Raaiselklip. Troula Goosen
Читать онлайн книгу.
◊ Raaiselklip ◊
Troula Goosen
Human & Rousseau
Vir my pa, JP (James) Venter, beter bekend as Oom Vennie.
Hy het ons land se stories liefgehad.
En vir elkeen van julle – die reënboogkinders van Suid-Afrika –
wat die volgende hoofstuk gaan skryf.
◊ 1 ◊
Gabriel kreun en roer sy skouers. Verdorie, wat gaan aan? Sy regterwang lê platgedruk teen ’n growwe oppervlak en sy arm is onder sy lyf ingevou, skeef, asof hy soos ’n vrot vel neergesmyt is.
Hy byt op sy tande, trek sy arm onder hom uit en druk hom orent op sy elmboë. ’n Vlaag naarheid skiet deur sy lyf sodat hy moet sluk om nie op te gooi nie.
Die vloer voel klam onder sy handpalms en die lug ruik muf en suur. Boonop is dit so donker dat hy skaars ’n tree voor hom kan sien. Beslis nie een van die plekke waar hy gewoonlik kom nie.
As hy moet raai, is hy iewers in ’n kelder. Maar hoe?
Flentertjies onthou syfer deur sy gedagtes.
Sy veertiende verjaarsdag. Die spoggerige jagmes wat sy pa as geskenk langs sy bed gelos het. Hy en sy maters wat weglê aan die watertandfees wat Kok voorberei het. Ertjiesop … varkvleis … aartappels. Sy maag het later gepyn.
Hy het hom seker ooreet, dié dat hy nou so goor voel. Maar dit verklaar nie die vreemde plek waarin hy hom bevind nie.
Gabriel laat sak sy kop op sy knieë en maak sy oë toe om te probeer dink. Nog ’n prentjie kom in sy gedagtes op. Sy drie boesemmaters wat hom uitgedaag het om die doolhof van paadjies deur die ou berkebome in die bos langs hulle landgoed aan te durf.
Gabriel ril as hy daaraan dink. Die vier van hulle het al dikwels probeer om die pad deur die berkebos te kry, maar elke keer het die geheimsinnige slingerpaadjies hulle op ’n dwaalspoor gevat. Hierdie keer was dit ook nie anders nie. Sommer gou was hy heeltemal verdwaal.
Hy het net moedeloos op ’n klip neergesak toe ’n vreemde seun onverwags van agter ’n boom verskyn.
“Ek sal jou ’n kortpad wys,” het hy gesê en voor Gabriel kon besluit of dit weer een of ander slenter van sy maters is, was hy aan die ander kant van die bos. Verbaas het hy na die vreemdeling gedraai, maar toe hy wou dankie sê, het die seun reeds tussen die boomstamme verdwyn.
Die volgende oomblik het sy drie maters op hom afgestorm. “Sies man, jy het gekierang!” het hulle geskree toe hulle hom sien.
Die prentjie verdamp en Gabriel vryf oor sy voorkop. So dis wat gebeur het! En soos hy sy vriende ken, is hulle nou besig om hom terug te kry. Hulle het hom natuurlik een of ander doepa ingejaag en op ’n obskure plek afgelaai. Nou lag die kêrels hulle seker pap terwyl hy sukkel om agter te kom waar hy is.
Verdomme! Hier kan hy nie heeldag rondsit nie. Sy bloed borrel terwyl hy orent steier. As sy kastige vriende gedink het dis die grap van die negentiende eeu gaan hulle jammer wees. Hengse jammer. Ergerlik vryf hy oor sy arm wat nou soos naalde en spelde prik. Dan skuifel hy vorentoe. “Die deur … waar is die deur … ?” mompel hy terwyl hy voor hom voel met sy hand. Hy wip toe sy eie stem hol na hom terugbons.
K-R-A-A-K.
Gabriel steek vas. Hy glo dit nie! Voor hom is ’n dubbeldeur besig om oop te swaai, sommerso vanself. Dis erg spokerig.
“Wie’s daar?” roep hy en gee ’n versigtige tree in die rigting van die wasige ligstrepie wat deur die opening skyn.
“Miaau.”
Verbaas knipper Gabriel sy oë. In die ligstreep sit ’n kat. So ’n petieterige enetjie – skraal, met ’n dun stert – wat met groot pers oë na hom kyk.
“Miaau,” praat die kat weer. Sy glip na binne, draf tot by Gabriel en skuur drie maal teen sy bene voor sy wegspring en weer buitentoe verdwyn.
