Hartklop Omnibus 3. Malene Breytenbach

Читать онлайн книгу.

Hartklop Omnibus 3 - Malene Breytenbach


Скачать книгу
is in elk geval meestal by die kliniek.”

      Hy kyk na haar met somber oë. “Ek sal baie dankbaar wees as ek dit kan doen.” Hy draai na Jens. “Ek wil julle nie ontwrig nie. Kan ek by dokter O’Neill gaan bly?”

      Jens druk sy skouer. “Natuurlik, Werner. En enige tyd wat jy wil, eet jy in die kliniek se kafeteria. Lucinda se huishulp, Anna, sal in elk geval ook vir etes sorg.”

      Werner Huber staan op. “Ek wil nou teruggaan na my seun, asseblief.”

      Terwyl dokter Wannenburg na die ander kinderpasiënte omsien, konsentreer Lucinda meestal op Erik Huber.

      “Ons sal sien hoe hy op die medikasie reageer, meneer Huber,” sê sy vir die pa, wat weier om by die bed weg te gaan en skaars iets eet of drink.

      Dis hoe ’n toegewyde, liefdevolle ouer kan wees, dink sy meewarig. Iets wat sy self nooit geken het nie.

      “Waar is Erik se ma?” vra sy.

      “In Engeland. Ek het haar laat weet dat sy moet kom. Sy behoort môre hier te wees.”

      Lucinda wonder oor dié ma. Sou sy weer getroud wees? Is sy so toegewyd soos die pa?

      Sy is net op pad uit die privaat kamer toe sy die jong verpleegster Jenny de Lange teëkom.

      “Is dit nie ’n beeld van ’n man nie?” sug Jenny. “En so lief vir sy kind.”

      Lucinda haal haar skouers op. “Hy is seker. Verskoon my, ek wil gou met dokter Wannenburg gaan praat.”

      Eintlik het sy nie lus vir klets oor mooi mans in dié krisistyd nie.

      “Dokter Wannenburg, kan ek met u saamstap en gevalle bespreek?” vra sy toe sy hom en suster Martie en twee verpleegsters op hulle rondte sien. “Ek sal binnekort weer na Erik Huber gaan kyk.”

      “Natuurlik. Jy is welkom.”

      Sy luister na die diagnoses en die gesprekke en sien dat daar twee kinders is wat MIV-positief is. Hulle kom laaste by Nanette, wat vir Lucinda baie siek en swak lyk. Ongetwyfeld is die siekte al gevorderd en sit dit nou in vigs om. Ander ouers het deur die loop van die dag gekom en gegaan, maar niemand was by Nanette sover Lucinda kon agterkom nie.

      “Sy het opgeswelde kliere, asemhalingsprobleme en koors, en sy verloor gewig,” fluister dokter Wannenburg. “Natuurlik het sy diarree. Haar ma het haar geïnfekteer en dié is al dood.”

      Lucinda se hart bloei vir die kind. “Ag, foei tog. Waar is die pa?”

      “Hy kom so dan en wan, maar hy is ’n renjaer en reis rond. Ek skat hy het haar hier laat opneem omdat dit die beste was wat hy kon doen.”

      Lucinda kyk na haar kaart. “Nanette van Reenen,” lees sy hardop en die verskriklikste gedagte skiet deur haar. Sy kyk na dokter Wannenburg. “Wat is haar pa se naam?”

      “Edwin van Reenen. Dalk herken jy die naam? Die man is baie bekend, nie net in Suid-Afrika nie, maar veral oorsee.”

      Lucinda voel asof die vertrek ’n oomblik draai en toe weer stilstaan.

      “My liewe dokter, jy is doodsbleek. Wat makeer?” hoor sy die dokter vra, maar sy kan weens die skok nie antwoord nie.

      “Help haar, suster,” hoor sy, en hande vat haar en laat haar op ’n stoel sit.

      Voor haar is die gesig van die dokter wat oor haar buk.

      “Ek is jammer,” prewel sy. “Ek het so geskrik. Edwin van Reenen is ’n baie ou vriend.”

      Sedert haar kinderdae, sedert die weeshuisdae, maar sy sê dit nie.

      “Ai, dis vreeslik,” simpatiseer dokter Wannenburg. “Nou ja, jy sal hom wel sien as hy weer kom. Hy kom so dikwels soos hy kan, sê hy, maar dis nie kort-kort nie.”

      Lucinda voel hoe suster Martie haar oor die rug streel asof sy ’n kind troos. “Kan ek vir jou iets gee vir die skok, dokter?”

      “N… nee, dankie. Ek sal nou-nou reg wees.”

