Suster Lilian se swangerskap & geboorteboek. Lilian Paramor
Читать онлайн книгу.miskrame en stilgeboortes, moontlik vanweë die swak toestand van die plasenta of afwykings by die ontwikkelende baba, wat lei tot miskraam.
Hulle sê minder as tien sigarette per dag is nie te riskant vir ’n ontwikkelende baba nie, maar die wrede werklikheid is dat hierdie babas meer geneig is tot respiratoriese probleme, wiegiedood en allergieë ná geboorte, ongeag hoeveel sigarette die ma gerook het, maar hoe minder hoe beter. Ek weet dit is moeilik om op te hou rook, maar jy sal jou baba ’n lewenslange guns bewys en ek wil jou aanmoedig om te probeer. Dit is glad nie riskant om eensklaps op te hou nie, en dit is werklik die beste manier om te verseker dat Baba van so vroeg moontlik af binne die gunstigste omgewing ontwikkel.
Dit is oor die algemeen nie makliker om stadig minder te rook nie, hoewel sommige mense wat sukkel om eensklaps op te hou, vind dat dit help om aanvanklik net drie of vier trekke van ’n sigaret te vat voordat hulle dit dooddruk en weggooi, aangesien die nikotiendrang effens afneem ná ’n paar trekke.
Verwagtende vaders en nabye familie en vriende behoort kennis te neem dat hierdie inligting ook op hulle betrekking het, aangesien passiewe rook ewe skadelik is.
Angstigheid lei dikwels tot rook gedurende swangerskap. Die homeopatiese middel Sister Lilian Emotion-tablette sal jou help om die situasie positief en veilig te benader. Indien die swangerskap en geboorte jou angstig maak, lees meer oor die kraamproses en opsies vir pynverligting. As dit hoofsaaklik ’n gewoonte is, kan jy probeer besig bly met kreatiewe aktiwiteite en tipiese situasies vermy waar jy outomaties ’n sigaret sou aansteek.
WEEFSELSOUTTERAPIE VOOR BEVRUGTING
Die onderstaande weefselsoute is ’n uitstekende kombinasie om te gebruik voordat jy swanger raak, asook gedurende swangerskap om die assimilasie van voedingstowwe uit voedsel en selfunksie optimaal te verhoog.
WEEFSELSOUTE | UITWERKING |
Calc fluor | Elastisiteit van weefsels, tandontwikkeling |
Calc phos | Groei, ontwikkeling; optimale liggaamsfunksie; gesonde tande, bloed en bene; versterkte immuniteit |
Ferrum phos | Ysterassimilasie; anti-inflammatoriese eienskappe; sterk weefsels |
Kali phos | Gesonde ontwikkeling van brein- en senuweestelselweefsel |
Mag phos | Voorkom krampe, optimaliseer magnesiumvlakke, help voorkom koliek by babas ná geboorte. |
Emosionele intelligensie vir voornemende ouers
Waarom kry mense nog deesdae kinders? Hoofsaaklik om dieselfde redes as in die verlede, selfs in ons moderne tyd. Daar breek eenvoudig ’n tyd aan wanneer ’n mens na ’n kind smag; dit is ’n basiese emosionele en liggaamlike drang. Kortom, jy wil ’n baba hê ter wille van dit wat hy of sy jou kan bied.
BIED DIE BESTE VIR BABA
Net soos ons aanvaar dat dit ons reg is om kinders te kry en volgens ons persoonlike lewensuitkyk groot te maak, glo ek kom ons babas ook na hierdie planeet en ons huise met sekere verwagtinge. En net soos die getik van jou biologiese en emosionele horlosie jou waarskynlik laat besluit het dat die tyd aangebreek het om ’n baba te hê, volg babas ook die natuurwette. Ek stel my voor dat hulle die beste moontlike geboorte, nageboortesorg en kinderjare verwag.
Kinders moet hulle by die gesin en hul norme aanpas. Dit ly egter geen twyfel nie dat babas ’n behoefte het aan die beste moontlike geboorte-ervaring. Babas verwag van nature ’n natuurlike geboorte, en dit behoort verkieslik slegs anders te verloop indien die moeder of baba in werklike gevaar verkeer, in welke geval ingryping die beste opsie is. Babas is ook geprogrammeer om die heel beste voeding te verwag wat die natuur kan bied, en ek wed jou dit kom nie uit ’n blik nie!
Dit klink dalk na ’n sedepreek, maar dit maak my hartseer dat ons onsself so maklik om die bos lei en in die proses ons ongeskrewe kontrak met ons babas verbreek. Dit mag dalk lyk asof menslike ingryping swangerskap en geboorte makliker, doeltreffender en beter laat verloop as die natuur. Hierdie boek wil jou inlig oor al jou opsies, maar jou ook help om te besef dat Moeder Natuur werklik meestal die beste weet wat die eeue oue menslike aktiwiteit van ouerskap betref.
