Bottelnek. Piet Steyn
Читать онлайн книгу.in Waverley.
Hy vryf oor sy oë. Hoe bleddie amper was hy en Kat nie langbome toe nie. En dit omdat hy soos sy gat skiet. Kat het hom ná die Waverley-spul skietbaan toe gedwing. Die pistool makeer niks, dis alles in sy kop.
Hy steek sy hande in sy broeksakke en kyk na waar daar nog ’n grys mistigheid hang tussen die swart stamme van die bome langs die N1. ’n Paar hadidas kom sit skellend op die stukkie gras voor die deur, bekyk hom wantrouig met hulle kraalogies.
Maar eintlik was dit ’n tipiese Vrydagnag in die Goudstad: ’n Gewapende roof by ’n restaurant in Newtown, ’n messtekery by ’n dronknes in Fordsburg en twee kapings op die ou Pretoria-pad. Die verskil was net dat hy van diens af was, en bloot saamgery het sodat hy nie by die huis moet sit en dink nie.
Die sleutel knars in die slot en hy tel die toksak met die ou Transvaalse Rugby-unie se wapen op. Deur die skrefie tussen deur en kosyn loer Ann oor die veiligheidsketting, haar bos rooi hare ongekam, blou oë dik van die slaap. Boonop is sy besig om tande te borsel. “Ek is nog in my pajamas,” sê sy beskuldigend langs die tandeborsel verby.
“Dis orraait, ek soek net koffie, niks anders nie.”
“Gmf. Dis wat jy altyd sê.” Sy glimlag onderduims, keer met ’n slank voorvinger dat tandepasta drup en druk die deur effens toe om die ketting los te haak.
Pine laat val die sak in die voorportaal en sit sy hande op haar skouers. Sy hou haar wang, die tandeborsel in haar kies, en stoot hom dan voor haar uit tot in die woonkamer. Sy hou aan borsel, duiweltjies in haar oë. Sy het ’n kort, liggroen satynslaapbroek aan en ’n los wit T-hemp met die woorde Bad Girl wat op die kurwes van haar lyf dein. Pine vee ’n smeersel tandepasta van sy wang af, sy oë skielik nie meer so moeg nie. Hy gee ’n tree voren-toe, sy mond droog.
“Aikôna,” sê sy beslis, “ons kom nooit verder as die portaal nie. In elk geval, ons gaan éérs tennis speel, jy’t dit nodig. Onthou, jy’t belowe.” Sy beduie met die borsel. “Maak solank koffie.”
Hy voel die frustrasie in hom kriewel. ’n Nag in ’n patrolliemotor met die reuk van sweet en rook eis sy tol.
“Jy skud en skommel,” sê hy, maar hy klink nie so speels soos wat hy dit wou hê nie.
“Hoe nou?” vra sy verbaas, haar wenkbroue groot vraagtekens teen haar voorkop.
“As jy so borsel, skommel jy.” Hy beduie met sy twee wysvingers heen en weer voor sy bors.
Sy lag, moet weer keer vir tandepasta. Dan skud sy haar bolyf uitlokkend en skuifel agteruit by haar slaapkamer in.
Pine draai stil om en maak die elektriese ketel vol. Hy tuur by die kombuisvenster uit terwyl hy wag vir die ketel om te kook. Hy voel die opgewondenheid stadig uit hom vloei, weet hy moet dit probeer keer, maar kry dit nie heeltemal reg nie. Jy’t dit nodig! Hy stryk ingedagte met sy hand af oor sy maag, probeer dit intrek. Hel, hy het sy hele lewe nog altyd ’n soort van ’n pens gehad. Dis soos hy gebou is; dis soos hy aanmekaargesit is!
“Was julle baie besig?” roep sy uit die kamer.
“Nogal!” antwoord hy terug bo die geruis van die ketel. Inderdaad, en die enigste rede waarom hulle nie gister dood is nie, was omdat daai bliksem se pistool geweier het. Hy staan stil en kyk hoe twee hadidas pik-pik oor die grasperk aanstryk. Hy tas teen sy sy af en trek die Z88 uit sy holster, mik deur die kombuisvenster na die voël naaste aan hom.
Hy sit die pistool terug.
Doen dit weer.
Hy kan die voël se bleddie oog uitskiet!
Hy hoor hoe Ann die stort oopdraai en bêre die pistool. Hy probeer hom haar lyf onder die spuitende water voorstel, dwing hom om te dink aan die seepskuim wat in stroompies teen haar borste afloop, watervalletjies maak, haar plat maag wat die water verder afvoer, die druppels wat glinster op die haartjies.
Maar sy gedagtes spring terug na Kat se gesig, die snorpunte wat op en af beweeg wanneer sy mond die woorde maak: Hoekom skiet jy hom nie?
