Abel se lot. Chris Karsten

Читать онлайн книгу.

Abel se lot - Chris Karsten


Скачать книгу
die sig van sy oog te verloor. Dit sou erger gewees het. Eerder ’n lui oog as ’n blinde oog.

      “Koop ’n bril met donker lense,” raai die dokter hom aan. “As jy skaam is oor die lui oog, kry ’n bril met gekleurde lense. Amber of pers of blou, selfs geel. Enige kleur wat jou geval. Dis foenkie.”

      Die pasiënt moet mooi luister na die chirurg se uitspraak. Dokter Lippens praat Engels, dog met ’n aksent. Harde Germaanse g’s en r’e, nie onverwant aan die taal waaraan die pasiënt se eie oor gewoond is nie. Maar die oe is vreemd.

      “Jy bedoel funky?”

      “Dis wat ek sê: foenkie.”

      Funky en geel, dié onthou die pasiënt goed. Só ’n bril het hy nog self teer van ’n vrou se kop afgehaal, opgeskuif oor haar swart hare, voordat hy haar op sy werkbank neergelê en met sy koki die pers lyne aan die sagte vel van haar maag en lies getrek het vir sy skalpel.

      “En die res?” vra hy vir die chirurg.

      “Die res is maklik.”

      Dokter Lippens klink selfvoldaan en onbeskeie, versmadend byna omdat sy eie gesig geen regstellings nodig het nie. Sý gelaatstrekke in volmaakte proporsie.

      “Hoe lank sal dit vat?”

      “Weekend facelift – dis wat ons dit noem. Die prosedure duur net ’n paar uur. Jy soek nie die hele proses van ontrimpeling en verjonging en ’n onnodige gesny aan jou vel nie.”

      “Nee,” sê die pasiënt. Geen onnodige snyery aan sy vel nie. Ook wanneer hy self die snywerk doen, is dit nooit onnodig nie.

      “En laat ek dit maar self sê: as ék met jou klaar is, sal jy jouself nie herken nie. Gewaarborg, of jou geld terug.”

      “Hoe lank voor dit genees is?”

      “Twee nagte in die hospitaal om seker te maak alles is reg, g’n infeksies en sulke nare goed nie. Dan twee weke tuis, op die langste, my vriend. Twee weke en die swelling sal weg wees, en niemand sal eens vermoed dat jy aan jou gesig laat werk het nie. Wil jy voortgaan?”

      My vriend?

      “Ja, doen dit.”

      “Goeie besluit. Jy sal nooit spyt wees nie.”

      Dokter Lippens staan op, kom met ’n kamera terug.

      “Foto’s?”

      Die pasiënt is besorg. Hy hou nie van foto’s van homself nie. Niemand het hom ooit as kind afgeneem nie. Sy moeder het nie foto’s van hom in baba-albums versamel nie. Sy grootwordjare is nie met foto’s geboekstaaf nie. Hy onthou net een foto waarop hy voorkom, dertien jaar oud tussen sy moeder en sy ouma, streng gesigte, geen glimlag vir die kamera nie.

      “Die foto’s is vir die prosedure – hulpmiddels op die operasie-tafel,” sê die chirurg. “Dis soos kunstenaars ook werk. Portret-skilders en beeldhouers het almal ’n model, dis die werkwyse oor eeue, nee, millennia heen. Michelangelo het modelle gehad vir sy groot werke uit marmer.”

      “Dis nie wat ék soek nie, nie ’n portret van my eie gesig nie. Ek wil juis ’n ánder gesig hê.”

      “Maar die foto’s help met die proporsies en die proporsies is belangrik, al verander ons aan die gelaatstrekke.”

      “Neem foto’s van jou eie gesig, jy’t goeie proporsies. Ek wil ’n skerper neus hê, soos joune. ’n Prominenter ken, soos joune.”

      “Jy vlei my, meneer Lomas.”

      “En ek’t bakore.”

      “Die foto’s is steeds nodig, al soek jy verfyning van jou gelaatstrekke. Wanneer ek die foto’s op my rekenaar gelaai het, kan ek ’n duideliker beeld kry van die verfyning wat ons moet doen, die snitte presies uitmeet voor ons begin.”

      Hy sit strak voor die flits van die kamera.

      “Dis nie net vir sny en hoop vir die beste nie, meneer Lomas. Só kru is ek nie.”

      Het jy al mý werk gesien? dink die pasiënt. Het jy al gesien hoe fyn ék met ’n skalpel kan werk?

