Locum vir liefde. Malene Breytenbach
Читать онлайн книгу.sê ’n manstem agter haar. Sy draai om, en daar staan die offisier met die grys hare wat vir haar sout en brood aangebied het. “Kan ek my voorstel? Ek is dokter Andrei Asparov, die skeepsdokter.”
Laura glimlag vir hom. “Aangename kennis. Ek is Laura Jansen, of Bekker. Jansen is my nooiensvan, Bekker is my getroude van.”
“Ek sien op die passasierslys dat u ’n dokter is. Mediese dokter?”
“Ja, ek is ’n algemene praktisyn onder my nooiensvan.”
Hy grinnik en sy sien dat sy twee boonste voortande van goud is. Sy het al gehoor dat Russe geneig is om goud in hul monde te hê. Noudat sy dit sien, dink sy glad nie dit is aantreklik nie.
“Ek is bly om nog ’n mediese praktisyn aan boord te verwelkom.” Hy beduie na die drietal. “Maar daar is nog een. Dokter Barrymore van Noord-Ierland. As ek vashaak, kan ek julle raadpleeg.” Hy lag haar toe.
Laura kyk weer na die donker man. Hy is dan waarskynlik ’n Anglo-Ier. Sy blou oë en swart hare is mos veronderstel om tipies Iers te wees. Haar eie haar- en oogkleur kom ook van ’n Ierse voorsaat af. Syne is net veel meer opvallend as hare.
“Jy het sonder jou man gekom?” vra die Rus.
“My man is onlangs oorlede.”
Sy oë rek en hy simpatiseer beleefd. Maar sy sien ook ’n lig in sy oë waarvan sy nie hou nie. Die lig van die jagter wat prooi identifiseer. Hierdie man is waarskynlik op die uitkyk vir ’n ryk westerse toeris. Haar gevoel is dat baie Russe, mans en vroue, so op die uitkyk is. Op omtrent elke webwerf waar sy vooraf navorsing oor Rusland gedoen het, is Russiese vroue aangebied as bruide.
“Goeienaand,” hoor Laura weer agter haar en kyk om. Vas in verstommende turkoois oë.
Die Ierse dokter stel hom voor. “Ek het gehoor wat julle praat en dat julle albei ook dokters is.” Hy wink die twee vroue nader en stel hulle as mevrou Maria St John en haar dogter Eudoxia St John voor. Laura let dadelik op dat die meisie ’n ring dra met ’n knewel van ’n saffier omring deur diamante. En haar van is nie Barrymore nie.
Sy groet vriendelik, dis immers ’n kans om vriende te maak. “Ek is Laura Jansen, ek’s van Suid-Afrika.”
“En jou man?” vra mevrou St John dadelik, sodat Laura moet herhaal dat Albert onlangs oorlede is. “O, jy is ’n weduwee,” sê die vrou dan, half afkeurend, half belangstellend.
“En u?” vra Laura, vieserig vir die vrou se houding.
“O nee, my man lewe nog, maar hy wou nie dié slag saamkom nie. Ek is hier uit sentiment, om Rusland weer te sien. My volle naam is Maria Petrovna Baltikov St John. My familie was uit die aristokrasie wat moes vlug vir die Revolusie. Eudoxia is na prinses Eudoxia Baltikov vernoem. Sy was ’n niggie van die tsaar en het die Revolusie nie oorleef nie.”
“Indrukwekkend,” sê die Russiese dokter, maar hy klink sarkasties.
Mevrou St John laat haar nie afsit nie. “My familie het uiteindelik in Ierland beland. Waarom hulle nie in Engeland gebly het nie, weet ek nie. Maar dit was seker so bestem dat my ma, ’n groot skoonheid, dit moes regkry om te trou met een van die Protestantse Anglo-Iere wat ryk geword het uit skeepsbou. Hy was verbonde aan die White Star Line wat die Titanic gebou het. Kyle hier, dokter Barrymore, my dogter se verloofde, se oorgrootouers is dood in die ramp. Net mooi ’n eeu gelede, nè.”
“Fassinerend,” sê Laura, ietwat verstar. Die mooi man behoort dan wel aan die jong vrou, maar hulle is nog nie getroud nie. Hulle is omtrént mense met eksotiese agtergronde.
Die blondine is nou besig om Laura te takseer. Sy lyk nie vriendelik nie en haar oë is weereens op skrefies getrek. Laura wonder waarom sy so vyandig is.
“Ek het daardie pragtige verloofring raakgesien,” sê sy vriendelik. “Julle maak ’n mooi paartjie.”
