Die antie met die pienk rok en ander stories. Jan Spies
Читать онлайн книгу.mol sal nog baie nageslagte hê as een van ons anner hom nie op óns manier van kant maak nie. Want dis nie net molle wat ons in hierdie stuk wêreld ken nie; ons ken ook die aarde onner ons voete. En ons weet lat die arikreukeldoppe in die oertyd deur die Strandlopers hierlangs weggegôi is, ná hulle dit leeggeëet het. En daarná is die duinesand bo-oor gewaai, en dis in dié lekker sand lat die molle hou. Wat sal ’n mol nou in die óú grond onner die pêrekuldoppe loop soek? So, ons wis die mol is veilig. En Alfons moes dit ook al begin dink het, want hy kyk taamlik moedeloserig daar onner uit die gat op vir sy baas en hy stamp met die graaf op die harde klip.
Eers sien dié nie eens wat aan die gang is nie, want hy het eenkant toe staan en kyk en ’n deuntjie aan die fluit gewees – nou nie om die mol te probeer nader lok soos darie fluitspeler die rotte nie, maar om die tyd om te kry. Want sy senuwees moes hom teen dié tyd al begin pla het. Maar hy sien toe tog wat Alfons gesien het, en wat ons geweet het. En tóé was hy haastig. Hy het net gespook om daar weg te kom. Toe order hy nie net meer nie; hy hélp ook. En so is hulle bedremmeld daar weg. Miskien het die ou beamptetjie darem geleer dat hy nog nie genoeg geleer het nie. Of dit wel gebeur het, sal ons maar moet sien as hy dalk weer eendag ’n demonstrasie kom hou, maar ek glo nie dit sal gou wees nie.
“Nee, boeta, dit kan ek vir jou sê, darie fluitspeler van wie jy lees, kan vir molle fluit van petatlande en wortels en knolle vir alle molle, maar as hy hulle nie soeitjies een-een, en sónner musiek, voorlê nie, sal hy nie eers sien hoe één van hulle skop nie, wat staan dit nou nog uitkom!” So maak oom Toppie sy storie van toepassing op die geskiedenis van die fluitspeler van Hameln.
“Vir ’n mol help geen masjinerie of fluite of ’n hele bênd nie. Net met ’n .22 kry jy iets uitgerig, want die mol moet dood wees vóór hy jou hoor. As jy die storie omkeer, is jou kys not.”
Ek sê: “Ja, Oom, dit lyk my ’n mens kry nie alles in die lewe met ’n liedjie of ’n fluit reg nie.”
“Dit sal flúit kos as jy net dáámee jou dinge in hierie wêreld wil regkry,” sê hy. “Want kyk nou die rotte en die molle: as jy die een nader fluit, fluit jy die anner een weg – nie om die deuntjie wat jy fluit, hom afskrik nie, maar om hy nie van musiek hou nie. En eintlik nog erger as dit: enige geluid behalwe sy eie is vir hom dié van ’n vyand.” Ek sien oom Toppie maak klaar om aan te stryk, maar hy kom nie tot loop nie. Dis nes of hy nog iets wou sê, maar nie weet hoe nie.
“Waaraan dink Oom nou?” vra ek toe in die hoop dat die skelm ding ook kan naam kry.
“Nee,” sê hy, “ek dink maar net daaraan lat ’n storie ’n wonnerlike ding is.”
Maar ek sien dis nog nie die eintlike ding wat gesê wil word nie, en ek bly kyk vir oom Toppie in sy oë. En toe praat hy nog ’n keer. “Sê my,” sê hy, “dink jy darie ou met die fluit sou vir die molle net so mooi kon geswye het as wat hy vir die rotte gefluit het? Ek bedoel: lat sy stilbly so ’n krag gehad het lat dit eintlik die molle kon getrék het.”
“Hoekom vra Oom so ’n snaakse vraag?” vra ek.
Toe lag hy.
“Ek wonner sommer hoe ’n mens soos jy die storie sou moes maak lat hy oor molle en nie oor rotte gaan nie … as jy, sê nou maar, wou gehad het lat darie ou met die fluit hierie Duine van molle moes kom skoon fluit.”
“Ek weet nie, Oom,” sê ek. “Al wat ek weet, is dat ’n mens ’n fluit sou moes hê wat ’n stilte kan flúit. Of anders gestel: ’n mens sou moes ’n fluit hê wat álle geluid stil fluit.”
Toe skud hy sy kop en hy begin loop.
“Dan is ons óú manier tog nog die maklikste,” hoor ek hom sê. En toe weet ek dat ’n storie oor fluitspel vir molle selfs ingewikkelder as die landboubeamptetjie se apparaat sal wees om te bou. En ás jy hom regkry, is hy nog altyd vir die ore van mense bedoel, en húlle hoor net wat hulle wíl hoor.
