Prooi. Deon Meyer
Читать онлайн книгу.see what I can do. Captain Cloete is in here every five minutes.” Sy verwys na kaptein John Cloete, die Valke se mediaskakeloffisier, wie se van sy as “Cluetee” uitspreek. “The media is driving him nuts. A reporter from Rapport has put in a formal request for an interview with you two. But I told him it is not possible.”
Moord op die wêreld se luuksste trein, dink Griessel, natúúrlik sal die mediasirkus in volle swang wees.
“We can make the time for an interview, colonel,” sê Cupido.
“Hayi,” sê sy in haar moedertaal en beduie met haar hand hulle moet gaan werk.
Hulle stap in die gang af. Toe hulle ver genoeg weg is, na-aap Cupido kolonel Kaleni se Zoeloe-Engelse aksent: “Maybe I should call captain Cluetee myself.”
“Jy spot nou met ’n vrou wat maerder is as jy,” sê Griessel.
Vaughn kyk seergemaak na hom. “Die mes is in Benna, jy kan hom nou maar twist ook.”
Griessel grinnik net.
“Ek’s ernstig, Benna. ’n Lekker article in Rapport wat sê the man on the case is die legendary captain Vaughn Cupido of the Hawks, daai kan baie help om vir dié Donovan-laaitie te wys ek is nie so bad nie.”
“Ek dink hy weet dit al klaar.”
“Jy scheme?”
“Dis soos Eddie Mack sing, Vaughn, ‘everybody loves a fat man’.”
“Wie?”
“Eddie Mack, die blues-sanger.” Dis Griessel se gunstelingmusiek, die klassieke blues.
“Never heard of him. Ma’ fok jou en fok vir Eddie Mack, ek is nie só dik nie. Kom ons gaan bel daai auntie wat Johnson Johnson se hostess was.”
“… and oh, how a fat man can love,” sing Bennie Griessel die res van die Mack-koortjie.
By Cupido se kantoor sê hy: “Benna, every time you come back from that shrink, you seem to be a little lighter.”
En Griessel weet dis waar.
* * *
In Cupido se kantoor bel hulle vir Samantha Albertyn, Johnson Johnson se gasvrou op die Rovos-trein. Hulle maak die oproep met die luidspreker aan.
Hulle kan aan haar stem hoor sy is senuagtig. Op die agtergrond is die klik-klak-geluide van ’n trein op spore. “Ek weet nie hoe lank die sein gaan hou nie, ons is net anderkant Mafikeng …”
“Mafikeng?” vra Cupido. “Why Mafikeng?”
“Dit is ons Victoria Falls-trein.”
“Okay,” sê Cupido. “Cool. Ons sal terugbel as die sein drop. Kan ons praat oor Johnson Johnson?”
“Dis so tragies,” sê sy. “Dis … Al ons gaste is so nice. Dit het nog nooit gebeur nie. Dis net tragies …”
“Dit is, Sam, en ons wil die ou vang wat dit gedoen het …”
“Is dit ’n ou?” Met ’n stem wat vol ontsag is vir hul vaardigheid.
“Ons weet nog nie, Sam, dis ma’ my way om te praat.”
“O.” Teleurstelling. “Okay. Ek het eintlik net die een ding wat ek van seker is,” sê sy.
“Ja?”
“Sy bed. Hy … Wanneer ons gaste aandete eet, gaan versorg ons die kompartemente. So sewe-uur se kant. Ek het sy bed … Meneer Johnson het in ’n Pullman-suite gebly. Dit beteken daar is ’n sofa, wat ons in die aand uitvou, dan word dit ’n dubbelbed …”
“Okay,” sê Cupido.
“Nou moet ek probeer verduidelik … Ons het ’n spesifieke manier om die bed op te maak, want die agterkant is teen die muur … Om die deken en die lakens mooi te vou … Ons het ’n manier.”
“Check,” sê Cupido.
“Toe ek die volgende oggend … As hulle ontbyt eet, dan diens ons weer die kompartement. En toe sien ek die bed is weer opgemaak. Maar nie soos óns dit doen nie. Dis … Ek wil nie … Dis maar net wat ek dink …”
“Dis okay, Sam,” sê Cupido. “Just give it your best shot.”
“Dit het gelyk of hy … of iemand probeer het om die bed weer op te maak soos dit was. Maar ek kon sien dit was nie óns manier nie.”
“Okay.”
“Ek kon ook sien … Ek dink … Ek dink nie hy het in die bed geslaap nie. Die kussings … Mens kan sien aan die kussings …”
19
“Daai is great, Sam. Daai is baie belangrik,” sê Cupido aan Samantha Albertyn. “Daai was die eerste aand, nè? The Saturday night?”
“Dis reg.”
Griessel praat die eerste keer, identifiseer homself en vra: “Jy het hom daardie oggend in die sitkamer by Kaapstad-stasie ontmoet?”
“Dis reg.”
“Het jy hom weer op die trein gesien?”
“Ja. Ek het sy compartment briefing gedoen. Dan wys ons vir hulle hoe alles werk …”
“Was dit die laaste keer?”
“Nee, ek het hom in die gang gesien, en by high tea, en toe hulle op pad was na aandete toe … Mens loop mekaar maar raak op die trein, dit is nie só groot nie. En almal gebruik dieselfde gang …”
“Ons weet dis moeilik om alles te onthou, maar kon jy sien of sy gedrag … sy bui, of dit dalk verander het? Of hy dalk … Of iets hom ontstel het?”
’n Oomblik van stilte, sodat net die geluide van die trein hoorbaar is. “Nee. Hy was net baie nice, elke keer wat ek hom gesien het. Dis hoekom dit so tragies is.”
“Sam, mevrou Strydom het gesê jy het ’n paar goed wat interessant is. Was dit net die kooi?” vra Cupido.
“Die kooi? O, jy bedoel die bed?”
“Ja.”
“Dis al wat ek van seker is.”
“Is daar iets waarvan jy nié seker is nie?” vra Griessel.
“Ek weet nie of ek dit moet sê nie. Netnou maak ek ’n fout …”
“We’ll keep that in mind, ma’ jy moet vir ons álles sê.”
“Asseblief,” sê Griessel.
Sy bly só lank stil dat hulle dink die verbinding is verbreek. Dan hoor hulle hoe sy diep asemhaal. “Toe ek sy bed gaan uitvou het … Ek het gedink daar was ’n laptop op die … Die Pullman … Daar is so ’n klein tafeltjie, as jy op die sofa sit en werk. As jy die bed opmaak, dan knip jy die tafeltjie af, en bêre dit in die kas … En ek dink daar was ’n laptop, want ek het nog gedink, moet nou nie die laptop afstamp nie. Ek het een keer ’n gas se iPad afgestamp van só ’n tafeltjie, toe kraak die skerm …”
“Daai is goed, Sam. Sy vrou sê hy het ’n laptoppie gehad, en ons kry dit nie in sy huis nie.”
“O! Okay. Ek … Dan het ek my nie verbeel nie.”
“Wat van die laptop, Sam?” vra Griessel.
“Ek het sy tassie gekry, die Maandag, dit was diep onder sy bed ingestoot, en dit was nie toe nie. Ek … Ek het dit oopgemaak … Toe het ons nog gedink hy het … iewers afgeklim …”
“Ja?”
“En toe is die laptop weg.”
Hulle praat met haar tot die sein wegraak, maar hulle raak nie veel meer wys nie.
* * *
Griessel bel dadelik vir Brenda Strydom. “Ons wil net