Vlug na Santorini. Malene Breytenbach

Читать онлайн книгу.

Vlug na Santorini - Malene Breytenbach


Скачать книгу
gluur haar aan, maar terselfdertyd lyk hy asof hy wil vlug.

      “Maak dat jy wegkom,” sê Barry. “As jy Erika gaan teister, kry ons ’n interdik teen jou. Ek is ’n prokureur en ek het kontakte wat die wêreld vir jou sal warm maak. Anders sal ek met jou afreken. Ons vat g’n twak van ’n outjie soos jy nie.”

      Verbasend rats skiet Cas by Barry en die twee vroue verby en hardloop by die trappe op na Victoriastraat. Erika kyk hom verbaas, maar verlig agterna.

      Connie lag. “Hy het gelyk soos ’n rot wat deur drie katte vasgekeer is.”

      Erika kyk dankbaar na Barry. “Ek is so bly jy het saamgekom. Jy het hom regtig die skrik op die lyf gejaag.”

      Hy grinnik. “Ek hoop hy het groot genoeg geskrik om nie weer iets te probeer nie.”

      Erika sluit die voordeur oop. “Kom ons drink koffie, of wyn, of waarvoor julle ook al lus het.”

      “Ek kan nie lank kuier nie,” sê Barry. “Maar koffie sal lekker wees, dankie.”

      Erika maak gou vir hulle koffie en haal koekies uit. Hulle gaan sit op die stoep en kyk na die sonsondergang wat die hemel rooi en oranje vlek anderkant die baai.

      “Moet ek nie ’n paar dae by jou kom bly nie?” vra Connie besorg. “Cas sal nie waag om naby jou te kom as ek hier is nie.”

      Erika skud haar kop. “Dankie, Con, maar nee dankie. Ek wil nie almal ontwrig nie.”

      Sy wil nie soos ’n lafaard lyk nie. Sy kan tog nie heeltyd haar vriende pla met ’n probleem wat sy al lankal moes opgelos het voordat dinge so handuit geruk het nie.

      Nadat hulle gegroet en geloop het, sluit sy die voordeur sorgvuldig. Die huis voel skielik leeg en groot. Sy sal gewoond moet raak daaraan. Vanaand verlang sy erg na haar pa. By hom het sy altyd veilig gevoel.

      Dae gaan verby sonder dat enigiets gebeur. Erika wonder of sy gerus kan begin voel. Tog is sy nie heeltemal op haar gemak nie. Cas, met sy woede en vernedering, is iewers, besig om te broei.

      * * *

      Erika gaan soos altyd die Saterdagoggend vroeg draf. Later die oggend sal sy inkopies doen en saam met Connie iewers tee drink om hulle sogenaamde Saterdagkoek te eet. Sy stap by die hekkie uit na die trappies langs die rotse en loop oor die sagte spierwit sand. Dit is nog so vroeg dat daar nie ander mense op die strand is nie. Net twee vroue loop met ’n paar honde al met die water langs verby. Later sal dié strand vol raak.

      Sy voel bevry noudat Cas weg is. Besef dat hy altyd soos ’n spinnekop in ’n web vir haar gewag het. Nou het daardie spinnekop nie meer dié vliegie om te terroriseer nie. Sy draf ’n ent tot by die volgende strand en draai terug huis toe.

      Toe sy uitasem by die huis aankom, skrik sy haar lam. Daar staan Cas wragtig op haar stoep. Haar bloed verander in yswater, maar sy vra woedend: “Wat soek jy hier?”

      “Ons moet praat.”

      Sy bly stokstyf staan. “Ons het niks om oor te praat nie. Dis verby, Cas. Oor en uit. Kan jy nie die boodskap kry nie? Ek wil jou nie sien nie.”

      “Toe nou, Aglaia,” noem hy haar op haar tweede naam waarmee hy altyd spot. “Ek wil net iets uitklaar, dan loop ek weer en laat jou in vrede.”

      “Uitklaar?” vra sy agterdogtig.

      “Ja. Ons was lank saam. Ek is nog lief vir jou.”

      “Ek is nie meer lief vir jou nie, Cas. Ek glo ook nie jy is regtig lief vir my nie. Ek was maar net iemand op wie jy kon teer omdat jy te slapgat is om te werk.”

      Hoe gaan sy by haar selfoon kom om hulp te ontbied? Sy sal haar moet dapper hou en dinge met hom finaal moet uitpraat.

      “Toe, praat en kry klaar!” snou sy hom toe.

