Tryna du Toit Omnibus 11. Tryna du Toit

Читать онлайн книгу.

Tryna du Toit Omnibus 11 - Tryna du Toit


Скачать книгу
miskien,” het sy herhaal. “Nóú kan ek dit beslis nie doen nie.”

      Dit was wonderlik om Paul weer te sien, maar na sy kuier was sy dae lank rusteloos. Moet daar altyd tweespalt in ’n vrou se lewe wees? Paul het gelyk: sy is ’n dokter ook, nie net ’n vrou nie. Waarom moet die vrou altyd die opofferings maak?

      Sy het Paul een aand vir ete genooi sodat Charl hom kon ontmoet. Ellen en Herman en ’n ander paar vriende was ook daar, en die aand het gesellig verloop. Paul, nooit baie sosiaal ingestel nie – sy werk en sy boeke was altyd vir hom belangriker – het tog verander in die jare dat hy weg was. Hy was op sy gemak, aangename en onderhoudende geselskap, en sy kon sien haar man en gaste is beïndruk deur haar ou vriend van haar studentejare.

      “Ek hou van jou doktersvriend,” het Charl gesê toe hulle later alleen was. En met ’n glimlaggie bygevoeg: “Ek het geen beswaar teen julle vriendskap nie, solank hy nie allerhande gedagtes en ambisies by jou kom wakker maak nie. Onthou, jy is mevrou Charl Marais, nie dokter Margaret van Zyl nie.”

      Sy stem was lig, maar sy het tog die ondertoon van erns gehoor. “Kan ’n vrou nie albei wees nie?”

      “Nee,” het hy beslis gesê. “In elk geval nie my vrou nie.”

      Sy het nie geantwoord nie en hy het effens skerper na haar gekyk.

      “Wat makeer, Margaret? Is jy nie gelukkig nie? Sou jy graag ’n dokter ook wou wees?”

      Sy het geaarsel en hom toe geantwoord soos sy vir Paul geantwoord het: “Ek is gelukkig. Ek het vir jou, vir Ingrid en vir Justa. Daar is nie nog tyd om ook ’n dokter – ’n goeie dokter – te wees nie.”

      ’n Paar weke later is hulle Kaap toe vir die parlementsitting. Soos die vorige jaar het Ellen met die kinders tuisgebly. Van Ellen se vriendinne het haar skerp gekritiseer omdat sy nie saam met Herman Kaap toe gekom het nie.

      “Sy soek moeilikheid,” het Marie Louw, ’n mooi, opgewekte blondine gesê. “Herman is aantreklik en hy is op die ouderdom dat ’n man rusteloos begin word en afleiding soek. En as ’n man nog eensaam ook is … O wel,” het sy met ’n ligte skouerophaling bygevoeg, “sy sal dit net aan haarself te danke hê as sake verkeerd loop.”

      “Ellen doen dit ter wille van die kinders,” het Margaret haar vriendin verdedig. “Dit was nie vir haar ’n maklike besluit nie.”

      “Sy kon haar ma gevra het om by die kinders te bly, maar Ellen is nie lief vir die Kaap nie en die kinders is eintlik net ’n goeie verskoning om by die huis te bly.”

      Jane Roux het ook vir Ellen in die bresse getree.

      “Ellen is reg. Ek wonder dikwels self of dié lewe al die opofferings werd is. Al die gejaag – wat beteken dit tog alles? ’n Naam op ’n lysie, dis al wat jy is. Dis elke man vir homself en trap dood wat in jou pad is. Jy werk jou dood, jy offer alles op en as jy die dag weggaan – of in onguns kom by die minister – wag daar altyd iemand anders om jou plek in te neem.”

      Daar was ’n ongemaklike stilte, toe lag Marie.

      “Ag, laat ons dit erken – ons geniet die tydjie in die Kaap. Ons verskaf ons liewe mans afleiding van die ernstige landsake waarmee hulle heeldag worstel, al laat ons hulle ook net lag vir die snaakse hoede wat ons vir die tuinparty gekoop het. Julle kan sê wat julle wil, ek geniet die onthale en partytjies. Ek het saam met Piet swaargekry – ek wil in die pret en plesier ook deel. En van die tuinparty gepraat …”

      Die gesprek het in ander rigtings geloop. In ’n peinsende stemming is Margaret later huis toe, waar Justa en Ingrid vir haar gewag het.

      Hulle het Herman gereeld gesien. Margaret het hom vir ete genooi en hulle het hom by vriende en op partytjies raakgeloop. Hy het sy gesin gemis, het hy gesê, en hy het uitgesien na die Paasvakansie wanneer Ellen en die kinders vir hom sou kom kuier.

