Raaiselster. Troula Goosen

Читать онлайн книгу.

Raaiselster - Troula Goosen


Скачать книгу
figuur se gesig is vertrek van vrees, asof dit vlug vir iets waarvoor dit banger is as vir die dood.

       7

      Help!” Leopold gooi homself teen die grond neer en keer met sy hande, maar dis te laat. Die monsterdier spring uit Barend se skoot en beland op sy bors. Spoeg drup uit die gedrog se bek en rol oor sy wang.

      Hy spartel om weg te kom, maar sy spiere is styf, nes sy ma s’n toe sy in die doodskis gelê het. “Gaan weg!” skree hy, maar die woorde stol in sy keel.

      Die monster se tamaai poot tref hom in die ribbes. “Hei, hou op droom!” raas ’n hoë stem bokant sy kop.

      Leopold se oë vlieg oop. Sowaar, daar is nie ’n monster nie! Net twee kwaai blou oë wat hom aangluur.

      “Sarel?” Die naam verander in ’n asemwolkie voor sy mond.

      Die touleier se smerige hoed is laag oor sy voorkop getrek, maar nie laag genoeg om sy frons weg te steek nie. “Vir wat slaap jy so laat?” snou hy, sy stem nou dieper. “Ek’t lankal al die osse aangejaag.” Sonder om te kyk of Leopold hom volg, draai hy om en verdwyn regs om die wa.

      Leopold kreun en vryf die plek waar Sarel se kaal groottoon hom geskop het. G’n wonder hy voel so goor nie. Dis die eerste keer in sy lewe dat hy buite slaap, plat op die grond op ’n seiltjie met net ’n ossewa om die snerpende winterwind af te skerm. Laas nag, nadat hulle klaar geëet het, het Barend hoes-hoes onder die wa ingekruip. Sarel het die kole aangeblaas en nog hout opgegooi, maar sy stywe rug het duidelik gewys dat Leopold nie welkom naby dié hitte is nie. Dis toe dat hy maar ’n seil gevat en dit agter die wa onder die sterre oopgegooi het.

      Hoe lank hy op sy rug gelê en die donker ingestaar het, weet Leopold nie. Só onvriendelik en ver was die Suiderkruis nog nooit nie. Skielik het ’n verskietende ster ’n blink streep oor die donker lug geverf. Dalk ’n boodskap van sy ma? Hy het sy brandende oë toegeknyp en gewens. Ná ’n rukkie het die seer in sy hart dowwer geword en het hy aan die slaap geraak.

      Leopold sug en vee die nattigheid wat op sy wang beland het af. Gelukkig is dit darem nie monsterspoeg nie, net dou wat op die bokseil gevorm en op hom gedrup het. Teen die horison glimmer ’n nuwe dag, ’n sweep klap en die lug ruik na beesmis en koffie. Dis tyd om op te hou om homself jammer te kry en ’n nuwe lewe te begin. Hy trek sy skouers reg­uit en loop om die wa na waar Barend langs die kampvuur staan.

      Die togryer groet nie. Beduie net na die koffiekan en paraf­fienblik met boerbeskuit op die tafeltjie. “Eet klaar en maak dood die vuur, ek kyk solank of die vrag goed vasge­maak is,” sê hy en gee ’n skerp fluit.

      Asem kom om die wa gehardloop, maar toe Leopold buk om die brakkie te streel, lig sy haar lippe sodat ’n ry vlym­skerp tandjies wys. “Hiert!” raas hy en ruk sy hand weg.

      “Los die hond!” Barend spoeg sy pruimpie eenkant en klap met sy hand teen sy knie. Asem spring teen hom op en toe hy na die wa loop, draf sy stertswaaiend agterna. Op die trappie steek hy vas. “Wat staan jy so?” raas hy met Leopold. “Die osse gaan hulle nie self inspan nie.” Toe lig hy die tentflap en kruip vinnig by die opening in. Leopold rek sy nek, maar Barend laat sak die flap voor hy kan sien wat alles binne gebêre word.

      Leopold trek sy skouers op en haal ’n stuk beskuit uit die blik. Asof hy omgee wat die ou boggelrug karwei. Al wat hy wil doen, is om op die diamantvelde te kom en stap een is seker om iets in sy maag te kry.

      Maar die bitter swart koffie en harde boerbeskuit steek in sy keel vas en laat hom só na Mieta se geurige mosbolletjies verlang dat sy hart pyn. Hy hoort nie hier nie. Hy ken die ou togryer van g’n kant af nie en wat weet hy van osse inspan, transport ry of diamante delf? As hy alles net so los en laat waai, is hy veilig terug in sy eie bed voor Mieta eens agtergekom het hy is weg.

