Dokter sonder grense. Malene Breytenbach

Читать онлайн книгу.

Dokter sonder grense - Malene Breytenbach


Скачать книгу
pynkliniek in die Murraystown Amputees Camp. Julle weet seker dat die RUF mense se hande, voete en ledemate afgekap het. Dis vir ons ’n baie groot probleem. Dokter Du Plessis werk met pynbeheer.”

      Clare kry ’n benoude gevoel in haar bors. Mense met geamputeerde ledemate is nie iets wat sy graag wil aanskou nie. “Ja, ons weet dit het op groot skaal gebeur. Ek ... e ... staal myself. Dis ’n afskuwelike manier van oorlogvoering.”

      Die dokter sug en skud sy kop. “Ja, dis onmenslik, maar oorlog is onmenslik. Jy het ver gekom om jou mense te soek. Wag hier, dan probeer ek uitvind waar dokter Du Plessis nou is.”

      Hy loop weg en gaan praat met ander mense, terwyl Clare en Spies wag. Sy is amper te bang om rond te kyk, want sy sien dalk iets grusaams, en nou let sy op dat baie van die mense lyk asof hulle hande en voete verloor het. Sy wil amper aan Spies se arm vashou, maar sy keer haarself. Sy moenie haar ontsteltenis vir hom wys nie. Hy sal dink sy is swak nadat sy haar kastig so taai gehou het. Sy sluk haar ontsteltenis weg en kyk nie direk na die mense nie, maar sy kry hulle vreeslik jammer.

      Die dokter kom terug. “Ja, dokter Du Plessis is by Murraystown-kliniek. Ek sal verduidelik hoe julle daar kom.”

      Hy gee aanwysings, wat Spies neerskryf.

      Clare is vreeslik bly en verlig. “Baie dankie dat jy so behulpsaam is. Mag ek vra wat jou naam is?”

      Die dokter glimlag. “Luc du Bois.”

      Clare gee hom haar hand. “Aangename kennis. Ek is Clare Rutland, en hierdie is Spies Lategan. Jy praat met ’n aksent. Waar kom jy vandaan?”

      “Ek kom oorspronklik van Côte d’Ivoire, maar ek het in Parys gestudeer. Ek wou iets doen om my arme mede-Afrikane te help, daarom het ek by MSF aangesluit.”

      “Julle doen wonderlike werk,” sê Clare.

      Spies skud die dokter se hand. “Dankie, dokter.”

      “My plesier. Ek hoop julle vind albei die dokters na wie julle soek.”

      Spies stuur Clare vinnig aan die arm uit en na die wagtende taxi, wat in die son gestaan en bak het en nog warmer is as voorheen, maar sy is nou so opgewonde om Louis weer te sien dat sy die hitte skaars agterkom. Hy sal heel waarskynlik weet waar Nick hom bevind.

      Weer is die rit ’n beproewing, en toe hulle by die Murraystown-vlugtelingkamp kom, is dit ’n skokkende gesig. Clare byt op haar tande. Oral is mense wat erbarmlik lyk, en met die geduld van hulpelose lyding wag op verligting. Niemand lyk skoon nie, en daar hang ’n onaangename reuk in die lug wat haar laat voel asof sy vlak moet asemhaal om nie kieme in te asem nie.

      Hulle gaan die kliniek binne. Spies doen al die praatwerk. Uiteindelik is daar ’n vrou in ’n verpleeguniform wat sê sy weet waar dokter Du Plessis is en sy sal hulle na hom neem. Sy kyk ook nuuskierig na hulle, asof sy wonder wat hulle daar doen.

      Hulle loop deur gange waar baie mense sommer op die vloer sit. Toestande is haglik. Daarna kom hulle egter by ’n deel van die gebou waar dit skoner is en mense in beddens lê. Tussen hulle beweeg mediese personeel.

      Clare se asem stok in haar keel toe sy die lang, donker man sien. Hy staan met sy rug na hulle gekeer. Daardie mooi, trotse kop sal sy enige plek herken, en dit sal altyd haar hart roer. Op sy wit jas se rug is die letters MSF en hy buk oor ’n kind. Daar is twee vroue weerskante van hom.

      “Daar is dokter Du Plessis,” beduie die verpleegster glimlaggend.

      Spies kyk af na Clare. Hy lyk half sinies, asof hy haar opgewondenheid aanvoel en raai dat dit nie net vir haar daarom gaan om Nick te vind nie.

      “Toe, gaan groet hom,” sê hy. “Ons het met groot moeite hier uitgekom.”

      Clare gaan nader, haar hart woes kloppend. Die twee vroue kyk om. Louis konsentreer egter op die kind, wat verbande om albei arms het.

      “Louis!” roep Clare.

