Annelize Morgan Omnibus 8. Annelize Morgan

Читать онлайн книгу.

Annelize Morgan Omnibus 8 - Annelize Morgan


Скачать книгу
het reeds vir Storm ingeskryf. ’n Kleinnefie van ons gaan hom ry.”

      Oom Markus dink ’n oomblik na en sê dan: “Julle gaan ’n gewigsvoordeel hê. Samuel is die enigste ander een wat Harmonie kan ry.”

      Julius lag.

      “Voorspoed, buurman! Storm gaan stof in jou merrie se oë skop.”

      Rosalie en Samuel neem Harmonie na die plek waar sy ingeskryf moet word. Dan word sy weggelei na ’n klein stalletjie totdat dit tyd word dat die perde na die wegspringplek toe moet gaan.

      Haar blik dwaal oor die baan waar die perde moet hardloop. Harmonie ken hierdie soort omgewing van bulte en klipperige grond en steil op- en afdraandes. Dit behoort nie vir haar moeilik te wees om die pas vol te hou nie. As Samuel net nie te haastig met die sweep is nie, sal sy baie goed vaar.

      Sy stap stadig terug na oom Markus toe Samuel by ’n paar van sy vriende aansluit. Clara is nie daar nie, en Rosalie vermoed dat sy intussen na Renier gaan soek het. Hulle sluit egter ’n paar minute later weer by Markus se geselskap aan. Toe Clara na die kapkar gaan om iets daar te gaan haal wat sy vergeet het, kom staan Renier by Rosalie.

      “Ons sal vandag sien wie die beste daaraan toe is,” sê hy laggend. “Wil jy iets gaan verwed op jou perd?”

      Sy skud haar kop glimlaggend.

      “Ek wil nie wed nie, Renier, ek wil wen!”

      “Ek ook,” sê hy met ’n vonkeling in sy oë. “Ons moet sorg dat ons by die wenpaal is wanneer die perde oor die streep jaag.”

      “Hoe laat spring hulle weg?”

      Hy haal sy goue sakhorlosie uit en knip dit oop.

      “Oor ongeveer ’n halfuur.”

      “Dan was ons ook net betyds, of hoe?”

      Clara sluit weer by hulle aan en dwing Renier weg van Rosalie af. Rosalie bly alleen agter en kyk hulle ’n lang ruk ingedagte agterna voordat sy na oom Markus en tant Hanna toe oorstap. Sy kom saam met Julius by hulle aan, en daar is nie wegkomkans nie.

      Julius lyk baie tevrede met homself.

      “Ek glo nie ek hoef my meer oor Renier te bekommer nie, Markus. Hy het belowe dat hy sy verlowing met Clara nog voor die winter sal aankondig.”

      Markus glimlag.

      “Ek is bly. Ons wag darem al baie lank daarvoor.”

      “Te lank. Hulle moes lankal getroud gewees het, maar ek het ’n steeks seun wanneer dit by trou kom.” Hy kyk na Rosalie. “Ek verstaan van ander mense dat jy en Charles Bennet verloof is?”

      Rosalie snak na haar asem.

      “Daar steek geen waarheid in nie, oom Julius.”

      “Almal praat daarvan,” hou Julius vol. “Die hele dorp weet dat jy teen Junie met Bennet sal trou om hom Bethlehem toe te vergesel.”

      Rosalie se mond voel skielik kurkdroog.

      “Ek sal nooit met hom kan trou nie!”

      Julius lig net sy een wenkbrou afkeurend en wend hom dan weer tot Markus.

      Rosalie vlug van hulle af weg. Sy loop vinnig tussen die bome deur totdat sy baie ver van die menigte mense af is. Daar gaan leun sy teen die skurwe stam van ’n boom terwyl sy met bitterheid in haar hart uitkyk oor die bedrywighede.

      Charles Bennet probeer haar op ’n slinkse manier vang, maar sy gaan dit nie toelaat nie. Sy sal sorg dat hy nóóit weer in haar rigting kyk nie. Daar is nie veel tyd om haar plan tot uitvoer te bring nie, maar sy begin dadelik terughardloop na die krioelende mense. Sy kry oom Markus by die kapkar besig om die twee perde voer te gee. Hy kyk verbaas op toe sy uitasem by hom aansluit.

      “En toe? Waarheen is die haas?”