      En dan?

      Sal hy regtig op Mieta en Moos se genade in ’n pondok kan leef? Dink net hoe sal die snobberige Kapenaars lekkerkry as hulle dáárvan hoor. Selfs Frans sal agter sy hand lag.

      Nee, sy ma het gesê hy moet dapper wees. Hy skiet die koffie oor die vuur uit, skop sand oor die vlammetjies en loop na die voorkant van die wa waar die span rooi Afrika­ner­osse besig is om ’n stofwolkie los te trap.

      Sweep in die hand draf Sarel rond. “Honou, Donkerland!” roep hy skril terwyl hy die trekdiere in twee rye langs die disselboom staanmaak. ’n Frons keep tussen sy wenkbroue toe hy Leopold sien. “Wat staan jy so?” brom hy, sy stem nou dieper.

      “Sê net wat ek moet doen,” probeer Leopold hulpvaardig klink.

      Sarel rol sy oë. “Jy weet nie?”

      Toe Leopold verleë rondtrap, klik hy sy tong. “Maak vir Groenberg en Vaalvlei aan die disselboom vas. Roer jou, ons het nie heeldag tyd nie!” Met die agterkant van sy sweep druk hy een van die osse terug in die ry.

      “Groenberg? Vaalvlei?” Leopold vee oor sy nek.

      “Die agterossse, onnosel.” Hy loer van onder sy hoed se rand na Leopold. “Ga, nes ek gedink het! Nog nooit in jou lewe aan ’n os gevat nie, nè? Nou ja, dan wys ek jou.” Sy hande beweeg vinnig. “Jy maak eers die rieme om die agterosse se koppe vas. Só.”

      Leopold kam met sy vingerpunte deur sy kuif. “Ek verstaan nie …”

      “Verstaan ofte nie, met daai sawwe handjies gaan jy niks regkry nie.” Sarel sug oordrewe. “Elke os het sy plek. Eers vang jy hulle met rieme en dan bind jy hulle aan die jukke vas …”

      Die res van die les gaan by Leopold se ore verby. Daardie wye horings lyk gevaarlik. Hoe Sarel met sy skraal lyf dit kan waag om so naby te kom, weet hy nie.

      “Trek jy al lank saam met oom Barend?” probeer Leo­pold ’n geselsie aanknoop toe die touleier uiteindelik klaar is. “Was jy al op die diamantvelde?”

      “My kom en gaan traak jou nie.” Sarel snuif en vee oor sy neus sodat daar ’n blink streep op sy stowwerige wang agterbly. “Gaan sit saam met die ouman op die wakis, hier’s jy net in die pad.”

      “In die pad?” Die beskuldiging tref Leopold soos ’n klap in die gesig. Hy bal sy vuiste om te keer dat hy die tenge­rige seun aan sy vuil kraag naderpluk. “Tel jou woorde, kluit­kop!”

      Sarel druk ’n swart vingernael onder Leopold se neus. “Wie’s jou kluitkop?”

      Leopold klap die hand weg. “Met wie dink jy praat jy, man­netjie?”

      “Ga!” Sarel kyk Leopold op en af. “Oor jy duur klere dra, dink jy ek is jou hierjy, nè? Jy kan net jou bek warm praat. Ek is ’n tóúleier. My pa het my geleer. Die drywer sit op die wa en gee bevele, maar as ek verkeerd loop, trap die span deurmekaar en rol die wa. Kyk!” Sy kneukels span om sy sweep se handvatsel. Die voorslag swiep met ’n swierige swaai deur die lug en die volgende oomblik sien Leopold net vere warrel. ’n Mossie tuimel uit die lug en beland voor sy voete.

      Verskrik spring hy terug terwyl hy met afgryse na die dooie voëltjie kyk. “Vir wat doen jy dit?”

      “Ek waarsku jou, jy wil nie met my sukkel nie.” Sarel se oë glim.

      “Skei uit, julle twee!” Barend se stem klap van die voorkant van die wa af. “Hierdie vrag moet oor die bergpasse kom.”

      ’n Skyfie goue son loer net-net oor die horison toe die ossewa met die swart seil en rooi wiele uiteindelik by die Boe­re­plein uitdraai. Van waar Leopold voor op die wa langs Barend sit, kyk hy vir oulaas terug na Tafelberg. Êrens aan dié berg se voet lê sy ma se elegante Victoriaanse huis en die rykmanslewe wat hy van kleintyd geken het in die skaduwees begrawe. Vir altyd.

      Hy byt so hard op sy kieste dat hy bloed in sy keel proe.

      Скачать книгу