Die afreis van Abel Lotz. Chris Karsten
Читать онлайн книгу.groter stuk vel vra, groot genoeg vir die héle omslag. Wat dink jy?”
“Dis nogal groot. Ek weet nie of ’n donateur bereid sal wees om só ’n groot stuk vel te skenk nie.”
“Ek sal ’n groot donateur soek, en haar vra,” sê Abel. “Ek beplan tien volumes.”
Ignaz se wenkbroue lig. “Nog ágt groot donateurs? Ja, oktavo sal werk. Jy sal in goeie geselskap wees met die oktavo’s vir jou Kosmiese Reise. Teobaldo Mannucci van Venesië – in ons drukkerskringe beter bekend as Aldus Manutius – was lief vir dié formaat. Sakboeke, het hy dit genoem, sodat lesers dit maklik kan saamdra. In 1501 al het hy Virgilius se Opera in oktavo-formaat gebind.”
“Ja,” sê Abel geesdriftig, “ek sal hulle graag saam met my wil dra.”
“Manutius het klassieke Griekse werke uitgegee en in velyn gebind, vyf volumes van Aristoteles, nege komedies van Aristofanes, Sofokles, Herodotus, Euripides. En natuurlik Latynse en Italiaanse klassieke tekste, die versamelde werke van Poliziano, Dante se Commedia, die briewe van Plinius die Jongere, selfs Erasmus se Adagia . . .”
“Oktavo klink reg, Ignaz.”
“En jy soek net één handgebinde eksemplaar van elkeen van jou volumes, met omslae van velyn?”
“Net een van elk. Dis vir my eie gebruik en genot. Dis persoonlik. Ek soek nie roem nie. Ek beplan om dit met my dood na te laat aan die Ulughbeg-madressa in Samarkand. ’n Eksklusiewe nalatenskap, met nuwe insigte in die kosmos. Vir Virgilius en Aristofanes ken ek nie, ook nie vir Poliziano en Plinius nie, maar ek ken die werk van Ulugh Beg. Ken jý die Ziy-i-Sultani?”
Ignaz skud sy kop, en Abel rol sy perkamente in die sneespapier terug en druk dit in die koker.
“Steeds tevrede met die huis?”
Nie eintlik nie, maar hy sê dit nie, wil nie Ignaz se gevoelens seermaak nie.
“Ek hou van die klokkespel uit die torings van die twee kerke.”
Hy het besluit om so gou moontlik ander blyplek te soek, ook uit die oog, maar nie in ’n ou hoerestraat nie.
“Dis Brugge se twee oudste kerke, Sint Salvator en die Onze-Lieve-Vrouw, vol skatte en misterie. Maar ek’s nie juis ’n toegewyde kerkganger nie,” sê Ignaz.
“My moeder kon lang aanhalings uit die Bybel opsê.” Abel dink ’n oomblik, vra: “Ek’t altyd gewonder, Ignaz, is jy getroud?”
Ignaz antwoord nie, en Abel wonder of hy hom gehoor het. Dan kom die antwoord byna as ’n fluistering, en stamelend, asof dit ’n onderwerp is wat Ignaz nie graag bespreek nie.
“Nie meer nie . . . sy’s dood, my vrou . . . jare al.”
“O.”
Ignaz kyk op. “Maar ek’t ’n dogter, ek sal jou aan haar voorstel. Ons sal jou uitvat vir ete. Hoe klink dit?”
Abel aarsel. “In ’n restaurant?”
“Jy moet begin inskakel in jou nuwe omgewing.”
“Goed,” sê Abel onseker, ongeneig om in te skakel, verkies sy eie geselskap.
Ignaz stap saam met hom ondertoe, sê by die voordeur: “Jou donateurs, is dit vroue?”
“Ja,” sê Abel, sit sy slaprandhoed op, verstel die bril met die amber lense en stap uit.
9
Sajida se pa het haar uit Kanigoram weggestuur toe die soldate met hulle masjiengewere en die vegvliegtuie kom om die Oezbeeks en die Taliban uit Waziristan te probeer verdryf. Saam met haar pa was molla Wada. Hulle het kruisbeen in die voorhuis op die tapyte gesit en sy het vir hulle snye soet spanspek voorgesit, die sardas wat haar pa self kweek, en ’n glas jogurt en bokmelk vir elkeen.
Sy het bly staan toe molla Wada sê: “Sajida, jy’s ’n goeie kind. Jy’t respek vir jou ouers en vir die tradisies van die Pashtun, en van ons stam, die Burki’s, en van ons broers en susters, die Masoed en die Wazir. Jy’s slim en ywerig op skool. Maar jou pa vrees vir jou veiligheid. Hier in Kanigoram is die lewe nie meer soos ons stam dit ken nie. Vir agt honderd jaar het ons die invallers en besetters verdryf. Maar wat nou gebeur, is ’n ding waaroor ons nie meer beheer het nie.”