Wat ’n jammerte dat die moderne lewenstempo beswaarlik voorsiening maak vir liggaamlike, en nog minder vir emosionele voorbereiding vir ouerskap. Deesdae werk vroue dikwels tot aan die einde van hul swangerskap sodat hulle soveel moontlik tyd saam met hul pasgebore baba kan deurbring voordat hulle teruggaan werk toe. Dit beteken minder tyd gedurende swangerskap om na te dink en jouself emosioneel voor te berei. Dit is regtig jammer, aangesien die skep, koestering en grootmaak van kinders ’n geweldige invloed op ons lewe het. Vroue raak dikwels introspektief gedurende swangerskap, soms in so ’n mate dat hulle ’n afkeer van aanraking ontwikkel. Dit gaan gepaard met die berugte neiging tot verhoogde emosionaliteit.
Ons het onsself vervreem van die dieper prosesse van swangerskap. Moenie toegee aan die versoeking om tot aan die einde van jou swangerskap die berekende, doeltreffende beroepsvrou te wees nie. Jy is ’n vennoot in die skepping, en wat is ’n liggaamlike skepsel sonder ’n siel? Dit is gesond om te besin oor die sin van moederskap, die aard van koestering en die impak wat jy en jou baba op mekaar en op jul wêreld gaan hê. Ons is nie bloot eilande in ’n anonieme oseaan vir die duur van ons lewe, net om daarna te verskrompel en te sterf nie. Die samelewing probeer baie hard om ons van ’n emosionele ontdekkingstog te weerhou, maar ek wil jou aanmoedig om aan te hou delf, aangesien dit die menslike belewing verryk. Watter kosbaarder geskenk kan ons vir ons babas gee?
EIENSKAPPE OM AAN TE KWEEK VIR SUKSESVOLLE OUERSKAP
Ongeag waarom jy besluit het om ’n baba te hê, kom die realiteite van ouerskap dikwels nogal as ’n skok. Watter eienskappe moet jy aankweek om ’n suksesvolle ouer te wees?
Voorgeboorteklasse lig ouers selde in oor die allerbelangrike rol van die vermoë om te ontspan (onder enige en alle omstandighede). Voornemende ouers behoort ’n blaaskans te neem van die adrenalieninspuiting van die moderne volwasse lewe. As jy ’n stadiger pas handhaaf gedurende die swangerskap en jou kind se eerste lewensjare, sal jy waarskynlik kan sê: ‘Ek het daardie tyd geniet.’ Hoe selde sê ouers dit!
Raak bewus van jou innerlike kind. Mans vaar gewoonlik beter hiermee as vroue. Herontdek die towerkrag van die lewe soos gesien deur die oë van ’n kind, en moenie te maklik in die slaggat trap om ’n kind se perspektief te vergeet nie.
Moenie te gejaagd wees nie. Jou baba sal minder stres registreer, en jy ook.
Die meeste ouers ondervind geen tekort aan eindelose liefde vir hul kleingoed nie, hoewel hulle nie altyd van hulle – of van wat hulle doen – hou nie! Dit is doodnormaal. Weerhou jou egter daarvan om jou kinders se liggaamlike behoeftes bo hul emosionele behoeftes te stel.
Jy het dalk oorvloedige liefde, maar geduld is ’n ander saak. Dit help soms om te onthou dat kinders ’n ander perspektief op die lewe het as volwassenes. Hul prioriteite verskil hemelsbreed van joune. Die idee is nie om te kyk wie se gees eerste geknak gaan word nie, maar om maniere te vind om in vrede saam te leef.
Veral met ’n eerste kind is ons voortdurend deel van ’n eksperiment – alles wat met ons gebeur, gebeur vir die eerste keer, selfs al is dit jou 25-jarige wat raad vra oor die liefde. Wees geduldig met jouself, maar sorg dat jou optrede nooit jou baba of kind benadeel nie.
Ek glo ’n klein bietjie ondoeltreffendheid is noodsaaklik vir goeie ouerskap. Jou kind is nie ’n taak wat doeltreffend afgehandel moet word, soos ’n stuk werk nie. Baie van ons kry eers later in ons lewe kinders en is daaraan gewoond om ons loopbane en huishoudings met voorspelbare bekwaamheid te organiseer. Ons probeer dan dit op ons ouerskapstyl oordra. Moenie! Dit gaan nie werk nie.
Voorbereiding vir die volgende baba
Net soos daar nie ’n ‘ideale ouderdom’ is om ’n baba te kry nie, is daar nie ’n ‘korrekte’ ouderdomsgaping tussen kinders nie. Met enige gaping van meer as vier jaar is dit byna asof jy twee enigste kinders grootmaak. Sodra jy die werk van die kleinbabastadium afgehandel het, begin