Abel se lot. Chris Karsten
Читать онлайн книгу.toe, fluister vir die vrou in sy arms: “Wie’s nog hier?”
Skud haar kop, oë gesper.
“Niemand nie?”
Skud weer haar kop.
“Tomislav Borić? Waar’s hy?”
Mompeling agter Vlatko se hand. Hy gee effe skiet, luister met sy oor by haar mond, voel haar sagte rondinge deur die materiaal van haar rok. Dink aan die hoer wat nooit opgedaag het nie.
“Hy’s nie hier nie,” sê Vlatko.
“Het jy ’n seun?” vra Zoran.
Sy knik.
“En hy’s saam met sy pa?”
Sy knik.
“En hulle’s nog nie tuis nie?”
Knik.
Zoran haal die mes uit sy sak, die lem spring oop. Hy druk dit teen die rosige wang van die verskrikte kind.
“Ek gaan jou mond los,” sê Vlatko. “As jy skree of enigiets probeer, sny hy jou kind.”
Hy vat sy hand weg, sy steier agteruit. Hy lag, sy oë op die deining van haar bors. Hy loer na Zoran, ’n grynslag ook om sý mond terwyl hy die dogtertjie met die blonde hare in sy arms vashou.
* * *
Milo bêre sy waterkar in die ketelkamer van die woonstel-gebou. By die buitedeur van die portaal wag hy vir twee mans in generfde leerbaadjies en vuil jeans op pad uit. Vee die nattigheid met ’n handpalm van sy wange af. Wonder of hy nie tog maar vir dokter Buzuk moet wag nie.
Een van die twee mans lag. Milo staan vir hulle opsy. Hulle wange is ongeskeer, hare ongewas, tatoe teen die nek van die een met die gebleikte hare. Die bek van ’n hond, of ’n wolf, lyk dit vir Milo.
In die woonstel wag sy ma en suster. Hulle wag op die veilige tuiskoms van hom en sy pa. Milo lag nie, hy bring ’n tyding van dood, in hierdie stad van trane.
Hy ruik die sweet en vuil van die mans se klere en liggame. Een steek vas, draai terug na hom, betrag hom agterdogtig. Die een wat nie lag nie, die een met die gemene gesig, lippe weggetrek van slegte tande.
Hy leun na Milo oor, die reuk van alkohol op sy asem. “Waar loop jy dié tyd van die aand rond? Dis amper tienuur.”
Tienuur begin die aandklok, tot sesuur soggens.
“Waar bly jy? In watter woonstel?” vra die een met die gebleikte hare en hondekop aan sy nek.
Milo ken die strate, het ’n neus vir die godskreiende drek wat sy stad oorgeneem het. “Bly nie hier nie,” mompel hy.
“Wat kom soek jy dan?” vra die een met die slegte tande.
Vermy die oë, het Milo geleer. Oogkontak is nie goed nie, dit word gelees as parmantig, uitdagend.
“Kom haal my huiswerkboek,” sê hy, oë neergeslaan.
“Is dit bloed daar aan jou klere?” vra hondekop-tatoe.
Milo knik.
“Wie se bloed?”
Milo haal sy skouers op. “Bom.”
“Waar?”
“Omladinska.”
Hondekop-tatoe lyk tevrede. Hy sal weet: Omladinska is vyf honderd tree van die BiH-presidensie, die teiken van 122 mm-houwitsers uit die heuwels van Mojmilo en Vrace. As mense nog in woonstelgeboue in daardie omgewing wil bly, is dit hulle saak; die houwitsers is onakkuraat en die Serwiese skutters gee nie om vir kollaterale skade nie.
Milo sien die spatsels en vlekke en stof op hulle verweerde stewels, aan hulle broekspype. Bloed ook aan húlle klere, dink hy. Hulle kan BiH-renegate wees, Kroate of Bosniaks. Sy pa het probeer verduidelik van die vae skeidslyn tussen vriend en vyand, van die ingewikkelde rassepolitiek, van etniese suiwering. Die twee mans kan ook Bosniese Serwiërs wees wat op nuwe teikens kom spioeneer het en nou op pad terug is na hulle kanonne in die berge. Die ander aand, voor sy besluit om met die digbundel oor die Vrbanja-brug te stap om vir die behoud van die Nasionale Biblioteek te gaan pleit, het sy pa gesê om na ’n antwoord te soek vir die gebeure in Sarajewo, is soos om te soek na ’n gesig in ’n spieël vol rook.