      “Oom Markus, het oom vir my asseblief ’n paar pond? Oom hoef nie vir my sakgeld vir die volgende paar maande te gee nie. Ek het die geld net nou dringend nodig.”

      Hy lag sag.

      “As jy wil wed, is dit jou saak, kind.” Hy steek sy hand in sy sak en tel vir haar vyf pond af. “Ek hoop net Harmonie wen.”

      “Dankie, oom Markus!” roep sy uit voordat hy nog verder kan praat.

      Sy draf die naaste algemene handelaarswinkel binne en gaan uitasem staan, ’n Jong man kom nader om haar te help en sy glimlag dankbaar.

      “Ek wil ’n rybroek vir ’n dame hê, asseblief.”

      Hy lig sy wenkbroue verbaas.

      “Ons hou nie so iets aan nie, Juffrou. Hier is net rybroeke vir mans.”

      Rosalie aarsel net ’n oomblik.

      “Wat kos hulle?”

      “Drie pond en vyf sjielings.”

      “Gee vir my julle kleinste nommer, asseblief.”

      Met die kledingstuk in haar hand, hardloop sy na die klein kantoortjie agter in die winkel om die broek aan te pas. Dan pluk sy die wye tabberd uit, rol dit in ’n los bondel op en sit dit op ’n stoel neer. Gelukkig het sy vanoggend ’n romp en bloese aangetrek, dink sy dankbaar. Haar kort steweltjies sal maar moet deug. Daar is nie nog genoeg geld vir ’n ander paar stewels ook nie.

      Sy draf weer uit en betaal die verbaasde winkelier vir die broek. Sy blik bly geskok op haar vietse lyfie in die mansrybroek.

      “Ek het my klere in jou kantoor gelaat. Ek sal dit ná die wedren weer by jou kom kry.” Dan hardloop sy uit in die son en terug na die skare mense wat nou by die wegspringplek vergader. Niemand slaan veel ag op haar nie. Hulle aandag is by die perde wat nou een vir een uit die stalle gelei word.

      So in die verbygaan plaas Rosalie ’n weddenskap van sewe teen een op Harmonie. Storm is die gunsteling, en Warfire van die Du Toits is tweede gunsteling. Harmonie is die derde perd op die lys.

      Met die stukkie papier in haar sak, baan sy haar weg na waar Samuel op die punt staan om op Harmonie te klim. Hy kyk geskok na haar toe sy hier langs hom in mansrydrag verskyn.

      “Wat die duiwel dink jy doen jy!” sis hy. “Oom Markus gaan jou velle van jou lyf aftrek!”

      “As mens ’n haas is en ’n jakkals is op jou spoor, moet jy gal aan jou stert vryf,” sê sy. “Dit sal hom gou genoeg leer om nie sommer te hap wat hy nog nie het nie.”

      Samuel skud sy kop.

      “Jy’s mal! Wat van ons ooreenkoms?”

      “Jy sal die vul kry as jy my nou sal toelaat om op te klim.”

      Hy sug en staan eenkant toe.

      “Nou maar goed.”

      Sy klim in die saal, buk oor en haal sy hoed van sy kop af.

      “Haai! Wat maak jy!”

      “Ek wil nie onnodig maklik herken word nie!” Sy druk die hoed op haar kop en gee die perd spore voordat Samuel haar kan keer.

      Harmonie trippel senuweeagtig uit die stal. Die ongewone geraas maak haar skrikkerig. maar omdat Rosalie deurentyd paaiend met haar gesels, bedaar sy geleidelik.

      Daar is twaalf perde wat aan die wedren gaan deelneem. Rosalie herken dadelik Renier se pragtige swart sweetvos met sy wit maanhare en stert. Dis ’n manjifieke dier wat sy nog altyd bewonder het. Die seun wat hom ry, is nog baie jonk, en Rosalie skat hom so om en by sestien. Dit gaan ’n harde wedren afgee, dink sy. Storm is ’n groot, sterk perd en met ’n ligte jokkie in die saal, gaan hy al die voordeel hê wat hy nodig het.

      Die toeskouers kyk nuuskierig na Rosalie. Haar bloese vol valletjies en kant verraai dat dit beslis nie ’n man is wat in die saal sit nie.

      Die perde staan langs mekaar en rondtrippel terwyl hulle wag dat die vlag moet val. Rosalie kyk nie na die ander om haar nie. Haar blik bly deurentyd op die


Скачать книгу