Ena Murray Keur 19. Ena Murray

Читать онлайн книгу.

Ena Murray Keur 19 - Ena Murray


Скачать книгу
om die gelaaide atmosfeer te ontlont. Sonder veel sukses. Die meisie aan Emile se sy was openlik ontevrede met die geselskap waarin sy gedwing is. Emile het Manie se moedige poging gerespekteer en oor rugby begin gesels sonder om weer een keer in haar rigting te kyk. Sy self het beskaamd en skuldig daar gesit en besluit sy sê nie weer ’n woord nie. Sy het genoeg gepraat. Te veel. Maar toe hulle tuiskom, het sy Manie om verskoning gevra.

      “Ek is jammer, Manie. Ek het my nie goed gedra vanaand nie.” Maar sy het geen verduideliking gegee nie, want ’n verduideliking sou ’n bietjie moeilik wees. Ruda Visser se hooghartige woorde het haar ontsenu en sy het haar gramskap onregverdiglik op Emile de Jongh uitgehaal.

      Maar die liewe Manie het net goedig geglimlag. “Jy was ’n bietjie kras met Emile. Hy val nie in die Vissers se kategorie nie. Maar dis nie so erg nie. Dit sal oorwaai.”

      Sondagoggend gaan Miempie kerk toe, en luister met gemengde gevoelens na die preek wat handel oor die vraag hoe jy kan sê dat die liefde van God in jou is terwyl jy sien dat jou broer gebrek ly en niks daaraan doen nie. Sy voel beslis ’n bietjie terneergedruk toe sy terug is in haar woonstel. Maar dan onthou sy meneer Hough se waarskuwing, en besef die fout wat sy begaan het. Sy wil oral help; alles wat verkeerd is, regdokter. Sy wil nuwe huise vir Grootfontein se werkers bou; sy wil ’n towerstaf swaai sodat daar uit die niet ’n geldskat in haar skoot sal val waarmee Maria volgende jaar medies kan gaan studeer; sy wil ’n wonderwerk bewerkstellig wat Yolande Visser se swangerskap op die een of ander wyse sal laat verdwyn; sy wil al die honger kinders wat sy daagliks sien, skottels vol kos gee en vir al die werkloses wil sy werk optower … Miskien het Emile de Jongh tog reg. Sy het perspektief verloor.

      Diepe selfondersoek volg die res van die Sondag. Dis tyd dat sy haar perke besef, anders gaan sy haar elke keer vasloop en haarself benadeel. Sy kan nie vir Grootfontein se werkers huise bou nie. Sy kan geen swangerskap ongedaan maak nie. Dis nie haar verantwoordelikheid nie, dis die Vissers se probleem. Trek ’n streep daardeur en vergeet daarvan. Dis net prakties onmoontlik om elke honger mens in haar omgewing te voed en om werk aan al die werkloses te verskaf. Hou op om jou daaroor te verknies. En Maria … Geld … ’n Klomp geld soos wat Maria nodig het om haar droom te bewaarheid, val nie uit die bloue hemel nie. Dis dalk selfs verkeerd van haar om Maria aan te moedig, want volgens Maria is haar skoolprestasie maar gemiddeld. Sy sal in elk geval nie gekeur word vir die kursus nie. Dus … vergeet van Maria ook.

      Dis makliker besluit as gedaan. Maandagoggend betrap sy haar dat sy ’n afspraak met Maria se skoolhoof maak.

      Andrew Koopman lyk openlik bekommerd toe hy haar in sy kantoor ontvang. “Suster, jy het gesê jy wil met my oor Maria Benjamin gesels. Ek hoop nie jy het vir my slegte nuus nie.”

      Sy snap onmiddellik wat hy impliseer. Sy kan hom dadelik gerusstel. “Inteendeel, meneer Koopman. Ek glo Maria is op negentien nog ’n maagd – ’n ware prestasie in vandag se lewe.”

      Hy slaak ’n sug van verligting en knik. “Ja, suster, voorwaar ’n prestasie. En ek wil amper beweer dat sy van die weiniges in hierdie hoërskool is.”

      Sy kyk met waardering na die man wat nie huiwer om eerlik te wees nie. “Dit gaan glo nog erger in sommige stadskole, meneer Koopman. Ek het verlede week gruwelike dinge gehoor … Dis asof ’n epidemie van immoraliteit en onsedelikheid uitgebreek het.”

      “Ja. En ek vra my dikwels af hoekom dit anders was in my kinderdae … en waar dit alles begin skeefloop het. Een groot oorsaak is vir my duidelik: Daar is nie meer ouerlike gesag nie. Ek het bitter arm grootgeword. Ons was agt kinders. Maar ek het ’n kwaai pa gehad wat geen twak van ’n kind geduld het nie. Op haar eie manier was my ma ook baie streng. Vandag dank ek die Here dat ek sulke ouers gehad het, ouers wat nie toegelaat het dat hul kinders maak en breek soos hulle wil nie, maar toegesien het dat hul kinders doen wat vir hulle gesê word om te doen. Tog onthou ek maar min van al die swaarkry. Maar ek onthou baie goed dat ek altyd veilig gevoel het by Ma en Pa. Hoe swaar dit ook al gaan, en miskien nog kan gaan, Ma en Pa sal sorg. Dit het ek goed geweet.”

