Donkermaan. André P. Brink
Читать онлайн книгу.“Ek was maar drie toe hy dood is.” Haar groot oë kyk somber by my verby. “Hy’s vermoor. Ons was die naweek by vriende op ’n plaas. Hulle het in die nag gekom. Dit was unbelievable. Die hele huis was die ene bloed. As my ma nie saam met ons in die donker in gevlug het nie, dan was ons almal dood.”
Ek staar haar met afgryse aan. “Maar dis verskriklik! Dis …” Dit duur ’n rukkie om my gedagtes hok te slaan. “Hoe op aarde het jy dit ooit verwerk?”
“Ek wil liewer nie daaroor praat nie, as jy nie omgee nie,” sê sy ingetoë. “Selfs nou nog, na al die jare …”
“Natuurlik. Ek het nie bedoel om jou te ontstel nie.” Ek grabbel na iets om uit die noute te kom. “Hoe lank gelede … Ek bedoel, hoe oud is jy nou?”
Haar luim het weer verander; sy het effens geglimlag, maar sonder veel vreugde. “Ek het altyd gedink dertig is die limit. Seker omdat my pa toe dertig was. Ek kan nie glo ek het nog net drie maande oor voor ek die jackpot slaan nie.”
“Daar sal waarskynlik erger dinge met jou gebeur as om dertig te word.”
“Hier sal ek ten minste ’n vaste basis hê,” het sy kalm geantwoord.
Dit het iets onrustigs in my opgejaag. “Luister, Tessa …”
Baie pront sê sy: “Jy wil my nie regtig hier hê nie, nè?”
“Wel, ek het jou gesê ek soek eintlik ’n egpaar. Ek kan jou nie met my behoeftes opsaal nie.”
Met ’n tikkie sarkasme vra sy: “En wat ís jou behoeftes nou eintlik?”
“Dis nie wat ek bedoel nie!” maak ek beswaar.
“Wat het jy dan bedoel?”
“Ek het jou gesê dit het niks met my te doen nie. Dis my seuns wat nie wil hê ek moet so alleen bly nie. Hulle reken dis gevaarlik. Hier was ’n moord in ons straat ’n paar maande gelede. Ek is nie meer vandag se kind nie en my gesondheid – dis wat húlle sê …”
“Wat jy soek, is ’n huishoudster?”
“Nee, ek het klaar ’n huishoudster.”
“’n Nurse?”
“Ek is nie ’n invalide nie.”
“Wat dan? Iemand om te naai?”
“Jy’s van jou trollie af!”
“Wat is verkeerd daarmee? Ons het almal af en toe iemand nodig om by te slaap.”
Tot my ergernis – my verontwaardiging – voel ek ’n prikkeling in my lende. En ek blaker dit uit: “Al wat ek soek – wat hulle soek – is iemand om hier rond te wees as die huishoudster weg is. Net ingeval … Maar kom ons vergeet nou daarvan, asseblief.”
“Ek wil nie kook nie, ek wil nie huishou nie, en ek wil nie by jou slaap nie. Maar ek kan ‘hier rond’ wees as jy wil.”
“Hoekom sou jy hier wou bly?”
“Omdat ek nêrens anders het nie.”
Dis moeilik om nou al die kringe en draaie na te loop wat ons gesprek daardie nag gevolg het – al die herhalings, variasies, verleggings, veranderings van koers. Dit moet tot in die klein uurtjies aangehou het. Op een tydstip het ek nog ’n bottel wyn gaan haal, een keer wou sy ’n glas water hê, twee keer het ek vir haar gaan koffie maak, rooibostee vir my. (My hart mos.) Soms is sy saam met my kombuis of spens toe, waar sy haar op ’n breë rak gaan tuismaak het om my dop te hou, haar kaal bene swaai-swaai soos ’n kind in die kerk. En dwarsdeur dit alles het die gesprek aangehou, te veel om nou, twee dae later, op te roep en neer te skryf. Maar ek moet minstens probeer. Ek het nie ’n keuse nie, anders is dit alles vir goed verlore. Selfs terwyl dit aan die gang was, het ek my – soos so dikwels in my lewe – daarop betrap dat ek my probeer voorstel hoe ek dit agterna sou onthou, wat my sou bybly, wat sou wegglip deur die gate in die net van die geheue. Dis asof ek nie behoorlik teenwoordig is wanneer iets gebeur nie en eers agterna daarna moet probeer teruggryp. Levinas sê êrens, as ek reg onthou: “The great ‘experiences’ of our life have properly speaking never been lived.”
