Abel se lot. Chris Karsten
Читать онлайн книгу.warm onder sy vingers.
“Ma …” fluister hy.
Haar oë is oop, maar sy antwoord nie.
“Ma,” sê Milo.
Dan begryp hy. Dit tref hom nie soos ’n hou teen die bors nie. Eerder soos lae wat weggeskil word soos sy ma die lowwe van die uie aftrek. Totdat elke laag weggeskil is, en die volle verskrikking van die dag se gebeure ontbloot lê.
Hy gaan langs die bed sit en voel ’n nuwe sensasie. Nie van smart nie; dié het hy opgebruik op die lang pad van die brug af met sy pa agterop sy waterkar. Die nuwe gewaarwording is van ’n digte, swart skaduwee wat oor sy wese kom lê, die haat en die magtelose woede wat hy op die brug gevoel het, maar nie kon herken nie.
Hy haal die bidsnoer tussen sy ma se vingers uit, klem dit vas.
Skielik ’n geluid. Hy lig sy kop op. Hoor dit weer: ’n kreun. Sy ma lê stil, steeds in dieselfde posisie, sonder ’n oog wat knip.
Nou ’n sagte hyging.
Milo spring op, sien die beweging langs sy ma op die bed, die lippe wat smak, die smal bors wat lig en sak.
“Kaja!”
Hy storm om die bed, pluk die laken oor die naakte liggame, vat sy suster se hand, roep deur die woonstel, sy gille by die voordeur uit, deur dun mure: “Help! Help!”
Hulle kom help; almal ken die bibliotekaris en sy gesin. Iemand word gestuur om dokter Buzuk te ontbied, terwyl gewillige vroue-hande die liggame op die bed begin ondersoek.
“Arme Milka,” sê ’n buurvrou.
“Hou vir Kaja in ’n kombers warm,” sê ’n ander een.
“Waar’s Tomislav dan?” vra ’n derde.
“En Milo? Het iemand vir Milo gesien? Hy was dan nou net nog hier.”
Milo hoor die stemme, maar reageer nie daarop nie. In die samedromming sluip hy by die woonstel uit, die nag in.
7. Bujumbura, Burundi, Hede
Abel stap terug, stroop die handskoene af. Hy is nou sonder die doktersjas, net in die hospitaal se nagjurk. Toegevou in die jas, besmeer van vars bloed, dra hy die gesig van dokter August Lippens.
Hy druk die jas en handskoene in een van die groot groen metaalhouers vir hospitaalafval. Kyk vlugtig rond, gebruik die soom van sy nagjurk om die deur van die dokter se kar oop te maak. Hy trek sy kamerjas aan. Vroetel in die swart dokterstas, kry ’n paar artikels waarna hy soek, ook ’n spuitnaald.
Sonder om die ligte aan te skakel, luier hy in eerste rat uit die parkeerterrein, parkeer die kar in die systraat, laat die sleutel in die aansitter. Hy maak seker dat hy geen vingerafdrukke aan die kar laat nie, stap terug hospitaal toe, klim deur die venster na sy saal. Maak die vensterknip vas en vee ook hier alle tekens van afdrukke af. Hy poets sy skoene met snesies uit ’n boks op sy bedkas, en skoon van enige spatsel bloed bêre hy hulle by sy klere.
Hy gaan sit op die bed, met sy plomp dye, en sy kaal voete swaaiend onder die soom van die kamerjas reik hy na die bruin bottel hoesstroop. Sy adamsappel wip terwyl hy sluk, totdat die hele bottel leeg is.
Hy stap badkamer toe, trek die kamerjas uit, was sy gesig en hande en urineer in die leë hoesstroopbottel. Hy suig ’n paar milligram in die spuitnaald op, klop die naald met sy vinger om lugborrels te laat ontsnap en spuit homself onderhuids met die urine in die oksel van sy linkerarm in. Hy spoel die naald in die toilet af.
Op pad terug na sy bed deponeer hy die hoesstroopbottel en spuit in ’n snippermandjie by die deur van die saal, tussen ou watte, pleisters en verbande, gereed vir ’n nagverpleegster om dit vroegoggend, voor die einde van haar skof, buite in ’n afvalhouer te gaan gooi.
Hy pof sy kussings op, klim terug in sy bed, skuifel totdat hy gemaklik lê, vroetel sy tone knus onder die komberse in, en sluit sy oë.
