Tienerharte 2: Hartbreker. Cecilia Steyn

Читать онлайн книгу.

Tienerharte 2: Hartbreker - Cecilia Steyn


Скачать книгу
dink een van die vereistes om by Maties te swot is om eers vir Stefan te date, soos die meisies na hom toe stroom. Maar Stefan is ’n cool ou. ’n Goeie vriend. Hy laat my op my gemak voel. Desember op Paternoster het ons nie op ’n goeie voet afgeskop nie, maar toe hy sien ek hou ook van PlayStation, en ek weet wat ek doen, het ons goed oor die weg gekom. Maar hy is net té lief vir meisies, die tipiese poppe.

      Ek het ’n sewejaarplan en ek is trots daarop. Eerstens wil ek skool klaarmaak, dan universiteit toe om B Pharm te swot vir vier jaar. Daarna moet ek my twee jaar gemeenskapsdiens doen en dan eers sal ek weer ’n verhouding oorweeg. Buitendien is een geknakte ego genoeg om my ’n leeftyd te hou. Geen man sal ooit weer oor my hart dans nie, daarvoor sal ek sorg.

      “Waar’s jou sleutels, dan trek ek gou jou kar uit die pad uit?”

      Ek voel in my jeans se sak vir my sleutels, maar besef dis seker nog in die kar.

      “Ek dink dis nog in my kar,” sê ek en Stefan stap oor die straat. Ek staan op die sypaadjie en kyk hoe hy my kar parkeer en weer oor die straat aangedraf kom.

      Ek kan nie help om op te let hoe goed versorg Stefan altyd is nie. ’n Kruising tussen ’n jock en ’n metroman. Bruin hare in ’n moderne styl gesny, Levi’s wat perfek pas en ’n dun V-nek trui waarvan die moue opgetrek is. Sy sterk voorarms duidelik sigbaar.

      “Goed, kom ons gaan,” sê hy. “Ek sal jou netnou weer hier aflaai, ons ry sommer met die Jeep.”

      “O … oukei,” sê ek huiwerig, maar stap agter hom aan. Stefan druk die knoppie op sy afstandbeheer en die deure glip oop. Hy stap na die passasierskant waar ek moet inklim, maar voordat hy vir my die deur kan oopmaak, spring ek hom voor.

      “Ek is nie ’n invalide nie, ek kan self my deur oopmaak,” keer ek.

      Stefan pers net sy lippe saam. Ek sien hy wil iets sê, maar bly eerder stil. Hy stap om na sy kant en klim in.

      “Oukei, waarheen nou?” vra hy.

      “Sommer JJ’s hier om die draai,” sê ek en beduie waarnatoe hy moet ry.

      Buite JJ’s is die parkeerterrein nogal vol. Die stad woel soos ’n byekorf vandag.

      Stefan ignoreer die ander mense wat staan en wag vir tafels en kry vir ons sitplek toe twee mense net opstaan om te loop.

      “Ek dink ons het so pas iemand se tafel gesteel,” sê ek bekommerd.

      “Ag wat, hulle sal daaroor kom, hierdie is mos ’n noodgeval, of hoe?” sê hy en glimlag vir my.

      Die kelnerin bring vir ons spyskaarte. Ek skuif myne vorentoe sonder om dit oop te maak.

      “Ek wil net ’n grondboontjiebotter-milkshake hê, asseblief,” sê ek vriendelik vir haar.

      Haar bruin oë is heeltyd op Stefan gerig. Ek dink ek gaan naar word. Noudat ek so om my kyk, besef ek hoe vol verliefdes die wêreld is. Oral is mense wat hande vashou en in mekaar se oë staar of in hul maats se ore fluister. Arme Kupido werk behoorlik oortyd.

      “Ek sal net ’n sjokolade-melkskommel vat, dankie,” sê Stefan en gee vir haar die spyskaarte terug.

      “Dankie dat jy my netnou gehelp het, maar dit was regtig nie nodig nie,” sê ek verleë. Ek wil beslis nie hê Stefan moet dink ek kan niks vir myself doen nie.

      “Geen probleem, ek is net bly ek was daar om te help.”

      Stefan se selfoon lui en hy haal dit uit sy jeans se sak. Hy staar vir ’n oomblik na die skerm en druk dit dan dood. Hy trek sy hande senuweeagtig deur sy hare voordat hy sy elmboë op die tafel sit.

      “Wat doen jy in elk geval in die stad vandag?” probeer ek ’n gesprek aanknoop.

      “Ek …” sê hy toe sy selfoon weer begin lui en die gesprek onderbreek. Die naam Surette flikker op die skerm. Stefan druk dit net weer dood.

