Tryna du Toit Omnibus 11. Tryna du Toit

Читать онлайн книгу.

Tryna du Toit Omnibus 11 - Tryna du Toit


Скачать книгу
“Ek is jammer as ek vir my vriende ’n bekommernis en ’n verleentheid geword het.”

      “’n Bekommernis soms wel, ’n verleentheid nooit! En ek … ek het spesiale belang by jou genesing.” Hy is ’n oomblik lank stil, dan sê hy sag: “Jy sien, ek wil graag met jou trou, Maggie. Maar ek wil hê as jy die dag na my toe kom, moet dit wees sonder voorbehoud, met jou hele hart.”

      Die woorde is uit, lê soos blink spoelklippies tussen hulle. Sy is lank stil, en wanneer sy uiteindelik na hom opkyk, sien hy die blink van trane op haar lang, donker wimpers.

      “Ek kan nie belowe dat daardie dag ooit sal kom nie,” sê sy stamelend.

      Hy kyk na haar, dan vou hy sy hande liefkosend om haar gesig.

      “Ek sal wag. Ek wil net hê jy moet weet.”

      Hy buk en soen haar teer, dan stap hy terug na die kaggel. Met ’n glimlag sê hy: “Kom, drink jou drankie. En dan gaan ons eet. Ek het ’n nuwe restaurant ontdek waar hulle die heerlikste garnale bedien. En daarna gaan ons na die musiekprent kyk. Ek het kaartjies gekry.”

      “Dit sal nie help om teë te praat nie, sal dit?” sê sy onseker.

      “Nie vanaand nie. En die nuwe rok trek jy aan wanneer jy saam met my na die mediese dinee toe gaan.”

      “Gaan ek saam met jou?”

      “Ja. Ek het jou al weke gelede gevra, onthou jy nie?”

      “Nee, ek onthou dit nie. Maar dis goed, ek sal saam met jou gaan.”

      Waarom het hy al dié dinge vir haar gesê? wonder Margaret toe sy lank na middernag haar lig afskakel. Omdat hy jammer is vir haar, na gisteraand? Sy wil nie sy jammerte of hul vriende se jammerte hê nie. Sy sal hulle wys, daar is geen rede om vir haar jammer te wees nie.

      Sy is bly Paul het haar gevra om saam met hom dinee toe te gaan. Dié keer sal sy vroegtydig sorg dat sy die middag af is.

      Skielik verberg sy haar gesig in die kussing en die brandende trane bring uiteindelik verligting vir die teleurstelling wat sedert die vorige middag en aand al in haar opbou.

      Hoofstuk 6

      ’n Week later kom Ingrid huis toe. Skraler, maar opgewek en gelukkig. Sy het die semester besonder goed presteer en haar professor het haar vir ’n spesiale beurs aanbeveel. Sy is haar pa se dogter, dink Margaret. Sy lyk na hom en sy het sy briljante verstand maar ook sy buierige temperament geërf. Sal Arnold haar altyd met begrip hanteer? Die selfstandigheid wat sy ontwikkel het toe sy as kind so dikwels alleen gelos is – sal dit haar in die jare wat voorlê help of ’n struikelblok wees?

      Sy het Ingrid nie van Paul en hulle gesprek daardie Saterdagaand vertel nie. Sy was nie gereed om dit met enigiemand te bespreek nie.

      Ingrid help haar aantrek die aand van die dinee. Margaret het haar wel vertel van die fiasko met Paul se verjaardagpartytjie en dat Ellen haar ou rokke kom haal het om vir die armsorg te gee.

      Ingrid het gelag en toe ernstig gesê: “Jy mag jou nie so verwaarloos nie, Ma. Ons gaan volgende week Johannesburg toe om vir Ma klere te koop.”

      “Dis nou jou beurt. Ek kan wag,” het sy liggies geantwoord, maar Ingrid het haar kop geskud.

      “Ek wil nie hê die mense moet jammer wees vir my ma nie,” het sy gesê, en Margaret het effens onthuts na haar gekyk, verbaas oor die trotse klank in haar stem.

      Margaret het die middag haar hare laat doen en toe sy klaar aangetrek voor die spieël staan, kan sy self nie glo dis haar eie beeld wat sy sien nie.

      Ingrid kyk stilswyend na haar. “Jy is pragtig, Ma! Ek hou van jou hare so gekam!”

      “Tannie Ellen wil hê ek moet my grys hare by my slape kleur. Wat dink jy?” vra sy liggies.

