Mooier as Marilyn. Anita du Preez

Читать онлайн книгу.

Mooier as Marilyn - Anita du Preez


Скачать книгу
ja, spaar ons tog die res van die sob story,” laat hoor Liz.

      “Koffie, enigiemand?” vra Caz. Ek let op dat sy niks van haar vonkelwyn gedrink het nie. Seker te sleg.

      “Dankie,” sê ek en stoot my halfvol glas eenkant toe.

      Die gewerskaf met koppies en koekbordjies is ’n welkome onderbreking. Hopelik sal almal hierna verkas. Dan kan ek self oor my wraak- en toekomsplanne besin.

      Ek het egter vergeet van Christine. “Wat van daai man by Beleza, Desiree?” wil sy weet toe sy terugkom van ’n smoke break en oorkant my by die tafel gaan sit.

      Dit help nie ek hou my doof nie. “Watse man?” vra Gloria snuiwend, soos ’n haas wat ’n wortel geruik het.

      Ek is reg om haar toe te snou dat sy nie sal weet nie, want sy was te besig om mý man se handjie vas te hou, maar ek hou my in. Daardie soort goed bring mens nêrens.

      Christine hou haar rede. “Hy was cute, hoor. En ek het gesien hoe kyk hy vir jou! Ons moet anyway nog die rok gaan haal.”

      “Oor my dooie liggaam,” sê ek.

      Maar sy is nie een wat jy kan keer nie. “Ons gaan haal dit mos net. Dis al.”

      “Die rok is lankal weg. Daar was hierdie Amerikaner-vroumens die dag, wat dit …”

      “Dis oukei. Ons gaan anyway. Dalk …”

      “Dalk wat?”

      “Dalk gebeur daar iets. Dalk sien die man jou raak en –”

      “Ag, asseblief! En behoede my as hy my nié raaksien nie?”

      “Hy sal. Kyk hoe lyk jy deesdae, vrou. Soos ’n movie star! Hoe kan hy nie?”

      “Sorry for you, Christinetjie, maar Beleza is die een plek in die ganse Kaap waar ek nooit weer ’n voet sal sit nie. Ek het genoeg kere ’n absolute gat van myself daar gemaak. Case closed. Oukei?”

      “Hmm,” sê Christine.

      6

      Kyk, Christine was nog altyd die meer voortvarende een. Sy beskik nou maar eenmaal oor die mag om my allerhande goed te laat doen wat ek gesweer het ek nie sal nie. Soos die keer toe sy my oorreed het om my hare met ’n botteltjie Gentian Violet af te spoel. Dit sou dan kwansuis my muisblonde stokkies sulke silwer ligstrepies gee wat my fabulous sou maak. Toe woon ek die matriekafskeid by met helderpers gestreepte hare lank voordat pers hare mode geword het. Toe dit nog skreeusnaaks was.

      Daar was selfs ’n tweede geval met Gentian Violet. Ons het min resources in die koshuis tot ons beskikking gehad en moes elke produk se moontlikhede tot die uiterste beproef. En Christine was die queen of innovation and improvisation, en ek haar flippen onnosele proefkonyn. Of eerder dissipel. Praat van breinspoeling. Die Nazi’s sou ’n ding of twee by haar kon leer.

      So mesmeraais sy my toe mos om nog ’n bottel van die verpestelik pers goed in my badwater te gooi. Haar argument was dat dit my ’n fabulous instant tan sou gee. En ek het haar sowaar as vet weer geglo, aangevuur deur die feit dat ons die volgende dag na somer-skooldrag moes oorskakel, sonder ons dik swart winter-pantyhose.

      “Ja, Desiree,” het sy digterlik belowe terwyl sy die badwater intap en ek gefassineerd kyk hoe die vloeistof uit die piepklein botteltjie sulke wolkerige violet strominge in die water veroorsaak, “promise, promise and hope to die, hierdie goed maak jou hele lyf so bruin asof jy met vakansie in Hawaii was. Genuine.” Toe ek nog wou-wou huiwer, het sy bygevoeg: “Komaan, jong, jou beentjies lyk anyway terrible! Asof jy die hele winter in Jik gebad het!”

      Sy het goed geweet van my enorme crush op Pieter Jurgens, Middelburg Hoër se bruingebrande donkerkop-eerstespanslot. Toe klim ek in.

      Ek was die enigste graad twaalf wat die volgende dag moeilikheid opgetel het omdat ek steeds in wintersdrag was. Met dik, lang swart kouse in die hitte.

