Ena Murray Keur 8. Ena Murray

Читать онлайн книгу.

Ena Murray Keur 8 - Ena Murray


Скачать книгу
in jou vertroue sal neem. Ek belowe dat wat jy my vertel, veilig by my sal wees.” Hy antwoord nie, kyk haar net stil aan, en sy vervolg dringend: “Kan jy my dan nie net ’n aanduiding gee nie?”

      Hy skud sy kop woordeloos, en sy laat haar blik sak. Sy voel sy warm asem teen haar voorkop en hoor hom sê: “Ek is jammer, Irma. Ek kan nie. Probeer om, wanneer jy my begin haat, nie so diep te haat dat jy nie weer die pad kan terugvind nie.” Hy lig haar ken met sy hand. “En belowe my dat jou haat en afsku vir my jou nie in die arms van ’n ander man sal dryf nie.”

      “Ek haat jou nie, Anton. En ek sal jou nooit kan verafsku nie,” fluister sy skor.

      “Dis moedige woorde, meisie, maar dit sal gebeur. Dit sal.”

      Sy kyk sprakeloos na hom op, en voel hoe ’n vangnet al nouer om haar getrek word – ’n onsigbare onheil wat meedoënloos op hulle afpyl en die wete in haar laat posvat dat hulle magteloos daarteenoor staan … En dan is hy weg en sy kan die feit dat sy diep aangetrokke voel tot Anton de Woud nie langer ontken of ignoreer nie. Maar hy …? Sy optrede teenoor haar verraai dat hy ook veel meer as net bloot ’n beskermingsdrang teenoor haar voel. Maar kan sy daaraan vashou, dit glo? Of is hy met ’n speletjie besig – ’n onheilige speletjie, miskien?

      Toe Irma ’n paar minute later die woonvertrek binnestap, is daar egter uiterlik geen teken wat die chaos van haar innerlike verraai nie. Aangesien sy ’n ligte gelaatskleur het, is die bleekheid van haar wange nie so opvallend nie, en aangesien sy nooit juis spraaksaam is nie, merk niemand op dat sy nie saamgesels nie. Sy doen haar bes om nie in Anton se rigting te kyk nie, hoewel sy intens bewus bly van sy teenwoordigheid so digby haar.

      Dis ’n halfuur ná aandete, en dis stil in die woonvertrek. Irma probeer hard om haar aandag by haar breiwerk te bepaal. Emerit en Jan sit en lees. Hoewel Carlyle voorgee dat hy in sy koerant verdiep is, merk Irma dat hy telkens bo-oor die rand na Anton staar. Anton het ’n oomblik gelede sy koerant neergegooi, en sit nou lankuit gestrek in sy stoel, sy oë toe. Dit lyk asof hy heerlik sit en dut. Irma kan nie help om ’n verwonderde blik in sy rigting te werp nie. Hy lyk so ontspanne, en sy wonder hoe hy dit regkry, terwyl hulle ander almal so onrustig en gespanne is.

      Haar hart ruk toe hy skielik sy oë oopmaak en stip na haar staar. Die volgende oomblik sidder ’n gil deur die swaar stilte. Almal spring vervaard orent.

      Emerit staar bleek na iets by die deur, en dis of Irma haarself nie sover kan kry om om te draai nie.

      “Wat is dit, Emerit?” vra Jan bekommerd.

      “Dis … Dáár by die deur …”

      Carlyle beweeg vinnig in die rigting van die voordeur wat half oopstaan. Hierdie keer is dit Irma wat gil. Sonder dat sy bewus is van wat sy doen, dra haar bene haar na Anton wat dadelik sy arm beskermend om haar slaan.

      Irma moet twee keer kyk om haar te vergewis dat dit werklik ’n muis is wat snuffel-snuffel teen die muur langs kom. Maar dis nie die feit dat dit ’n muis of rot is wat haar hartklop ’n oomblik tot stilstand skok nie, want anders as die meeste vroue, het sy geen vrees vir muise nie. Wat die gil na haar lippe gebring het, is die feit dat hierdie muis of rot so groot soos ’n uitgegroeide kat is.

      Carlyle het intussen ’n kierie, wat in die hoek van die kamer agter die deur staan, gegryp en storm nou op die skugter muis af. Irma voel Anton verstyf, maar voordat hy Carlyle bereik, het dié ’n moorddadige hou op die muis se kop neergebring. Carlyle het met al sy krag geslaan, en toe die hou tref, weet Irma dat dit dodelik is.

      Anton ruk die kierie uit sy hand, terwyl hy bleek van woede uitroep: “Is jy van jou kop af, jou gek!”

      Sy oë blits na Carlyle, wat momenteel verslae is oor Anton se heftige reaksie.

      “Dis jý wat van jou kop af is, Anton de Woud! Natuurlik moes Carlyle dit doodmaak. Dis ’n … ongedierte,” gil Emerit dit uit, en dis of Anton skielik tot homself kom.

