Tot die dood ons skei. Malene Breytenbach
Читать онлайн книгу.eers die honde kombuis toe en maak hulle toe voordat hy die voordeur gaan oopmaak. Van agter in die huis blaf die honde verwoed.
Lucille Wiid is in ’n sweetpak en haar hare is deurmekaar. By haar is twee polisiemanne.
“Hallo, professor, hier is ons,” kondig sy aan. “Sersant Adams en konstabel Truter gaan rondkyk. Konstabel Truter het sy wolfhond Smiley gebring om die spoor op te tel. Waar is jou honde? Hy vreet hulle dalk voor brekfis op.”
Reinhard wil lag vir haar manier van praat, maar hy bly sedig. “Ek het hulle toegesluit, julle kan maar vir Smiley bring. Ek hoop net die hond byt mense nie maklik nie.”
“Nee, hy’s goed getryn, professor,” verseker die konstabel hom plegtig. Hy haas hom om die hond agter uit die voertuig te haal en bring hom met die leiband nader.
“Oukei, manne, tjek die plek,” beveel die kaptein. “Ek gaan self met my flitslig om die huis loop.”
Reinhard loop saam met haar en hulle fynkam elke hoekie.
Sy draai terug na die huis. “Wel, hier’s niks te vind in die donker nie. Spore sal ons môre kom soek. Ek gaan kyk wat die poeliesmanne regkry. Gaan u maar in, professor.”
“Nee, ek soek saam.”
Van die hek af sien hy hoe die twee mans en die snuffelende hond langs die rivier soek. Die ligte van die flitse skyn hier en daar.
Hy en die kaptein stap oor die straat en draf agterna, maar naderhand gaan staan konstabel Truter. “Hier’s niks. Die booswig is skoonveld. Ons moet maar ligdag weer kom.”
Die kaptein draai na Reinhard. “Moet ek ’n polisiewag by u huis los?”
“Hemel, nee. Ek is groot en lelik genoeg om na myself te kyk, en my seun is veilig by sy ouma.”
“Oukei, professor.”
Groot genoeg maar lelik beslis nie, dink Lucille Wiid meewarig.
Nadat almal weg is, skakel Reinhard die ligte af, laat die honde uit en gaan kamer toe. Sou iemand nou sowaar kom om my leed aan te doen? wonder hy.
Van nou af sal hy gedurig oor sy skouer moet kyk. Hy hou nie daarvan om bedreig te voel nie, al dink hy hy kan hom goed verdedig as iemand handgemeen sou raak.
Mits die aanvaller hom nie probeer skiet nie …
Reinhard word wakker van die voordeurklokkie wat lui en besef die son skyn in. Dis al agtuur toe hy op die horlosie langs sy bed kyk. Hy het sowaar ná ure se wakker lê aan die slaap geraak en toe verslaap hy. Gelukkig is dit Saterdag.
Hy het net ’n kortbroekie aan en trek vinnig ’n T-hemp aan voordat hy deur toe draf.
“Stil, julle!” roep hy vir die blaffende poedels wat in die gang aangehardloop kom.
“O, môre,” groet hy verbaas, want kaptein Wiid staan daar in romp en bloes en lyk asof sy vanoggend meer moeite as gewoonlik met haar voorkoms gedoen het. Die honde ruik en lek aan haar hand en sy streel hulle koppe.
“Môre, professor. Jammer om ’n slapende hond … ekskuus, man … wakker te maak, maar ek het nuus. Goed of sleg, u moet maar self oordeel.”
Hy kry ’n nare voorgevoel. “Kom in, kaptein.” Hy staan terug en laat haar inkom.
Soekie verskyn in die gang, afdroogdoek in die hand, en kyk nuuskierig na hulle.
“Soekie, gaan maak asseblief vir ons koffie,” vra hy en beduie dat die kaptein sitkamer toe moet gaan.
Sy gaan sit nie, maar kyk hom deurpriemend aan.
“Laat ek nou maar met die deur in die huis val, professor. Ons manne soek al van vroegdag af vir spore van gisteraand se indringer. Ons het iets gekry, maar dit loop dood by die rivier.”
“Sit, asseblief,” nooi hy.
