Ettie Bierman Keur 11. Ettie Bierman

Читать онлайн книгу.

Ettie Bierman Keur 11 - Ettie Bierman


Скачать книгу
is nie vir Theo tyd om te antwoord nie.

      “Dag, Flip,” sê hy vriendelik. “Ek het jou Land Rover onder die boom sien staan, maar nie geweet waar jy is nie. Jy het mos al my vroutjie ontmoet, nie waar nie?”

      “By die brand, ja. Middag, Janie.”

      “Middag, Flip.” ’n Moedswillige duiweltjie neem skielik van Janie besit. Sy sal Theo wys hy is nie al een wat kan toneelspeel nie. So, hy wil mos hê sy moet verlief lyk, nè?

      Sy nestel teen Theo aan en lê haar hand teen sy wang, toe haar wang teen die hand.

      “Dink jy nie ook Theo is ’n fantastiese ou nie, Flip? Hy is so lief en dierbaar teenoor my; so geduldig … en so verdraagsaam! Ek is dolverlief op hom en as ’n ander meisie in my slaai kom krap, krap ek haar oë uit. Is dit goed, my engel? Kan ek maar met hand en tand verdedig dit wat myne is?” Janie kyk tergend op in Theo se gesig en druk ’n soentjie op sy mond.

      Hy verstyf en sy kan raai wat in sy kop omgaan … en wat hy graag sou wou antwoord. Daar is ’n lekker tevrede gevoel in haar binneste. Theo het mos nie verniet gesê sy is so ’n bedrewe toneelspeelster nie. Sy sal hom in eie munt terugbetaal.

      “Kan ek maar, liefste?” terg Janie, maar sy voel skielik weer lus om te huil. Daardie soentjie het die verlange in haar wakker gemaak, die begeerte dat hierdie toneeltjie eg moes wees, dat sy werklik die vrymoedigheid moes gehad het om haar arms om Theo te sit en hom te soen as sy so voel.

      “Ja, natuurlik.” Hy doen sy bes om nie ongemaklik te lyk nie. Hy hou sy arm om haar middel, dog dis styf en ontoegeeflik en nie in die minste liefdevol nie. Hy wend hom tot Flip voordat Janie weer iets kan sê. “Iets gewaar, Flip?”

      “Niks. Die patrollies het ook onverrigter sake teruggekeer. Dosyn het ’n steenbokkie in ’n strik gekry en die spore gevolg, maar dié het soos gewoonlik in die rivier doodgeloop.”

      Theo gebruik die steenbok as ’n verskoning om Janie van hom af weg te stoot en na Flip se Land Rover aan te stryk. Hy tel die bokkie op en bekyk die rou wonde aan die linkervoorpoot. Plek-plek steek die wit been deur en dis duidelik dat hierdie klein bokkie nie gesterf het sonder om baie hard te spook om uit die moordende saagtande van die strik te kom nie.

      “Die vuilgoed!” Theo bal sy vuis en slaan dit teen die bak van die Land Rover. “Kyk wat doen hulle aan ons stomme diere en ons is magteloos om die moordenaars te keer!”

      “En magteloos om te keer dat hulle ons diere vir masjiengewere ruil,” voeg Flip by.

      Theo staar na die veld om hulle, stap dan na ’n maroelaboom en begin in ’n vlaag van onbeheerste woede met sy vuiste teen die stam slaan.

      “Die vuilgoed … die gemene vuilgoed!” sis hy onophoudelik tussen sy tande deur.

      Geleidelik kry hy beheer oor homself en draai weg van die ander af, meteens skaam omdat sy emosies die oorhand gekry het. Flip het al meermale reguit gesê hy het geen besonderse gevoel vir die veld nie. Al rede waarom hy veldwagter geword het, was om van die sleur-roetine van kantoorwerk te ontsnap en in die buitelug te werk. En Janie … Janie is ’n stadsmens wat nooit sal verstaan wat hierdie diere en hierdie veld vir hom beteken nie, wat heel waarskynlik sal lag en sê hy is oordrewe sentimenteel. Om veldwagter te wees is maar net nog ’n werk, soos enige ander. Katinka is al een wat miskien sal verstaan. Maar ook sý het in ’n stadium gesê die lewe in ’n reservaat is vervelig en sy het weggegaan om opwinding oorsee te gaan soek. Sy het gesê die oop vlaktes maak haar benoud; laat ’n mens voel die lewe gaan by jou verby …

      ’n Man kan geen vroumens vertrou nie, besluit Theo. Katinka, wat hier grootgeword het, laat hom en Pafuri albei in die steek. En Janie, met haar lieftallige glimlaggies en mooi beloftes, is skaars ’n paar uur met hom getroud, toe is sy in Walt se arms. Vroumense is wreed en selfsugtig. Jy moet sorg dat jy nooit op hulle verlief raak nie en beslis nie op hulle vertrou nie.

      “Kom, Janie,” sê hy bruusk. “Ons vergeet van die buffels. Jy kan maar op prentjies of agter tralies in dieretuine gaan kyk hoe hulle lyk. Soms dink ek dis in elk geval wat ons nageslag sal moet doen.”

