Hans steek die Rubicon oor. Rudie van Rensburg

Читать онлайн книгу.

Hans steek die Rubicon oor - Rudie van Rensburg


Скачать книгу
groot tas?”

      Boerbok maak die hangkas oop. “Ons het solank my oom­pie se kleertjies uitgepak wat in daardie tas was.”

      “Waar’s dit nou?”

      “In die tassekamer gebêre.”

      “Ek wil my tas by my hê.” Hy wil nie nog by ’n tassekamer moet inbreek as hy besluit om die pad te vat nie.

      “Hier’s nie plek vir tasse nie, Pa,” sê Carla vinnig, en in dieselfde asem: “Sê my, Esmeraldus, hoe lank is matrone Van Dussen al hier die hoof?”

      Hans laat hom nie flous nie. Dis ’n ou taktiek van Carla om sy aandag te probeer aflei as hy oor iets standpunt inneem waarvan sy verskil.

      “Nou amper vyf jaar,” sê Boerbok ingenome.

      “Was sy voorheen by ander ouetehuise betrokke?” vra Ben.

      “Nee, Matrone was in haar jong dae verpleegster by ’n hospitaal in Bloemfontein. Toe by Korrektiewe Dienste gaan werk, waar sy later bevorder is tot kolonel. Sy het vyf jaar gelede by die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria afgetree en toe het ons beheerraad haar gewerf om hier hoof te word. In daardie stadium was hier maar baie veiligheidsgebreke. Matrone het dinge vinnig verander, die muur laat bou en ons nessie oral met diefwering beveilig en …”

      “En so Huis Kgosi Mampuru tot stand gebring,” sê Hans.

      “Pa!” roep die Goebbels-koor uit.

      “Ek wil my tas hê!”

      “Ek … ek sal dit … bring,” stamel Boerbok, duidelik verbouereerd.

      “Vergeet van die tas, Esmeraldus,” sê Carla beslis. “En baie dankie dat jy ons hierheen vergesel het. Ons wil gou ’n tydjie alleen met my pa gesels voor ons vertrek.”

      Boerbok skud formeel blad met Ben en Carla. “Veilige reise terug, mensies,” sê hy en maak hom uit die voete.

      Carla trek die deur agter hom toe en kom staan met haar hande op haar heupe voor Hans. Haar neusvleuels klap oop en toe.

      “Wat het in Pa gevaar? Ek het my nog nooit só vir Pa geskaam nie!”

      “Ek wil nie hier wees nie.”

      “Pa is nou soos ’n koppige kind,” sê Ben. “Verander Pa se ingesteldheid net. Dan gaan Pa sien hoe lekker die mense hier bly.”

      Hans snork. “Ek gaan nie die oseaan probeer leegdrink nie.”

      “En wat beteken dit nogal?” vra Carla met geligte wenkbroue.

      “Hy gaan nie die onmoontlike probeer vermag nie,” sê Ben kopskuddend.

      Carla gaan sit op die bed, haar kop in haar hande gestut. “Gee my krag,” prewel sy.

      Ben sit sy hand op Hans se skouer. “Reg, Pa, kom ons sluit ’n ooreenkoms. As Pa oor ’n jaar nog steeds so negatief oor die plek voel, kry ons vir Pa ander blyplek.”

      Carla kyk skerp op. Hans sien hoe Ben skrams vir haar knipoog.

      Ga! Hulle dink hy’s ’n bleddie moroon. Maar hy is nou self dik vir hierdie woordestryd. Hy sal instem om hulle gerus te stel. En hulle oor twee weke bel as hy ’n woonstel gekry het. Al probeer hulle, sal hulle hom nie met ’n weermagbataljon en ’n stootskraper daar uitkry nie.

      “’n Jaar, sê jy?”

      Ben knik. “Ja, net een jaar.”

      “Nou goed dan.”

      Hans kan die verligting op Carla se gesig sien. Haar uitdrukking verander soos ’n verkeerslig van rooi na groen. Sy gaan hom nou weer “Pappie” noem, weet hy.

      “Dis wonderlik, Pappie! En dis nes Ben sê: Gee die oue­tehuis ’n regverdige kans en dan praat ons weer oor ’n jaar.”

      Sy skud haar kop vinnig. “Nie dat ons Pappie dán eers weer gaan besoek nie. Ons kinders het ooreengekom om beurte te maak om by Pappie te kom kuier. So elke twee maande sal Pappie darem een van ons sien.”

      Hans bly liewer stil. Dit beteken hy sal ’n tweeslaapkamerwoonstel moet kry.