Die meisie lig haar hand om die ring vir almal te wys. “Ja, ek wou ’n saffierring soos prins William se vrou gehad het. Die ring wat eers aan prinses Diana behoort het.”
En dít is derduisende pond werd, weet Laura.
“Die mense begin loop,” sê Eudoxia. “Ek dink ons moet gaan eet. Ek is vaal van die honger. Ek hoop net die kos is nie borscht en papgekookte aartappels nie.”
“Nee, die cuisine is voortreflik,” verseker die dokter haar.
“Nou toe, kom ons gaan,” sê mevrou St John en begin aanstap.
“Verskoon ons, asseblief,” sê Kyle Barrymore beleefd. Hy en Eudoxia volg haar ma en die meisie vleg haar arm liefderik deur syne.
Die Rus verskoon hom ook en Laura volg op haar eie die mense wat na die eetkamer stroom. Sy wonder by wie sy te lande sal kom aan tafel, want daar sal nie sprake wees van aparte tafels vir enkellopers nie.
Toe sy in die eetkamer kom, neem ’n kelner haar na die verste tafel en sy sien verbaas dat sy by die drie Iere sit. Dat dit nou so moet uitwerk! Kyle Barrymore staan dadelik op.
“Ek het gewonder wie kom by ons op die oop stoel sit,” sê hy vriendelik.
Sy verloofde kyk meer verbaas as verheug na Laura. “O, dis jý?” Haar mondhoeke trek af.
“Jy lyk darem vir my meer aanvaarbaar as die ander lot,” spot haar ma met ’n suur laggie. “Jy is darem ’n professionele vrou. Mens weet nooit met watter snaakse mense jy op ’n toer sal moet assosieer nie.”
“Ek is gevlei,” sê Laura, maar kan die kilheid nie uit haar stem hou nie. Hierdie St Johns moet net nie haar reis bederf met hul snobisme en meerderwaardigheid nie. Al plesier is dat sy by Kyle Barrymore kan sit. Hy lyk beslis na goeie geselskap. As die twee vroue dit te onaangenaam maak, gaan sy die toerleier egter versoek om haar na ’n ander tafel te skuif, al veroorsaak dit ongerief.
“Wel, nou het ons byna al die mediese kundigheid op die skip hier by ons,” praat mevrou St John verder. “Behalwe die Russiese dokter. Hy sal by die bemanning sit. Hierdie mense is nie so goed toegerus soos die groot Westerse rederye nie. Hoe hulle dink hy met ’n hele skip se kwale sou regkom, weet ek nie. Hier is nie eens ’n behoorlike mediese sentrum nie. Net ’n verskoning vir een. Kyle het al gaan ondersoek instel en hy is nie beïndruk nie.”
Laura glimlag gedwonge. “Ons hoop maar die mense word nie siek nie. Ek is hier om vakansie te hou, nie te werk nie.”
“Eudoxia is ’n asmalyer en ons het gedink ons moet vir Kyle saambring, dan het ons niks te vrees nie.”
Laura kyk van ma na dogter. “Ek is natuurlik tot jul beskikking, indien nodig. Maar ek glo julle sal my hulp nie nodig kry nie.”
Kyle Barrymore glimlag so mooi vir haar dat sy ’n stuwing van geneentheid en opgewondenheid voel. Iets so hewigs dat dit haar onkant vang. Hemel, sy moenie verspot wees nie! Sy is maar agt maande lank ’n weduwee en dié man is verloof, aan ’n mooi en ryk jong vrou.
“Waar het julle twee mekaar ontmoet, of was jul families maar altyd bevriend?” vra sy.
“Ons families ken mekaar lankal,” sê Eudoxia. “Maar ek het Kyle eintlik eers beter leer ken toe ek een van sy pasiënte geword het.” Sy kyk verlief na hom. “Toe slaan ek my kloue in hom in en hy kon nie weer loskom nie.”
Hy lag. “Wou nie weer loskom nie.”
“Hulle was eenvoudig vir mekaar bedoel,” sê mevrou St John. “Huwelike werk beter wanneer jy met iemand uit jou eie stand en geloof trou. Ons is almal Protestante en ons families is welvarend. Kyle se mense is groot grondeienaars en ons het ook ’n landgoed buite Belfast. Ek sou nie daarvan gehou het as Eudoxia op ’n arm Katoliek verliefgeraak het nie. Nie met Noord-Ierland se geskiedenis nie.”
Laura besluit om aspris moeilike vrae te vra. “Die families het seker grond gekry weens die georganiseerde kolonisering uit Skotland en Engeland, of hoe? Die Ierse aristokrasie se grond is mos afgevat en heruitgedeel?”
Mevrou