Louisa du Toit Omnibus 11. Louisa du Toit
Читать онлайн книгу.
LOUISA DU TOIT
Omnibus 11
Om alles te weet • Jaar van die feniks • Prys vir die son
Jasmyn
1
Bo-op die rant, in die skaduwee van ’n sambreelvormige kokerboom, kom Nelis Hoffman tot stilstand. Sonbesies reg bo hom swyg verskrik. Wat ’n vreemde landskap, soos op die maan. Hy benut die blaaskans om sy kleinerige tas van een sweterige hand na die ander te skuif. Sy ander bagasie het hy op die stasie beveilig. Nou druk hy sy los hand teen die boomstam, verbaas oor die sysagte gladheid daarvan teenoor die growwe aalwynagtige blare.
Hy strek hom tot sy volle lengte, asof hy so bo die grondlangse hitte kan uitstyg. Of dalk is dit maar net ’n oorblyfsel van die bietjie karate wat hy op laerskool gedoen het. Hy strek hom graag, ook heel eerste soggens as hy wakker word. Die menseliggaam vra daarna, so glo hy. Vandag bied die heilsame gewoonte hom egter geen verligting nie.
Wat soek ek hier? wonder hy met verbystering, asof hy lank in ’n dwaal was en nou tot helderheid kom. Hier in die vreemde mengeling van klipwoestyn en swoel rivieroewer? Hoe sal hy ooit hier tuis kan raak, inpas by die gevestigde inwoners wie se huise daar voor hom van oos na wes gestippel lê?
Noudat hy hier staan, kan hy na weerskante toe kyk. Agter hom lê die dorp waar hy ’n uur gelede met die trein aangekom het. Voor hom lê sy bestemming vir die volgende drie maande of langer: ’n klipperige vallei met die verskuilde rivier heel agter, dan die bewerkte lappieslande, en heel voor – naaste aan die vreemdeling wat op die klipperige rant talm – die onegalige ry huise teen ’n watervoor soos ’n blink naelstring.
Hy het hom dit anders voorgestel: dat hy hom vas teenaan die rivierstroom sal bevind, daagliks blootgestel aan sy oerkrag. Want hy het hierheen gekom om sy eie terapeut te wees, sy psige te ontleed, vas te stel waarom hy, ’n uitmuntende swemmer, in gebreke gebly het om ’n kind uit ’n kolkende spruit van ’n waterdood te red. In daardie antwoord sal hy moontlik vrede vind.
Dit is meer as een misverstand wat hom hier laat staan. Toe hy aansoek doen, het hy aanvaar dat die skool in die dorp is. Die Onderwysgaset het dit so laat klink, dalk met opset, in die hoop om iemand vir die afgeleë skooltjie aangekeer te kry. Roosville, Driekolk Primêre Skool. Tydelike pos vanaf Januarie, met die moontlikheid op ’n permanente aanstelling. Dis die “kolk” wat sy oog gevang het.
By die stasie moes hy egter verneem dat die bestemde takskooltjie deel vorm van die aparte klein nedersetting Driekolk, sewe kilometer noord. Hoe om daar te kom, wou Nelis weet, net om te hoor dat daar rivierboere is wat “lusern inry”; na die stoor op Roosville, soos hy kon aflei. Dalk laai een hom op. In hierdie hitte kan hy nie daarvan droom om die afstand te voet af te lê nie, is hy meewarig ingelig. Hy is aangesê om net te wag, daar sal wel ’n geleentheid opdaag.
Dit was ook so. Redding was naby in die vorm van ’n vreemde voertuigie genoem ’n “tjor”, gemaak van ’n motor se kajuit en onderstel met ’n tuisgemaakte bak agterop … die drywer met songelooide gesig en slap hoedjie. “Dis Hans Esau wat goeters op die stasie kom afhaal. Hy sal jou tot duskant Driekolk se rant kan vat. Die pad na sy plekkie draai daar af.”
“Dit sal my baie help, dankie.”
“Onthou net, hy’s doof. So geword van dinamiet. As hy te sag praat, moet jy met jou hand opper beduie. En as hy te hard praat, moet jy affer beduie.”
Dit word ’n stamperige rit met Hans Esau se lippe wat aaneen roer. Nelis het wyslik besluit teen die nodelose oefening van “opper” en “affer”. Ten slotte het sy weldoener met drie vingers in die lug oor die rant beduie. Wat duidelik moes beteken dat Driekolk vlak anderkant lê.
Dus was die voetreis nie te ver nie, maar hy het hom nogtans met die son se krag misgis, ten spyte van ’n paar genadige ronddrywende wolke. Tuis in die Boland was dit koel, hier bevind hy hom meteens in stekende hitte; daarby is hy die enigste siel op twee bene. Dalk word hy self as ’n soort “loafer” aangesien, ’n verloopte handelsreisiger, veral met die tas. Dit kan lyk of hy monsters van ’n nikswerd produk saamdra, waarmee hy mense wil verkul.
