Ena Murray Keur 10. Ena Murray

Читать онлайн книгу.

Ena Murray Keur 10 - Ena Murray


Скачать книгу
dit my begeerliker in jou oë sal maak, kan ek myself een of twee wandade toedig, maar dit sal nie die waarheid wees nie.”

      Sy glimlag nou terug, die verligting groot in haar. Tant Josephine se opsomming was verkeerd. As hy werklik op daardie manier aan sy rykdom gekom het, sou hy tog nie so ligtelik daarmee die spot gedryf het nie.

      Maar Lille besef nie dat sy maar oor min mensekennis beskik en dat sy te doen het met ’n geslepe en vernuftige man nie. Louis Paquin leun gemaklik terug teen die gestoffeerde koetsleuning en glimlag by homself. Natuurlik weet hy wat die mense van Toulon agter sy rug oor hom en sy rykdom sê. En natuurlik sou Lille en haar bemoeisieke ou tante ook al die stories gehoor het. Maar hy is geensins bekommerd nie. Toulon kan dink wat hulle wil, maar niemand kan iets bewys nie.

      Hy sit en bekyk nou die meisie oorkant hom deur vernoude oë. Afgesien daarvan dat sy werklik ’n pragtige kind is met haar donker oë en raafswart hare, is daar nog iets anders aan haar wat hy onweerstaanbaar aantreklik vind. Hy gee weer sy geheimsinnige glimlaggie. Wat Toulon se mense nie weet nie, is dat hy nie werklik so ryk is as wat dit op die oog af lyk nie. Maar daar is nog iets wat Toulon se mense nie weet nie: dat hierdie pragtige meisie en haar ou tante eintlik jare gelede saam met die edellui onder die valbyl moes gesterf het. Net hy weet wie Lille Jacquard werklik is.

      En net so min as wat hy so ryk is as wat Toulon dink, net so min is hierdie meisie en haar tante so arm as wat Toulon dink. Hierdie twee sou nie gevlug het sonder dat hulle iets met hulle sou saamneem nie. Die vraag is net: hoeveel? Dis tyd dat hy begin uitvis. Hy gaan nie onnodig tyd met haar mors as dit nie betalend genoeg is nie, so pragtig as wat Lille Jacquard is.

      “Terwyl jy nou so belangstellend geluister het en ek so openlik was … dink jy nie dis tyd dat jy my ook iets oor jouself vertel nie?” Hy sien die onsekerheid in haar oë en beweeg vinnig oor na haar kant, kyk diep in haar oë af.

      “Ek het jou lief, my meisie. Eendag gaan ons seker trou. Het julle genoeg om van te lewe? Ek is soms so bekommerd oor jou!” Hy trek haar nader. “Lille … vertrou jy my dan nie, my skatjie?”

      2

      Bewus daarvan dat sy direk teen haar tante se bevele gaan, vertel sy Louis Paquin alles. Maar dis die diep behoefte in haar om met iemand oor haar probleme te praat wat haar tot hierdie daad dryf en sy hou hom angstig dop terwyl die verhaal van haar verlede voor hom ontplooi.

      Sy weet nie dat die man kwalik sy genoeë kan wegsteek, en dat die glinstering in sy oë wat sy as simpatieke teerheid ervaar, eintlik ’n kwalik bedekte opgewondenheid in hom is nie. Dan was sy vermoedens juis! Iewers in die toekoms wag daar ’n fortuin!

      Daar is net een vlieg in die salf: die ou tante. En sy hou nie van hom nie. Dit het hy reeds geweet voordat Lille dit vanaand so uitdruklik aan hom gesê het. Dan glimlag hy. Hy hoef hom nie oor háár te bekommer nie. Josephine Jacquard is reeds op die afdraande pad. Sy sal nie meer lank lewe nie. En dan …

      Hy gee nou voor dat hy diep bekommerd is om Lille se onthalwe. “My liewe Lille, ek voel nou nog meer bekommerd oor jou nadat ek jou verhaal gehoor het. Ek sou liewer verkies het dat jy die gewone, arm meisietjie is wat ek gedink het jy is en op wie ek verlief geraak het.”

      Sy glimlag bly. “Werklik, Louis?”

      “Maar natuurlik, my skatjie. Jy weet tog dat ek jou reeds bo al die ander meisies in Toulon vir myself gekies het lank vóór vanaand en lank voordat ek gehoor het jy is die erfgename van ’n fortuin.”

      “Ja, natuurlik. O, Louis, ek is so bly en dankbaar. Ek wens tant Josephine kon jou nou hoor, dan sal sy weet sy het jou verkeerd geoordeel.”