In ’n dwaal loop Gabriel agterna. By die deur gaan staan hy en kyk terug. In die flou lig kan hy sien hy het in ’n klein vertrek sonder vensters bygekom. In die linkerhoek is ’n paar wynvate opgestapel en tussenin skarrel iets weg, iets wat baie soos ’n rot se stert lyk. Brrr. Hoe gouer hy hier uitkom, hoe beter!
Hy stoot die deur wyer oop. Die hout is verweer en die grendel swaar, vanself kon dit tog nie oopgegaan het nie. “Haai, ek weet julle is daar!” roep hy en draai sy kop om te luister of hy sy maters kan hoor giggel.
Stilte. Net die kat wat ’n entjie van die deur af sit, besig om haar pels te lek. Gabriel gee ’n tree vorentoe en kyk rond.
“Nee!” Die uitroep glip uit sy mond. Voor hom, gebaai in die lig van ’n groeiende maan, lê ’n vreemde, verlate plein. Spokerig verlate. Spokerig vreemd.
“Moenie vir my sê daai drie grapjasse het my na iewers op die platteland gepos nie?” raas hy kliphard. “Ek draai hulle nekke om as ek in die middel van die nag moet terugsukkel Amsterdam toe.”
“Miaau.” Dit klink asof die kat saamstem. Dis die lelikste kat wat hy nog ooit gesien het. Klein en maer, met so ’n kalerige vel en ’n knoets toiinghare op haar rug.
Gabriel loop buitentoe. “Waar is ons?” vra hy vir die kat en draai sy nek om die plek waaruit hy so pas ontsnap het, beter te bekyk. Voor hom blink ’n wit muur in die maanlig. Klipwerk onder … vyf skuins stutmure … kruike vir versiering bo-op … vier dubbeldeure op grondvlak waarvan die een waardeur hy nou net gekom het halfoop staan. Bokant dit is agt skuifraamvensters met nog ’n ry ovaalvormige venstertjies net onder die dak.
Hier was hy nog nooit.
Die kat skuur teen sy bene, maar spring dan stert in die lug weg en skarrel tot by die hoek van die gebou. Daar gaan sit sy en draai haar ronde oë na Gabriel.
“Wil jy my iets wys?” Gabriel vou sy mantel stywer om sy skouers voor hy die kat volg, maar die wind sny nogtans koud deur sy lyf. By die hoek gekom, suig hy sy asem verbaas in. Agter die gebou verrys daar ’n donker massa teen die horison. Plat soos ’n tafel met vlieswolkies wat daarom warrel. “O, dis dan ’n berg!” roep hy uit.
“Miaau,” beaam die kat.
“Ek droom seker. Waar ek bly, kry ’n mens nie sulke berge nie, Kat,” gesels Gabriel. Hy kyk weer na die gebou waarin hy bygekom het. Vanuit hierdie hoek sien hy dis reghoekig met ’n stel breë trappe wat na ’n stoep agter vier pilare lei. “Is dit ’n saal?” vra hy, half vir homself en half vir die kat.
As antwoord draf die kat teen die trappe op en in by ’n dubbele deur wat op ’n skreef oopstaan.
“Haai, waarheen gaan jy?” roep Gabriel agterna. Vrek, hy moet ophou om met die dier te praat. Dis mos nie asof hulle die enigste lewende wesens op die aarde is nie. Sy maters wag natuurlik daarbinne, teen dié tyd dik van die lag omdat hy so sukkel om die raaisel te ontrafel.
Met sy mantel steeds styf om sy lyf gevou, begin hy klim, versigtig, sodat sy stewels nie kraak nie. Dit kan nie kwaad doen om eers te kyk wat aangaan voor die poetsbakkers agterkom hy het hulle uitgevang nie.
Aan die bopunt van die trappe gaan staan hy. Wat hy sien, laat sy kop draai. Van agter teen die berghang tot onder waar ’n blink streep teen die horison glinster, klou daar witgekalkte geboue teen die skuinste, meestal dubbelverdiepings met plat dakke. Hier en daar steek ’n gewel uit. Na regs gewaar hy selfs die spits van ’n kerktoring. Die lug ruik soos seewier en hy hoor ’n ruising. As hy moet raai, is hy iewers langs die kus.
Maar watse dorp is dit?
Gabriel frons, maar besluit om dit eers te los. Wanneer hy sy vriende gekry het, sal hulle vir seker nie kan wag om hom te vertel hoe hulle hierdie een uitgedink het nie.
Hy draai terug na die deur, stoot dit wyer oop en loer binnetoe.
’n Bedompige reuk slaan in sy neusgate op. Gabriel skuur deur die opening en druk sy rug plat teen die binnemuur. Versigtig om nie hoorbaar asem te haal nie, kyk hy rond. Ten spyte van die maanlig