      Hy kom orent en kyk om. Dit voel vir haar asof die aarde op sy as gaan stilstaan. Sy aantreklike gesig lyk moeg, asof hy lanklaas gerus het en ure lank hard gewerk het. Sy eens pikswart hare het hier en daar grys in, sien sy, en dis langer as wat sy onthou. Onder die wit jas wat nog verbasend skoon is, is sy skouers hoekig, sy lyf lenig. Swaarkry is op sy gesig geëts. Sy swaar, swart wenkbroue kom bo sy donker oë bymekaar in ’n frons.

      “Liewe hemel, waar kom jý so skielik vandaan?” hoor sy hom vra. Hy glimlag nie, kyk haar net verstom aan. Sy wonder of hy ooit bly is om haar te sien.

      “Ek kom van Suid-Afrika af, Louis. Ek het Nick kom soek.”

      Sy oë, wat bloedbelope en moeg lyk, flits van haar na Spies en terug. Hy praat saggies met die twee vroue, asof hy vir hulle opdragte gee, en kom nader aan Clare en Spies.

      Clare stel Spies voor en sien dat hy Louis met skerp oë staan en beoordeel. Louis kyk op sy beurt met openlike agterdog na Spies. Hy buk egter af, en tot Clare se verbasing soen hy haar op albei wange. Haar hart tol behoorlik. Sy voel asof sy hom om die hals kan val en hom op die mond kan soen, maar sy waag dit nie.

      “Kom ons gaan praat in die kantoor,” sê Louis.

      Hy neem hulle na ’n kantoortjie wat karig gemeubileer is, en laat hulle op lendelam ou stoele sit.

      “Soos julle kan sien, gaan dit maar rof hier,” sê hy meewarig. Hy gaan sit op die rand van die lessenaar en kyk na Clare.

      “Ek kan nie glo dat jy na Nick kom soek het nie. Dis baie dapper, maar ook baie roekeloos. Hy is mos die MSF se verantwoordelikheid.”

      “Ja, hy is seker, maar die MSF kan nie vir my sê waar hy op die oomblik is nie.”

      “Wanneer het julle laas van Nick gehoor?”

      “Seker so drie maande gelede. Hy het gereeld geskryf, al was dit net kort briefies, want dit was my ma se voorwaarde toe hy na Sierra Leone gekom het. Sy is heeltyd bekommerd. Toe droog die pos sommer net op.”

      Louis kyk fronsend na haar. “Nick moet in die omgewing van Bo of in die suide wees, maar daar is baie rebelle-aktiwiteit en ons kommunikasie is dikwels afgesny. Dis nie net die Revolutionary United Front met wie ons te doene het nie. Daar is ander groepe ook.”

      Clare knik. “Dis moeilik vir iemand buite die land om in te sien presies hoe erg dit hier gaan. In sy laaste brief het Nick genoem dat jou vrou dood is toe die rebelle julle hospitaal aangeval het. Ek is so jammer. Dit moet vir jou hartverskeurend wees.”

      Louis kyk weg, asof hy nie wil hê sy moet die pyn in sy oë sien nie. “Dankie. En ja, dit was ’n geweldige slag.”

      “Dit laat my ook vrees vir Nick se lewe. Hy het net gesê dat jou vrou dood is, maar nie vir ons die detail vertel nie. Wat hét gebeur?”

      Louis kyk met troebel oë na haar. “Ons was eers in Kenema in die oostelike provinsie, daar waar die bloeddiamante is. Mense moet slawe-arbeid verrig en word vreeslik deur die soldate mishandel. Van daar het ons na Kailahun gegaan, en daar is ons deur die RUF aangeval. Adelaide is dood toe ’n opslagkoeël haar in die bors getref het. Daarna het troepe van die VN-vredesmag die RUF verdryf, maar verskeie van ons mense is dood. Ek het Adelaide se lyk hierheen gebring en daarmee na Frankryk gevlieg. Ons het haar begrawe waar haar ouers woon. Ek het taamlik lank verlof geneem en het maar drie dae gelede weer aangekom in Freetown. Ek moet die res van my kontrak met die MSF uitdien, maar dis nie meer lank voor dit verstryk nie. Ek het dus nie onlangs kontak met Nick gehad nie.”

      “Sou jy kon uitvind waar hy is?”

      “Ja, ek kan probeer. As julle wag, kan ek ’n paar oproepe laat maak. Verskoon my.”

      Hy gaan uit en Clare sê gespanne: “Ek hoop hy vind vir Nick. Dalk is hy iewers heeltemal veilig.”

      “Iewers heeltemal veilig?” vra Spies ironies. “Ek kan nie help om dit te betwyfel nie. Dan sou julle en die MSF mos op een of ander manier van hom gehoor het. Ons hoor dan heeltyd hoe die kommunikasie onderbreek word.”

      “Spies, jy maak my regtig bang.”


Скачать книгу