      Sy skud haar kop en staan op. Die dogtertjie se groot oë kyk in hare en sy voel asof sy in trane kan uitbars en die kind vasgryp, maar sy hou haar in.

      “Ek sal ’n spesiale ogie oor haar hou,” sê sy. “Is sy op anti-retrovirale? Die pa kan dit seker bekostig?”

      “Ja, al het ons die probleem dat pediatriese dosering daarvan moeilik is om heeltemal korrek vas te stel. Sy kry vloeistofmedikasie, wat duur is, en ons moet dit natuurlik verkoel. Ek probeer die regte dosis volgens gewig toedien, maar soos jy seker weet, reageer kinders nie altyd so goed soos volwassenes nie.”

      Lucinda luister in stilte en dink dat Nanette met sulke behandeling dalk jare lank sal lewe, maar niemand kan seker wees nie. Sy knipper skielike trane weg.

      Edwin se kind. Blonde, vrolike Edwin wat nie kon wag om weg te gaan en die lewe met albei hande aan te gryp nie. Sy het op die nuus gesien en gelees hoe hy aan die Grand Prix in verskillende lande deelneem, en selfs hoe hy wen.

      Het hy die losbandige lewe begin aanhang toe hy ryk en beroemd geword het? Die soort lewe waar mense met MIV besmet kan word? Sy voel siek as sy daaraan dink.

      Waar is al die ander familie, die ma se mense? Of het hulle haar verwerp omdat sy vigs gekry het?

      Ek sal jou tragedie vir jou probeer versag, klein meisie, dink sy en buk oor Nanette. “Ek kom weer vir jou kuier, hoor.”

      “Ja.” Die fluistering is so sag dat Lucinda dit skaars hoor.

      Werner Huber kyk na die jong pediater toe sy inkom en merk dadelik op dat sy lyk asof sy ontsteld is, maar dit probeer wegsteek. Sou dit wees omdat sy vrees dat hulle nie vir Erik gaan deurtrek nie? Hy kry ’n gevoel van onrus soos ’n klip in sy maag.

      Daar buk sy weer oor sy seun en ondersoek hom. Hy het lanklaas so ’n deernisvolle gesig gesien. Dat sy omgee en dat haar hart in haar werk is, kan niemand betwyfel nie. Daarby het sy ’n sonderlinge skoonheid, waarvan sy skaars bewus lyk. Iemand so mooi kon ydel gewees het, maar sy is dit skynbaar nie.

      “Een van my skranderste studente, en deurgaans ’n presteerder, seker omdat sy met beurse en lenings moes studeer,” het Jens vroeër vertel toe hy oor haar uitgevra het. ’n Weeskind uit ’n baie troebel agtergrond. Dis seker daarom dat sy so simpatiek voorkom: sy ken swaarkry en sukkel.

      Daar is net een probleem, dink hy: sy lyk so jonk. Haar loopbaan as pediater was nog maar kort. Hy wonder of sy ooit genoeg weet, ten spyte van die vertroue wat Jens in haar stel. Gelukkig is hier darem ’n ouer pediater by om haar te ondersteun. Jens en Marita se belangstelling in Erik is ook persoonlik.

      “Pappa.”

      Hy skrik toe hy Erik se stem duidelik hoor en vlieg op. Die dokter steek haar hand uit en streel liggies oor Erik se wang. Dis so ’n teer gebaar dat die asem in Werner se keel vasslaan.

      Sy kyk op. “Hy is ’n bietjie deurmekaar, maar ons verwag dit.”

      Werner kyk diep in die pragtige blou oë tussen swart wimpers. Hy besef dat hy staar en dat sy bloos, asof sy verleë is.

      Sy kyk af en hou haar besig, en op sy beurt hou hy haar diskreet dop. Al weet sy dalk nog nie genoeg nie weens ’n tekort aan ondervinding, het sy ’n wonderlike bedside manner, dink hy. Hy kan glo dat kinders vir haar lief kan word.

      Onwillekeurig sug hy.

      “U moet baie moeg wees,” hoor hy haar sê. “Wil u nie gaan eet en stort nie? U kan mos weer terugkom. U doen nie uself óf Erik ’n guns as u uitgeput raak nie. U moet ook u kragte bewaar.”

      “Jy bedoel julle wil nie twee pasiënte hê nie?”

      “Ja. Ek dink u moet vir my luister. U sal sommer baie beter voel. Anna kook aandete en ek het vir haar gesê sy moet na u omsien.”

      Styf-styf staan hy op. “Nou goed, maar ek is netnou terug.”

      Toe


Скачать книгу