Sy gaan sit op die punt van die stoel. “Ons het vermoed ’n bergie kon hier kom lol het, maar toe vind ons iets anders.”
Sy bly stil om dit te laat insink.
“Wat anders?” vra hy en sit vorentoe.
“ ’n Lyk, professor.”
Hy gaap haar woordeloos van skok aan.
“Ja, dis die lyk van ’n bruin man, middeljarig, armoedig aangetrek, of in werksklere. Dit kan ’n bergie wees, maar ek vermoed dat dit dalk u tuinier kan wees.”
Ná ’n paar sekondes kry hy sy stem terug. “Dis verskriklik! Moet ek kom kyk of ek hom kan uitken?”
Sy knik, haar oë op skrefies getrek. “Hy’s al na die lykshuis geneem … en dis nie ’n mooi gesig nie. Ons het hom onder die brug gekry wat na die Coetzenburg-sportkompleks lei, halflyf in die rivier. Ons moet nog bepaal hoe hy dood is, maar my kontensie is hy’s geskop en herhaaldelik oor die kop geslaan, die arme ou. Ons dink hy is ongeveer dieselfde tyd as u vrou dood, maar die lykskouing sal dit uitwys. Dalk het hy iets gesien – die moordenaar besig om die daad te pleeg en weggevlug – maar die moordenaar het hom gekry en hom doodgemaak. En so gesorg dat hy – of sy – nie uitgeken kan word nie. Soos hulle in die stories sê: the plot thickens.”
Reinhard voel hoe hy verbleek het. Sy wange voel vreemd dood. As dié verdagte dood is, gaan hulle mos nou weer na ’n verdagte soek.
“Dalk is beide u vrou en hy deur dieselfde persoon of persone vermoor, dalk nie. Ons kry soms lyke van haweloses. U moet maar kom kyk of u hom kan herken, al is hy ’n bietjie voos.”
Die harde woorde word versag deur haar stemtoon en die simpatieke manier waarop sy na hom kyk.
Soekie kom in met koffie.
“Die polisie het ’n lyk in die rivier gekry,” vertel hy haar. Sy skrik só groot dat sy die skinkbord vinnig op die tafeltjie neersit en van die koffie stort.
“O jissis, Professor. Is dit nou nog ’n moord?”
“Ja, dit is,” beaam die kaptein.
Soekie lyk tranerig. “Dis nie dalk ons arme Abel nie, of hoe?”
“Ek moet gaan kyk of ek hom herken,” sê Reinhard. “Ek sluk net gou my koffie, dan gaan trek ek aan. Dalk is dit nie hy nie.”
“Ja, dit is hy. Dis Abel Brynders, my tuinier.”
Reinhard kyk na die gapende kopwonde. Sy maag kolk en hy moet sluk.
“Oukei, professor,” sê die kaptein. “Nou weet ons. Dankie dat u gekom het. Ek weet dis afskuwelik om te sien. Sal ek die familie laat weet?”
“Asseblief.”
Sy neem sy arm en lei hom uit.
Reinhard voel naar toe hulle by die lykshuis uitkom. Die lyk het sleg gelyk, maar dis ongetwyfeld Abel. Wat hom nog erger laat voel, is dat hy weet Monique is in dieselfde lykshuis. Dis verskriklik dat hy haar nog nie kon begrawe nie. Sy lê stokstyf bevrore in een van daardie laaie.
Hy ril, en nie van koue nie. Daar is ’n slegte smaak in sy mond.
“Sjym. Ek dink professor het ’n lekker koppie tee nodig.”
Hy gryns vir haar. “Eerder ’n sterk dop.”
Toe sy hom in haar motor huis toe neem, kyk sy kort-kort na hom. “Dis maar swaar tye, nè?”
“Inderdaad.”
“Een dag was alles nog hunky-dory, toe die volgende dag is alles onderstebo.”
Sy klink verbasend simpatiek, nie of sy Schadenfreude het nie, dink hy.
“My lewe is omgekeer, ja. My seun s’n ook. Ek wou hom vandag by sy ouma gaan haal, maar dalk moet hy ’n bietjie langer daar bly.”
“Ja, vir eers. Gaan kuier, maar los hom by die ou tannie. Nou nie dat ek veel van kinders af weet nie, want ek is single en available …”
Toe