Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey. Charl-Pierre Naudé
Читать онлайн книгу.vly hy wat Bodenstein is hom in een van die gestoffeerde leunstoele neer, sy té lang arms soos lammervangervlerke oor die armleunings, slaphangende gewrigte, en baadjiemoue wat optrek tot onder die elmboë. En hy sê met aangedane oë: “Beethoven was ’n genie, nè, Boer? Sy soort bestaan nie meer nie.”
Met dié woorde sou sy dun lippe nog dunner trek, oë op skrefies, asof daar nog afgereken gaan word met die verlies aan genieë.
Boer Verwey was baie trots op sy vriend wat so een maal elke ses maande tussen stede kom draai maak het. Hy het nie omgegee oor Altus se geneigdheid tot swye nie. Hy het Altus verstaan. Altus was ook ’n genie.
Oudergewoonte het Boer effens geaffekteerd ’n whisky vir sy vriend aangedra. Hy was in sy nugter grysblou safaripak geklee. Langbroek, vir die aand. Hy was breed van gewrig en goed gebou op ’n bonkige manier, met donker oë en ’n blas vel wat dik vertoon. Heelwat korter as Altus. Die sportpak was effens rekbaar en het in fletserige vlekke om sy boude en by die skouerknoppe gespan as hy beweeg.
“Ludwig von Beethoven …” mymer Altus hardop, terwyl ’n sonate op die draaitafel vyfuur se veldklanke buite verdring. Hy neem die glas by Boer. “Dis hoe hy homself aan die koninklikes voorgestel het. Sy van was eintlik van. Hy was van die middestand. Hulle vanne was almal van.” Altus Bodenstein self was van Carletonville.
“Ja-nee,” sê Boer. “Von was die aristokratiese vorm.”
Boer het vertonerig soos ’n konsertdirigent op die maat van die musiek begin dirigeer. Om sy vriend Altus, die majoor van Staatsveiligheid, die man van die Buro, te beïndruk. Boer wou nie baie mense beïndruk nie, maar Altus was ’n uitsondering.
Hy het reeds die verbindingsdeure na die res van die huis toegemaak. Vroulief of die twee seuns moenie inkom as Altus kuier nie. Dan is dit man tot man en dit gaan oor die kunste. Die meeste van die praatwerk was Boer s’n. Auschwitz, een van die windhonde, het voor die toe deure met die mosterdkleurige ysglaspanele gelê en die wag gehou.
“Die kuierritueel was altyd dieselfde en natuurlik het ons twee broers hulle later van tyd probeer afkyk. Deur die venster of kamstig koffie aandra of so.”
Die musiek het Altus nou na aan trane, proestend van die weemoed. “Om te dink, Boer, hy was … b-blínd,” het Altus gesê. Hy verstik aan ’n sluk whisky. “Verskoon my, maar dis tragies, Boer. Trek die gordyne asseblief toe. Kom ons luister … in die donker.”
As die whisky in die binnenshuise skemerdonker begin trek terwyl die son buite nog skyn, lánkuit rek soos ’n hond se tjank, soos ’n terroris se gô, slaan die twee vriende oor na brandewyn.
Daarna sit Boer die lig aan en maak sy wakis oop. ’n Ou houtkis vol plate, opmekaar gestapel, country & western meestal – Virginia Lee, Caroline du Preez (geniale stem, blind), Lance James, Jody Wayne, Gene Rockwell (briljante man, in ’n rystoel), Leonore Veenemans, Mario Lanza, Gert Potgieter, Die Sangvoëls, Sing saam met Rocco, en meer. Dan tril die Karooveld buite, die klein blaartjies almal, geluidloos, in concert (uitgespreek “konsert”), wat volgens Altus die gehoorde eweknie van in camera is.
Só het die jonge Dirkie en sy ouer broer hom leer ken: oom Altus. Altus was buitengewoon, afstandelik, hy was ’n luistervink. Dis iemand wat baie goed en ver kon hoor.
Sy gawe was uitsonderlik en volmaak vir spioenasie. Die Buro van Staatsveiligheid het spesiaal vir hom ’n pos geskep. Die hoës van Militêre Inligting sou na Altus kom en hom vra om op ’n punt, sê vyf-en-twintig kilometer ver in ’n rigting dertig grade suid-suidwes, te konsentreer. Dan luister hy daardie punt af, presies, geen probleem nie. Of ’n ander hoë sou met ’n passer op ’n landkaart druk.
Dit sou Altus sowat twintig minute neem om sy fokus in te stel met sy koppie sterk kitskoffie op die niervormige pastelkleurige koffietafeltjie van splinterbord langs hom, oë toe, gewrigte op die armleunings weerskante van hom geplaas, handpalms na bo.
