Ena Murray Keur 9. Ena Murray

Читать онлайн книгу.

Ena Murray Keur 9 - Ena Murray


Скачать книгу
negatief. En ’n mens wat so negatief is, kry ook nooit wat hy of sy begeer nie. Daar is min dinge in die lewe wat sommer in ’n mens se skoot val, my kind. Vir die meeste dinge – dít wat die moeite werd is – moet jy veg. Maar jy wil nou die man wat jy liefhet sommer op ’n skinkbord aan jou suster oorhandig, sonder om in ag te neem of hy dit so wil hê en of Paula hom wil hê. Petra, jy het ’n totaal verkeerde lewenshouding. Jy moet jou regruk of jy sal nooit enige geluk vind nie. Ja, my kind. Dit ís so. Ek wil jou nooit weer so hoor praat nie, en ek verseker jou: As jou liefde vir Eugene nie ook vertroue en respek insluit nie, is dit beter dat jy hom verloor.” Haar stem verteder weer. “Daar is nie net een Paula in die wêreld nie, my kind. Daar gaan nog baie Paulas op jul pad kom. En wat dan?”

      Haar ma se streng, reguit woorde het tog inslag gevind, en toe Eugene later die dag bel en vra of sy nie saam met hom sal gaan eet nie, is dit sý wat vra of Paula ingesluit kan word. Met die vaste voorneme in haar hart om hierdie monster in haar met alle mag te bestry, maak sy daardie aand gereed vir die afspraak. Dis Paula wat teenkap, tot haar verbasing.

      “Ek dink nie ek moet saamgaan nie. Dis goed dat jy gaan. Jy moet wegkom van die morbiede gevoelens oor tant Petronella. Maar …”

      “Natuurlik gaan jy saam. Eugene het ook so gesê. Toe, gaan maak jou reg.”

      Paula doen op haar beurt nie veel moeite met haar uiterlike nie, maar toe die twee susters in die sitkamer verskyn, is dit na haar wat alle oë draai. Die skielike, hernieude beklemming in Petra word met alle mag teruggestoot. Sy is pragtig! Dis een van haar oudste rokkies wat sy aanhet, maar Paula kan ’n goiingsak aanhê en sy sal steeds soos ’n skoonheidsgodin lyk. En sý, Petra …

      Sy sien dat Eugene se blik nog op Paula huiwer en kyk dan doelbewus weg, ontmoet haar ma se blik, sien die bemoedigende, goedkeurende glimlaggie en glimlag terug. Sy sál oorwin!

      Al drie doen hul bes om die aand baie gesellig te laat verloop, en tog is hulle bewus van ’n vreemde onderstroming waarteen hulle moet stry om dit nie die oorhand te laat kry nie. Die ete is heerlik, maar toe die musiek begin, kan sy telkens aanvoel dat die ander twee dit kwalik kan weerstaan. Paula is ’n gebore danseres en Eugene dans redelik goed. Sy voel grootmoedig en trots op haarself toe sy haar eie stem hoor sê: “Julle twee kan gerus dans. Die musiek is wonderlik. Ja, toe. Ek … voel nog nie vanaand lus vir dans nie, maar dans julle gerus, asseblief.”

      Sy het daar met ’n breë glimlag gesit en toekyk hoe die ander twee oor die dansbaan beweeg. Die glimlag was nog steeds breed – te breed – toe Paula terug by die huis onmiddellik nag sê en verdwyn, en sy haar na Eugene wend.

      “Ek voel effens moeg vanaand, Eugene. Dit was maar ’n emosionele dag.”

      “Natuurlik begryp ek dit, my meisie.” Hy soen haar teer, sag op die lippe. Sy sien hom gaan, waai vir hom en druk die voordeur agter haar toe. Sy leun daarteen. Hy het haar nog nooit anders as teer en sag gesoen nie. Maar sal hy Paula ook so amper emosieloos soen? Sy dink nie so nie. ’n Man sal Paula stormagtig soen …

      Vir die ouerpaar wat die verwikkelinge met bekommerde harte vol deernis dophou, is Petra in die dae wat kom soms so pateties in haar stryd dat hul harte vir hul kind bloei. Maar hoewel hulle so graag wil help, besluit hulle wyslik om die stryd aan Petra oor te laat. As sy dié keer ’n oorwinning behaal, sal sy vir altyd genees wees van die ontsettende minderwaardigheids-gevoel waaraan sy haar lewe lank wurg. As Eugene Minnaar net die toets kan deurstaan …

      Petra gaan uit haar pad om die vrees in haar met alle mag te bestry: soseer dat sy ook uit haar pad gaan om Paula te betrek in alles wat sy en Eugene doen. Dis of sy doelbewus daarop uit is om die man wat sy liefhet en haar beeldskone suster bymekaar te gooi.

      Eugene vind dit blykbaar nie vreemd dat Petra se suster hulle oral vergesel waar hulle gaan nie. En Paula … Ná ’n paar huiwerige teëstribbelinge vergesel sy hulle en gee skielik nie om om die vyfde wiel aan die wa te wees nie – iets waarvoor sy in haar dag des lewens nog nooit te vinde was nie óf nodig gehad het om te wees nie. Maar eintlik is dit Petra wat ongemerk die vyfde wiel word.

