Ettie Bierman Keur 12. Ettie Bierman

Читать онлайн книгу.

Ettie Bierman Keur 12 - Ettie Bierman


Скачать книгу
sproete en ek ken ’n heerlike resep vir pampoenkoekies wat jou mond sal laat water.

      Dis ’n oulike brief, besluit Mynie. Nie te veel tierlantyntjies nie, hier en daar grappig, plek-plek ernstig en met ’n gesellige en opregte toon. Hy het nie ’n foto gestuur nie, maar Mynie hou van sy naam. Conrad Duvenhage … Daar is ’n mooi klank aan. Nogal romanties. Dit skep die indruk van ’n manlike ou en dis stukke beter as Wewenaar. Al waarvan Mynie nie hou nie, is die feit dat hy ook ’n prokureur is. Dit herinner haar te veel aan Heinz. Maar dis seker nie belangrik nie, want Heinz is besig met sy LLB-graad en sal binnekort advokaat wees.

      En dis jammer Conrad hou ook van blou. Toe Mynie die brief geskryf het, was sy nog effens in twyfel oor Heinz. Maar sedertdien het sy ’n hewige antipatie jeens Heinz du Preez se geliefkoosde kleur ontwikkel. As sy kon, sou Mynie in haar skilderye die blou lug en veraf berge pienk of pers of rooi of geel geverf het. Sy wonder oor Conrad Duvenhage se styl. Te oordeel na sy handskrif en benadering van die lewe, lyk dit of hy realisties sal skilder. Daar is egter ook genoeg krulletjies aan sy hoofletters dat hy na impressionisme kan neig.

      Mynie is nie seker hoe sy die uitnodiging om saam te gaan eet of na ’n toneelopvoering te gaan kyk, moet vertolk nie. Sy glo nie dit was vrypostig van Conrad nie. Sy advertensie in Profiel het gesê hy is eensaam en verstote. Dit het gesuggereer dat hy ’n penmaat soek – met die oog op ’n ontmoeting. En hulle is immers albei in Johannesburg. Dit sal verspot wees om dalk jare te korrespondeer en mekaar nooit te ontmoet nie. Of miskien by mekaar op ’n sypaadjie verby te loop en nie te weet dis jou penmaat wat jy so goed leer ken het uit sy briewe nie … Nee, besluit Mynie weer, dit is beslis nie voorbarig van hom nie. Liewe land, hulle is mos nie meer kinders nie. Hy is ’n wewenaar en sy ’n meisie wat die letsel van ’n liefdesteleurstelling dra. Dit was eerlik en reguit van Conrad. Hy wil haar graag ontmoet en hy vra of dit moontlik is. Dis nie vrypostig of voor op die wa nie.

      Mynie maak ’n lys van die dinge wat in Conrad Duvenhage se guns tel: Hy voel ook aan hulle is geesgenote en hy sê sy het ’n mooi handskrif. Hy het blonde hare, blou oë en die figuur van ’n jong ou. Hy hou ook van spaghetti en skilder ook. Hy drink nie, maar hou van lees, tennis en koskook. Hy het ’n romantiese naam en van en is eerlik, opreg en betroubaar. En hy het ’n sin vir humor.

      Dan soek Mynie na items om aan die debietkant van die balansstaat te skryf. Al wat sy kry, is die feit dat hy ’n prokureur is en van blou hou. En dalk te ryk is … Miskien dink hy sy is net agter sý geld aan as sy die brief beantwoord.

      Mynie staan op en stap na die hoek van die sitkamer. Terwyl sy haar lessenaar se laai ooptrek om ’n pen, skryfpapier en ’n koevert uit te haal, sê sy vir haarself: “In sy advertensie het nie gestaan dat hy welgesteld is nie, nogtans het ek aan hom geskryf, dus kan hy nie dink ek soek ’n ryk man nie. Ek het mos in elk geval redelik baie geld. Gelukkig het ek dit in my eerste brief gemeld; so, hy kan nie agterdogtig wees nie.”

      Conrad het met Liewe Geesgenoot begin. Mynie stem saam dis meer persoonlik as Beste Geesgenoot. Sy skryf haar adres boaan die bladsy en net toe sy die hoofletter L maak, is daar ’n klop aan haar voordeur. Mynie is nie van plan om haar weer so maklik te laat fop nie. Hierdie keer sleep sy eers een van die eetkamerstoele nader om deur die boluik te loer voor sy die deur oopmaak. Sy kyk af op ’n netjiese grys bolla, ’n paar smal skouertjies en twee blink skoenpunte.

      “Dis reg, my kind,” knik tant Lettie toe sy die beweging deur die boluik gewaar. “Maak eers seker wie dit is. Moenie jou deur vir elke Jan Rap en sy maat oopmaak nie. Ek kom net hoor of jy nog veilig is.”

      “Ek is, tante. Dankie vir die belangstelling.”

      “En ek kom net sê ’n houtlepel werk net so goed.”

      “Waarvoor, tant Lettie?” terg Mynie. “Om brooddeeg mee aan te maak?”

