Ena Murray Keur 7. Ena Murray
Читать онлайн книгу.daarvan dat sy en haar ouma gisteraand heeltemal van hul trollie gegaan het. Ouma se voorstel was vergesog, om dit sagkens te stel, en sý moes werklik van haar kop af gewees het om tot so iets in te stem. Daarom is sy reeds vroeg vanoggend hier. Ouma het haar in hierdie ding laat beland. Ouma moet sorg dat sy weer daar uitkom.
Maar tant Miemie is vanoggend nog meer vasberade as die vorige aand. Watter verskonings Marista ook al aanvoer, sy het vir elkeen ’n antwoord, en in geen onseker taal nie.
“Ouma, ek kan nie vanoggend al na Duiwelskloof vertrek nie. Ek kan nie sommer net so verdwyn nie. Ek kan Wouter nie so in die steek laat nie,” laat sy wanhopig hoor, maar tant Miemie se kierie klop weer ongeduldig as teken dat sy ’n antwoord gereed het.
“Hoekom nie? Hy verdien niks beter nie. Hy verdien om in die vlug gelos te word, die vals skepsel!”
“Ouma,” probeer Marista redelik wees, “ons moet onthou dat ons net die praatjies van die modelle het op grond waarvan ons Wouter veroordeel. Ek voel al baie sleg dat ek hulle so sonder meer geglo het. Ons is miskien baie onregverdig teenoor hom en …”
“Niks daarvan nie,” laat tant Miemie beslis hoor, haar lippe vasberade saamgepers. Sy frons eers nadenkend, en besluit dan om maar uit te kom met die hele sak patats. “Marista, ek wou jou nie vertel nie, maar … ek dink ek moet. Dis my plig. Lettie sal my vreeslik kwalik neem as ek jou vertel, want ek het haar belowe ek sal stilbly hieroor, maar … Gisteraand, nadat jy hier weg is – dit was al sommer laat – het Lettie hewig ontsteld hier aangekom. Sy was in trane, die liewe kind. Sy bewonder jou geweldig en sy het die wêreld se respek vir Wouter Malan, soos jy seker self weet. Ek dink haar teleurstelling in Wouter is net so groot, indien nie groter nie, as joune.”
Tant Miemie kyk haar kleindogter bekommerd aan. “Jy moet haar nie kwalik neem nie, kind. Sy het nie bedoel om haar in jou private sake in te meng nie, maar sy wou jou so graag help. Sy het na Wouter se woonstel gegaan om hom te vertel wat alles gebeur het. En toe sy daar kom … Daar was ’n ander meisie by hom in die woonstel.” Die ou oë sien hoe die bleek wange nog bleker word. “Ek is jammer, kind, maar … die praatjies is blykbaar waar. Wouter is besig om jou gruwelik te bedrieg.”
Marista swaai vinnig om terwyl sy pynlik sluk. Sy is nie eintlik verbaas om dit te hoor nie, nie nou meer nie. Sy onthou dat hy geensins ontevrede of ontsteld geklink het toe sy hul afspraak van gisteraand gekanselleer het nie. Hoekom sou hy, as daar genoeg ander is wat haar plek op kort kennisgewing kan inneem?
Sy sal die waarheid in die oë moet begin kyk. Sy is baie belangrik vir hom as model, maar in sy private lewe kan sy baie maklik vervang word. Die verloofring aan haar vinger sorg dat hy haar diens in sy onderneming behou, diens waarsonder hy nie maklik alleen so vinnig die leer van sukses sou kon bestyg nie. Maar dit beteken niks nie, daardie ring – nie wat dit moet beteken nie.
Weer eens is daar ’n gevoel by haar dat die vaste aarde skielik onder haar voete weggevee is; voel sy weer ’n magtelose verslaentheid oor haar spoel. En weer eens besef sy dat sy Wouter Malan nie weer in die oë kan kyk nie, dat sy hier moet wegkom … en gou.
Tant Miemie sug en trek dan die skraal skouertjies vierkant terug. As daardie Wouter darem dink dat hy haar geliefde kleinkind gaan onderkry, begaan hy ’n groot fout en hou hy nie rekening met Margaretha Jacomina Isabella Greyling nie. Dit sal die dag wees dat sy gaan toelaat dat daardie swierbol haar pragtige Miempie se lewe gaan verwoes!
Sy is ook sommer haastig.
“Ek kry my handsak en dan moet ons dadelik winkels toe, Miempie. Daar is baie om te doen. Solank ek my dingetjies regkry, bel jy gou die stasie en hoor wanneer die trein loop en …”
“Ouma, moet ek … moet ek regtig gaan?”
Tant Miemie lyk eerlik geskok. “Maar natuurlik, mens! Marista, jy kan mos nie ’n mens jou woord gee en dan daarop teruggaan nie! A nee a, kind, ek begin wonder of jou ma jou reg opgevoed het. Nee, kyk, ons woord was nog altyd ons eer. Of aard jy na daardie danige verloofde van jou? Dan kan jy bly, want dan is julle mekaar se soort.”