      Sy gil toe hy haar gryp en na die deur sleep, haar binnetoe dwing en op die sitkamermat neergooi. Hy val op haar neer. Sy hande is oral, onder haar T-hemp, vroetel met haar drafbroek en probeer dit aftrek. Sy veg en spartel met al haar krag en stoot hom af. Gryp die lamp op die lae tafeltjie en slaan na hom. Sy tref hom so hard dat sy kop behoorlik klap. Hy val eenkant toe, half bedwelm. Sy vlieg op en hardloop kamer toe. Sluit die deur. Gryp haar selfoon op die bedkassie en bel met bewende vingers vir Connie.

      “Hei, jy’s vroeg,” kom die vaak stem.

      “Con! Con, Cas is hier, hy het my aangeval!” skree sy omtrent. Haar hele lyf bewe onbedaarlik.

      “O jirretog, waar’s jy nou?”

      “T-toegesluit in die k-kamer. Ek het hom met die lamp k-katswink geslaan.”

      “Bly net daar. Ek en Barry kom, en ek bel die polisie.”

      Eers kan Erika nie beweeg nie. Sy sit ineengekrimp op die bed. Sê nou net Cas breek die deur oop? Sou hy al bygekom het? Sy het hom baie hard geslaan met die keramieklamp. Dan onthou sy van die pepersproei wat sy op Connie se aandrang gekoop het. Sy gaan haal dit uit haar handsak. Staan in die middel van die vloer met die botteltjie sproei gereed, maar sy hoor geen geluid buite die deur nie.

      Sy kyk in die spieël. ’n Bleek geskrikte gesig kyk terug na haar. Deurmekaar hare wat in slierte hang, vreesbevange blou oë. Hemel, maar sy lyk sleg.

      In angs en spanning wag sy dat iemand opdaag. Na ’n ruk hoor sy die voordeurklokkie lui. Waaksaam en bewend sluit sy haar kamerdeur oop en hardloop deur die huis na die voordeur. Sy is eindeloos verlig om vir Connie, Barry en ’n polisiebeampte daar te sien staan. Sy val in Connie se arms en probeer om nie histeries te huil nie, maar die trane stroom oor haar wange.

      “Jy het vreeslik geskrik, my arme tjommie, maar toemaar, nou’s jy veilig,” troos Connie.

      Barry en die polisiebeampte stap die huis binne, gevolg deur Connie en Erika. Connie hou haar arm om Erika se bewende lyf.

      “Hier is niemand,” sê die polisieman. “Die booswig moes gevlug het.”

      Erika sou vir die woord “booswig” gelag het as sy nie so ontsteld was nie. “Ek het hom met die lamp geslaan en gedink hy is lights out.”

      Barry kyk fronsend na die oop stoepdeur. “Wel, hy het bygekom en gevlug.”

      “Ek sal buite gaan kyk of ek iemand kan sien,” sê die polisiebeampte. “Hoe lyk hy?”

      “Lank en skraal, bruin hare, stukkende denims, blou trui,” sê Erika.

      Connie laat haar op ’n stoel sit. “Ontspan.” Sy kyk bekommerd na Erika. “Het hy jou … seergemaak?”

      “Net gesleep en neergegooi, maar hy het niks reggekry nie.”

      “Dankie tog. So ’n duiwel!”

      Barry kom staan voor Erika. “Nou organiseer ons daardie interdik. As die polisie hom kry, en hulle sal tien teen een, kla ons hom van aanranding aan.”

      Erika sit met haar gesig in haar hande. “Dis so ’n vernedering,” sê sy gedemp. “Maar hy moet gestraf word, anders doen hy dit weer.”

      “Ons wil nie hê hy moet volgende keer slaag nie, wil ons?” sê Barry streng. “Ons vat hom vas.”

      Erika dink aan haar pa. Hoe veilig hy haar lewe gemaak het. Sy verlang na hom, na haar ma. Sy dink aan Santorini. Verlang meteens sommer na haar tannie Helena ook, en haar neef en niggie. Na ’n ver plek waar mense haar veilig sal laat voel.

      Die polisiebeampte kom by die stoepdeur in. “Ek kry hom nie, maar ons sal aanhou soek. Ons weet hoe sy kar lyk, meneer Maree het ons vertel.”

      Connie kom sit langs Erika en vat haar hand. “As ek jy is, gaan ek ’n rukkie weg, tjommie. Neem verlof en gaan kuier op Santorini. Huur die huis uit deur Airbnb of so iets. Jy kan maklik sestien duisend rand per dag kry vir dié plek.”

      Erika kikker op. “Ja, dis nét wat ek moet doen: by my familie gaan kuier wat my kort-kort nooi en na wie ek verlang.”

      Connie


Скачать книгу