Abel se lot. Chris Karsten
Читать онлайн книгу.een keer in sy of haar lewe. Jy is nie ’n uitsondering nie. Ek het jou agtergrond gekry, ook oor jou pa.”
“In die uitvoering van sy pligte geskiet. ’n Polisieman.”
“En hy lê al jare in ’n koma, sonder hoop. Is dit hoekom jy polisie toe is, oor jou pa?”
“Ek hanteer my pa se ding.”
“Ja, maar nou hierdie voorval. Jy’t nooit vroeër berading gehad nie, ná jou pa?”
“Nee.”
“Sterk emosies hoop in jou op. Jy voel skuldig, jy voel kwaad, jy’s angstig om die moordenaar aan te keer. Sulke emosies put nie net jou gees uit nie, maar is ook nadelig vir jou liggaamlike gesondheid.”
“My liggaam? Ek’s nou weer gereeld in die gim, het weer begin oefen, ek draf, ek’s fiks.”
“Trauma werk só, en laat my toe om dit sommer reg aan die begin te verduidelik: met so ’n erge skok skei jou byniere ’n klomp adrenalien in jou bloedstroom af. Jou liggaam, soos jy hier sit, is vol energie gepomp sonder dat dit iewers uiting kry.”
“Dit krý uiting: ek oefen.”
“Die oefeninge help, maar ons moet die oorsake behandel, nie die simptome nie. Dit kan lei tot hoofpyne, pyn in jou skouers, arms, rug, maag, naarheid, vergeetagtigheid, tranerigheid. Jou slaappatroon word versteur, jy word humeurig en aggressief.”
Ja, sy betrap haarself dat swetswoorde in haar gedagtes inglip, miskien selfs oor haar lippe úitglip sonder dat sy dit agterkom.
“Is dít hoe jy wil voel terwyl jy besig is met ’n ondersoek na ’n reeksmoordenaar? Om op te som: ons moet hierdie emosies lug gee, van alle hoeke af benader. Is jy reg daarvoor?”
Sy knik. Die hoofpyne kry sy, en die spierpyne, die slaaploosheid, die tranerigheid. Sy het geen keuse nie.
“Jou familie, jou kollegas, almal gee vir jou om. Omarm hulle, moenie hulle wegdruk nie. Jy kan hierdie ding nie alleen die hoof bied nie.”
“Ding?”
“Die ding in jou kop, die emosies wat mekaar beveg.”
Sy was op Bela-Bela by haar ouers. Haar ma het haar omarm, sy kon teen haar ma se vertroostende bors huil. Alles laat uitkom sonder enige skaamte of terughouding. Haar ma het die trane afgevee, en deur haar warm palms het Ella ’n transfusie van krag gevoel. Haar ma is sterk én teer. Sy moet so wees om self te kan oorleef, al die jare saam met haar pa en die koeël in sy kop.
Haar pa, die vegetable, kon haar nie omarm nie, Ella het hóm omarm. Sy oë geslote, sy bors wat sag en ritmies ruk elke keer as die masjien langs sy bed sy longe met lug vul. Maar sy vel was warm en die stoppels van sy baard gerusstellend teen haar wang.
“Dis soos ’n virus,” sê doktor Landsberg.
“Ek kom reg,” sê Ella.
“Jy’t ’n virus op jou hardeskyf,” sê doktor Landsberg. “Jy kan probeer om dit te isoleer, in kwarantyn te plaas. Maar jy gaan dit nie uitkry nie. Dit gaan kloon en wegvreet aan …”
“Ek hét ’n vangnet van familie en kollegas wat omgee.”
“Dis goed, dit sal help. Maar ons moet die hardeskyf skoonmaak, weer formateer, reboot as’t ware.”
Silas en Mara gee om, en Jimmy Julies en Tabs en Stallie. Nie Fred Lange nie. Fred is soos ’n virus. Sy het hom nog nooit skade aangedoen nie, hom geen rede gegee om haar hardeskyf te besmet nie. Fred is net Fred, kom uit ’n ou skool en ’n ou era, gemaklik in ou gewoontes, soos in ou klere. Verandering is ’n bedreiging vir Fred. Sommige mense beweeg met vertroue van een historiese era na die volgende, Fred gly en struikel soos ’n dronk man. Soek die rede vir sy onvaste voete op ander plekke.