“Ouma, asseblief, dis nie … Begryp dan tog! As dit enige ander soort betrekking was, maar … huishoudster! Ek!”
Tant Miemie plant haar vierkant op haar kort beentjies voor die lenige Marista en kyk met kwaai oë na haar op.
“O, nè? Enige ander werk, sê jy? Goed. Noem hulle. Wat kan jy anders doen as om op en af te paradeer vir die sondigheid? Hm? Sê my!”
Marista kyk verslae terug. Weer soos altyd, is Ouma natuurlik reg. Dit is werklik ál wat sy kán doen! “Kind, jy is verniet so bang. Om huis te hou en kos te kook kom sommer vanself by ’n vrou. Dis ingebore. Jy het dit maar nog nooit probeer nie, dis al. Dis mos ook nie vir ’n ewigheid nie. Dis uiters ’n maand lank wat jy die arme mense sal moet uithelp. Dan sal tant Anna weer terug wees.”
“Is u seker dis net ’n maand? Het Lettie so gesê?”
“Ja,” lieg tant Miemie onbeskaamd. “En van Lettie gepraat … Ek dink nie ons moet haar vertel van dié plan van ons nie. Sy kan haar net in ’n brief verspreek. Nee. Dis veiliger dat net ek en jy daarvan weet.”
“Maar om sommer net te verdwyn!” Sy klink bekommerd en bang, en tant Miemie antwoord lighartig, hoewel sy self effens op haar senuwees voel. As daardie Michael-broer van Lettie hulle darem betrap, sal die hare waai, dis seker. Volgens Lettie is hy ’n regte despoot, ’n man wat hom nie vir die gek sal laat hou nie.
“Wat daarvan? Dit sal Wouter Malan die wêreld se goed doen. Nou kan hy agterkom wat jy werklik vir hom beteken, en as hy enigsins nog ’n gewete in hom het, hoop ek dit ry hom bloots. Ek sal Lettie vertel jy is ’n rukkie weg, êrens oorsee in die een of ander land. En ek sal net eenvoudig voorgee ek weet nie waarheen jy is nie, en klaar. Bel nou die stasie, Miempie!”
Selfs die Spoorweë is nie aan Marista se kant nie. Daar is ’n trein om halftwaalf. Daar is selfs plek. Marista voel die web ál nouer om haar span. Dit lyk nie asof sy uit hierdie penarie gaan loskom nie …
Sy gryp wanhopig na die enigste strooihalm wat oorbly. “Ek sal nooit klaarkry nie, Ouma. Dis nou agtuur. Die trein vertrek om halftwaalf. Ek sal nooit alles ingepak kry en …”
“Jy het niks om in te pak nie. Ons gaan nou alles wat jy nodig het, in die winkels koop, tasse en al, en dan is dit net nodig om ’n etiket aan te heg en jy is gereed.”
“Hoekom?” wil sy verbaas weet. “Ek het mos genoeg klere en …”
Ouma is nou openlik ongeduldig. Hemel, die kind is mos nie werklik só onnosel nie! Wat is dit vanmôre met haar verstand?
“Waar het jy gehoor van ’n huishoudster wat modelrokke dra? Moenie laf wees nie.” Sy skud haar kop meewarig. “As jy darem nie jou ouma gehad het nie, Marista, wonder ek waar sou jy beland het.”
Marista moet vinnig sluk. Bepaald nie op Duiwelskloof nie, het sy amper hardop gesê, maar dit toe maar daar gelaat. Dit help nie om nou te kere te gaan nie. Sy moes eerder haar gesonde verstand gebruik het.
Soos ’n lam wat ter slagting gelei word, volg Marista tant Miemie ’n rukkie later by een van die groot kettingwinkels in. Klop-klop met haar kierie stap sy reg op ’n ry rokke af: Uitverkoping! Fantastiese aanbod teen weggeepryse! – lees haar verstarde oë. Ouma bedoel tog nie regtig … Maar ouma Miemie bedoel dit! Marista staan soos ’n verdwaalde skaap tussen die rye rokke terwyl haar ouma kliphard sake doen en dan nog redekawel ook!
“Ek neem ses van hierdie rokkies, juffrou. Ek kry darem seker afslag vir kontant, hè?” hoor Marista haar ouma sê, en sy kyk vinnig om haar rond. Sy sterf as die een of ander bekende haar nóú moet sien! Sy het nog nooit in haar lewe by ’n kettingwinkel rokke gekoop nie, en dan staan sy nogal breed in ’n tou by die betaalpunt!
“E … nee, dame, jammer, maar hierdie rokkies word reeds so spotgoedkoop verkoop dat ons nie nog …”
“Dit maak nie saak nie. Ek betaal kontant en ek vat sés rokke. Kyk. Hier is my geld. Ek wil nog onderklere en nagklere en skoene en tasse en allerhande ander dinge ook