Sy het geweet wat die molla bedoel. Dis vandat die Oezbeeks gekom het, baarde en tulbande en Kalashnikovs vol stof van hulle lang reis uit Samarkand oor die Hindu Kush. Op hulle tog deur die stamgebiede werf hulle die jong manne vir die Tehrik-i-Taliban Pakistan, die TTP. Hulle werf jong seuns, twaalf, dertien jaar en ouer, en nou ook jong vroue, as fedayeen vir die selfmoordbomme in die Helmand-provinsie van Afganistan en in Kaboel en Herat en Jalalabad.
Nasir en nog ander jong manne van Kanigoram vlug saam met hulle voor die Pakistanse veiligheidsmagte se Operasie Verlossing. Hulle is weswaarts vort, het haar pa vroeër gesê, na die grotte van die Ingalmall en Tora Bora. Daarvandaan beveg hulle die nuwe besetters van Pashtun-grond.
Sy het geswyg, soos dit hoort, net gestaan en luister, haar vingers voor haar ineengestrengel, en molla Wada het gesê: “Dis met ’n swaar hart dat jou pa die besluit geneem het. So swaar dat hy dit met my kom bespreek het, en met die maliks. Maar die besluit is geneem dat jy moet weggaan, Sajida. Uit Kanigoram uit stad toe.”
Om te weier, of selfs net met ’n woord of gebaar verset te toon, is taboe. In haar oë is geen teken van die onstuimigheid in haar gemoed nie.
“Peshawar toe?”
“Nie Peshawar nie, Islamabad,” sê die molla. “Madressa Jamia Hafsa in Islamabad, die madressa vir vroue by die Masdjied Lal.”
Die Rooi Moskee is oor die hele wêreld bekend, nie net die Moslemwêreld nie.
“Maar wie sal betaal, dis duur?”
Toe, vir die eerste keer, praat haar pa. “Molla Wada het dit gereël, Sajida. Skenkings is bewillig vir jou voorreg om aan die madressa Jamia Hafsa te gaan studeer. Die goeie werk van die Masdjied Lal lok donasies uit baie lande.”
“’n Beursfonds is vir jou gestig,” sê molla Wada, “genoeg vir jou verblyf en studies. ’n Broer van jou pa, lankal weg uit Kanigoram. Ek dink jy was een jaar oud toe molla Burki besluit het om Pakistan te verlaat.”
“Molla Wada het per e-pos aan hom geskryf en foto’s saamgestuur,” sê haar pa. “My broer onthou jou, maar hy sê hy herken nie die pragtige jong meisie op die foto’s nie. Hy skryf: ‘Is dit klein Sajida? Kyk hoe pragtig is sy nou, die fyn gelaat soos dié van die jong vroue van die powindah. Haar vel die kleur van saffraan, haar hare met die glans van swart lawaglas, haar oë smaragde soos dié van die Afridi’s van die Khyber.’ Jou oom was nog altyd so digterlik.”
Die powindah, die nomades wat elke jaar met hulle kamele en tente op sleepwaens agter Massey Fergusons gehaak na nuwe weivelde trek. Die hele karavaan versier met kleurryke wimpels versit van die barre Zarmelan-vlaktes na die grassteppe van Derajat. Haar oom se beskrywing staan nie terug vir die lierdigter Khushal Khan Khattak nie, wat oor die Afridi-vroue sê: “Trots soos die letter Alif is die skone maagde, die vel lig van kleur, oë die blou van lug en groen van gras, o so vrugbaar hul heuwels en valleie . . .”
Molla Wada sê: “Molla Burki het in Suid-Afrika ’n vername en welgestelde man geword. Hy’s geestelike leier in sy moskee in Johannesburg en sakeman met baie winkels, maar hy vergeet nooit sy wortels in Kanigoram nie. Sê hy weet wat hier aangaan, volg dit in die nuus, op die internet en deur sy kontakte in Islamabad en Lahore en Karatsji. Hy wens hy kan méér doen vir djihad teen die infidelle wat hulle drones uit Afganistan oor die berge stuur om sy mense in Waziristan met missiele uit te wis. Maar hy’s geseënd, en hy sal graag wil bydra om jou die regte onderrig te laat kry in die madressa van die Masdjied Lal.”
In die madressa ontmoet Sajida ander jong Pakistanse vroue wat ook steeds die streng voorskrifte en taboes volg van hulle tradisies en gebruike en geloof, veral die kode van eer en ondergeskiktheid. Maar terselfdertyd smag hulle, soos sy, na die emansipasie en kosmopolitiese invloede wat die groot