Fred hou nie van haar nie, en sy vermoed dit het nie alles te doen met die feit dat sy ’n vrou is of van ’n jonger geslag met nuwe insigte en werkwyses nie. Sy vermoed die aanloop is persoonliker, en wanneer die tyd reg is, sal sy Silas daaroor uitvra.
Kan Fred se wrewel teruggevoer word na haar pa? Haar pa het in lewe bevorderings gekry, en komateus ’n sertifikaat vir dapperheid. Fred het agterweë gebly, en nou kom ’n pipsqueak en wil opnuut sy glorie steel. ’n Japsnoet van sy eie kinders se ouderdom kry suigplek aan die voorste spene.
“Hou jy van musiek, Ella?”
Natuurlik hou sy van musiek. Wie hou nié van musiek nie? Selfs Abel Lotz is versot op musiek, vioolmusiek van Paganini.
“Maak jy musiek? Speel jy kitaar, miskien klavier?”
“Nee.”
Sy hét. Nie kitaar of klavier nie. Vir ’n klavier was daar nooit geld nie. Watter polisieman kan ’n klavier bekostig? Behalwe Die Generaal. Op tien het haar pa ’n tweedehandse lier vir haar present gegee. Sy het dit nog. Soms haal sy dit bo uit haar kas uit. Sy het dit uitgehaal nadat haar pa geskiet is. Soms vir Bam, en weer toe sy uit die hospitaal ontslaan is.
“Musiek is terapie, Ella. Veral as jy self kan speel. So nie, luister na Bach. Bach se musiek kalmeer die breingolwe.”
Ja, ja, ja, dit weet sy.
Dit was op die klein kinderharp, ’n sewesnaar-Hermes, dat sy kleintyd met sagte hale begin eksperimenteer het met melodie, harmonie en ritme. Die melodieë van haar klein Hermes steeds in haar kop. O, hoe het sy hulle nie geoefen nie: “Yankee Doodle”, “My Darling Clementine”.
Later het sy geglo die kalmerende uitwerking van harpmusiek sal haar pa help herstel. Sy het hom in sy bed laat luister na ’n CD van Sofia Gubaidulina se “Garden of Joy and Sorrow” op die harp, fluit en viola. Na Marjan Mozetich se “The Passion of Angels” met twee harpe en orkes. Na Carlos Salzedo se harpconcerto’s.
Dit het nie gehelp nie.
Haar pa kom uit die hippie-sestigs, tyd van die Beatles. Miskien, het sy gedink, sal hy beter aanklank vind by die harpgedeelte in “She’s Leaving Home” op Sgt. Pepper’s Lonely Hearts Club Band.
Ook nie gehelp nie.
Die lier, het haar pa kleintyd met haar bedtyd vertel, word deur engele en nimfe en feetjies bespeel. Maar die bekendste lierspeler was Orpheus. Wanneer Orpheus sy lier bespeel het, het alle diere, mak en wild, om hom saamgedrom, het die voëls verwonderd op die boomtakke sit en luister. Die lier is die instrument van vrede, het haar pa vertel terwyl die ryk, sierlike note nog in die lug bly dans het lank nadat sy hulle uit die snare gestreel het.
“Speel weer ‘Danny Boy’,” het hy haar aangepor.
En sy het vir hom gespeel.
“En ‘When Johnny Comes Marching Home’.”
Sy het nie ’n klavier gehad het nie, maar dis hoe sy onder haar pa se aanmoediging harmonie en solfeggio geleer het.
Miskien, dink sy, is dit tog tyd om weer te begin. Nie die lier nie, maar die harp. Miskien is doktor Landsberg nie heeltemal so ’n ou koei as wat sy vermoed het nie.
“Ek sal graag harplesse wil neem.”
“Harplesse?” Doktor Landsberg lyk uit die veld geslaan.
“Ja. Ek wil die harp leer speel.”
Moontlik dink doktor Landsberg dat dié getraumatiseerde pasiënt bomskok van ’n erge graad het, besef Ella, maar haar neutrale uitdrukking is terug.
“Ja, probeer die harp. Ek sal vir Suki bel. Die harp sal jou aandag aflei. Enigiets om jou aandag weg te kry van al die nare gedagtes.”
4. Sarajewo, Bosnië-Herzegowina, 1991 – 1993
Sy pa lig die boek van die tafel op.