      As sy lippe ’n bietjie styf glimlag, merk sy dit nie op nie. “Ag, ons moet haar nie te sterk veroordeel nie, Lille. Sy is ’n ou dame en sy dink maar net aan jóú belange. Natuurlik sal sy bang wees jy val in die hande van ’n geldwolf. Ek kan nou haar amper vyandige en veroordelende houding teenoor my begryp en vergewe. Ek sal dit nie teen haar hou nie.”

      Die onervare Lille is diep beïndruk, en hy gaan voort om sy rol meesterlik te vertolk. “Jy moet my ook belowe dat jy vir niemand anders hiervan sal vertel nie. Dit kan vir jou baie gevaarlik wees. ’n Mens kry baie skurke. Wat is die man se naam?”

      “Watter man?”

      “Die seun van die man aan wie jou tante die erfenis toevertrou het, natuurlik. Jy sê mos dié man is oorlede. Dis nou net die seun wat oor is. Wat is sý naam?”

      “Ek weet nie. Tante het nie gesê nie …”

      “Werklik, Lille!” Hy klink ongeduldig, maar dadelik verander sy stemtoon weer. “My meisie, jy sal daardie naam by jou tante moet kry. Dis uiters belangrik.”

      “Maar hoekom?”

      “Lille! Veronderstel jou tante kom vannag iets oor, waar gaan jy na jou erfenis begin soek?”

      “Maar tant Josephine het mos gesê dis aan Kaap die Goeie Hoop.”

      “Ja, maar by wie? Jy moet dit tog by iemand gaan soek!”

      Lille frons. Dis waar. Sy het nooit so daaraan gedink nie.

      Veronderstel tant Josephine kom iets oor, sterf skielik, dan sal sy nooit haar erfenis opgespoor kry nie. Sy kyk hom dankbaar aan. Nou is sy bly sy het Louis in haar vertroue geneem. Sy het reg opgetree. Hy sal haar help.

      “Ek sal haar net môre vra.”

      “Net een ding, Lille,” keer hy vinnig. “Ek dink nie jy moet jou tante vertel dat jy my in jou vertroue geneem het nie. Dit sal haar ontstel en haar gesondheid is juis nie goed nie. Sy hoef nie te weet nie. En, my skat, probeer maar met haar grille saamspeel.”

      Sy kyk hom vinnig aan. “Bedoel jy ek moet stilbly as sy my wil voorskryf met wie ek mag trou?”

      Hy glimlag in haar verontwaardigde oë af, sy stem sussend: “Sy kan jou nie regtig dwing om teen jou sin met iemand te trou nie. Speel dus maar saam. Sus haar maar net. Dit sal nie help om haar die harnas in te jaag nie. Sy onterf jou dalk, en dit sal darem nie regverdig teenoor jou wees nie. Dit kom jou immers toe.”

      “Maar, Louis, wat sy eintlik wil hê, is dat ek jou nie langer moet sien nie. Sy hou nie van jou nie. Ek het jou dit reeds gesê.”

      Maar hy glimlag net. “Ek weet, en miskien moet ons maak asof ons haar wens respekteer. Miskien moet ons mekaar liewer in die toekoms in die geheim ontmoet, haar die indruk gee dat jy my nie meer sien nie.”

      Sy kyk hom fronsend aan. “Maar hoekom?”

      Hy hou sy ongeduld goed in toom. “Dis alles net ter wille van jou. Ek wil nie eendag hoor of weet dat ek jou van jou wettige erfenis beroof het nie. Jou tante is eksentriek en ons sal ons maar na haar wil moet skik. Dit sal tog seker nie vir lank wees nie. Jy sê self sy is deesdae feitlik bedlêend.”

      Sy stem is dringend. “Lille, moet niks doen wat haar teen jou sal laat draai nie.”

      Sy kyk hom onseker aan. “Sy kan nog jare leef, Louis. Is die erfporsie werklik so belangrik? Jy het mos genoeg vir ons albei, nie waar nie? Het ons dit werklik nodig?”

      Sy seepgladde tong is gereed. “Natuurlik het ek genoeg vir ons albei. Dis nie aan ons wat ek dink nie. Maar, Lille, daardie erfenis is grootliks van jou ouers afkomstig, en hulle sou graag wou sien dat dit eendag na jou kinders gaan. Dit kom jou kinders toe, nie vreemdelinge nie. My meisie, jou ouers het tog met hul lewens daarvoor betaal, nie waar nie?”

      Sy knik, haar gesig somber. “Ja, dis waar. My ouers het albei onder die valbyl gesterf. Die bietjie wat gered kon word, kom my en my kinders toe. Jy is reg, Louis.”

      “Natuurlik! Daarom moet ons keer dat jou tante dit nie dalk deur skone kindsheid uit jou hande laat glip nie. Selfs al kan jy haar ook net aan die gang hou totdat ons weet by wie jou erfenis is.”

      Louis neem haar daardie aand vroeg terug huis toe. Hy soen haar met hartstog toe hulle afskeid neem.

      “Onthou nou


Скачать книгу