      So kan ek die kere opnoem. En nee, ek verstaan dit ook nie. Ergste is, sy kry dit nog steeds reg. Dis waarom ek vanmôre vir die tweede Sondag in ’n ry oorkant Christine op Beleza se sonstoepie sit met ’n ontbyt voor my. Sy het die Sondagkoerant voor haar en daardie ontwerpersbrilletjie op haar neus asof sy nie ’n saak het nie. En om alles te kroon was sy dié keer reg. Die man is hier en hy hét my raakgesien, soos almal anders, kon ek agterkom toe ons instap. Of hy my herken het, is ’n ope vraag.

      Nou sit en knaag ek aan ’n toastkorsie, so ongemaklik soos ’n bloederige steak tussen groentesosaties by ’n veganbraai. Almal om my lyk dood op hulle gemak in hulle Sondagoggend-gear, so fyn beplan om casual en understated te lyk soos wat net die cool crowd van Kaapstad kan regkry.

      Ek sit soos iets wat roepstemme uit die fifties hoor in die outfit wat Liz my laat koop het, en waarop Christine vanoggend aangedring het. Belaglik! Met ’n bloes wat oorlede Joan Crawford palpitations sou gegee het, en die stywe Capri pants wat ’n fortuin gekos het en nou vir my lyk asof die ontwerper se lap opgeraak het voor hy die ding lank genoeg kon sny om tot by my skoene te kom.

      Ek weet sowaar nie of hierdie nuwe blonde bom-ding by my pas nie. Om blond te word is nie net vir hare dye nie. Die wêreld kyk anders na so iemand. Vra maar vir oorlede Norma Jean Baker. Ek het al gelees hoe dié brunet aan die begin gesukkel het om in die vel van die blonde Marilyn Monroe te klim. ’n Blondine het ’n sekere houding en ek weet nie so mooi of dit in my broek sit nie. Plaas ek ten minste my ou jeans en een van my T-hemde met die slogans aangepluk het. Maar nee, dis mos alles uitgegooi. Stof- en polishlappe van gemaak. Dis om van te ween.

      Ten minste is ek oukei met die skoene. Dis gelukkig die katjiehakkies waarvan Marilyn so baie sou gehou het en waarmee ek nog heeltyd soort van tuis voel. So asof hulle my geroep het die dag toe ek hulle hier van die rak af gegryp het. “Give a girl the right shoes,” het hulle haar woorde in my oor gefluister, “and she can conquer the world.”

      Ek doen my bes om ongeërg te lyk, maar binne-in my woed dit. Ek bekyk kamtig verveeld my sagtepienk naels met die perfekte wit punte. “Very French – very you,” het Gloria se naelpersoon gesê. Ek vat net ’n groot sluk van my reeds koue koffie toe iemand langs my praat.

      “Ek wou mos sê dis jy!”

      Ek verstik half. Mors bietjie op my bloes, maar ek hou my pose, want dis die man.

      “Dit is, ja,” antwoord ek soos ’n volslae idioot en Christine laat sak haar koerant en loer na my oor haar bril.

      “Ek het jou amper nie herken nie!”

      “Ek ook nie,” hoor ek myself sê en die man bars uit van die lag.

      “Kan ek nog iets vir julle bring?”

      “Nog koffie, asseblief,” versoek Christine. “Ek gaan solank gou hier buite rook.”

      “Another two coffees here, please,” sê hy vir een van die jong kelnerinne en sak neer op Christine se stoel. “Gee jy om?”

      “Voel vry.” Ek wens hard dat die stroom dom woorde wat uit my mond vloei om hemelsnaam moet opdroog.

      Hy kyk my stip aan oor sy bril. “Wat ook al daardie dag hier gebeur het, het jou op die ou end goed gedoen. Jy lyk fantasties.”

      Ek sluk. Komplimente rol mos altyd sonder rigting so in my kop rond.

      “Sê net dankie,” sê hy asof hy my lees. Dit laat my nog meer ongemaklik voel, hoekom weet ek nie. Ek is nie regtig so onbeholpe nie. Moet seker maar al die dinge van die afgelope week of twee wees. Of die afgelope paar jaar? Hoe gou raak mens uit oefening? Nie dat ek ooit vreeslik in oefening was nie, maar jeez! Ek was darem altyd meer spontaan as nou.

      “Oukei, dankie,” sê ek terwyl ek bid vir ’n skerp chirp.

      Toe roep iemand hom van binne af en na ’n rukkie kom Christine terug.

      Hy maak nie weer sy verskyning nie en toe my tweede koppie koffie leeg is, los ek geld in die bordjie en staan op. Genoeg is genoeg. Christine wil nog teëpraat, maar ek begin kar se kant toe stap en


Скачать книгу