      “Ek was op pad om ’n nuwe branderplank te gaan koop. Miskien kan jy saam met my gaan,” sê hy.

      Ek antwoord hom nie. Ek dink nie ’n inkopiesessie saam met Stefan is ’n goeie idee nie. Ek moet buitendien gaan leer.

      “Lyk my iemand soek jou dringend,” sê ek en beduie na sy foon wat so pas weer begin lui het. Meer soos iemand soek jou lyf seker dringend, maar ek sê dit nie.

      “Ag, dis niemand belangrik nie,” sê Stefan en sit sy foon af.

      “Hoe was die game gisteraand?” vra hy geïnteresseerd.

      “Baie cool, as jy kans kry moet ons ’n bietjie aanlyn speel.”

      Stefan knik. Die kelnerin bring ons milkshakes op ’n skinkbord en sit dit voor ons neer. Sy gooi amper Stefan s’n op sy skoot uit van senuwees.

      “Shame, jy maak die girls se knieë lam,” sê ek en lag toe sy wegstap.

      “Behalwe joune,” sê Stefan.

      Sy opmerking vang my onkant.

      “Beslis nie myne nie,” beaam ek en glimlag koeltjies. Maar ek voel hoe my wange in rooi vlamme uitslaan. Ek het myself belowe geen ou sal my ooit weer charm met ’n oulike glimlag of simpel praatjies nie.

      Ek spot altyd en sê ék is die een vir my. Dit is presies hoe ek beplan om dit te hou.

      “Hoe was jou date gisteraand?” vra ek kamma geïnteresseerd. Ek wil nie regtig weet hoe sy date met nog ’n bimbo was nie, maar ek haat ongemaklike stiltes.

      “Dieselfde as altyd,” is al wat hy sê en haal sy skouers traak-my-nie-agtig op.

      Nadat ons ons milkshakes gedrink het, haal ek my beursie uit en sit ’n honderdrandnoot op die tafel neer.

      “Vat jou geld, ek het mos gesê ek stick jou,” sê Stefan en skuif die noot terug.

      “Nee, asseblief, dis my treat, omdat jy my gehelp het.” Ek vat die geld en skuif dit weer terug oor die tafel na Stefan.

      Hy skud sy kop en skuif dit weer terug na my. Ek vat die noot en druk dit onder die rekening in voor ek dit vir die kelnerin in haar hande gee.

      “Oukei,” sê Stefan, “as jy dit so verkies.” Hy lig sy wenkbroue asof hy nie heeltemal die konsep begryp nie. Ons staan op en stap deur die stampvol tafels na die uitgang toe.

      “Ciska!” roep iemand. Sonder om om te draai weet ek wie dit is. Ek gryp Stefan se hand en hou dit styf vas voordat ek glimlag en omdraai.

      “Tertius,” sê ek vriendelik en sit my ander hand op Stefan se borskas. Ek voel hoe Stefan versteen onder my skielike aanraking.

      “Ek dog jy hou nie van milkshakes nie?” sê Tertius sarkasties. Hy kyk Stefan op en af en dan weer na my. “Nou verstaan ek hoekom jy my ignoreer.”

      “Jip,” sê ek en hou my en Stefan se verstrengelde vingers in die lug sodat Tertius die prentjie mooi kan kry. Stefan se lyf ontspan en hy sit sy arm om my lyf. Hy verstaan hy moet saamspeel.

      Tertius knik sy kop en sy lippe trek effens skeef. “Jy kon my net gesê het, Ciska, dit was nie nodig om te jok nie,” is al wat hy sê voor hy terugdraai na sy tafel toe. “Vroumense,” hoor ek hom mompel terwyl hy wegstap.

      Buite JJ’s los ek Stefan se hand, maar hy klou nog my vingers vas.

      “Jy kan maar los, dankie. Jammer daaroor.” Aarde sluk my in, maar ’n meisie moet op haar voete dink.

      “Ek is nie,” sê Stefan en knipoog vir my. “Wie was dit?” vra hy geïnteresseerd, sy vingers steeds in myne verstrengel.

      “Dit was Treurige Tertius en moenie enige idees kry nie,” sê ek vies en pluk my hand terug. “Dis nie asof ek in die ry gaan inval nie,” sê ek en storm deur die parkeerterrein na sy Jeep toe.

      “Watse ry?” vra hy. Stefan draf om by my te bly.

      Ek rol my oë. Asof hy nie weet nie. Stefan se oë lyk soos melksjokolade wat te lank


Скачать книгу