Die Sondagkoerant het jare ná hierdie kuier iets oor Altus in gehad om die vyand bietjie skrik te maak.
Die duur van die operasie sou afhang van hoe ver die verdagte punt is. Langs sy koffie op die tafeltjie was ’n notaboekie waarin hy in vlugskrif sou krabbel. Dan maak hy sy oë weer toe, sit die pen neer, luister. Teen dié tyd sit hy kruisbene, hande tussen die lieste. Sy skouers is opgetrek, ’n onwillekeurig vroulike gebaar waaroor kollegas agter sy rug gespot het. Gelukkig was hy manlik in sy oortuigings.
Altus se spesiale afluistervertrek was in Pretoria. Maar hy had ook satellietkantoortjies naby die buurstate. Hy was altyd in “civvie”-drag, soos dit ’n polisiegenie betaam.
Dit was reeds etlike ure ná donker. Beethoven was vergete. Selfs Rudi Neitz het gekom en gegaan.
By die sitkamervenster aan die buitekant het twee bruin oë deur die toegetrekte gordyne geloer. Binne het die twee mans hande op die heupe met mekaar gestaan en liggies heen en weer gewieg. “Cry to Me” op die draaitafel.
Die oë was Dirkie s’n. Sit sy pa sy kop op die oom se skouer? Dit lyk of hulle wil huil.
Net toe bemerk Boer sy seun. Vir ’n talmende oomblik het die pare oë mekaar aangestaar, harte versteen. Altus was nog van niks bewus nie. In dié stadium was hy waarskynlik op die gebruis in sy vriend se are ingestel, wat vir hom soos die Augrabies moes geklink het.
Toe trek Boer los. Hy stamp sy vriend uit die pad, gee twee atletiese spronge tot by die venster en ruk die gordyne oop, ruk aan die handvatsel van die stoepdeur. Dirkie laat spaander, ’n windhond agterna. Nog twee windhonde skiet vorentoe vanuit die donker. Altus gryp na sy ore oor die geraas.
“Vang hom!” en “Die bliksem!” het Alwyn tot in sy kamer gehoor.
Boer trek die seun aan sy nek op die gras plat, daarna trek hy hom met een hand aan sy skof by die sitkamer in, ander hand oor die kind se mond. Die kind laat stroom geluidloos trane terwyl sy voete ampertjies sweef. Die windhonde besnuif sy enkels asof hy slaggoed is. Die deur word toegemaak, honde buite.
“Met jou gaan ons praat,” sê Boer.
“Jissus,” sê Altus. Hy vryf krampagtig oor die gladde skulp van sy geoliede hare en sak in ’n stoel neer.
“Iets verkeerd?” kom Ans Verwey se hoë, benoude stem van anderkant die binnedeure. “My liewe ma,” sê Alwyn.
“Niks!” was sy pa se antwoord. Hy het dit teruggeskree. Die musiek word afgehaal.
“Jy mag nóóit énigiemand vertel nie, hóór? Oom Altus sal dit weet. Sy bynaam is Ore. Verstaan?” Boer het dringend en hard by Dirkie se oor gefluister.
“Oom Altus sal jou vang en doodskiet soos die vyand. Kyk hom in sy oë!” Sy een hand het Dirkie se gesig hardhandig in Altus se rigting gedraai.
Altus het strakker as die galg gelyk. “Kom hier, seun. Het jy ’n meisie?” Hy het met sy sysagte stem gepraat.
Stilte.
“Jy sal uitvind. Wat jy doen moet die regte ding wees. Met die regte … soort mens.”
Altus het plegtig geklink. “Ek gaan jou vir die res van jou lewe afluister, seker maak jy vertel niemand nie. Hoor?”
Dirkie se oë het geblink van verslaentheid en die twee mans se blikke vermy. Toe hy begin huil, ontslaan Altus hom gemaak vriendelik met ’n piets op die boude.
Boer het Beethoven op die draaitafel teruggesit. Vir gesag. Ter wille van die kunste. Aan Dirkie het hy gesê: “Moenie spioeneer nie,” en hom uitgestuur.
Later, net voordat Altus na die gastekamer verkas het vir die nag het Alwyn koffie ingedra en die volgende gehoor: “Boer, is iets verkeerd met hom? Hy is so geslote soos ’n tor.”
“Hy is nie myne nie, Altus.”
“Mmm … Daar is al hoe meer vreemdes in ons midde. Soos Liddell se meidjie laas jaar, wat so deur die Bose bevlieg was. Wat sal doktor Verwoerd van alles dink?”
* * *
Eenkant