      Miempie glimlag. “Jy het ’n skoolhoof geword. Wat van jou broers en susters?”

      “My een broer is ook ’n onderwyser en die ander een het ’n sendeling geword. Van my vyf susters is drie verpleegsters, een ’n onderwyseres en die ander een het verongeluk terwyl sy nog maatskaplike werk studeer het.”

      “En jou ouers?”

      “Hulle is reeds albei dood … en ek wonder dikwels wat my pa en ma van my kinders sou gesê het. Maar eintlik hoef ek nie te wonder nie. Ek weet presies wat my pa sou gesê het.”

      Miempie luister gefassineerd. “Wat sou hy gesê het?”

      Hy glimlag. “Ek kan dit nie in sy presiese woorde sê nie.”

      “Asseblief! Ek is nou verskriklik nuuskierig! Sê dit soos hy dit sou gesê het.”

      Hy lag verskonend. “My pa … hy was ’n ongeslypte diamant, suster. Hy het altyd verstaanbare taal gebruik. Hy sou vir my gesê het: Andrew, jy het hulle nie genoeg geneuk nie. Dis hoekom hulle nou ronddonner!” Miempie lag vrolik en dan sê hy ernstig: “En hy sou die spyker op die kop geslaan het – al word so iets deesdae as ’n soort skending van menseregte beskou! Maar suster het nie hierheen gekom om oor mý te gesels nie. Wat van Maria?”

      “Ek wil graag weet hoe vaar sy in haar eksamen. Ek sal nou my redes gee hoekom ek vra.”

      “Ek kan dit uit die vuis verskaf, want ek hou haar dop. Sy is een van my blinkste sterre. Ek het geen vrese dat sy gaan druip nie.”

      Miempie voel hoe dankbaarheid haar hart vul. “Dis wonderlik om dit te hoor. Toe ek haar vra, het sy gesê sy vaar maar so-so.”

      “Sy behaal ’n gemiddelde van sestig persent.”

      Miempie se oë rek in ongeloof, en ’n opgewondenheid pak haar beet. “Sestig persent … en sy kry nooit tyd om te leer nie.”

      Hy frons. “Wat bedoel jy, suster? Ek sien haar dikwels pouses met ’n boek sit.”

      “Dan is dit die enigste geleentheid wat sy het om te leer. By die huis kry sy nooit tyd nie. Sy het my self gesê dat sy eksamen skryf op grond van wat sy in die klas inneem.”

      Hy sit terug en kyk haar stip aan. “Ek glo dit, suster. Maar as Maria die kans gegun word om werklik te kan studeer …”

      “Presies!”

      Andrew Koopman sug en die hartseer slaan deur in sy stem. “Daar is soveel potensiaal in my leerders … as hulle net die kans gegun word om dit te ontgin.”

      “Hulle kan almal vandag skool toe gaan, meneer Koopman,” sê Miempie stil.

      “Ja. Maar dis nie vir my leerders so maklik om hierdie voorreg ten volle te benut nie. Maria is ’n voorbeeld. Eintlik ’n briljante kind … maar haar lewensomstandighede is so dat sy nie haar volle potensiaal kan bereik nie. En dit is ook die geval met baie ander. Hul lewensomstandighede maak dit net nie moontlik nie. En daar is nog talle ander negatiewe faktore.”

      “Soos?”

      “Ontoereikende geriewe. Onderwysers wat staak. Wit kinders se onderwysers is op hulle pos. Hulle het genoeg klaskamers, skoolbanke, boeke en apparaat. Wat gebeur in soveel bruin en swart skole? Onderwysers wat nie wil klasgee nie. Kinders wat nie wil skoolgaan nie. Skole wat afgebrand word. Kinders wat onderwysers intimideer. Daar is nie ’n einde aan die lys van onregte wat gepleeg word teenoor die Marias nie.”

      Sy kyk hom bekommerd aan. “Dink jy dat hier plaaslik ook probleme kan opduik?”

      “Ek bid dat dit nie sal gebeur nie, maar ek het ’n snuf in die neus gekry daarvan. Die ding is net, ek kan niks doen voordat daar letterlik iets gebeur nie. Die vraag is bloot: wanneer gaan dit gebeur en wat gaan gebeur? Maar hier is deesdae ’n gesindheid in die skool waarvan ek nie hou nie. Instink waarsku my dat ons ook moeilikheid kan verwag.”

      Dis met gemengde gevoelens dat Miempie ’n rukkie later van die skoolhoof afskeid neem, deels geïnspireer deur die goeie verslag oor Maria, deels swaarmoedig


Скачать книгу