Abel se lot. Chris Karsten
Читать онлайн книгу.“Sim, sim,” het hy opgewonde geknik. “Bateria, bateria.”
Abel het na die pleitende gesig gekyk, die ronde oë, effens peulende.
“Klim in. Waar bly jy?”
Die man het om die bakkie gestrompel, op die passasiersit-plek ingeskuif. Hy het Abel op die skouer geklop, oorgeleun en vertroulik teen sy wang gesê: “Você é meu amigo. Muito obrigado, obrigado, amigo.”
En die pad beduie. Abel moes hom kort-kort uit sy insluimering wek om pad te vra tot voor ’n losieshuis.
“Is dit jou blyplek?”
“Sim, sim.”
Hy het vergeefs na die handvatsel getas en Abel moes oorleun om dit oop te knip.
“Muito obrigado,” het hy weer gesê en sy gesig na Abel gedraai. “Por favor venha e visite.”
Abel het uitgeklim, omgestap om hom uit te help.
“Bly jy alleen?”
“Sim, sim. Venha visitarme.”
Abel het hom aan die arm gevat en na die losieshuis gelei terwyl die man strompelend na sleutels in sy broeksak gesoek het. Abel het die sleutels by hom gevat en die buitedeur oopgesluit.
“Muito obrigado, meu amigo. Tenho vinho para beber.”
Die man het in ’n stoel neergeval, ken op die bors, meer speeksel uit sy oop mond oor die baardstoppels teen sy ken af, deur sy neus ’n onreëlmatige ruising.
Abel het die kamer beskou. Eenkant die matras op die vloer, ’n paar stukke klere aan hangers aan die prentelys teen die muur, ’n houtkassie met laaie, nog ’n stoel, ’n draradio op ’n tafeltjie met ’n Formicablad, ’n tweeplaatstofie, vuil borde en eetgerei.
In die kas se laaie onderklere, sokkies, ’n plastieklêer met dokumente: huurkontrak vir die kamer, registrasiesertifikaat vir die ou Toyota, ’n werkspermit, aanstellingsbrief as kok op die tjokkatreiler Douro, en ’n paspoort. Diego Bartholomeu Lomas, vyf en veertig jaar oud.
Abel het meneer Lomas uit sy stoel opgelig, die kamer se deur agter hulle gesluit en hom in die bakkie teruggehelp. By die Toyota het Abel die nommerplate afgeskroef, hulle agter onder die kap by sy koffer en vioolsak gegooi, ingeklim en weggery. Teen daglig was hy by die brug oor die Zambezi, honderd en dertig kilometer van Quelimane af. Hy het tussen bosse afgedraai, uit sig van die hoofpad langs die oewer stilgehou en die slapende tjokkakok uitgedra.
Met sy sterk duime het hy op die twee slagare aan die kok se nek gedruk, die opkomende son warm op sy gesig. Daar was geen sparteling nie, net ’n effense konvulsie voor die liggaam verslap het. Hy het die kok in die water gerol, gekyk hoe die stroom hom vat, af see toe – as die krokodille hom nie eerste kry nie. Daarna het hy die Toyota se nommerplate aan die bakkie gesit en gery. En Abel het meneer Lomas geword, met ’n paspoort wat in Lissabon uitgereik is.
Hy het Jules uit Tanzanië gebel; moes seker maak sy vriend is in Bujumbura wanneer hy daar arriveer en nie op een van sy ekspedisies nie. Moes Jules natuurlik inlig oor die rede vir sy onverwagte besoek, hom voorberei as hy dalk in ’n koerant sou lees van ’n Abel Lotz wat die polisie moontlik kan help met inligting oor verskeie moorde in Johannesburg.
“Was daar berigte oor die moorde waarvan ek beskuldig word?” het hy gevra.
“Ja, Mister Lotz,” het Jules oor die foon gesê. “Nie lang berigte nie, en weggesteek. In Burundi gebeur baie grusaamhede, vier moorde ver in Johannesburg is nie groot nuus nie.”
Viér moorde? het Abel gedink.
“Wat sê die berigte?”
“As ek reg onthou, want dis al ’n tyd terug, dat twee vroue vermoor is. Stukke van hulle vel is uitgesny. En twee mans, dié se gesigte is afgestroop. Hulle noem dit rituele moorde.”