Moes hy tog maar gekom het met sy eie kar, wat hy in die sorg van die Eksteens gelaat het, Reinet se ouers? Opreg jammer vir die motor waaraan hy nog afbetaal, het hy bedenkinge gehad oor die paar honderd kilometer van onbekende grondpad. Dis Reinet wat hom aangeraai het: “Hoekom ry jy nie die eerste keer per trein nie? Los jou kar by ons. Mits ek af en toe daarmee mag ry, net in die dorp.”
“Nou ja, ek weet jy is ’n goeie bestuurder, jou pa het jou geleer,” het hy toegegee.
Behalwe die ligging van die skool, is daar ’n rits kleiner misverstande. Hy is byvoorbeeld verkeerd aangetrek. Hy het reeds op die trein sy baadjie uitgetrek, toe sy das losgewoel, moue opgerol, hempkraag losgeknoop.
Dit kan ’n verdere misverstand wees, of ’n dwase besluit, om twee weke voor die skoolopening reeds te kom, sonder om iemand daarvan te verwittig. Maar hy wou niemand tot las wees nie, ’n ophef vermy. Ongemerk aanland, hom oriënteer. Die oorsprong van die naam Driekolk vasstel. Al wat hy tot dusver kon uitvind, is dat dit dui op drie klein watervalle in ’n vlak rivierkloof. Kan hulle woes raak? Vreesaanjaend, sodat dit hom van angs verlam? Soos hy dit langs daardie spruit ondervind het waar Banie Hougaard sit en visvang het, met blitse wat om hom speel? Sodat hy weggery het, sy stram voet rukkerig op die pedaal, sy hand ’n klou om die rathefboom?
Daar is geen wind nie, maar die mate van skaduwee sorg tog vir ’n geringe afkoeling van sy sweetklam lyf. Wat maak dit ook saak hoe hy lyk? Hy gee nie meer om nie. Hy is verby denke en gevoel, so in die godverlatenheid, een klein mens onder die wye, sondeurbakte uitspansel. In sy kop draai die woorde uit De Kleine Rudolf: “Ik heb mijn leven uit de hand gegeven.” Wat nou verder met hom gebeur, moet maar gebeur, soos met die randfiguur Rudolf met sy slaprandhoed, uit Nelis se eens voorgeskrewe boek. Hy besef dat hy self ’n hoed kort, soos Rudolf se “flambard”.
In die singende stilte hoor hy nou ’n vae ruising wat dié van water kan wees. Ver na regs, in die kloof, sonopkant. Dit smelt saam met die geskril van sonbesies wat hervat het, en die gesuis van verhitte bloed teen sy oortromme. Dit moet die watervalletjies wees. Hy hunker na die koeligheid wat dit belowe, verlang na sy studiejare toe hy provinsiaal geswem het. En dit durf tog nie. Hy het vier maande gelede ’n angsaanval gekry wat hom gekeer het om Banie Hougaard van ’n waterdood te vrywaar. Dis die naakte feite wat besig is om hom stelselmatig te vernietig. Alvorens hy begrip ontwikkel oor hoe dit moontlik was, sal hy nie vry wees nie.
Dan hoor hy, agter hom uit die dorp se koers, die gedreun van ’n voertuig. Hy kyk vlugtig om: dis ’n rooi vragmotor met ratelende oop bak wat stadig teen die rantjie uitgeskud kom, op die stuk pad wat hy reeds afgelê het. Lusernbale by die stoor afgelaai, so weet hy nou al. Dit was ’n goeie oes, het hy iemand hoor sê; min plae en deur die genade genoeg water vir natlei.
Met die sweet klamwarm tussen sy blaaie en die bril ’n gewig op sy neus, voel hy hom ’n misplaaste verskynsel. Teen die klipperige helling het alles ingekring en gestol: die kokerbome wat hulle dor, profetiese vingers die lug insteek; die witgebleikte vuursteenklippe onder die koorsige son wat roerloos in die aswit hemel hang. Die paar wolke het weggedrywe.
Hier is dit net hy wat beweeg, en die rooi vragmotor wat trekkerig sing. Sodra dit op die gelykte is, sal hy, die onwaarskynlike padloper, onder die bestuurder se aandag kom. Dit kan ’n hulp wees, maar ook ’n vernedering.
Hardnekkig bly hy vorentoe kyk, na die strepie huise teen die blink watervoor. Die bestuurder, al laai hy hom nie op nie, sal kan beduie waar die eenmanskooltjie met onderwysershuis is. Of sal hy tog maar hoop dat die voertuig hom liewer verbysteek? Sy tong kleef aan sy verhemelte, hy wil nie vrae beantwoord nie. Met teenstrydige gevoelens hoor hy hoe die vragmotor spoed verminder totdat dit sidderend langs hom luier.
Toe eers, onwillig, kyk hy op in die vol, beswete gesig agter die stuurwiel. Die fris jong man se hare is sweetklam en deurmekaar. ’n Wit voorkop verklap dat hy normaalweg hoed dra. Seker afgehaal dat sy kop lug kan kry. Hy moes wel lusern afgelaai het, want droë blaartjies warrel op die stampende bak toe die lorrie tot stilstand kom. Daar