      “Jy raak nie daaraan nie, Ma! Dis baie meer spesiaal so.” Sy kyk stip na Margaret en daar is ’n vreemde uitdrukking in haar oë.

      “Wat is dit, Ingrid? Wat dink jy?”

      “Ek het sommer gewonder – jy sal seker weer trou, Ma?”

      Margaret raak liggies haar wang aan.

      “Op die oomblik dink ek nie daaraan nie. En jy sal die eerste een wees vir wie ek sê – ás ek dit eendag oorweeg.” Sy soen haar dogter. “Tevrede?”

      Ook Paul kyk ’n lang oomblik stil na haar, dan sê hy: “Pragtig! Ek is bang om aan jou te raak – dalk verdwyn jy.”

      Sy gee hom haar hand.

      “Ek sal nie verdwyn nie.”

      Dit was ’n besondere aand. Die komplimente en bewonderende blikke, die verbasing in Magda en later ook haar suster se oë – dit het gehelp om die seer en die verleentheid van daardie ander aand uit te wis.

      Dit was ook die aand dat sy Derek Ross ontmoet het.

      Margaret en Paul en van die ander dokters was besig om te gesels met een van die besoekende dokters vir wie die dinee gereël is toe Derek Ross na Paul toe kom. Hy was ouer as Paul, met ’n mooi-lelike gesig, wakker groen oë, en Margaret was dadelik bewus van sy sterk, dinamiese persoonlikheid.

      Paul stel hom aan haar voor en hy neem die hand wat sy uitsteek en soen dit.

      “Dokter Van Zyl,” sê hy glimlaggend terwyl hy na haar kyk, haar hand nog in syne. “En waar kom sy vandaan, Paul?”

      “Hier van Pretoria,” sê Paul met ’n glimlag.

      “Jy sit langs my aan tafel, dokter,” sê Derek Ross vir Margaret. “Ek het reeds vasgestel.”

      Paul se wenkbroue lig. “Vasgestel of gereël?”

      Derek Ross lag. “Die noodlot self het dit bepaal! Ek glo aan die noodlot!” Dan sê hy vir Margaret: “Paul en ek is ou vriende. ’n Gebarste aorta – as dit nie vir hom was nie, was ek seer seker bokveld toe.”

      “Hy het goeie werk gedoen,” sê Margaret. “Jy lyk blakend gesond, meneer Ross.”

      “Baie diplomaties gestel, dokter,” glimlag hy goedkeurend. “Maar kom, dis tyd dat ons nader staan …”

      “Dankie, maar ek sal dokter Van Zyl self by haar sitplek besorg,” sê Paul kalm. “Daarna kan jy na haar kyk.”

      Margaret het die aand baie geniet. Die toesprake was interessant, Derek Ross amusant en onderhoudend. Hy was ’n nyweraar, het hy haar vertel, met belange oor die hele land. Hy woon in Johannesburg, maar reis baie en kom so pas terug van Amerika.

      “Ek wil jou graag weer sien,” sê hy vir Margaret toe hy haar groet. “Ek sal jou bel.”

      Margaret het glimlaggend gegroet en nie gedink sy sal hom ooit weer sien nie.

      “Wat dink jy van Derek?” vra Paul toe hulle huis toe ry.

      “’n Interessante man. Ek het sy geselskap geniet. Hy het nie gesê nie – is daar ’n mevrou Ross?”

      “Stel jy belang?”

      “Nie in die minste nie,” antwoord sy koel. “Ek het maar net gewonder watter soort vrou ’n man soos Derek Ross sal hê.”

      Hy raak liggies aan haar hand. “Ek het jou maar net geterg. Dis heel duidelik dat Derek baie beïndruk is met dokter Margaret Van Zyl. Nee, hy is nie getroud nie. Hy is baie jare gelede van sy vrou geskei en is nie weer getroud nie.”

      Hy stap saam met haar tot by die voordeur, sluit die deur vir haar oop en toe – soos hy soms doen – lig hy haar ken om haar goeienag te soen. Maar onverwags trek hy haar teen hom aan en vanaand is sy lippe op hare hard and dringend. Onverhoeds gevang, voel sy die roering van ekstase wat deur haar hele wese tintel en sy het nie die wil of die krag om haar uit sy arms los te maak nie.

      Uiteindelik stoot hy haar sag maar beslis van hom weg. “Nag, Maggie,” sê hy. Sy stem is dieper as gewoonlik, en sonder ’n woord


Скачать книгу