Hartklop Omnibus 3. Malene Breytenbach

Читать онлайн книгу.

Hartklop Omnibus 3 - Malene Breytenbach


Скачать книгу
kan Lucinda haar nie meer inhou nie. Sy staan ook op.

      “Mevrou, dit is u kínd wat daar lê en hy is baie siek. Om by hom te wees, sou ek nie as rondhang bestempel nie. Het u werklik iets belangrikers om te gaan doen as om by hom te wees terwyl hy in ’n krisis verkeer?” Haar stem bewe eintlik so verontwaardig is sy. “Buitendien oordryf u. Ek het nie van maande in die hospitaal gepraat nie.”

      “Ek stel voor jy bespreek dit met Werner, Enid,” stel Jens kil voor, en Lucinda sien dat hy skaars die afkeer van sy gesig kan afhou.

      “Nou goed dan,” sê Enid Huber hooghartig en loop uit.

      Lucinda druk haar vuiste diep in haar wit jas se sakke en kners op haar tande om haar in te hou voordat sy iets bitsigs kwytraak.

      Jens skud sy kop en kyk haar meewarig aan. “Ons ken haar maar so. Dis net jammer die kind is aan haar toegestaan en nie aan die pa nie. Dit het gebeur omdat hy klein was toe hulle geskei het en die ma in so ’n geval gewoonlik voorkeur kry in die skeihof. Werner betaal hoë onderhoud aan haar en sy probeer soveel uit hom kry soos sy kan. Verskoon my, ek skinder. Dis nie baie professioneel nie.”

      “Ek is bevrees as ek ooit ’n gly in iemand gevang het, is dit nou in haar. Ek is ook nie professioneel as ek dit sê nie, maar sy is darem baie selfsugtig en konfronterend. Sy dink skynbaar nie eerste aan haar kind nie, maar aan haarself.”

      “Ek verstaan dit nie. Ons seuns is al groot en uit die huis, maar ons is nog net so besorg oor hulle as toe hulle klein was.”

      Hy lig sy hand asof hy groet en loop ingedagte uit. Hy voel seker te na gekom, dink Lucinda simpatiek.

      Watter feeks van ’n vrou! Hoe het iemand soos Werner ooit op haar verlief geraak? Die liefde kan ook maar blind wees. Jy sien wat jy wíl sien, en dis nie noodwendig die ware karakter nie.

      Sy maak klaar en gaan na Bets by ontvangs. “Kan ek jou pla?”

      “Niks is pla nie. Wat kan ek vir dok doen?”

      “Ek wil die kinders se verjaardagdatums hê, asseblief.”

      Bets glimlag breed. “Haai, ek het nogal ’n lys, weet dok? Tant Mymie wou dit ook hê.”

      Sy haal dit te voorskyn en Lucinda soek eerste na Nanette.

      “Dis asof my sesde sintuig vir my gesê het die Van Reenen-kleintjie verjaar binnekort, en hier sien ek dis volgende week. Ek sien ook sy is ouer as wat sy lyk, want sy word al vier. Maar dis ’n kenmerk van MIV-kinders om swak groei te toon.”

      En sy klou vas aan daardie beertjie soos ’n kleuter sou doen, dink Lucinda bejammerend. Die kind is nie vertraag nie, maar haar ontwikkeling het ’n agterstand.

      “Ja, sjym, wil dok vir haar ’n partytjie hou?”

      Lucinda kyk op. “Dis ’n idee. Ek sien klein Charles Nieuwoudt verjaar kort na haar. Miskien kan ons sommer vir die twee saam iets hou?”

      “Vir seker. Tant Mymie sal wil help. Sy bak mos so koekies en maak graag ’n ophef van die ou kleintjies.”

      “As dit baie sagte eetgoed is, kan hulle dit met hulle ou seer mondjies dalk inkry, maar dis die gedagte wat tel. Ons moet hulle ’n bietjie opbeur, en dan sommer die ander outjies ook.”

      In die weeshuis het sy altyd verjaardagpartytjies vir die kleintjies gereël en vreeslik gekollekteer vir die versnaperinge. Sy dink ver terug en kom eers ná ’n rukkie agter dat Bets haar iets vra.

      “Ekskuus, ek is ingedagte. Wat wou jy weet?”

      “Dink dok dit sal vir die dogtertjie se pa moontlik wees om na haar verjaardag te kom?”

