Die boek van Ester. Wilna Adriaanse

Читать онлайн книгу.

Die boek van Ester - Wilna Adriaanse


Скачать книгу
is nie regtig honger nie,” begin sy verskoning maak. “Jy gaan my in die gesig vat as jy nie eens proe nie.”

      “Ek sal siek word as ek dit moet eet.” Sy raak-raak met die vurk aan die repe gebraaide lewer en kyk dan hoe hy met oorgawe begin eet, nadat hy gebid het.

      “En dan sê jy jou pa het nie bang kinders grootgemaak nie!”

      Sy sny ’n stukkie vleis af, skep ’n hoop aartappels bo-op en sit dit in haar mond. ’n Rilling trek deur haar lyf. Sy voel hoe die hap kos dreig om in haar keel vas te steek, maar sy kry eindelik gesluk. Dan neem sy ’n groot sluk bier.

      “Ek is seker daar is kos wat jy ook nie eet nie.”

      “Nie regtig nie. Alles is nie vir my ewe lekker nie, maar ek hou daarvan om vreemde smake te probeer.”

      “Selfs iets soos sushi?”

      “Selfs sushi.”

      Sy sit agteroor en kyk belangstellend hoe hy hap vir hap neem en stadig kou. Soms sit hy agteroor en neem ’n sluk bier. Dan bekyk hy haar sonder om ’n woord te sê. Sy haal ’n pakkie sigarette uit haar skouersak en sit en speel ’n rukkie daarmee op die tafel. Die stilte rek en sy skuif haar stoel ’n entjie agteruit voordat sy ’n sigaret aansteek. “Waarom maak stilte jou so onrustig?”

      “Dit maak my nie onrustig nie. Ek is net gewoond daaraan dat waar twee of meer mense bymekaar is, daar gesels word. Dis normale interaksie.”

      “Mense praat oor die algemeen te veel. Soms sê ’n mens baie meer deur stil te bly en dikwels hoor mens mekaar baie beter as daar nie woorde betrokke is nie.”

      “Is jy in jou vrye tyd nog ’n filosoof ook?”

      Hy dra hulle borde kombuis toe en kom met ’n bottel wyn en twee glase terug. Hy maak homself op een van die rusbanke tuis en skink vir hulle elkeen ’n glas wyn. Dan lê hy lui agteroor en laat sy voete op die groot koffietafel rus.

      “Ek sal nie weer vra om foto’s hier te kom neem nie, maar kan Henry nie net kom kyk nie? Hy verkyk hom aan alles en almal en die feit dat jy in ’n boomhuis bly, fassineer hom.” Sy tel een van die glase op en gaan sit op ’n gemakstoel oorkant hom.

      “Laat jy enige vreemdeling wat jy teëkom, sommer net in jou huis toe?”

      “Hy’s nie enige vreemdeling nie.”

      “Dan is daar iets wat jy vir my ook moet doen.”

      “Wat?”

      “Verwyder die foto’s wat jy vanmiddag van my geneem het van jou kamera.”

      “Die foto’s van jou op die olifant? Jy weet nie eens hoe dit lyk nie. Waarom wil jy nie hê ek mag foto’s van jou hê nie; dis nie asof ek heimlik op jou verlief is en nou skielik my hele woonstel met foto’s van jou gaan toeplak nie. Ek sal dit ook nie gebruik nie, as dit is waarvoor jy bang is.”

      “Wat wil jy dan daarmee maak?”

      Sy haal haar skouers op. “Ek het baie foto’s wat ek nooit gebruik nie.”

      “Jy hoef nie foto’s van my op ’n olifant se rug te hê nie. Dis nie ’n sirkus nie. Ek is seker hier’s baie ander dinge wat jy eerder kan afneem om vir die mense by die huis te gaan wys.”

      “Ek kan nie verstaan waarom Ira sê jy’t nie hang-ups nie. Jy is een lopende kontradiksie en verwar die hel uit my uit.”

      Hy haal sy skouers op. “Jy is geregtig op jou mening, maar as jy vir Henry my huis wil wys, is dit my voorwaarde.”

      “Jy moes ’n moerse slegte dag gehad het.”

      “Ek het eintlik ’n heerlike dag gehad. Dit het eers laatmiddag begin sleg word.”

      Ester gooi haar hande in die lug. “Hoeveel keer moet ek nog sê ek is jammer dat ek jou gepla het? As ek geweet het dit gaan so ’n helse probleem vir jou wees, het ek veel eerder by die kamp gebly.” Sy vee deur haar hare. “Vader, dis nie asof ek jou die hele week gepla het nie.”