“Waar’s jou pa?” vra die een met die slegte tande.
“Omladinska.”
“Waar die bom was?”
Milo knik, kyk nie op nie.
“Waar werk jou pa?” vra hondekop-tatoe.
“Oslobodjenje,” lieg Milo.
“Die koerant se gebou?”
Milo knik net. Die Oslobodjenje-gebou is aan die westekant van die stad, ver weg.
“Lieg jy?” vra slegte tande.
“Los hom, Zoran,” sê hondekop-tatoe. “Lyk bietjie simpel, harsings pap van die bomme.”
Hulle stap uit, en Milo gaan skoorvoetend met die trappe op. Voor die deur huiwer hy, teug diep na asem, delf na krag om vir sy ma die nuus te bring van die gebeure op die brug. Hopelik slaap Kaja al.
Sy hand reik na die deur, bly in die lug hang toe hy in die gang se lig die vlekke aan die deurknop sien. Sy brein traag om dit te registreer as smeersels van gestolde bloed.
Hy stoot die deur oop, word nie deur sy ma begroet nie, word nie deur Kaja verwelkom nie. Die woonstel is stil. In die donkerte lê ’n vreemde reuk soos ’n onsigbare mislaag oor die bekende, gerusstellende aromas van sy blyplek. En agter die laag voel hy die teenwoordigheid van iets aan, ’n ding wat nie in sy kop wil vorm kry nie, ’n amorfe onheilsding.
“Ma!” roep hy in die stilte in.
Die donker woonstel … Sy ma sou ’n lamp aangesteek het as die krag af was, sou nie in die donker saam met Kaja op hulle sit en wag het nie. Is die krag dan af? Nee, in die portaal het ’n gloeilamp gebrand waar die twee mans hom uitgevra het.
Hy soek na die skakelaar. “Ma! Kaja! Waar’s julle?”
Die woonstel het net twee slaapkamers, een vir sy ouers en een waarin sy oupa en ouma vroeër geslaap het. Hulle drie kinders het op die ou mat in die sitkamer geslaap. Elke aand hulle beddegoed gaan uitrol, elke oggend hulle beddegoed opgerol. Nadat eers oupa Juro en daarna ouma Brana gesterf het, het hy, Jasmina en Kaja in die tweede slaapkamer ingetrek. Nadat ’n mortierskerf Jasmina getref het, het hy en Kaja alleen die tweede slaapkamer gedeel, dikwels dieselfde bed.
Hy kry hulle op sy ouers se bed. Hy bly in die deur staan. Vir ’n oomblik wil sy brein nie begryp en verklaar wat sy oë sien nie. Die nakende vrou op die bed ken hy nie. So tenger, die skraal bene en arms, die ribbes onder die melkwit vel geëts. Oë oop, starend na die plafon, ’n bloederigheid uit haar neus en uit ’n hoek van die mond teen haar ken af.
Nee, dink Milo verlig, dit is nie sy ma nie. Sy ma is nie só dun en maer nie, sy ma kan gesels en vertroos, en wanneer sy hom teen haar aandruk, voel hy haar warm, knusse vlesigheid.
Sy blik verskuif na die dogtertjie langs die vrou. Ook dié lê wit en broos. So onuitstaanbaar treurig, dié vergete poppie sonder klere. Haar blonde hare deurmekaar, oor haar wang ’n bruinrooi smeersel.
Met sy rug teen die muur sak Milo op sy hurke af, dan plat op sy boude. Hy sit op die vloer en al wat hy kan sien, is die profiel van die vrou se gesig, en haar hare op die kussing onder haar kop. Langs die bed hang haar arm af vloer toe. Hy staar na haar profiel, kyk ’n slag op na die plafon om te soek na dit wat haar so mesmeriseer.
Toe hy terugkyk na die vrou op die bed, volg sy blik haar arm af vloer toe. Hy sien die Gospa-snoer in haar hand, die snoer van vrede. Die kraletjies verstrik tussen haar vingers, die krusifiks van die silwer-Jesus wat net-net aan die vloer raak.
Met