Melodie Omnibus 2. Wilmari Jooste

Читать онлайн книгу.

Melodie Omnibus 2 - Wilmari Jooste


Скачать книгу
kort ná oom Willem se dood het Barnie haar kom haal. Sy bly nou in ’n woonstel nie te ver van hom af nie.”

      Hulle is nou naby aan die gradeklasse en die gejil en gelag van die spelende kinders is duidelik hoorbaar.

      “My twee sal seker buite wees. Hulle was baie opgewonde omdat hulle ‘groot skool’ toe kom, maar ek weet die speelgoed is die groot trekpleister. Gelukkig is hier ’n paar graad 11-dogters wat ’n ogie hou!” lag Mitzi toe hulle om die hoek stap.

      Fransien steek in haar spore vas toe die speelterrein in sig kom. “Dis onregverdig! Hoekom het dit nie in ons dae ook so gelyk nie?”

      Die klaskamers se buitemure is versier met tonele uit bekende sprokies, en die speelterrein is ’n lus vir die oog met sy lowergroen grasperke en helderkleurige speelapparate. Kinders swaai, gly, klim en klouter oral rond.

      “Mamma! Mamma!”

      Twee blonde dogtertjies storm roekeloos op hulle af. Fransien verstar. Asof in stadige aksie sien sy hoe die voorste een tevergeefs probeer uitswenk om ’n swaaiende swaai te vermy. Die hoek van die swaai tref haar teen die kop en sy struikel. Half verdwaas gaan sit sy op die gras en vat aan die diep sny bokant haar wenkbrou, wat onmiddellik begin bloei het.

      “Eina! Eina … Mamma, dis seer!” Sy begin hartroerend huil.

      Mitzi is dadelik op haar knieë langs die kleintjie. Sy raap haar in haar arms op en hou haar vas terwyl sy sagte trooswoordjies prewel.

      “Toemaar, Mamma se skat, toemaar. Hier is Mamma. Kom, Mamma vee gou die nare ou bloedjies af. Kyk, hier is tannie Fransien. Sy is mooi, nè? Sy gaan gou vir Pappa vra om die motor nader te bring, dan gaan kuier ons vir oom Dokter. Hy sal die eina sommer gou-gou wegvat.”

      Die ander kleinding het intussen styf teen Mitzi kom staan en haar lippies begin ook bewe.

      4

      Fransien spring in aller yl weg saal toe. Dankbaar dat sy gemaklike stewels aanhet, vat sy kortpad deur die tuin. Die plantegroei is baie ruig. Die skoolkinders mag nie hier kom nie en die struike en bome groei ongehinderd. Haar voete vind outomaties die pad deur die halfskemer onder die hoë bome deur.

      Dan struikel sy oor iets en slaan neer op die dik grasmat. Sy is dadelik weer op haar voete en loer vinnig oor haar skouer. Sy verstar. Dis ’n mens oor wie sy gestruikel het!

      Ten spyte van haar haas om by Daan te kom, draai sy om. Hoekom sal iemand hier lê en slaap? Sy vat aan die man se skouer om hom wakker te maak, maar die kop val slap agteroor en die oë staar leweloos in die niet.

      Asof ’n slang haar gepik het, spring sy agteruit. ’n Paar oomblikke is dit asof haar brein weier om te registreer wat sy voor haar sien. Dan storm sy paniekerig in die saal se rigting. Sy moet by Daan kom!

      Daan is in die middel van ’n jagstorie toe Fransien die saal binnehardloop en hom uitasem aan die arm gryp. Sy sukkel om te praat. Met ’n gedempte kragwoord vat hy haar stewig aan die skouers en skud haar.

      “Wat is dit? Fransien! Wat is fout?”

      Sy haal diep asem. “Die motor … Jy moet die motor na die speelterrein toe vat, een van die tweeling het seergekry.”

      Sy sien die skok in sy oë en skud haar kop. “Ekskuus. Ek wou jou nie so laat skrik nie. Dis nie so erg nie, sy sal dalk net steke moet kry.”

      “Is jy seker?” vra hy verlig.

      “Ja. Ja, ek is.”

      En toe bars sy in trane uit. Daan kyk raadop na haar. Hy kan die uitdrukking van afgryse op haar gesig nie miskyk nie.

      “Fransien? Is jy orraait?”

      “Nee. Meneer De Lange is dood.”

      Daar is ’n geskokte stilte en dan ’n gedruis van stemme.

      “Wat? Jy kan nie ernstig wees nie!”

