Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey. Charl-Pierre Naudé
Читать онлайн книгу.kyk haar diep in die oë. Hy voel iets soos ’n suigaksie van sy vingers uitgaan, die tornado van God wat soms in ’n eierdop kan plaasvind.
Die vader druk sy oë styf toe en dit lyk vir haar of hy ’n bitterheid uit sy wimpers pers. “My kind, jy gaan nog uitvind hoe swaar … die allesvergifnis is.”
Vader Appel maak die hardebandboek, die geseënde Visioenboek, die kladboek toe. Hy gaan bêre dit weer versigtig.
* * *
Deur te lees oor hierdie gebeure het ek meer te wete gekom oor my eie lewe. Ek kon die dinge wat apart lýk al hoe minder apart hou soos die amptelike beleid van Suid-Afrika voorskryf.
’n Teëspoedige seëning is ook hoe ek die groot liefde tussen my en Anna sal beskryf. Maar nou ja, laat ek nie begin huil nie. Meer hieroor verderaan, of, soos die radioverhale dit stel, in toekomstige episodes.
16
WAT ALWYN MY NOG VERTEL HET (2)
Alwyn het sy broer se gedagtevlugte, soos hy dit genoem het, begin neerskryf. Hy wou tot elke prys kontak met hom behou. Hy het Dirkie met groot moeite gekry om meer oor sy binnewêreld te verklap.
Ek het Alwyn se oorvertel aan my van wat Dirkie hom oor sy ontmoetings met ’n Maria vertel het, vergelyk met Maria Hakskeen se dagboekinskrywings. Die ooreenkomste was ’n openbaring.
Dit is onmoontlik dat daar ’n oorleg tussen die twee kon gewees het. En tog was daar ’n Maria Hakskeen in Dirkie se lewe. En ’n Dirk Verwey in Maria se lewe. En ’n gedeelde lewe tussen hulle.
* * *
In 1983 het ek vir oulaas ’n onderhoud met Alwyn by sy huis gaan voer. Dit was altesaam agt onderhoude.
Alwyn Verwey was teen dié tyd getroud, twee kinders ryk, en hy en sy jong gesin het in Wavermead, Bloemstad gewoon. Hul woning was naby die kruising van die bekende Generaal Mineurstraat en Meulstraat.
Hy het geruime tyd lank reeds klas gegee aan die landboukollege, waar hy voorheen student was, die P.K. le Roux Gimnasium, alombekend as Die Plaasdam. Doseer, noem die boere dit mos.
’n Saggeaarde en besnorde man, effens onder middelmatige lengte en met blas vel, was onse Alwyn. Na aan sy pa in voorkoms, maar nie in persoonlikheid nie. Hy was simpatiek, iets wat sy pa nooit kon wees nie.
“Ek dink die gebeure met Anna moes bygedra het,” was sy woorde langs die vibracrete-heining van sy huis toe ons uitstap om afskeid te neem daardie laaste keer. Ek moes terugry Lykso toe. Ek dink daaraan as Alwyn se vibracrete-woorde aan my.
Hy het soms so in die staan sy snor met duim en voorvinger platgestryk voor hy ’n moeilike onderwerp aanraak.
“Hoe … hoe sal ons ooit weet, Verdomp? Daar is min werklike bewyse. Buiten vir die bewys wat my oorlede ma mos gekry het toe sy die meisie in die foto gaan opspoor het. Maar kan mens so iets ’n bewys noem?”
* * *
By ’n geleentheid voor dit het ek en Alwyn op die vendusiegrond net buite die dorp ontmoet. Dit was ’n weeksagtermiddag en ons was die enigstes in sig. Ons het op die klein pawiljoentjie gesit, net bokant die drukgang, hy links van my, en van tyd tot tyd het ons sywaarts gedraai om mekaar aan te kyk. Geselskyke.
“Ek is dit eens met die staatpsigiater se verslag, wat was haar naam? Hartman, ja, dokter Hartman.”
Alwyn het sy oë teen die son bly knipper terwyl hy die as van sy sigaret met ’n vroulike oorkruis haal van die arm langs sy ander been, reg langs myne aftik.
“My broer het oneindige woede teenoor pa gekoester. Maar hy was heeltemal aan pa se wil onderworpe. Soveel so dat hy ná die insident in die kerk nooit weer oor Anna gepraat het nie. Hy kon haar net so wel deur die dood verloor het. Ek dink sy sterkste begeerte was om elders te wees. Vandaar …”
“Vandaar?”
