nie.”

      Die drie mans kyk na haar, die uitdrukkings op hulle gesigte skielik geslote. ’n Rilling gaan onwillekeurig langs Carolien se ruggraat af. Hulle is harde mans, dink sy bekommerd. Hulle weet niks van hulle af nie; hulle weet nie eens waar hulle vandaan kom en of hulle vriend of vyand is nie.

      Toe sy later alleen in haar kamer is, wens sy dat hulle die skuur gou wil bou en padgee. Daar is ’n onverklaarbare onrustigheid in haar. Dis byna soos ’n voorgevoel van onheil en dit ontsenu haar. In hulle afgesonderdheid het hulle nog net die elemente van die natuur gehad om te vrees. Mense – en veral vreemdelinge – is baie skaars in hierdie koue, onvriendelike landstreek.

      Die dae gaan egter baie rustig en sonder enige voorval verby. Die drie mans is stil en gedra hulle goed. Teenoor Hendrieka en Carolien is hulle beleef en vriendelik en mettertyd verdwyn Carolien se vrese.

      Saterdag om eenuur staak die drie hulle werk aan die skuur en gaan na waar hulle hul tente onder die twee bloekombome opgeslaan het. Walker het ’n kitaar uitgehaal en terwyl die vleis oor die kole braai, sit hy vreemde, opgewekte liedjies en speel.

      Carolien is besig om die voorstoep af te vee toe Gert Oosthuizen te perd by die opstal opdaag. Hy groet uitbundig en waai sy hoed opgewek toe hy die meisie gewaar.

      “Hoe lyk dit, Lientjie? Het jou ma nog die gif, of kan ek dit waag om te kom koffie drink?”

      Sy maak die besem teen die muur staan en vee haar hande aan haar voorskoot af.

      “Middag, oom Gert. Mamma is in die kombuis en ek dink daar is nog koffie sonder gif.”

      Hy lag bulderend en stuur sy perd met ’n klap op die boud na die stal.

      “Ek hou daarvan om gevaarlik te lewe en elke keer wat ek hier kom, tart ek die noodlot uit.” Hy bekyk die meisie. “Jy word sowaar mooi, Lientjie. Dis ’n jammerte dat jy hier op die plaas moet sit. Jou ma behoort jou dorp toe te stuur.”

      Hendrieka verskyn skielik in die deur. Haar oë is koud en haar mond ’n dun, harde lyn.

      “Wat soek jy hier, Gert?”

      Hy grinnik.

      “Liewe land, skoonsus, is dit nou ’n manier om familie te groet?”

      Sy verstyf.

      “Ek is nie van jou familie nie! Ek is ’n Matthee en nie ’n Oosthuizen nie!”

      “Alte waar,” antwoord Gert opgewek. “Dis juis die rede waarom jy jou deel van Langlaagte nie sal kan behou nie.”

      Hendrieka byt op haar tande.

      “En waarom nogal nie? Wanneer ek sterf, gaan die plaas na Carolien en sý is ’n Oosthuizen. Sý sal nie nodig hê om aan jou te verkoop nie.”

      Gert se gesig verstrak. Só het hy nog nooit daaraan gedink nie. Die vervlakste vroumens gaan hom sowaar nog uitoorlê en dis nie ’n gedagte wat hom juis aanstaan nie. Hendrieka is lankal verby haar beste jare en die swaarkry het haar nie goed behandel nie. Sy is maer en ondervoed en die geringste siektetjie kan haar graf toe stuur. Dan is hy die plaas kwyt.

      “Jy is ’n moedswillige ou donkiemerrie, Hendrieka!” begin hy skielik skel. “Jy sal loop staan en doodgaan net om my ’n streep te trek! Maar laat ék jou ’n ding vertel! Jy sal nog lank op hierdie plaas sit en krepeer!”

      Carolien kyk geskok na haar oom. Só omgekrap het sy Gert Oosthuizen nog nie gesien nie. Waar kom hy daaraan om so met haar ma te praat?

      Hendrieka glimlag net bitter.

      “Net nog ’n paar winters, Gert, en dan sal jy van my ontslae wees. Hierdie huis is vol trekke en my bors lol maar aljimmers wanneer die winter kom. Jy kan my maar daar in die hoek van die plaas loop begrawe, want ek wil nie tussen die Oosthuizens op die bult gaan rus nie. Hulle sal my saamvat hel toe.”

      Gert snak na sy asem.

      “Eerbiedig die dooies, Hendrieka! Jou oorlede man lê ook daar!”

      “Die stomme Frans het nie ’n keuse gehad nie,” antwoord sy bytend. “Julle klomp het mos altoos die laaste sê en iedere een word hoek-om en draai-om gejaag totdat julle jul sin gekry het. Ek is ’n Matthee, Gert, en jy het geen seggenskap oor my nie!”

      Hy pluk sy hoed oor sy ylwordende hare en gluur sy skoonsuster woedend aan.

      “Jy sal bly leef totdat ek die plaas het!” bulder hy. “Langlaagte sal nooit aan ’n halwe Oosthuizen behoort nie! Daar is te veel van jóú bloed in jou dogter!”

      Sy gaan reg voor hom staan met haar hande in haar sye.

      “Goeie bloed, sê ek jou, Gert! Dis goeie bloed, dié van die Matthees. Net ’n druppel daarvan in jou sou jou al draaglik gemaak het.”

      Hy


Скачать книгу