Abel se lot. Chris Karsten
Читать онлайн книгу.“Wat kom hy doen?” vra Zoran. “Die bibliotekaris.”
Vlatko haal sy skouers op. “Wil glo met die bevelvoerders by Lukavica gaan praat.”
Die pad na die Romanija-bevelvoerders is deur die Serwiese linie suid van die rivier, deur die Serwiese woonbuurte. Om die rivier ongedeerd na Serwiese kant oor te steek met enige van die brûe, moet ’n boodskap na die sluipskietneste versprei word dat toestemming verleen is aan ’n burgerlike, in hierdie geval ’n bibliotekaris, om die spitsroede by Vrbanja te loop. Oorkant die brug, aan Serwiese kant, sal hy ingewag en na Lukavica gevat word om sy saak te stel.
Vlatko sal graag wil hoor wat die bibliotekaris se saak is, wat so belangrik is dat hy bereid is om sy lewe te waag.
“Fokken spioen vir die Bosniaks, as jy my vra,” sê Zoran.
“Of ’n verraaier. Dalk bring hy nuus in ruil vir sy gesin se veilige uitvlug uit die stad.” Vlatko kyk hoe Zoran weer uit die bottel sluk.
Agter in die lorries het hulle ook Slivovitz gedrink, in die konvooi FAP-troepelorries met die Nora-houwitsers agteraan gehaak, van Dubica af om die Sana-vallei te gaan skoonmaak. Hulle, Arkan se Tiere, het besope die Hotel Prijedor beset, en eers die volgende dag kon hulle bevelvoerders die strategie vir die militêre aanslag aan hulle verduidelik. Die plan was eenvoudig en effektief. Die vyand – die heidense Bosniak-Moslems en die Katolieke Kroatiese Ustaše – word eers saggemaak met die grofgeskut, hulle huise en kerke in puin gelê deur die houwitsers, 125 mm-kanonne van die paar rammelende T54-tenks, en die Oganj-vuurpyllanseerders, elk met 32 lanseerbuise van 128 mm-kaliber. Daarna, ná die sagmaak, word pelotons uit die Hotel Prijedor ingestuur om te gaan opruim, weerstand te smoor, versetvegters uit te ruik en aan te keer. Bedags orgies van moord en verkragting, saans sang en drank, bottels vol Slivovitz, borde vol cevapcici met uie en ’n dik sous van soetrissie, brandrissie, eiervrug en knoffel ingemeng in Kajmak-room.
“Ek kan hom in die bobeen piets,” sê Zoran oor die visier van sy AK. “As verwelkoming op die brug.”
“Of in die sy,” sê Vlatko, “as jy goed kan korrel.”
“Of sy arm.”
“’n Bibliotekaris het sy arm nodig.”
“Dan die been of sy.”
“Nie met die AK nie. Vat myne.”
“Wat’s fout met my AK?”
“Skiet bont, jy weet mos. Veral met die skut vol brandewyn. Vat die M76 as jy mik vir net ’n vleiswond, nie om dood te skiet nie.”
“Jy dink met die AK kan ek nie mik vir ’n vleiswond nie?”
“Ek dink jy kán mik,” sê Vlatko. “Maar ek dink as jy die skoot aftrek, gaan dit nie ’n vleiswond wees nie. Óf mis óf ’n doodskoot. Vat die M76 met die teleskoop.”
“Fok jou M76,” sê Zoran. “Ek piets hom met die AK. Die kat daar. Sien jy hom? Laat ek my oog inkry.”
Vlatko hou die kat op die brug dop, snuiwende, asende na kos. Tref Zoran die kat met sy AK, brandewyn en al, sal hy tevrede wees. Dan is daar hoop dat die bibliotekaris net sal bloei van ’n vleiswond wat hom sal verwelkom en herinner aan die dun draad tussen lewe en dood.
Die skoot klap, die kat spring. Vlatko sien waar die koeël teen die brug kets en ’n skerf beton uitruk. Met vier, vyf hale verdwyn die kat onder die brug in.
“Fok!” Zoran laat sak die AK.
“Jy’t nog tyd vir oefen, om jou oog en visier in te skiet,” sê Vlatko toe hy laggend uitstap, geweer oor die skouer.
Toe hulle klaar was in Prijedor se Stari Grad en in die nedersettings van die Sana, het hulle opgepak vir die volgende plek. Dieselfde vyand, nuwe slagveld. En agter hulle was die lyke. In die weilande tussen die veldblomme, in die boorde en groentetuine, in die koeikampe en varkhokke, in die afgebrande murasies van Hambarine, Carakovo en Rizvanovići, in Biscani en Zecovi het die liggame van honderde mans, vroue en kinders dae lank gelê. Sommige in vlak massagrafte waar Vlatko en Zoran en hulle makkers probeer opruim het.