      Carla gee hom die laaste instruksies oor die werking van die selfoon.

      “Onthou net om dit gereeld te laai. En moenie oor lugtyd bekommerd wees nie, ons het ’n aftrekorder by die bank gereël. Dit sal gereeld vir Pappie lugtyd koop wat direk op die foon gelaai word.”

      Dit pas hom. Hy sal dalk die eiendomsagent baie moet bel voor hy sy woonstel het.

      Die afskeid is net so tranerig soos in Desember. Carla huil soos in haar babadae en selfs Ben se oë is nat toe hy groet. Hans vermoed dis oor hulle skuldige gewetes.

      Hy hou hulle dop toe hulle in die gang af stap. Net voor hulle die draai vat, giggel Carla. Natuurlik oor Ben se perde­drolverkopery met die jaarstorie. Eintlik moet hy gebelg voel dat hulle sy intelligensie so gruwelik onderskat, maar hy sal hom nie daaraan steur nie. Net sorg dat hý die een is wat laaste lag.

      Hy stap weer by sy kamer in en beskou die beknopte ruimte afkeurend. Hier gaan hy so vasgekeer voel soos ’n muis in ’n kalbas.

      Ben het sy Suidwes-tas op die bed neergesit. Laat hy maar uitpak, die ding is vol vuil klere. Aangesien die ouetehuis sorg vir was en stryk, kan hy hulle dienste net so wel misbruik totdat hy vort is.

      Sy transistortjie sit hy op die bedkassie neer. Hy bêre die blik koekies onder in die hangkas en stop sy vuil klere in die wasgoedsak wat aan ’n haak agter die deur hang. Daar is darem ’n badkamerkassie bo die wasbak en hy pak sy skeergoed daarin. Die Viagra-houertjie met sy bloeddrukpille sit hy op die wasbak se rand neer. Hulle moet dit dadelik sien as hulle hier inkom.

      Hy stoot sy leë tas onder die bed in en sien die kamerpot. Seker bedoel vir die oues wat snags nie kan knyp tot by die gemeenskaplike badkamer nie. Gelukkig is sy knypspiere nog so solied soos ’n hiëna se toegeklapte kake.

      Hy beskou die pot van naderby. Nogal porselein …

      Hy deins instinktief terug toe ’n sirene begin loei dat hoor en sien vergaan. ’n Brandalarm? Sou die plek aan’t afbrand wees? Sal dit nou nie ’n wonderlike uitkoms wees nie!

      Hy pluk sy deur oop en loer in die gang af. Die sirene stop en oral gaan deure oop. Mense kom rustig een-een uit hul kamers gestap.

      Dit was ’n aardbewing in ’n mishoop, besef Hans. Seker die sirene wat etenstyd aankondig. Hy is glad nie honger ná die groot rump steak op die lughawe nie, maar tog nuuskierig om te sien hoe die eetsaal lyk en watse kos hulle kry.

      Toe die laaste man uit sy kamer stap, trek hy sy deur toe en stap agter hom aan. Hy wou nie in die bondel loop nie. Nie vandag in ’n bui vir kletspraatjies nie.

      In die groot eetsaal neem hy sy plek by een van die tafels in. Hy tel daar sit agt aan elke tafel. Die spul aan sy tafel kyk nie eens na hom nie, hul oë vasgenael op die kos: koue hoenderboudjies, ’n bak slaai en ’n bord met ’n klomp snye brood op. Nou nie ’n ete waaroor hy huis toe sal skryf nie.

      Elkeen skep twee hoenderboudjies en nadat almal slaai en brood gekry het, lê daar net twee hoenderboudjies en ’n paar verlepte slaaibare in die bakke saam met een sny brood, wat hy aanneem sy porsie is. Hy hou een van sy tafelgenote dop wat ’n belaglike klein stukkie botter met sy mes in agt blokkies verdeel, een neem en die bord aanstuur.

      “Lyk my hier moet jy maar jou bottertande uittrek,” sê Hans.

      Sy tafelgenote kyk hom aan asof hulle vir die eerste keer van sy teenwoordigheid bewus raak. Dit val hom op dat hulle afgemat en kapot lyk, die oë sonder sprankel, mondhoeke afgerem. Die hele lot se gô is uit.

      Dalk al te lank blootgestel aan matrone Van Dussen se breinspoelterapie?

      “Is jy nuut hier?” vra ’n man met albei kieste vol hoender, ’n hoenderbeen in elke hand.

      Hans knik. Hy beduie na die kosbakke. “Julle kan maar


Скачать книгу