      “Dís nou ’n briljante voorstel. Ek dink hy kan gerus die moeite doen – ek gaan hom vandag nog bel.” Sy sien Bets se oë blink. “Is dit genoeg tyd vir daardie dieet om jou onweerstaanbaar te maak?” terg sy met ’n sedige gesig.

      Bets lag skalks. “Hy moet my maar vat soos ek is, met meer vatplek. O, hy is die naaste aan Prince Charming wat ek nog gesien het. Hy het laas my arme ou voete skoon onder my uitgeslaan.”

      Lucinda glimlag geamuseer. “Ja, Eddie was maar altyd vir die meisies baie mooi.”

      “Daar is seker strepe van die flerries agter hom aan. Hoekom klink dit asof dok hom ken?”

      “Ons het saam grootgeword. Wel, tot matriek, toe gaan hy oorsee.”

      “Tik my om met ’n budgie-veer! Ek is skoon jaloers. Die kere dat hy gekom het, het ek so hard probeer om raakgesien te word, maar nee, hy het net die mooi verpleegsters gesien en my skoon misgekyk.”

      “Ag, Bets, ek glo regtig nie hy het jou misgekyk nie,” troos Lucinda.

      Bets sug teatraal. “Hy het … wel, amper. Watse kans het ’n ou valie soos ek om sy hart vinniger te laat klop as hier sulke glamorous tipes soos Jenny de Lange rondwals?”

      Lucinda grinnik. “Probeer hom weer beïndruk; jou mooi persoonlikheid behoort die deurslag te gee. Maar terug na die partytjie. Kom ons hou dit op Nanette se verjaardag, maar vir al twee die kinders. Almal wat wil kom, kan kom. Ek sal die borg wees.”

      Bets lyk sommer opgewonde. “Ek en tant Mymie sal dok help. Dit gaan ’n moerse paartie wees.”

      “Ek moet seker die dokters Krause se toestemming vra voordat ons die plek op horings neem. Ek gaan sommer nou.”

      Marita is by Jens toe Lucinda by sy kantoor kom. “Gelukkig kry ek julle saam. Ek wil asseblief toestemming vir iets vra.”

      “Dit klink gevaarlik,” skerts Jens. “Vra maar, dan kyk ons.”

      “Ek wil vir Nanette van Reenen en Charles Nieuwoudt ’n gesamentlike verjaardagpartytjie hou, en ek wil Nanette se pa ook nooi.”

      Hulle kyk na haar, na mekaar en sê gelyk: “Ja.”

      “Solank dit nie die baie siek kinders ontwrig nie,” sê Jens.

      “Maar my man, dit sal die arme ou kindertjies opbeur,” sê Marita.

      Lucinda glimlag ingenome. “Baie dankie. Terloops, ek het dit voorgestel en ek betaal daarvoor.”

      “O nee, ons maak ’n bydrae,” protesteer Marita. Jens knik heftig. “Inderdaad. Ons betaal dit sommer uit die kleinkas.”

      Lucinda is aangedaan. “Julle is dierbaar, maar ek bly die hoofborg.” Sy vlug voordat hulle verder kan protesteer.

      “Edwin, dis weer Lucinda hier.”

      “Lucy, my darling. Lekker om weer van jou te hoor.”

      Verbeel sy haar, of is hy aangeklam? “Waar is jy, Eddie?”

      “Ons vier my sukses hier in Monte Carlo.”

      “Ek sien. Geluk. Jy behaal baie sukses, kom ek agter. Nanette verjaar oor ’n week.”

      “O fok. Ekskuus. Ek het wragtig amper vergeet.”

      Lucinda vererg haar sommer. “Hoe kan jy jou enigste kind se verjaardag vergeet?”

      Sy hoor hom kliphard sug bo die rumoer op die agtergrond. “Want ek is ’n vrot pa, Lucy. Ek moes nooit getrou het of ’n pa geword het nie.”

      “Wys jy’s nie vrot nie. Kom na haar verjaardagpartytjie.”

      “Wat?”

      “Ek reël vir Nanette en een van die ander MIV-positiewe kinders ’n partytjie en nooi jou as eregas.”

      “Lucy, Lucy, lig van ons lewens. Ek sal kom, al val die hemel, oukei?”

      “Oukei, Eddie. Ons sien uit na jou koms.”

      Dis tyd vir saalrondte en Lucinda betrap haarself dat sy uitsien om Werner Huber weer te sien. Dat sy haastig is om by hom uit te kom en dat die blote gedagte haar hart so ietwat oorstuur.

      Toe sy in Erik se kamer kom, is hy egter


Скачать книгу