      Terwyl hulle nog in die Kaap was, is Paul en Anita de Waal se verlowing bekend gemaak. Anita was die dogter van professor De Waal, hulle professor in chirurgie. Anita was ’n jaar of twee ouer as Margaret, ’n begaafde pianis wat dikwels saam met die stadsorkes of oor die radio opgetree het.

      Paul en Anita het mekaar weer in Londen raakgeloop terwyl Anita daar gestudeer het, en Margaret het gewonder of dit Paul se liefde vir musiek was wat hulle bymekaargebring het. Hy het vroeër glad nie in Anita belanggestel nie.

      Die sitting het dié jaar vroeër as gewoonlik ten einde geloop en hulle was betyds terug in Pretoria om Paul en Anita se troue by te woon. Dit was ’n spoggerige geleentheid – die De Waals was ou ingesetenes van die stad en het ’n wye vriendekring gehad. Die kerk was stampvol, Anita ’n statige en kalm bruid en Paul besonder aantreklik in sy donker pak.

      Margaret en Charl en die kinders was die volgende jaar weer in die Kaap vir die sitting toe Justa, pas twee jaar oud, ’n lieflike sonnige skepseltjie, gesond en lewenslustig, ’n ernstige senu-infeksie opgedoen het. Sy het die vorige aand nog niks makeer nie; die volgende oggend was die eerste tekens van verlamming reeds daar. ’n Paar uur later was sy in die intensiewesorgafdeling van die hospitaal, haar toestand kritiek. Die dokters het gedoen wat hulle kon, maar al hulle vernuf en kennis kon die siekte nie stuit nie. Binne vier en twintig uur nadat Justa siek geword het, was alles verby.

      Margaret was soos ’n slaapwandelaar. Selfs terug in Pretoria kon sy die werklikheid van Justa se dood nie aanvaar nie. Dit het alles te skielik gebeur. Maar Charl se verslaentheid, die skok en droefheid in Ingrid se donker oë – sy het klein Justa aanbid – het uiteindelik tot Margaret deurgedring en sy het haar eie gemis en verlange opsy gestoot in haar besorgdheid oor haar man en kind.

      Paul het na haar toe gekom net nadat hulle terug was in Pretoria.

      “Ek is jammer, Maggie,” het hy gesê, en daar was deernis en begrip in die grys oë. “Jammer oor jou groot verlies. Maar jy is self ’n dokter … jy weet die dood is deel van die lewe.”

      Sy het woordeloos geknik, en hy het sy hand liggies teen haar wang gelê.

      “Jy moet gaan werk, Maggie, hoe gouer hoe beter, ’n Tydelike pos by die hospitaal … daar is talle vakante poste. Hulle sal maar te dankbaar wees om jou te kry en werk is goeie medisyne.”

      Sy het onseker na hom gekyk, te moeg en verslae om nou reeds belangrike besluite te neem.

      “Ek weet nie, Paul, dit sal moeilik gaan …”

      “As jy regtig wil, kan jy dit doen. Belowe my jy sal daaroor dink. Sal jy?”

      Charl wou egter nie daarvan hoor nie.

      “Ek gaan Septembermaand Switserland toe vir ’n kongres en ek wil jou saamneem. Ek het reeds met die minister gepraat. Intussen het Ingrid jou nodig.”

      In September is Margaret saam met Charl Switserland toe. Ingrid het by Ellen gebly. Charl was besig met vergaderings en sy het min van hom gesien. Dit was herfs in Europa en die skoonheid van die Switserse landskap, die wonderlike berge en mere, was oorweldigend. Sy het bedags alleen rondgedwaal, ure lank getuur na die berge, en dit was soos ’n helende hand op haar seer gemoed.

      “Switserland het jou goed gedoen,” het Charl tevrede gesê die aand voor hulle sou terugkeer en haar vir ’n oomblik teer teen hom vasgedruk.

      Die tydjie oorsee hét haar goed gedoen, maar die tien dae in Switserland was net ’n verposing. Met hulle terugkeer was dit weer amptelike onthale, die een partytjie na die ander. Sy het saam met Charl gegaan en haar hartseer en gemis agter ’n glimlaggende gesig verberg. En toe was dit weer tyd om gereed te maak vir die uittog na Kaapstad.

      In die jare wat gevolg het, het Margaret die Wagners van tyd tot tyd by vriende of onthale raakgeloop, maar hulle het nooit huisvriende geword nie. Paul het hard gewerk en Anita was besig met haar musiekuitvoerings en die opvoeding van hulle twee seuntjies.

      Die dokters het Margaret verseker dat daar geen rede is waarom sy nie gou weer ’n kind – ’n paar kinders as sy wou – kon hê nie, maar die jare het verbygegaan sonder dat dit haar beskore was. Miskien is dit beter


Скачать книгу