Die werklike towerfluit wat ’n mens nodig het, smaak dit my, sou een moes wees waarmee jy tegelyk vir rotte van spek en rosyntjies, vir kinders van speelgoed en wafels, vir dié van dít en vir dárie van dát, en dan vir molle ’n stilte kon fluit.
Met só ’n fluit sou ’n mens vir almal ware geluk kon bring, of vreeslike ellende.
Die dinges is ’n watsem
Ek en my vrou ry eenkeer by mense aan by wie ons vir jare nie ’n draai kon maak nie. En ons kom so teen skemeraand daar aan. En ná ons die tante gegroet en vir haar gesê het ons vertoef so ’n bietjie om darem weer ’n slag ’n paar murgbene saam uit te stamp, toe het sy eers ’n rukkie nodig gehad om tot verhaal te kom van die blydskap. Want dié mense het gewoonlik ook maar net mekaar se geselskap gehad en nie dikwels besoek ontvang nie.
En ná sy eers so ’n rukkie geweifel het voor sy ons die huis innooi, miskien om sy gewonner het oor hoe sy die kuier moet aanvoor lat hy sy loop lekker kan neem, toe sê sy: “Nou maar kom, dan wys ek net vir julle waar die dinges is, lat julle kan watsem as julle wil. Ek het mos nou ’n dinges innie huis.” En sy wys ons die badkamer.
Ek sê: “Dankie, Tannie. Dit sal darem lekker wees om ’n slag die stof van ’n mens se gesig af te spoel.”
Sy sê: “Nou maar verskoon my, lat ek net die dinges opsteek en ’n bietjie watsem kook want julle is darem seker al lus vir ’n bietjie dinges.”
Toe ons ná ’n rukkie by haar in die kombuis kom, sê sy: “Jy kan maar solank hier agter by die dinges deur loop. Die oom is daar innie watsem doenig met die dinges want dié se dinges is stukkend en ons wil môre na die watsem toe dinges.”
Ek sê: “Dankie, Tannie; ek sal oom Harmaans kry. Ek weet mos darem nog waar die motorhuis is.”
Maar ek wag toe maar eers vir die koffie, en toe loop ek na die waenhuis toe deur. En ek kom daar, en ek sê:
“Naand, oom Harmaans.” Hy sê: “Is dit tog nie dinges se watsem wat ek hier hoor nie?”
Ek sê: “Ja, Oom, dis eie ek.”
Die ou beur toe so effe onner die kar uit, waar hy aan die werk was, en hy hou my die een hand se pols sodat ek nie vol teer moet word nie. En met die ander hand hou hy die liggie so dat ons mekaar darem op ’n manier kan sien. En ek groet ook vir Klein-Harmaans wat langs die kar staan en die rol van handlanger moet vervul.
Oom Harmaans skuif toe weer onner die kar in terwyl hy sê: “Jong, jy moet maar solank gesels lat ek hier kan aangaan want die dinges is in sy watsem in en ek moet môre hierdie stuk sinkplaatwatsem afdinges dorp toe.” En vir Harmaansie sê hy: “Harmaansie, vat hiersó die watsem en dan lig jy daar vorie dinges en dan kyk jy vir my die watsem daar want hierie orige dinges draai innie watsem.”
En Harmaansie gee hom daar van voor die kar af ’n stuk gereedskap uit ’n bondel werkgoed wat daar op ’n sak lê. Maar sommer so op die voel af sê oom Harmaans: “Nee, man, nou gee jy dan vir my die dingesgrip, en ek het jou die watsem gevra.”
Harmaansie sê toe: “O, ek het gedog die watsem is beter. Wag, ek gee vir Pa die dinges.” En hy bring hom die tang.
Maar toe begint word die oom warm. Hy sê: “Moet ek nou hier onnerie dinges uitwatsem om vir jou te kom wys hoe die dinges lyk? Gee vir my die wátsem – ons het nie dinges nie en netnou watsem dinges lat ons moet kom dinges en jý kén vir dinges: sy’s watsem as ’n mens nie daadlik dinges as sy roep om te kom watsem nie.”
Vir ’n wyle skep hy toe eers asem, voor hy min of meer op dieselfde trant voortgaan: “Géé my die watsem, man. En maak dinges, jong. Jy weet tog die ou watsempie hier orie dinges se kop is te klein om die watsem by in te druk en hom vas te hou lat hy nie in sy dinges in in die rondte watsem nie.”
Ek sê: “Jong, jou pa wil die skroewedraaier hê.”
Hy sê: “Nou waarom sê Pa nie Pa willie dinges hê nie?”
Toe’s oom Harmaans glad nie meer lekker nie en hy smaak ook sommer na krag-maak: “Jy moet ophou watsem! Ek sal vir jou dinges;