Donkermaan. André P. Brink
Читать онлайн книгу.sou sy kon weet wat dit beteken om in die nag op te staan en die leë ruimte langs jou te voel en te weet dat niks wat jy op aarde kan doen, iets daaraan kan verander, of haar kan terugbring nie? Om jare aanmekaar met dié leegte saam te lewe en aan niks anders te kan dink as aan wat jy verloor het nie, en hoe jy by die dag swakker en ouer word, en elke oomblik daarvan verafsku? As dit maar net vinnig wou gebeur, maar jy kom dit skaars agter so van die een dag op die ander, en dis net in uitsonderlike oomblikke dat jy dit nie kan ontken nie, dat die dissipline verslap, dat jy jouself in die oë durf kyk – en dan staan jy elke keer voor nuwe tekens van verval. Eendag sal dit genadiglik verby wees, maar dit lyk asof jy nooit regtig daar uitkom nie. Al wat daar is, is hierdie trae agteruitgang, namate jy al meer en meer verander in die ding wat jy altyd verafsku het, die ding wat jy altyd gevrees het. En al wat jy kan doen, is om al dringender en al naarstiger terug te gryp, na die verlede, na wat jy verloor het, na die een herinnering aan wat die lewe die moeite werd gemaak het, na liefde. Elke dag glip daar iets meer deur jou vingers. Maar jy hou aan, ag Here God, jy hou maar aan, want jy weet – jy weet dit so verskriklik, so desperaat – dat daar ’n tyd was toe jy gelukkig was, o ja, jy was, ’n tyd toe jy liefgehad het, en dat dit moet padkos wees vir hoe ver jy ook al deur die leegte moet aanhou. Tomorrow and tomorrow and tomorrow.
En weer kan ek nie sê hoeveel hiervan ek regtig uitgespreek het nie. Al wat ek onthou, is dat ek in een of ander stadium skielik opgehou praat het; skaam, half verwilderd. En gemompel het: “Ekskuus, dit was ongevraag.”
“Jy hét haar liefgehad,” het die meisie stilweg geantwoord. “Jy’s reg, ek dink nie ek kan dit verstaan nie. Maar ek dink tog ek glo jou. En ek belowe ek sal nie weer interfere met wat jy onthou nie.” Toe het sy haar hand na my uitgesteek en gevra: “Hoe lyk dit met nog wyn?”
“Ek het klaar te veel in.” Ek het uit die diep stoel opgestaan. Nog iets wat stadigaan moeiliker raak, al is ek nie altyd daarvan bewus nie: die effense stramheid laag in my rug, die knieë wat kraak. “Wat van koffie?”
“Koffie én wyn. Ek sal saamgaan.”
4
Op pad terug van die kombuis wou sy eers ’n draai in die badkamer maak. Ek het haar na die gasteplekkie langs die studeerkamer beduie. Terwyl ek die kwynende vuur in die kaggel weer met ’n paar wingerdstompies aan die gang kry, kon ek haar langsaan hoor pie. Die fyngeparste blonde vrug. Daar was iets onbeskaamd jeugdigs in die geluid. Ag, om weer jonk te wees, wanneer selfs urineer met uitbundigheid kan geskied, wanneer niks halfhartig is nie, alles absoluut. En banaal soos dit was, was dit ook huislik, ’n bevestiging van ’n menslike teenwoordigheid. Hoe lank het ek dit nooit gehoor nie. Die wegneem-meisies van die agentskap maak gewoonlik ’n kraan oop om die geluid te verbloem.
Die toilet word gespoel. Ek hoor die badkamerdeur oopgaan. Maar Tessa bly weg. Ek skink solank die wyn, en ook haar koffie en my tee, en maak net aanstalte om haar in die gang te gaan soek toe sy terugkom. Sy lyk verwonderd.
“Ek dag jy woon alleen hier?” vra sy.
“Ja, natuurlik.”
Daar is ’n fronsie tussen haar oë. “Ek het iemand in die gang sien afloop. Of kon dit die huishoudster gewees het?”
“Magrieta kom nie oor naweke in nie.”
Sy kyk stip na my, kom dan verby na die rusbank en vly haar daarop neer. In die opswaai van haar bene sien ek vlugtig die klein wit driehoek van die broekie tussen haar dye; die soort flits wat ’n uitgehongerde kluisenaar nie kan miskyk nie.
“Jy grap nou, nè?” sê sy. “Ek belowe jou ek het iemand gesien.”
“Hoe’t sy gelyk?”
“Dit was te donker om behoorlik te sien. Maar dit het gelyk soos ’n jong vrou, ’n meisie. Klein, skraal, in ’n lang rok, kaalvoet, met ’n doek of iets om die kop. Ek het haar gegroet, maar dit het nie gelyk of sy my hoor nie.”
“Dan het jy nou net vir Antje van Bengale ontmoet.”
“Come again?” Sy het ’n slukkie koffie geneem, toe oorgeslaan na wyn.
“Ek kan jou vertel wat ek weet,” sê ek. “Maar daar is ’n paar verskillende weergawes van die storie.”
