Abel se lot. Chris Karsten
Читать онлайн книгу.afspraak. Kortaf die grafregisters geëis, en sy stoel. Terwyl sy na name en grafnommers gesoek het, moes hy staan-staan by die deur sy Marmitetoebroodjies en koffie afsluk. Halfvyf het hy opgepak, en sy was steeds tussen die grafte met haar kamera en notaboek.
En hier staan sy nou soos ’n natgereënde hoender. Neem nie aan die gesprek onder die seil deel nie, vingers strelend oor haar maag. Tuur afgetrokke in die oop graf asof sy die inhoud van die houtkis probeer peil.
Sy blik verskuif na die groot polisieman met die growwe stem. Statuur, stem en snor, dink die opsigter, van ’n man wat nie kak vat nie. Duidelik in beheer van die ongewone verrigtinge.
Die opsigter luister met verdeelde aandag na die dilemma wat die polisiemanne met die twee begrafnisondernemers bespreek. Hy haal sy selfoon uit sy broeksak, loer skelm. Dié lui selde, maar dis handig wanneer die alarm hom verwittig dat die etensuur aangebreek het, of huistoegaantyd. En die vogtige lug sit juis in sy litte, bring die pyne in sy voet, in sy hamertoon. Vanaand moet die vrou weer die jigsalf invryf.
“Die kis is erg verweer,” sê die ouer begrafnisondernemer. “Dennehout, en onvernis. Al begin verrot van die klam grond en boorwurm.”
Die opsigter kén meneer Poppe Senior met sy lang, dun nek. Al ’n goeie veertig jaar in die lykbesigheid, byna so lank as wat hy opsigter is. Ken ook die een neffens hom, sy seun, meneer Poppe Junior. Bietjie van ’n windhol na die opsigter se smaak. Glo ’n ekspert met balseming. Het in Mississippi gaan studeer, State Institute for Embalmers and Morticians, spog meneer Poppe Senior graag wanneer hy ’n graf kom inspekteer voor ’n teraardebestelling. Hy moet seker maak dat die spesifikasies van die gat aan munisipale vereistes voldoen.
Die opsigter weet nie waar Mississippi is nie, vra nie uit nie, stel nie belang nie.
“Ons kan nie die hele dêm middag hier staan en redekawel nie,” sê die polisieman met die snor; hy word aangespreek as kolonel Sauls. “Wat stel julle voor? Julle is die kenners.”
Meneer Poppe Senior en Junior se maer koppe leun na mekaar oor. Die opsigter loer weer na die tyd op sy selfoon. By die hoop rooi, modderige grond trap die pikslaners stompies dood, die grawers verskuif op hulle graafstele.
“Ons het ’n plan,” sê meneer Poppe Senior.
Die vrouespeurder, sien die opsigter nou, het ongesiens beweeg tot waar die kopsteen uitgehaal en plegtig neergelê is voor die eerste pikhou. Ook sy kyk afwagtend op na die twee ondernemers met die plan. Albei is in swart pakke, wit hemde, grys dasse styf om die dun nekke, elk met ’n oopgeslaande swart sambreel in die hand.
“Ja?” Die kolonel klink kortgebaker.
“’M … is ek nog hier nodig?” vra die opsigter.
Gesteurde trek in die oë toe die kolonel na hom omkyk.
“Nee. Ons sal laat weet wanneer jou manne die graf weer kan opvul. Miskien oor ’n week of so.”
Die opsigter wink met ’n kopknik sy vier grafgrawers, hoor met die wegstap die diep stem sê: “So, wat’s julle plan om die kis uit te kry?”
Adjudant Ella Neser kyk hoe die opsigter en sy span wegstap, die fles in sy hand swaaiend langs sy been, kop nekloos ingetrek in die kraag van sy reënjas, ’n effense hink in sy tred asof sy skoen hom druk. Sy vee ingedagte met die agterkant van ’n hand oor haar nat voorkop, voel hoe haar bloes koud aan haar vel kleef. Sy kan daardie middag goed onthou toe sy by die wendyhuis ingestap het. Sy onthou die bonsing in haar bors, die bewing in haar vinger wat onder ’n inskrywing in die grafregister vasgesteek het.
Sy het die graf gekry van die ma van die reeksmoordenaar na wie sy soek. Dit was ook laatmiddag soos nou, maar ’n warm, droë dag, en winderig, en sy het toe geen spesmaas gehad van die verskriklike en noodlottige effek wat haar besoek aan hierdie graf tot gevolg sou hê nie.