Binne ’n halfuur voel hy die effek van die oordosis ipecac wat hy saam met die hoesstroop ingekry het. Sametrekkings in sy maag en slukderm. Hy begin op sy bed opgooi. Net ná middernag druk hy die noodknop om die nagverpleegster te ontbied.
In sy oksel ontwikkel infeksie weens die inspuiting. Die infeksie begin versprei en sy voorkop gloei. Teen vieruur die oggend, terwyl die reën teen die ruite kletter, skiet die telling van sy witbloedselle die hoogte in.
In ’n deliriese toestand, met nou ook die matrone en ander nagverpleegsters om sy bed, wagtend op die diensdoenende dokter by trauma, trek ’n sweem van ’n glimlag om die lippe van die koorsige pasiënt. Wanneer die liggaam van die kwak in die ruigte onder die frangipani ontdek word, wanneer die tyd van sy dood bepaal is, sal geen suspisie op meneer Lomas val nie. Dié pasiënt het ’n soliede alibi: hy was in sy hospitaalbed, siek soos ’n hond, die infeksie opnuut opgevlam maar nou versprei, daarvan sal die hele nagkorps van Saal B kan getuig.
En die arme man het juis so goed herstel, sal die traumadokter byvoeg. Het selfs, as jy mooi kyk, fisionomiese trekke van dokter Lippens.
Op die tweede dag breek die koors, is die infeksie onder beheer.
“Waar’s my dokter?” vra Abel. “Ek soek my dokter.”
“Ons kry nie jou dokter nie,” sê die verpleegster en vee met ’n koel waslap oor sy gesig. Die swelsels en verkleurings en littekens het nou feitlik genees, net nog enkele vae wit merke is oor, agter die ore waar die vel en kraakbeen met steke aan die skedel geheg is, en onder die ken waar die prominente inplanting gedoen is.
“Kan ek huis toe gaan? Dokter Lippens sou my ontslaan het.”
“Hy het al twee dae nie by sy spreekkamer opgedaag nie. Niemand weet wat van hom geword het nie.”
“Hoe kan ’n dokter net verdwyn?” vra Abel.
“Dis ’n raaisel,” sê die verpleegster.
“Dan ontslaan ek myself. En as hy eendag opdaag, sê ek sal by sy spreekkamer ’n afspraak kom maak vir die regstellings waarvan hy gepraat het, vir my neus en ken.”
“Jou ontslag is op eie risiko, meneer Lomas. As iets gebeur, miskien nuwe infeksie, kan die kliniek nie aanspreeklik gehou word nie.”
“Ek sal teken, julle vrywaar. Bring die vorm. Wat van my medisyne?”
“Dokter Lippens het geen voorskrif gelaat nie.”
“Kan ek iets kry vir pyn? En miskien antibiotika, as die infeksie weer begin?”
“Ek sal ’n voorskrif vra by die traumadokter wat jou behandel het.”
“Trek die gordyne om my bed toe.”
Abel verklee in sy eie klere, druk die hospitaaljurk saam met sy paar persoonlike besittings in ’n plastieksak. Hy ry in sy vier-trekbakkie met die bullbars en dik verchroomde uitlaatpyp na sy losieshuis toe. Die bakkie het ’n Burundiese lisensieskyf en nommerplate. Sy vriend Jules Daagari het daardie dokumentasie hanteer.
Jules het goeie kontakte. Hy het die losieshuis aanbeveel, en help Abel ook met ander sake. Jules spog dat sy vervalser – hy noem hom sy “fabricateur” – énige soort dokument kan namaak.
In sy buitekamer gaan lê Abel op sy bed, die gordyne toegetrek. Hy drink van sy medisyne, raak aan die slaap. Dis nag toe hy wakker word.
Eers nou pak hy die inhoud van die plastieksak uit. Die Russell-mes vou hy in die gesighanddoek oop en was dit deeglik in warm water en bleikmiddel met ’n sterk ammoniumreuk. Hy skrop die lem en hef met sy naelborsel. Hy weet nie hoe gesofistikeerd forensiese ondersoekers in Bujumbura is nie, maar as hulle oor tegnieke en middels soos Luminol beskik om latente bloed onder ’n ultravioletlig op te spoor, sal die bleikmiddel alle bloedspore van die mes verwyder.
Hy