Antje van Bengale het in 1696 saam met haar ma, Katrijn, op ’n slaweskip van Batavia af Kaap toe gekom, toe sy maar iets soos sewe jaar oud was. Onder die groot wildevy op die Parade waar die slaweveilings altyd gehou is, is sy vir 40 riksdaalders verkoop aan Anthonij Stalpaert, ’n bakker in die nedersetting; haar ma is teen vyf keer die prys aangeskaf deur ’n vryburger by Klapmuts en so ver ons weet, het hulle mekaar nooit weer gesien nie. Elf jaar later, toe Antje omtrent agtien was, is haar baas dood en is sy verkoop aan Willem Mostert, wat die taverne in Papenboom gehou het. Hy was die eerste eienaar van dié huis.
Daar was iets eienaardigs omtrent die transaksie, maar dis moeilik om agter die kap van die byl te kom omdat daar so min dokumentasie bestaan. Selfs in die volledigste en mees resente gepubliseerde verslag van Antje se lewe in Deon Vermeulen se ’n Mossie vir twee stuiwers: Slawerny aan die Kaap 1657-1795 (Human & Rousseau: Kaapstad) word daar maar net gegis oor dié periode in haar lewe; maar dit wil voorkom asof Willem Mostert, wat goed bevriend was met Stalpaert, Antje ’n hele paar jaar voor die transaksie in die bakker se huis ontmoet het. Ons weet dat hy by minstens drie geleenthede – in 1703, 1705 en 1706 – aangebied het om die slavinnetjie van sy vriend te koop, die laaste keer vir die nogal aansienlike bedrag van 250 riksdaalders. Maar om die een of ander rede wou die bakker haar nie laat gaan nie. Mens kry die indruk dat die vriendskap tussen bakker en tavernier na die laaste mislukte aanbod skipbreuk gely het; en dit het so erg geraak dat daar by Stalpaert se dood, op die leeftyd van skaars vyf-en-veertig, gerugte van vergiftiging die ronde gedoen het. Deur die nimlike Willem Mostert, wat glo ’n obsessie vir die slavin ontwikkel het toe sy nog maar skaars bekwaam was.
Hoe dit ook al sy, toe die bakker se boedel in 1707 opgeveil is nadat sy vrou besluit het om terug te gaan na Patria, is Antje opgeneem in die huishouding van Willem en Susara Mostert hier in Papenboom. Die egpaar het teen daardie tyd reeds ses ander slawe besit, vier vroue en twee mans, waarvan mens kan aflei dat hulle nogal vermoënd was. Die geld was hoofsaaklik van Susara se kant afkomstig, wat ter sake is vir wat later gebeur het. Want vir sover mens kan uitmaak, het Willem nie ’n dooie duit besit toe hy in 1690 of 1691 in die Kaap aangekom het nie. Daar bestaan geen rekord van sy aankoms nie, sodat mens maar jou verbeelding moet gebruik om jou te probeer voorstel hoe hy, wie weet, as verstekeling op ’n skip van Holland af die gevaarlike oortog aangepak het. Na sy landing, reeds oor die veertig jaar oud, het hy vermoedelik ’n ruk lank rondgeval, hier en daar los werk gekry, onder andere juis by die bakker Anthonij Stalpaert, voordat hy die eerste keer in die amptelike geskiedenis opduik toe hy as kneg by vryburgers in die buitedistrikte in diens geneem is. Soos die geluk, of sy vernuf, dit wou hê, het hy mettertyd tereggekom op die plaas van die ryk weduwee Susara Uytenbogaert, byna twee keer so oud as hy en, om dit sag te stel, indrukwekkend van postuur. Daar moet iets onweerstaanbaars omtrent die man gewees het, want skaars ’n jaar na sy aankoms op die plaas buite Stellenbosch is hulle getroud. Nie lank daarna nie, in 1702, het hy sy vrou oorreed om na Papenboom te verhuis, waar haar oudste seun, Diederik, die taverne bestuur het. Dié Diederik het gerieflik op ’n jagtog teen die hange van Duiwelspiek verongeluk (dit kos nie veel verbeelding om te raai dat sy stiefpa ook ’n lid van die geselskap was nie) en daarna het Willem Mostert die taverne oorgeneem.
Na Antje se aankoms in Papenboom het sy saam met die twee manlike slawe en twee van die slavinne ’n pakkamertjie in ’n buitegebou betrek; die ander twee slavinne het in die kombuis geslaap om byderhand te wees as die vrou des huises hulle nodig kry. Dit is onbekend op watter tydstip Willem begin het om snags uit die soliede ledekant te sluip en Antje op die agterwerf te ontmoet, van waar hulle dan op is na die buitegebou se solder. Dit is insgelyks onbekend of die hartstog wederkerig was en of Antje haar maar onderwerp het aan wat haar baas klaarblyklik as sy “reg” beskou het. Al wat ter sake is, is dat daar tussen Willem Mostert en Antje van Bengale oorvloedige tekens was van die “spirals of power and pleasure” soos Nigel Penn dit noem in sy beskrywing van ’n ander, maar vergelykbare, verbintenis (in “The Fatal Passion