Haar hand glip teen haar nat bloes af. Sy het in die afgelope maande ’n hebbelikheid aangeleer. Wanneer sy iets bepeins, streel sy met ’n vinger aan die regterkant van haar middel af, laag oor haar maag, oor die vae wit operasieletsel van toe haar blindederm op twaalf uitgehaal is. Dit het haar voorheen nooit gepla nie, maar nou is haar maagvel bederf met nuwe letsels, en dié het nog nie vervaag nie. Dit is nie weens ’n irritasie dat haar vingers die wondvel koester nie, dis asof hulle instinktief die letsel opsoek wanneer sy aan hóm dink. Aan Abel Lotz. Soos nou hier by die graf.
Die graf wat haar gelei het tot die ontmoeting in sy kombuis, die gebeure in haar geheue vasgelê. Toe sy opgekyk en hulle oë mekaar ontmoet het. Daardie blik tussen hulle, toe albei gewéét het: die jagter en die gejaagte het mekaar gevind. En sy vir ’n oomblik verlam was, soos ’n muis deur die oë van ’n slang.
Sy hand kan sy onthou, toe dit uitskiet om haar kop teen die porselein van die ou wasbak te kraak. Die lem van sy skalpel teen haar maag het sy nie gesien of gevoel nie, net die gevolge toe sy bykom. Die nuwe littekenweefsel is steeds dieppers en opgehewe, die proses van heling nog aan die gang. Soms jeuk dit, maar nie meer so erg as vroeër nie.
Ella hoor die knorrigheid in Silas Sauls se stem.
Meneer Poppe Senior hoes amegtig voor hy sê: “Ons sal die nuwe katrolraam oor die graf opstel. Soos vir ’n begrafnis. Nie om ’n kis te laat sak nie, maar om hierdie een op te hys. Die katrolraam is ontwikkel met ruimtetegnologie, van titaan, in Mississippi ver- …”
“Bring dit!” beveel kolonel Sauls.
“Die bodem sal ons stut sodat sy nie uitval nie. Ons wil haar nie in die graf agterlaat nie, nè, kolonel?”
“Nou toe, waarvoor wag julle?”
’n Nuwe hoesbui. Meneer Poppe Senior vee die fleim met ’n groot wit sakdoek van sy dun lippe af.
Hy staar die grafgrawers agterna. “Wie moet inklim?”
“In die graf in?” Meneer Poppe Junior buk, vee met sý wit sakdoek oor die modderspatsels aan sy swart skoene, poets die blinkleer. “Iemand moet inklim om die stut en bande onder die kis in te kry.”
“Fred,” sê kolonel Sauls vir die ander speurder. Dié het op die opsigter se staanplek ’n sigaret gaan aansteek.
Luitenant Fred Lange druk ’n duim en voorvinger in sy mond, fluit skril. Die opsigter en sy span steek vas, kyk terug graf toe.
“Nog nie klaar nie!” roep Fred. “Nog iets waarmee julle moet help.”
Uit die lykswa op ’n inrypad tussen die grafte bring Poppe-pa-en-seun self die katrolraam met sy breë nylonbande nader. Hulle stel dit versigtig oor die graf op.
Ella kyk weer af na die kopstuk. Dit lê eenkant, die reëndruppels soos kwiksilwer op die gepoleerde graniet.
Dorkas Johanna Lotz (née Linde), 11.12.1930 – †11.08.2005. Rein is ek, sonder oortreding; suiwer is ek, en daar is geen skuld by my nie. – Job 33:9.
Nie gesondig nie, dink Ella, maar die lewe geskenk aan Abel, die kind wie se gees sy kon brei en formeer en boetseer soos klei. Nie gesondig nie? Net ’n fokken monster geskep. En dis nie hiperbool nie, dit wéét sy uit eie ervaring. Die bewyse, die letsels, is aan haar liggaam, in haar vel ingekerf.
Sy is net vaagweg bewus van die gewerskaf in die graf, hoor die opdragte van die menere Poppe aan die twee grawers. Natuurlik is die begrafnisondernemers nie ingelig oor die rede waarom Dorkas Lotz se kis opgegrawe word nie. Ella vermoed hulle sal graag wil weet, maar hulle vra nie uit nie. Die lasbrief vir die opgrawing het meneer Poppe Senior sorgvuldig bestudeer, sy kop geknik en dit geliasseer. Dit is net gepas dat sy onderneming die opgrawing doen, aangesien hulle destyds die gestorwene hier ter aarde bestel het. Hulle sal ten beste weet hoe om die kis en sy inhoud te hanteer.
Die menere Poppe hoef ook nie te weet dat dit byna twee maande geduur het voordat die aansoek om ’n lasbrief uiteindelik goedgekeur en deur die hooflanddros self onderteken is nie. Selfs met grondige redes en motiverings wou die landdros homself eers vergewis dat die polisie inderdaad geen naasbestaandes van die oorledene kon opspoor oor die opgrawing