Dit was Mei, warm vroegsomer, en die stank van ontbinding het oor die Sana-vallei gehang toe Arkan se Tiere terugklim op die FAP-lorries en met die houwitsers en T54’s en vuurpyllanseerders vertrek. Agter in die lorries het hulle gelag oor die inwoners wat nou uit hulle skuilplekke kon kruip, uit die murasies van hulle huise, wat verskrik die lug sal beruik en die omgewing bespied voor hulle begin om die verrottende liggame van hulle familielede en vriende te begrawe. In agtertuine en groentetuine, in vrugteboorde en weidings, want die begraafplase was reeds vol.
In Banja Luka het Vlatko en Zoran gedros en hulle by die 1ste Krajina-korps aangesluit. Maar tien dae later het die munisipale polisie begin navraag doen oor die moord op ’n man, sy vrou en hulle tweelingdogters. Vlatko en Zoran het inderhaas in die nag plek gekry in ’n TAM-paneelwa van die Serwiese Romanija-korps op pad na Sarajewo. Hulle wou eintlik Mostar toe gaan. Maar hulle het in Sarajewo vasgehaak, en Vlatko is nie spyt daaroor nie. Hy hou van Sarajewo en van die werk wat hy en Zoran hier doen.
Die bottel was al kwart. Hy weet teen vyfuur, wanneer die bibliotekaris op die brug verskyn, sal die bottel leeg wees, en die kanse vir net ’n vleiswond skraal.
3. Johannesburg, Suid-Afrika, Hede
Luitenant Fred Lange is ’n veteraan van ses en twintig jaar van die ou skool. Toe dit nog moord-en-roof was, nie die eenheid vir ernstige en geweldsmisdade nie. En die gedemilitariseerde range het hom nie aangestaan nie. Luitenant, dis wat hy is. Nie inspekteur nie, nie vleisinspekteur of geboueinspekteur of veeinspekteur nie; nie ’n sprinkaanbeampte van Sluis nie.
Luitenant. Dit klink mos na iemand wat gesag afdwing. En as die meetsnoere vir hom reg val: kaptein Fred Lange. Hy hou van die geluide uit die kantoor van die kommissaris: oorlog is teen misdadigers verklaar. Skiet eers, vra daarna vrae. Dis die taal wat Fred verstaan; hy gee nie om dat die kommissaris Die Generaal genoem wil word nie.
Fred hou voor die hoekkafee in Brixton stil. Frank’s Deli sê die naam op die Coca-Cola-bord. Hy hou van die hoekkafee, van enige kafee wat nog nie uitgedruk is deur supermarkte waar jy nie meer op jou naam gegroet word nie. Hy is laat weg van die opgrawing in Doradopark, moet brood en melk koop op pad huis toe.
Al die donnerse gepiep om Ella Neser. Wat maak háár so spesiaal? As sy ’n moordspeurder wil wees, moet sy hare op die bors hê. Ook nie juis veel van ’n bors nie. Onder kolonel Sauls se groot kieliebak ingedruk, mosbolletjies de lot.
Sal nie verbaas wees as sy ná die Nagsluipersaak ’n aanbeveling kry vir promosie nie, asof sy die saak klaar opgelos het. En sy hét nie. Die man loop los, die moer weet waar, maar sy is skielik die nuwe pin-up. Asof Abel Lotz reeds in C-Max sit, sleutels weggegooi, die dossier gesluit, argiewe toe gepos. En daar is ’n vakature vir kapteinskap.
Die gekraak van die polisieradio toe hy terugklim. Konstbel Stallie Stalmeester se stem uit die radiokamer. Dis nou ’n goeie seun, dié Stallie; ken sy plek, het nog respekte vir ou hande. ’n Liggaam in Hillbrow, sê Stallie, sy stem besadig neutraal. ’n Patrollievoertuig is reeds daar, lyk nie na natuurlike oorsake nie.
Natuurlike oorsake in Hillbrow? In daardie hellegat, Stallie?
Fred sê hy is in Brixton, sal soontoe ry. Maar hy vat eers die melk en brood huis toe. Sy Ans is gewoond daaraan om saans alleen met ’n skinkbord op die skoot voor die TV te sit en eet, sal sy kos in die louoond los. Sy verstaan. Ook ’n goeie vrou, leef al te lank saam met hom en sy ongereelde werkure en buie, maar hou uit. Nou net hulle twee vandat die kinders uit die huis uit is. As hy kaptein word, sal hy haar meer gereeld uitvat vir ete in ’n fênsie restaurant, nie net op haar verjaardag of hulle troudag nie.
Kom met Smit-straat deur Braamfontein, links op in Klein, regs in Pretoria, tref Hillbrow in