      “Hy is … dood. In die tuin. Ek het oor hom ge- … geval! Ek … ek voel naar!”

      Sy storm badkamer toe en haal dit net betyds. Toe sy uiteindelik regop kom, voel dit asof daar niks meer in haar maag oor is nie.

      ’n Paar simpatieke vroue kloek om haar. Die een bring vir haar ’n glas water, die ander diep ’n geurige klam waslappie uit haar handsak op waarmee Fransien haar gesig kan afvee. Nog een het ’n grimeringsakkie gereed sodat sy haar ’n bietjie kan opknap.

      “Baie dankie. Julle is almal so gaaf,” sê sy sag.

      Tot haar verleentheid begin die trane weer in haar oë opdam. Dis Bets wat haar ferm aan die arm neem.

      “Kom, dis nou genoeg hiervan. Dis tyd dat jy van jou voete af kom en ’n warm drinkdingetjie kry. Kom sit by ons tafel. O ja, moenie bekommerd wees oor Mitzi se kleinding nie. Daardie tweetjies lyk gedurig asof hulle in ’n oorlog was.”

      Sy praat sag oor haar skouer met iemand terwyl sy Fransien na ’n tafel toe stuur: “Sê vir die dokter om ’n draaitjie by ons te maak as hy hier kom.”

      Fransien hou haar koppie koffie soos ’n kosbare kleinood vas. Haar tande wil-wil net op mekaar klap, maar elke sluk van die warm vloeistof verdryf ’n titseltjie van die koue uit haar.

      Toe die dokter opdaag, voel sy al soveel beter dat sy koppig ’n inspuiting weier.

      “Ek is g’n siek nie, ek het net groot geskrik,” hou sy vol.

      Uiteindelik oorreed hy haar tog om ’n kalmeerpil te drink.

      “Skok is nie goed vir ’n mens se liggaam nie. Hierdie pilletjie kan jou nie skade aandoen nie, dis baie lig.”

      Fransien sluk die pil net om hom tevrede te stel. Sy spits haar ore toe iemand hom uitvra oor Ferdie de Lange se dood.

      “Wel, ek is nie eintlik veronderstel om daaroor te praat nie, maar dit was duidelik ’n hartaanval. Dis jammer dat so iets vandag moes gebeur. Wat nou van julle verdere reëlings? Ek verstaan daar is ’n dans beplan vir vanaand?”

      Voordat iemand hom kan antwoord, kom Mitzi en Daan saam met die tweeling by die deur in. Die ouers word ongenadig geterg oor die tweeling wat sulke ongeluksvoëls is.

      Die dokter terg saam. “As ons ontvangsdame sê Mitzi is op die lyn, vra ons net: ‘Watter een?’ en haal solank naald en gare uit,” lag hy.

      Soos Bets voorspel het, is Estie baie trots op haar steke. Adri is duidelik jaloers op al die aandag wat haar sussie kry, maar sy het ook ’n pleister gekry en dit troos darem ’n bietjie.

      Fransien is dadelik verlief op die tweetjies, en die gevoel is ooglopend wedersyds. Dis eintlik lagwekkend om te sien hoe die twee stilweg om haar aandag wedywer.

      Dokter Botha herhaal sy vraag: “Wat van julle dans vanaand? Gaan dit nog voort?”

      Mitzi frons. “Ek dink so. Dis sleg onder die omstandighede, maar ons kan nie die reëlings nou verander nie. Hier is mense wat honderde kilometer ver gery het vir die reünie. Sommige het meneer De Lange skaars geken, want hulle het nooit by hom klas gehad nie. Hier is niemand wat familie van hom is nie. Die mense wat nie gemaklik daarmee is nie, hoef nie te dans nie. Of klink dit harteloos?”

      Sy kyk vraend om haar. ’n Paar mense lyk ietwat ongemaklik, maar op die ou end is dit ’n taamlik eenstemmige besluit.

      Hierna begin die mense uitmekaarspat.

      “Dis amper soos ná ’n begrafnis, as die tee en eetgoed op is,” merk Fransien sinies op.

      “Nogal, ja,” stem Mitzi saam. “Kom jy saam met ons huis toe?” nooi sy dan vir Fransien.

      “Ja! Ja!” gil die kleintjies en dans laggend al om Fransien.

      Sy haal haar skouers magteloos op. “Hoe kan ek nee sê? Dis die hartlikste uitnodiging wat ek nog ooit gekry het!”

      By die Dreyers se huis neem die tweeling Fransien op ’n begeleide toer,


Скачать книгу