“Vandaar miskien … sy gedagtevlugte oor …”
“Jy het haar seker nooit ontmoet nie?”
“Nee. Net my ma se beskrywings van haar gehoor. En by die verhoor. Jou storie oor haar dagboek.”
Die rye peperbome in die verte het begin swem teen die blou. Ek het gevoel-voel vir my diktafoon en dit voorlopig afgeskakel.
17
VERTROULIKE INLIGTING
Ek hou daarvan om te dink dat oom Willempie toenemend my vriend geword het.
En miskien is dit waarom hy op ’n dag ’n stuk baie vertroulike inligting met my gedeel het, iewers gedurende 1976.
Miskien was daar nog ’n rede: oom Willempie was iemand met ’n sin vir die regverdige. Hy het geweier om raad te gee as so-en-so nie weet hoe om sy ouers te eerbied nie of ’n mansmens met satansbui ’n vrou met die appels bygekom het.
Ek moet sê, die manier hoe hy hom verkneukel het in die oordrag van hierdie inligting aan my – wat my geskok het, om eerlik te wees – laat my iets verders vermoed. Daar was ’n sekere bevrediging vir hom in om die storie te vertel.
Dit het gegaan oor ’n daad wat willens en wetens begaan is en boonop herhaaldelik. Die betrokkenes was twee kleurlingvroue wat tot kort ná die opspraakwekkende moorde waaroor ek verderaan skryf by die Verweys as huisbediendes gewerk het. Hulle het hul storie in vertroulikheid aan oom Willempie vertel want hulle wou vergifnismedisyne by hom kry.
Nie so lank terug nie, Augustus 1983, het ek in my kar geklim en gery om die storie te bevestig. Ek het hulle albei voorheen al ontmoet. Die twee het saamgekoek, sedert hul Lykso-dae het hulle saam-saam agter werk aan geswerf. So het ek hulle ook aangetref, soos ’n paar kapokkies, op ’n plaas naby Brandplaas in die Moornaarskaroo. ’n Omslagtige navraag in meer as een lokasiebuurt het my op die spoor gebring.
Hulle het geen aspek van die storie ontken nie. En ondanks die dramatiese tranevloed, het ’n mate van misplaaste trots deurgeskemer, dieselfde trots wat ek in oom Willempie gesien het toe hy die storie vertel het.
Die daad, baie persoonlik van aard, was myns insiens ’n manier om onregte waaraan hulle onderworpe gevoel het te vereffen. Historiese onregte, as mens nou die vermoede by name wil bysleep, waardeur hulle in hierdie land getref is. Maar terselfdertyd was dit ’n intense versugting na onmoontlike kontak. ’n Paradoks. Maar miskien kloof ek nou hare.
18
WILDEGANSE
Ans was ook midde-in dié ding, die storie wat ek by oom Willempie gehoor het.
Sy het versigtig die portret uit Dirkie se hande geneem en dit op die kaggelrak teruggeplaas. Hy het haar laat begaan. Môreoggend, ná die nagrus, sal sy dit vir hom teruggee.
Een van die vroue, die maerder lange, sit Dirkie se arm om haar nek. Hy staan effens gebukkend. Die ander een, aan sy ander kant, doen dieselfde met sy ander arm. Ans loop voor hulle uit. Sy praat paaiend met haar seun soos met iemand in ’n koma.
Tot by die stortbad se rand loop hulle. Die water is al ’n rukkie aan die spuit en stoomwalms hang in die lug.
Die drie – Siena, die meidjie en Ans – maak vir Dirkie op die matjie staan sodat hulle hom kan uittrek. Dit moes die vroue wees. Mans is vir buitewerk, plaaswerk. Dit was vir Ans ondenkbaar dat ’n man, wit of bruin of swart, aan haar seun moet vat. Nie op dié manier nie, soos wat nou hier nodig is. Die drie is onwennig in hul taak, en hulle sê die hele tyd woorde soos “askies” en “jammer tog” vir mekaar.
Eers word Dirkie se skoene, dan die hemp, broek en die onderbroek uitgetrek. Siena hou hom regop terwyl die meidjie sy voete een na die ander optel om die onderbroek te bevry.
Die uittrekwerk was die meidjie, die jonger een, se taak. Sy, wat nooit ’n naam gekry het nie en net bekend was as die meidjie. Dirkie se roede wip ’n paar maal rubberagtig toe dit vrykom en staan pylreguit vorentoe. As mevrou nie in hierdie stadium nog teenwoordig was nie, het Siena