“Rituele moorde …” het Abel gemymer.
“Afrika is vol rituele moorde, Mister Lotz. Sangomas vermoor kinders, maak moeti van hulle organe. Vroue word in die Kongo as hekse verbrand, en in …”
“Net twéé vroue?”
“Dis wat die koerante sê.”
In die koffiewinkel wag Jules al, die eerste groot toets vir sy nuwe gesig. Abel haal die bril af vir Jules se inspeksie.
“Is dit regtig jý, Mister Lotz? Ek ken jou nie, net die stem … en die oog.”
“Die einste ek, Jules. In my gemoed is ek steeds Abel Lotz. Net ’n bietjie aan die gesig laat werk.”
“Mister Lotz …”
Abel merk sy huiwering, laat hom begaan.
“Mister Lotz, ons reise om na maskers te gaan soek …”
Abel sit sy koppie neer, wuif met sy hand voor hulle in die lug.
“Dis oukei, Jules.”
“In Jos in Nigerië was stamgevegte, vyf honderd mense dood. In Mali …”
“Jy’t my baie gehelp. Sonder jou sou ek niks kon regkry nie. Ek’s nie gewoond aan vreemde plekke en vreemde mense nie. En jy’t my gehelp, Jules.”
“Dis ’n gevaarlike tyd in Afrika.”
In Afrika, vermoed Abel, is dit áltyd ’n gevaarlike tyd.
“Ons kan op ’n ander keer gaan, Jules, later, wanneer dit rustiger is. Ek’s nie haastig om nou maskers te kry nie.”
“Nie? Het jy ander planne, Mister Lotz?”
“Jules, jou gasvryheid oorstelp my. Maar ek vertrek eers na ’n ander bestemming. Ek’s nie veilig hier nie.”
Verbeel Abel hom, of is daar ’n sweem van verligting op Jules se gesig? Nee, dis sekerlik sy verbeelding.
“Kom jy terug, Mister Lotz?”
“Later, Jules, en dan kan ons ry en die maskers gaan soek. Wanneer Afrika weer rustig is.”
“Dis jammer, Mister Lotz. Ek’t so uitgesien na ons ekspedisie.”
“Dis net uitgestel, nie afgestel nie. Miskien kan jy intussen, soos gewoonlik, alleen gaan soek. Ek sal graag weer met ’n galery wil begin, iewers in Europa, miskien in Hamburg. Die Duitsers vrek oor sulke artefakte uit Afrika, veral outentieke relikte, nie die brouspul van straatsmouse nie.”
Jules vra nie uit oor sy Europa-planne nie, en Abel verswyg die naam van sy e-pos-vriend in België. Van Ignaz Bouts in Brugge hoef niemand te weet nie, selfs nie Jules nie.
Abel kan sien sy vriend het nog baie op sy gemoed.
“Mister Lotz, ek’s seker daai ding in Johannesburg … alles net ’n misverstand, ’n gróót dwaling, nie waar nie?”
“Ja, ’n dwaling, Jules. Maar dis ernstige sake. Daarom dat ek so vinnig moes padgee. Daarom dat ek ook hier onveilig voel. Hulle weet ek’s oor die grens Mosambiek toe. Hulle weet ek’s iewers in Afrika.”
“Maar Mister Lotz, hoekom vlug? Is dit nie beter om jou saak te gaan stel nie?”
“Jules, jy ken die polisie. Ken jy die polisie in Suid-Afrika? Hulle wil nie werk nie. Hulle soek kortpaaie, die weg van die minste weerstand. Hulle kry eers ’n naam, ’n verdagte, vind hom klaar skuldig, en daarná begin soek hulle na bewyse teen hom. Hulle fabriseer en bekonkel dit selfs, dis wat hulle doen. Hulle soek nie éérs die bewyse nie. Is dit nie die bewyse wat na ’n verdagte moet lei nie? Is dit nie hoe dit werk nie, Jules? Ek wil nie in ’n sel gaan sit en krepeer terwyl die regte moordenaar los loop nie. Weet jy wat is die waarde van siviele eise wat elke jaar teen die polisie in Suid-Afrika ingestel word vir wederregtelike arrestasie? Miljoene, Jules. Daarom dat ek so vinnig moes padgee. Sien jý kans om vir iemand anders se dade in die