Selfs as kind was ek al so. ’n Paar keer het ek onmiskenbare astrale ondervindings gehad: die ontstellende indruk dat ek nie is waar ek is nie, maar van ver af neerkyk op wat gebeur. Eenkeer, weet ek, was ek saam met ’n klompie maats na die “Boesmangrot” toe, ’n myl van die plaashuis af tussen die klipkoppies – ’n soort oorhangkrans beskilder met Boesmantekeninge, derduisende jare oud en al half uitgewis onder laag op laag graffiti. En onverwags was dit of ek my bo-op die krans bevind en afkyk na waar ek daar onder op die grond probeer om my maats te beïndruk met stories wat ek in boeke gelees het of wat ons ou voorman, Outa Hans, my vertel het. ’n Ander keer was die middag in die donker, geurige waenhuis saam met die vroegwys klein Lenie tussen die lusernbale agter Pa se ou grys trekkertjie en sy spul mankolieke perdekarre en ploeë en skaapskêre en dipkanne en goed: en skielik was daar weer so ’n verskuiwing, dié keer op na die balke waar die rooi-oog bosduiwe nesmaak.
Daardie paar ondervindings was buitengewoon. Maar vir so lank as ek kan onthou, was daar dié besef van afstand. Iets, stel ek my voor, soos ’n akteur se besef van die pouse tussen die self en die rol. Net in boeke was dit anders. Hier in my studeerkamer, of in die biblioteek in die stad waar ek gewerk het voor Damokles se swaard geval het; gerusstellend omring deur woorde, was ek tuis.
Ek en my twee ouer broers het nie grootgeword met lees nie. Ons het natuurlik die Bybel gehad, en ’n gehawende boek met jagstories uit die vroeë dae van die eeu, en die Landbouweekblad met prentjies van Afrikanerbeeste en boere te perd, maar dit was al. Boeke was deel van ’n ander soort wêreld. Ons s’n was die kwaai mannewêreld van die plaas waar ek grootgeword het, met omtrent g’n vrou in sig nie, ’n streng afgebakende wêreld met g’n plek vir uitsonderinge nie. Ook reën het nie eintlik daar gehoort nie – dit was onwerklik, wonderbaarlik, iets uit die verbeelding, uit ’n ander ruimte as die sonverskroeide koppies op die veld-sonder-einde, die harde wit graspolle, die ongenadige son. Ek was drie jaar oud toe ek vir die eerste keer reën gesien het; dit was ongelooflik. Ek het soos ’n mal ding uitgehardloop, my klere afgeruk om die kaal water op my kaal vel te voel, soos ’n klein histeriese jakkalsie aan die lag gegaan, my arms geswaai, sproeisels water uit die poele opgeskop, in die modder begin rol, tot my broers uitgekom het om my te bliksem en my terug te sleep. Die hele nag lank het ek gelê en bewe van ’n blydskap wat ek nog nie kon verstaan nie, terwyl ek luister na die gekletter op die sinkdak, en daarna, nadat dit begin bedaar het, na die derduisende fluisteringe van die water wat ’n nat web van geluid in my gedagtes spin. Toe die son weer uitkom, was net die tekens van gister nog oor, maar in my herinnering het die wêreld in ’n ander soort plek verander.
Dit was iets wat ek met niemand behalwe Outa Hans kon deel nie. Hy kon stories oor die reën vertel, soos oor alles. My broers was nie soos hy nie. Hulle was my vyande, die ene vloek en geweld. Daar was tydjies wanneer dit lekker was om by hulle te wees, soos wanneer hulle poepwedstryde gehou het om te kyk wie ’n kers kon uitblaas of die vlam se kleur kon verander (blou, pers, partykeer groen). Maar dit was uitsonderlik; en meestal het hulle soos ’n nag oor my kinderjare gelê. Al wat hulle ooit kon doen, was om my te spot of my op te neuk, sommer vir die hel daarvan. Die paar geheime vriendskappe wat ek gehad het, het hulle verrinneweer. Met die swart seuntjies op die plaas. Of, die kosbaarste van almal, klein Lenie, wat partykeer saam met haar ouers van die buurplaas af oorgekom het. Sy was so oud soos ek, ’n fraai klein dingetjie, maar so taai soos ’n voorslag. My broers was baie ouer, maar wanneer hulle in die buurt was, het hulle ons nooit met rus gelaat nie. Een aaklige dag sal ek altyd onthou. Ek moet omtrent tien gewees het. Ek en Lenie was agter die kraalmuur aan die speel toe hulle daar aankom vir ’n skelm rook. Tot my verbasing was hulle dié dag nogal danig met Lenie. Die rede het ek gou agtergekom. Hulle wou hê sy moes haar rokkie vir hulle oplig, wat sy sonder omhaal gedoen het, met ’n laggie en ’n argelose ophaal van haar dun skouertjies. ’n Helder geel rokkie waarin sy soos ’n klein kappertjie gelyk het. Maar toe probeer hulle haar so ver kry om haar broekie uit te trek. Ek dink nie sy’t nee gesê oor sy gemeen het dis verkeerd