      “Ja,” sê dokter Lippens, die foto’s nou voor hom op sy rekenaarskerm, “aan jou gesig is baie werk nodig, dis duidelik. En as dit is wat jy graag wil hê, sal ek tog van my eie proporsies in ag neem. Miskien my gesig oor ’n foto van joune superponeer en kyk hoe ons jou kan help. Hoe klink dit?”

      Die pasiënt swyg net. Dis sy droom, nee, obsessie, om ’n gesig oor syne te superponeer. Maar nie hierdie dokter s’n nie. Nee, die teder, saggebreide vel van ’n jong vrou. En nie op ’n foto nie; hy wil haar gesig oor syne aantrek, haar vel oor syne voel.

      Hy wou vir homself so ’n nuwe gesig present gee op sy vyftigste verjaardag. Maar hy was op vlug en kon sy verjaardag nie vier nie.

      Dokter Lippens neem weer sy plek op die stoel in, skuif effe nader, begin weer met sy vingers tas. Die pasiënt verstyf opnuut, maar laat die chirurg begaan. Dis hoe hy met sy eie vingers graag die vel van die donateurs op sý operasiebed ondersoek het.

      “Die neus is die belangrikste element. ’n Neus is reg in die middel van die gesig, die estetiese fokuspunt. Gee die gesig sterkte, gee karakter. Fisionomie is eeue oud. Selfs die ou Grieke het ’n man beoordeel deur bloot na sy gelaatstrekke te kyk.”

      “Wanneer kan jy begin?”

      “’n Tiende van ’n sekonde. Dis hoe lank dit ons vat om met die eerste aanblik van iemand se gesig ’n besluit oor sy persoonlikheid te neem: hy gee om, hy kan vertrou word, hy’s aggressief, hy’s ’n introvert, hy’s deeglik, hy’s skelm … Het jy dit geweet, meneer Lomas?”

      “Ek wil die foto’s hê wanneer jy klaar is.”

      “As aandenking van jou ou gesig? Ja, ek sal dit vir jou op ’n geheueskyf aflaai. Maar ek hou altyd foto’s van my pasiënte. Vir die rekord. Het jy al gehoor van die halo van aantreklikheid?”

      Die pasiënt skud sy kop, dink aan die foto’s wat op die chirurg se rekenaar gaan agterbly.

      “Die halo van aantreklikheid … mense wat beskou word as aantreklik, kry die meeste Valentynskaartjies, word gesien as sosiaal aanvaarbaar, seksueel aanloklik, intelligent, gelukkig, gesond. Hulle is gewild en word simpatiek behandel – selfs deur die howe.”

      “Hoe lyk ’n gesig wat nié vertrou kan word nie?” wil die pasiënt weet. Hy wantrou die gesig van hierdie dokter.

      “Die hoeke van die mond trek af, die wenkbroue vorm ’n V.”

      “Wat van ’n babagesig?”

      “Iemand met ’n babagesig – en ek sê nie jý het so ’n gesig nie – word beskou as naïef, ’n bietjie van ’n sissie.”

      Die pasiënt het al oor fisionomie nagelees, selfs oor etologie en frenologie, en baie oor lui oë. En veral oor mans wat as ou baby-face bespot en gehoon word. Die chirurg weet nie – of het vergeet, vermoed hy – van oogvlekke aan die vlerke en liggame van sekere skoenlappers, motte en visse wat oë naboots om predatore te verwar en te ontwyk. Dis ook van toepassing op ’n man met ’n babagesig: die eerste indruk, in ’n tiende van ’n sekonde, is dat so iemand naïef en onderdanig is. Maar nes die mot se vals ogie nie ’n regte oog is nie, is die babagesig se eienaar nie ’n baba nie. Dit weet hy uit eie ervaring.

      “Die ken is amper net so belangrik as die neus,” sê die chirurg terwyl hy met ’n skuifpasser die mates van die pasiënt se gesig neem. “Die ken bring balans en harmonie aan die gesig. Aan die ken sal ons beslis iets moet doen. Of in jou geval, gebrek aan ’n ken.”

      “En die ore.” Die pasiënt kyk na die lang, swart hare op die dokter se vingers, ruik die reuk van sy vel.

      “Ja,” sê dokter Lippens, sy opgewonde asem teen die pasiënt se wange. “Die ore moet proporsioneel wees tot die grootte


Скачать книгу