      Janie kan sien Theo is baie omgekrap. Hy is bleek en gespanne en op pad terug kamp toe staar hy ingedagte na die pad voor hom, sonder om te gesels en ook sonder enige kommentaar oor haar uittartende optrede netnou daar by Flip se Land Rover. Dis asof hy van haar bestaan vergeet het en Janie raai dis aan die wilddiewe wat hy sit en dink.

      Altans, dis wat sy hoop. Sy hoop nie dis aan háár wat hy sit en dink met daardie onverbiddelike trek om sy mond nie.

      Die volgende paar weke sien Janie nie veel van haar man nie. Theo en Flip en ’n span werkers het begin om ’n draad aan die noordelike grens van die reservaat te span. Dit beteken dat Pafuri ’n strook grond moet prysgee en dat windpompe en damme gebou moet word om te vergoed vir die water van die Limpopo wat nou nie meer tot die diere se beskikking is nie, maar die Parkeraad hoop om hiermee die wilddiewe se strooptogte in die wiele te ry.

      Ook vir Walt sien Janie nie veel nie. Drie dae gelede het sy hom raakgeloop toe sy van die Weidemans af gekom het, maar voorgegee dat sy te haastig is om te gesels. Sy het skouerophalend gelag toe Walt vra wanneer hulle daardie skildery gaan klaarmaak en gesê sy sal eers haar man se toestemming moet vra voordat sy weer vir hom gaan poseer. Daarvan het Walt nie gehou nie.

      “Dit beteken ek sal my onvoltooide meesterstuk agter in ’n kas moet pak,” het hy liggies gesê, maar Janie kon hoor dat hy teleurgesteld is. “Theo sal nie instem dat jy weer vir my poseer nie. Dis jammer, want ons twee het lekker gesels. Ons is geesgenote – iets wat jy en Theo nooit sal wees nie. Hy waardeer jou nie, aster. Dit sal sy verdiende loon wees as jy jou tasse pak en saam met my weggaan. Hoe lyk dit – is jy nie lus om saam met my oorsee te gaan nie? Dit was nog altyd my grootste ideaal om ’n ruk lank een van Parys se sypaadjiekunstenaars te wees. Wil jy nie my aanmoediging en die liefde in my lewe kom wees nie?”

      “Jy moes my ’n maand gelede gevra het, dan sou ek nie geaarsel het nie. Nou is ek ongelukkig ’n getroude vrou,” het Janie glimlaggend geantwoord, maar sy het geweet sy sê dit sommer net om Walt te vlei. Selfs al het hy haar ’n jáár gelede gevra, toe sy pas klaar met skool was en onseker van haarself en vreemd in ’n nuwe stad, sou sy nie ingestem het nie. Walt maak haar bang en noudat sy hom beter ken, hou sy nie van hom nie.

      “Miskien op die oomblik nog ’n getroude vrou, maar vir hoe lank?” het Walt gevra.

      Janie het nie geantwoord nie en gesê sy het vleis in die oond. As sy langer staan en gesels, sal hulle aandete houtskool wees.

      Die volgende oggend het Walt met ’n volgelaaide motor voor hulle rondawel verbygery, gewuif en geroep dat hy weer op pad is – suide toe om ’n paar voëlstudies te gaan maak. Janie was bly, want hoe minder kontak sy met Walt de Witt het, hoe beter. Hy laat haar ongemaklik voel en sy is altyd bang sy loop hom toevallig raak en wissel ’n paar woorde en Theo kom daarvan te hore en beskuldig haar weer daarvan dat sy met Walt flankeer. Waar hy in die eerste instansie aan so ’n belaglike gedagte gekom het, weet sy nie. Sy kan dit maar net toeskryf aan ’n te vrugbare verbeelding of oordrewe besitlikheid teenoor sy vrou.

      Katinka het een middag na skool daar aangekom terwyl Theo weg was en sy besig was om kombuiskaste uit te skrop, maar na ’n paar minute verskoning gemaak dat sy stapels nasienwerk het wat gedoen moet word. Toe Janie aanbied om te help, het Katinka taamlik kortaf nee gesê, asof sy bang was Janie skeep af. Sy wou ook nie vir koffie bly nie en sedert Theo-hulle met die drade begin het, het Janie haar nog nie weer gesien nie. Een van die kinders in die kamp het vir haar vertel dat hulle atletiek oefen en sy het besluit dat Katinka te besig is om te kom kuier.

      Nie dat die Vermaaks oor te min kuiergaste kan kla nie. Afgesien van die Weidemans, het talle van die ander personeellede kom kennis maak en ’n hele paar van hulle het sommer vir aandete gebly. Janie het nie omgegee nie, want in die aand braai hulle gewoonlik vleis en dan neem Theo alle verantwoordelikheid op hom. En wanneer daar mense is, is dit ook minder ongemaklik as wanneer sy en Theo alleen in die rondawel is en nie ’n woord met mekaar praat nie. Janie het ook gewoond geraak aan die rol wat sy moet speel, asook die feit dat Theo


Скачать книгу