      Dis Petra wat stil sit en toekyk hoe die twee op ’n Saterdagmiddag op die tennisbaan baljaar. Dis Petra wat by die tafeltjie bly sit wanneer die musiek ’n paar wilde akkoorde maak en Paula vir Eugene laggend dansvloer toe sleep. Dis Petra wat die stille toehoorder is wanneer Paula en Eugene met kwinkslae en geterg die geselskap aan die gang hou. Dis Petra wat met ’n ál swaarder beklemming in haar opmerk dat haar sus nou skielik elke naweek huis toe kom sonder die gebruiklike string afsprake.

      Dikwels betrap sy Eugene se oë vraend, ondersoekend op haar en dan ontwyk sy hulle, te bang dat hy te diep in haar bekommerde siel sal kyk.

      “Net ’n oomblik, Petra.”

      Paula het pas by die deur in verdwyn nadat hulle weer saam bioskoop toe was, en Petra wou ook net vinnig afskeid neem en na binne vlug, toe Eugene se hand haar keer. Sy kyk onwillig op na hom. “Wat is dit, meisie? Verbeel ek my of is jy deesdae bang om alleen met my te wees?”

      Sy probeer lag, maar dit klink nie juis oortuigend nie. Sy beduie magteloos met haar hande en hy neem haar stewig aan die skouers. “Petra, ek gee nie om dat jou suster saam met ons iewers gaan nie, maar elke keer? Ons sien mekaar nooit meer alleen nie. Deur die week is daar nie juis tyd vir afsprake nie, en Paula is elke naweek hier. ’n Meisie soos sy behoort genoeg kêrels te hê om haar oor naweke besig te hou, sonder dat ons twee haar moet help om die tyd om te kry.”

      Sy kyk stadig na hom op, eers met ongeloof in haar oë en dan vreugde – ’n vreugde so fel dat die man se hart binne-in hom ruk. Dan ruk hy haar meteens teen hom vas en die eerste keer soen hy haar met ’n hartstog wat sy nog nooit voorheen in ’n man se arms ervaar het nie. Sy hoor hom by haar oor fluister: “Moenie dinge aan die gang sit wat kon gebly het nie, Petratjie. Ek gaan met jóú trou. Jý is goed vir ’n man, nie … Laat Paula haar eie pad loop. Ons twee het niks met haar te doen nie.”

      In die week wat volg, is haar vreugde te groot om te dra. Eugene het alle geleentheid gehad om, soos almal voor hom, op haar pragtige suster verlief te raak, en hy hét nie. Hy stel nie in haar belang nie! Hy wil háár, die eenvoudige, lelike een, hê! Hy het háár lief! ’n Nuwe wêreld gaan vir haar oop en haar ouers neem die nuwe selfvertroue met vreugde en dankbaarheid waar.

      Daardie Vrydagmiddag ruil sy dienstye met ’n ander suster. Die eerste keer in ’n baie lang tyd gaan sy stad toe om ’n nuwe rok te koop. Sy en Eugene gaan môreaand uit vir ete en sy gaan vir haar die mooiste rok koop, al kos dit ook wat. Hoekom nie? Tant Petronella het vir haar ’n klomp geld nagelaat. Liewe, dierbare tant Petronella!

      Sy kry gouer ’n rok as wat sy verwag het, en met die pakkie langs haar op die motor se sitplek swaai sy by haar ouerhuis se hekke in. ’n Ander motor staan reeds voor die deur … en sy frons.

      In die huis kyk dokter Eugene Minnaar die meisie op die rusbank stip aan. “Ek het weggebreek van die hospitaal om te kom hoor waaroor jy my so dringend wou spreek. Ek het nie baie tyd nie. Wat is dit?”

      Paula glimlag op na hom. “So koud en formeel, Eugene? Hoe lank dink jy gaan daardie rookskermpie van jou hou?”

      “Wat bedoel jy?”

      “Jy weet goed. Jy doen jou bes, maar op die lange duur gaan dit nie die toets van die tyd deurstaan nie. Jy het op my verlief geraak soos ek op jou,” sê sy dan reguit, kyk vas in sy oë. “Maar omdat jy van die goeie ou soort is, het jy besluit om die eerbare ding te doen en met Petra te trou. Jammerte is nie liefde nie, Eugene.”

      Eugene Minnaar lyk meteens ’n bietjie bleek, maar sy oë kyk stip terug. “Ek het geweet ’n meisie soos jy sal verwaand wees, maar só verwaand …”

      “Dis nie verwaand om te sê ek het jou liefgekry nie, en ek stel net ’n feit as ek sê ek weet jy voel dieselfde oor my. Eugene, moenie ’n dwaas wees nie. Jy kán nie met my suster trou nie. Dis mý wat jy liefhet, wat jy begeer …”

      “Ek dink hierdie gesprek het ver genoeg gegaan. Ek weier om dit verder te bespreek.”

      Hy wil omdraai, maar sy is skielik langs hom, haar beeldskone


Скачать книгу