Dokter sonder grense. Malene Breytenbach

Читать онлайн книгу.

Dokter sonder grense - Malene Breytenbach


Скачать книгу
sien, kry sy ’n sinkende gevoel in haar maag. Iets is beslis verkeerd.

      “Wat het jy uitgevind?” vra sy half uitasem.

      “Nick was op pad van Bo na Freetown, maar hy het nooit hier aangekom nie. Dikwels word voertuie voorgekeer en beroof. Die VN-troepe weet nie waar Nick en ons ander mense nou is nie, maar daar word na hulle gesoek.”

      Clare voel asof haar hart wil gaan staan. Sy kyk verskrik na Louis, en toe na Spies, wat bewegingloos met ’n stroewe gesig daar sit.

      Louis sug diep en vryf oor sy voorkop. “Ek is jammer, Clare. Ons mense beweeg deur gevaarlike terrein, maar ons kan nie anders nie. Oral het hulle ons dienste by die pynklinieke dringend nodig. Die beseerde mense het eenvoudig ingestroom en die getalle het ons mense oorweldig. Hier is ’n nimmereindigende krisis. Jy sien hoe dit gaan.”

      “Ek het gekom om Nick te vind en dis wat ek gaan doen,” sê Clare vasberade. “Dis met dié doel dat Spies my hierheen gebring het.”

      Louis kyk van die een na die ander asof hy wonder wat hulle verbintenis is. “Dis te gevaarlik vir jou, Clare.”

      “Ek sal dit moet waag. Spies sal my help.”

      “Maar wat kan hy doen? Hierdie is ’n vreemde land gewikkel in ’n burgeroorlog, en julle is vreemdelinge.”

      “Ek ken hierdie plek en ek het kontakte,” sê Spies. “Clare sou nie op haar eie reggekom het nie, toe bring ek haar self. Ek het hier vir Executive Outcomes gewerk, en ek het ’n lugdiens wat hierheen vlieg – Flying Spear Air Service.”

      Louis kyk lank na Spies. “Jy is, of was, ’n huursoldaat.”

      Spies lyk asof hy hom vererg. “Nee, ons was ’n private sekuriteitsmaatskappy, en ek is gewerf nadat ek in 32 Bataljon in Suid-Afrika, Namibië en Angola geveg het. Daar is ’n verskil tussen ’n gewone huursoldaat en ons soort ouens. Ek weet julle mense was nog altyd bevooroordeeld. Ons het gekom om te help, maar die NGO’s het ons vyandig behandel omdat ons wapens gedra het. Iemand moet die vuil werk doen. Ons kan nie almal pasifistiese dokters wees nie.”

      Louis frons en kyk hom priemend aan. “Ja, en geld speel mos altyd ’n rol. Maar ek moet erken julle hét die RUF verdryf – tydelik. Ongelukkig het hulle net weer teruggekom. Dis nie net hulle wat die bevolking terroriseer nie. Die Nigeriërs en die plaaslike weermag het dit ook gedoen. Almal pleeg wreedhede teen die weerloses. Kinders word nie gespaar nie, want almal het ook kindersoldate in diens geneem of gedwing. Hulle word dwelms gevoer en geleer om net so wreed soos die grootmense te wees. Kinders het glo minder inhibisies. Dis ’n skande hoe dit hier gaan.”

      “Afrika is ’n kookpot, en waar is daar ooit vrede?” vra Spies sinies. “Liberië is net so erg soos hier, om van die DRC en Burundi en Somalië nie eens te praat nie.”

      “En daar sal altyd aasvoëls wees wat bereid is om te aas waar daar dood en ellende is,” merk Louis skerp op.

      Clare besluit dis tyd om in te gryp, want die twee mans kyk mekaar met naakte aggressie aan.

      “Kyk, julle twee sien die wêreld uit verskillende gesigspunte, en daar is nie nou tyd vir stry en baklei nie. As my broer nog leef en iewers is, wil ek hom gaan soek. Dis hoekom Spies my help. Sonder hom en sy kontakte sou ek dit nie kon doen nie, Louis. Sonder jou hulp kan ek dit ook nie doen nie. Kan jy ons enigsins help, of is jy te besig?”

      Sy gesig versag meteens. “Ekskuus, ek raak so kwaad oor die onreg en lyding in plekke soos dié dat ek my maniere vergeet. Ek was tot dusver vreeslik besig, maar nuwe personeel word uitgestuur hierheen. My dienstydperk in Sierra Leone is veronderstel om oor ’n maand te verstryk, en dan moet ek terugkeer na Frankryk. Dis dalk nou die geleentheid om na Bo en Pujehun te gaan en sommer die nuwe medikasie wat ons gekry het, saam te neem.”

      Clare kyk hom verbaas en bly aan. “Regtig? Wil jy weer soontoe gaan?”