      Hy gooi die kierie in die een hoek neer en stap na die muis wat in die ander hoek lê. Vinnig betas sy vingers die kop en dan sê hy toonloos: “Jy het die hele kopbeen verbrysel. Dis jammer dat jy hom doodgemaak het.”

      “Maar hoekom?” vra Jan en buk af om die muis van nader te beskou. “Hemel, ek het nog nooit so iets gesien nie. Dit lyk soos ’n kat. Wat is dit, Anton?”

      “Dit is ’n muis.”

      “’n Supermuis, Jan. Dit was oorspronklik ’n gewone ou muisie. Maar nadat ons vriend Anton en sy professor met hom klaar was, lyk hy so.”

      Carlyle kry nie sy sin heeltemal klaar nie. Soos blits is Anton orent en sis: “Hou jou mond! Weet jy wat jy besig is om te doen?”

      “Nee. Wat?” vra Carlyle smalend, uitdagend.

      Dis net Jan en Carlyle wat Anton se antwoord kan hoor, want hy praat baie sag: “Jy is besig om jou eie doodsertifikaat te onderteken – of iets veel ergers!”

      Carlyle en Jan verbleek merkbaar. Jan maak sy mond oop, maar voordat hy iets kan sê, bars ’n bulderende stem deur die vertrek: “Jou idioot! Jou …” ’n Reeks onverstaanbare woorde in ’n vreemde taal rol oor hul gasheer se lippe.

      Die vyf mense in die vertrek luister lamgeslaan van vrees, terwyl die woede van hul gasheer oor hul koppe losbars. Aan die waansinnige klank in sy stem kan hulle hoor dat hy buite homself van woede is en geen beheer meer oor homself het nie. Skielik swyg die stem, en toe dit weer opklink, is dit sag, gevaarlik sag …

      “Tel die muis op, meneer Faure, maar baie versigtig. Bring dit na die toring – alléén.”

      Dis ’n uitdruklike bevel, onheilspellend. Selfs Anton is bleek waar hy langs die roerlose Carlyle staan. Weer klap ’n enkele woord deur die vertrek: “Onmiddellik!”

      Toe hy afbuk om die muis op te tel, is daar iets desperaats in sy oë. Maar almal in die vertrek besef dat hy niks anders kan doen as om te gehoorsaam nie. Hulle staar hom nog steeds stom aan toe hy stadig in die rigting van die gangdeur beweeg, terwyl hy die dooie muis versigtig in sy hande hou. Dis Emerit wat met ’n gil vorentoe spring en hom aan die skouers beetkry en histeries uitroep: “Moenie gaan nie, Carlyle, moenie! Hy gaan jou … doodmaak …”

      Met ’n paar vinnige treë is Anton by haar en skeur hy haar hande van Carlyle af los. Desperaat spartel sy om los te kom, terwyl sy aanhoudend smekend uitroep dat Carlyle nie moet gaan nie. Maar Anton se greep is sterk en hy hou haar styf vas.

      “Loop gou!” sis Anton en sy stem klink ru. Toe Irma na hom kyk, is dit asof sy meegevoel in sy oë kan lees, asof hy weet wat op Carlyle wag. Toe Carlyle vinnig die gang in verdwyn, kan net die histeriese gille van Emerit gehoor word. Met een beweging pluk Anton haar om en klap haar hard teen die wang.

      Oombliklik hou sy op gil en ’n geskokte stilte volg. Wasbleek en met oë waaruit naakte vrees straal, staar Emerit na hom, haar hand bewend op die plek teen haar wang waar die rooi vingermerke lê.

      “Anton! Hoe kon jy so iets doen?” roep Irma ontsteld uit en lê haar arm beskermend om die skouers wat nou ruk van snikke.

      “Ek moes. Sy was histeries.”

      Maar Irma luister skaars na sy verduideliking. Sy lei die snikkende meisie na haar kamer. Ná ’n paar minute raak sy kalmer, maar die vrees het haar nog nie verlaat nie.

      “Moenie so ontsteld wees nie, Emerit. Carlyle sal niks oorkom nie. Hy het net die muis gaan gee. Hy sal nou-nou weer terug wees,” probeer sy teen haar eie beterwete die ouer meisie troos, maar Emerit skud haar kop.

      “Nee, Irma. Carlyle sal nie weer terugkom nie.”

      “Moenie so praat nie. Hoe kan jy so iets sê?”

      “Ek weet dit is so,” antwoord Emerit in ’n stem wat moeg en doods klink, asof die emosionele storm van so pas haar totaal uitgeput het. “Ons sal Carlyle nie weer sien nie. Hy is die eerste van ons wat as proefkonyn gebruik gaan word.”

      “Emerit!” Irma kyk haar met afgryse aan. “Glo jy die storie wat Carlyle vertel het omtrent


Скачать книгу