      “Dis terloops die eerste keer dat jy om verskoning vra.”

      “Ek het net nie gedink dis so ’n groot oortreding nie.”

      “Amerika dink gewoonlik ook nie hulle invalle is oortredings nie.”

      Ester staan op. “Miskien moet ek net die Jeep leen en terug kamp toe ry. Ek sal iemand daar vra om dit môreoggend vroeg vir jou terug te bring. Ek is seker as jy my beduie, sal ek die plek kry.”

      “Die sleutels hang daar in die kombuis. Jy ry net met die pad soos ons die eerste dag gekom het. As jy deur die rivier is, vurk die pad. Neem die linkerkantste een, maar draai daarna slap regs om die groot kremetart en as jy by die akasia met die gebreekte tak verbygaan, moet jy ’n U-draai maak en weer vir ’n rukkie al langs die rivier ry. By die plat klip moet jy die Jeep na eerste rat toe oorskakel, want dis ’n steil bult. Moenie dat die Jeep daar vrek nie, dan sukkel ’n mens nogal. Hou dan net nog so vier kilometer aan, dan draai jy weg van die rivier af en ná so ongeveer tien kilometer behoort jy die ligte van die kamp te sien.”

      Toe sy besluiteloos bly staan, frons hy liggies. “As jy dalk die troppie leeus wat gewoonlik daar naby die plat klip is, raakloop, moenie skrik nie. Stop net en klim onder die Jeep in. Hulle kruip gewoonlik nie onder voertuie in nie.”

      “Dit sal jou verdiende loon wees as ek opgevreet word.”

      “Nee, dit sal jóú verdiende loon wees. ’n Mens moet nooit so arrogant wees om te dink jy is meester van elke situasie nie. Dis ’n kwaal waaraan die meeste Westerlinge ly.”

      “Ek kan nie glo jy sal my in die nag alleen laat ry nie. Is mans nie veronderstel om êrens ’n ingebore beskermingsdrang te hê nie?”

      “Net teenoor vrouens wat beskerming verdien.”

      “En ek verdien nie vanaand jou beskerming nie?”

      “Dink jy jy verdien dit?”

      “Ek hoop nie jy behandel al jou gaste so nie.”

      Hy klop op die rusbank langs hom. “Kom sit, Green. Jy weet jy gaan nêrens heen ry nie en dit help nie jy baklei met my nie.” Hy skud sy kop. “Die vader alleen weet, jy het te veel baklei in jou. Jy maak my moeg.”

      Sy huiwer ’n oomblik voordat sy oorkant hom op ’n stoel gaan sit en haar bene onder haar intrek. “En om te dink Ira het gesê jy’s nice.”

      Sy tel weer die halfgedrinkte glas wyn op. “Sy mensekennis is beslis nie meer wat dit was nie.”

      “Het jy so ver mooi foto’s geneem?” verander hy die onderwerp en dis asof haar skouers skietgee. Sy sak agteroor teen die rugleuning.

      “Ek hou nie van mooi nie. Dis die laaste ding wat ek wil hê mense oor my foto’s moet sê.”

      “Wat wil jy hê moet hulle sê?”

      “Interessant, anders, treffend ... enigiets, maar net nie mooi nie. Mooi is so vervelig.”

      “Het jy so ver interessante en treffende foto’s geneem?”

      “Ja. Ek probeer om dit nie net nog ’n Out of Africa-shoot te maak nie. Ek soek iets anders. ’n Skerpheid.” Hy antwoord haar nie. Sy vee deur haar hare en toe sy verder praat, beduie haar hande saam.

      “Waarom sal ek ’n konsep soos mooi probeer verkoop as almal weet dit bestaan nie meer nie? Ek is nie eens meer seker of dit ooit bestaan het nie. Dis was heel waarskynlik nog altyd ’n vals gerug. Die wortel wat mense vorentoe laat beweeg het. Soekend en daarom nooit tevrede nie. Maar solank die pot goud aan die einde van die reënboog aan hulle voorgehou is, het almal bly soek.” Sy neem ’n sluk wyn. “Mooi en onskuldig gaan eintlik hand aan hand en ons almal weet die wêreld het lankal sy onskuld verloor. Ons kan netsowel wys hoe dit nou is.”

      “En hoe is dit nou?”

      “Gestroop. Bar. Lelik. Die wêreld het lelik geword.”


Скачать книгу