      “Nee, kindjie. Om onwelkome vryers mee oor die kop te slaan. Ek het dit baiekeer in my jongdae gebruik. As jy nie ’n verestoffer of ’n besem gou genoeg kan bykom nie, sal ’n houtlepel ook deug.”

      “Dis goed, tante,” lag Mynie. “Ek sal dit onthou.” Sy giggel opnuut toe sy daaraan dink wat Heinz se reaksie sal wees as sy hom met ’n houtlepel bydam. Dan versomber haar gesig opeens. Hy sal nie weer kom kuier nie, maar sy weet wat hy sou doen: die houtlepel by haar afneem, haar oor sy skoot trek en haar ’n pak slae daarmee gee.

      “Nou goed, my kind, dan moet ek maar weer gaan …”

      “Wou tant Lettie nie ingekom het nie?”

      “Dankie, my kind, maar ek het hekelwerk vir die kerkbasaar om klaar te maak. Gaan jy vanaand uit?”

      “Nee. Ek het ’n baie belangrike brief om te skryf.”

      Tant Lettie se waterige, fletsblou ogies blink en sy vra skalks: “Aan ’n kêreltjie?”

      “Op die oomblik nog nie,” antwoord Mynie blosend. “Maar ek hoop hy en ek word dalk goeie vriende in die toekoms.”

      “Geniet dan maar die skryf van jou liefdesbrief. Roep as jy dalk vanaand weer hulp nodig het. Ek sal dadelik kom, my kind.”

      “Dankie, tante,” sê Mynie. “Al speel ek gereeld tennis en al is ek ’n professionele latswaaier van beroep, slaan tante ’n baie harder verestoffer-hou as ek. Ek sal roep as tant Lettie weer moet kom help.”

      Terwyl Mynie vir Conrad skryf dat sy bly is hy gee nie om oor die sproete nie, dat sy ’n heerlike resep vir pampoenkoekies ken en hom verseker hy is nie vrypostig nie, en byvoeg dat sy hóm ook graag sal wil ontmoet, sit sersant As van Staden met sy hande in sy hare agter sy lessenaar by die polisiestasie in die middestad van Johannesburg. Hy was besig om ’n motorongeluk op te volg, toe sy bevelvoerende offisier hom van die saak onttrek het om hierdie nuwe reeks misdade te ondersoek wat in Johannesburg kop uitgesteek het.

      Die jongste is ’n geval van ’n sestigjarige oujongnooi wat van twintig rand beroof is. ’n Man het haar in die straat voorgekeer, gesê hy is op pad bank toe, maar dat hy merk sy tyd by die parkeermeter is verstreke. Ongelukkig het hy nie kleingeld nie en hy is bang vir ’n parkeerboete. Kan sy hom asseblief kleingeld leen? Die bank is nie ver nie. Hy sal gou terug wees. As sy ’n paar minute sal wag, sal hy haar geld nou-nou bring. Die jong man het ’n innemende glimlag gehad en die oujongnooi ’n vrygewige geaardheid. Sy het aangebied dat hy die geld met haar komplimente kan kry. Die probleem was egter dat ook sý nie kleingeld gehad het nie. Die enigste was ’n twintigrandnoot. Dit het die man nie afgeskrik nie. Hy het aangebied om dit gou by die kafee om die hoek te gaan kleinmaak. Nodeloos om te sê: die oujongnooi het tevergeefs gewag. Die gawe jong man het nie teruggekom nie. Na ’n lang gewag het sy die saak by die polisie aangemeld.

      “Boereverneukery,” brom die sersant. Hy brom nog verder oor onoplettende lede van die publiek wat helder oordag beroof is, dog glad nie kan onthou hoe die dief gelyk het nie.

      5

      Mynie skrik toe sy ’n paar middae later, pas ná die klok aan die einde van die laaste periode gelui het, die rooi motor voor die skoolhek sien staan. Sy kan nie glo dat party mense so dikvellig kan wees dat hulle nie weet wanneer om op te hou om hulle geselskap aan ’n meisie op te dwing nie. Wanneer gaan die boodskap eendag tot Heinz du Preez deurdring dat sy hom nie liefhet en hom nie weer wil sien nie?

      Daar is niemand in die sitplek agter die stuurwiel nie, maar Mynie ken die rooi Jaguar te goed en sy herken ook die registrasienommer. Sy weet dis Heinz s’n. Sy het reeds met haar skooltas en ’n stapel skrifte begin aanstap bushalte toe. Nou vlieg sy kort om om in haar klaskamer te gaan wegkruip totdat Heinz moeg gewag raak, dink dat hy haar misgeloop het en besluit om te ry.

      Mynie kry een van haar leerlinge in die voorportaal, vergesel van ’n mooi, blonde jong meisie. Nie Lenie van der Merwe se ma wat dalk oor te veel huiswerk kom kla het nie, besluit Mynie. Die meisie is te jonk om al ’n ma te wees. Dis seker ’n ouer suster van Lenie, of ’n oudleerling of ’n vriendin. Hoekom lyk dit of Lenie en die meisie na háár toe op pad is?

      Lenie van der Merwe beduie met ’n wysvinger na hulle kunsonderwyseres wat vandag blykbaar baie haastig


Скачать книгу