      “Ja, vir oulaas. Ek kan help om Nick te soek. Ek was die een wat hom oortuig het om hier te kom werk, en daarom is ek ook skuldig aan sy verdwyning.”

      “Dan gaan ek saam met jou.”

      “Jy kan. Ons kan jou as ’n sogenaamde MSF-personeellid saamneem. Jy kan my assistent wees. Ons het ons eie voertuie, en mense weet ons doen humanitêre werk. Nie dat dit ons altyd veilig hou nie, hoor. Dis altyd ’n risiko om te reis in dié land. Jy is dapper om dit te wil doen.”

      “Dis vir Nick wat ek dit doen, en vir my ma. Toe ek vir die Argus Africa Service gewerk het, was sy heeltyd bekommerd oor my. Nou bekommer sy haar oor Nick. Ons gee haar grys hare. Dis om haar onthalwe dat ek ná ons pa se dood teruggegaan het na Suid-Afrika. Nou is ek ’n vryskutjoernalis.”

      Louis glimlag simpatiek. “Dis nie vir ouers maklik om toe te sien dat hulle kinders hulle lewe waag nie. Ek hoop ons spoor Nick gou op, maar ons moet hoop en vertrou. Jy sal moet sterk wees.”

      Met jou aan my sy kán ek sterk wees, dink sy.

      Clare draai na Spies. “Kom jy saam met ons?”

      Spies skraap sy keel. “Nee, maar gaan jy gerus saam met die dokter, want julle sal minstens ’n geleide hê. Ek het ander dinge om af te handel.”

      Clare kyk onthuts na hom. “Wat? Gaan jy ons net so los? Ek dag dan jy wil my help?”

      Spies kyk spottend na haar. “Jy het my nie kans gegee om klaar te praat nie. Ek wou sê dat ek en my manne later by julle sal aansluit daar in die suidooste. Nick is my vriend ook, onthou. Dalk het julle hom dan al opgespoor. As julle steeds sukkel om hom te kry, sal ons help.”

      “Dit klink na ’n goeie voorstel,” gee sy toe.

      Hy sal sy belofte hou, weet sy, want hy is betroubaar. Intussen wil hy natuurlik besigheid doen wat hy geheim wil hou. Dalk smokkel.

      “Goed, gee my twee dae om dinge hier af te handel en te reël,” sê Louis. “Dan kom jy weer hierheen met wat jy ook al wil saamneem, Clare. Ons vertrek van hier af.”

      Sy glimlag dankbaar vir hom. “Goed, dit sal my wonderlik pas.”

      Sy draai na Spies. “Is dit reg so?”

      “So reg soos ’n roer.”

      Hy klink egter sarkasties, en sy wonder of hy nie jaloers is op Louis nie. Louis sal vir enige man kompetisie wees wat vroue se bewondering betref. Hy is so besonders. Aantrekliker as die gemiddelde man, manlik sonder om macho en taai te probeer wees, en medemenslik. Die ideale geneesheer.

      “Wil julle die kliniek sien?” vra Louis.

      Clare willig dadelik in. “Kan ek foto’s neem? Ek wil graag daaroor skryf, dat die wêreld kan weet hoe erg dit hier gaan.”

      “Ja, jy doen ons dalk ’n guns. As mense bewus gemaak word van die nood in Sierra Leone, kry ons meer hulp en meer medikasie.”

      Hulle volg hom en hy wys vir hulle gevalle. Clare neem foto’s en skryf in haar notaboekie. Sy sien hoeveel respek mense teenoor Louis toon, en dit verhoog haar eie respek vir hom.

      “Mense wat ledemate verloor het, kry wat ons noem spookpyn,” vertel hy. “Ons gebruik middels soos amitriptilien en karbemazepien, wat ’n kragtige effek het op die kroniese pyn wat mense ná amputasie ervaar.”

      “Ag, die arme mense,” sug Clare kort-kort. Dit ontstel haar geweldig om die lyding te aanskou, maar sy sien Spies loop met ’n geslote gesig. Hy moes in sy lewe al baie lelike goed gesien het en taamlik gehard geraak het, veronderstel sy.

      Louis neem hulle na die seun by wie hy gestaan het toe hulle ingekom het.

      “Hierdie is Bernard,” vertel hy. “Ek het hom ’n kombinasie van ibuprofen, parasetamol en tramadol gegee. Dit was die mees effektiewe pynverligting. Hy kan al ontslaan word, want hy is so te sê gesond. Wel, liggaamlik in elk geval. Geestelik is ek nie so seker nie. Sy mense is in die suidooste en toe hulle voor die RUF uitvlug, het hy van hulle verwyder geraak. Sy een hand is deur die rebelle afgekap. Hy is saam met ander beseerdes hierheen gebring, maar hy wil teruggaan.


Скачать книгу