Nee, my donner! Pine ruk hom letterlik uit sy gedagtegang, wikkel sy skouers en sit die ketel af. Hy gooi die kookwater by die koffiepoeier in die bekers en stap met die skinkbord woonkamer toe. Hy onthou weer van sy maag, trek dit in. Ann het nou hierdie ding met tennis speel. Sý speel gereeld en het dit nou in daardie mooi rooi koppie van haar gekry dat oefening al is wat sal help vir sy kostelike figuurtjie.
Ag hel. Miskien moet hy maar eers gaan tennis speel.
Hy sien haar deur die kamerdeur te voorskyn kom, swewend met ’n wit tennisrok aan. Haar hare, nog nat van die stort, het sy met strikkies in stertjies langs haar kop vasgemaak. Sy hou die soom van die kort rokkie met haar vingerpunte vas, kyk skalks na hom en maak ’n kniebuiging.
“Hoe lyk ek?”
Pine vergeet van die koffiebeker in sy hand. Hulle gaan sê hy’s ’n pedofiel as hy só met haar by die tennisbaan aankom. Sy laat hom dink aan ’n kys wat hy in standerd agt gehad het, net so hups ook. “Gaan,” hy kug, “gaan jy so tennis speel?”
“Ja, natuurlik,” sê sy doodonskuldig. “Wat’s jou probleem?” Sy krap haar kuit met haar kaal groottoon.
“Die … die ding is te bleddie kort, dís my probleem,” brom hy, en weer val dit hom op dat hy skerper klink as wat hy sou wou. “Jy kan nie so gaan rondspring nie,” sê hy in sy koffiebeker in. “Jy … Hoe gaan jy ’n bal opgetel kry? Ek … ek meen …”
“Ag, toenou, oupa,” lag sy, “kom trek die ritssluiter op.” Sy draai haar rug, met die rok wat wyd oor haar rosige vel oopflap, op hom.
Pine kyk skuins van sy koffiebeker op. “Jy was nooit van plan om te gaan tennisspel nie, of hoe?” Hy kry dit reg om te glimlag.
Ann loer vir hom oor haar skouer. “Hoekom?” vra sy en pruil oordrewe. Die tatoeëermerk bokant haar boud loer langs die ritssluiter uit.
“Speel ’n mens nie met ’n bra tennis nie? Of het jy net vergeet om een aan te sit?”
“Dis nie al wat ek vergeet het nie.” Sy laat die rok van haar skouers afgly, strek haar arms bokant haar kop uit.
Pine sit die koffiebeker versigtig neer, sonder om sy oë van haar weg te neem. Hy stap stadig op haar af, sit sy arms om haar naakte lyf en druk haar kaal rug teen hom vas.
Sy gooi haar kop agteroor, dwing haar onderlyf teen hom vas. Hy laat sy hande oor haar lyf gly, soen haar in haar nek, in haar hare, agter haar oor. Ann sit haar hande op syne, stuur hulle na waar sy hulle wil hê, maak ’n sagte kermgeluidjie. Sy draai om, dwing sy mond met hare oop, haar tong soekend, tergend. Sy trek sy hemp oor sy kop, tart sy tepels, sukkel met die knoop van sy denim.
Pine maak sy oë toe, probeer hom oorgee aan die sensasie. Konsentreer op haar sterk, wriemelende tong, die klam vel onder sy vingers. Hy wag vir die roering in sy broek, wag, wág … Maar iets swarts fladder in sy gedagtes.
Skiet die bliksem, Pine!
Klik!
Niks.
Hy ruk sy oë oop. “Wat is fout, ou grote,” hoor hy Ann sê, voel haar lippe teen sy bors roer. Hy kyk af op haar nat hare, soen haar op die kroontjie en skuif sy arms oor haar skouers af. Hy knoop sy denim vas. “Kom,” sê hy gemaak entoesiasties. “Kom ons gaan looi eers daai tennisballe.”
Sy staan vinnig weg van hom, haar hande op sy voorarms, soek in sy gesig. “Pine?”
Hy kyk weg, draai om en tel sy hemp van die vloer af op. “Kom,” sê hy, sy stem so lig soos wat hy dit op die oomblik kan maak. “Kom ek wys jou eers wie is regtig baas.”
Ann trek die tennisrok oor haar kop, trek die rits op en kom staan weer voor hom, sluit haar hande agter sy rug en kyk op na hom, haar oë steeds soekend. “Is dit ek?” vra sy.
Hy skud sy kop. Weet hy moenie probeer voorgee nie, maar probeer tog. “Nee, hel, Ann, ek dink net ek – ons – het miskien regtig