Elize Parker-omnibus. Elize Parker
Читать онлайн книгу.oor haar kom. Sy moet haar kop laat lees! Sy dink nie so oor mans nie. Sy wriemel weg van hom, maar hy druk haar liefdevol vas. “Wat nou?”
“Dis net … ek wil nie betrokke raak nie …”
“Niemand sê jy hoef betrokke te raak nie … jy hoef bloot die oomblik te geniet.” Hy streel haar borste veel teerder. Soos wat hulle hartstog toeneem, voel sy hoe haar liefdesdrif oor haar rede begin seëvier.
Toe Peter sy rug boog en met ’n kreun aan haar vasklou terwyl hy met toe oë sy lyf se crescendo ervaar, streel Nelia sy skouers. Sy hande word rustiger op haar totdat hy met sy kop teen haar bors lê. “Jy is wonderlik … dis net jammer jy kan jouself nie aan die oomblik oorgee nie.”
“Wat bedoel jy? Ek het …”
“Nee, jy het nie. Maar die naweek is nog lank,” sê hy en begin stadig en geduldig die pêrel tussen haar dye liefkoos totdat sy in ekstase agteroor ruk en ’n stroom sterre voor haar oë beweeg. Sy klou verbete aan hom totdat hy haar sag agteroor laat lê.
“Was dit jou eerste orgasme?” vra Peter. Nelia knik moeg en gelukkig.
Hy draai met ’n lui glimlag na haar. “Ek het so vermoed. Ek is bly dit was my voorreg om jou in die liefde se fynere kunsies in te wy.” Voordat hulle verder kan praat, sak hy slaperig in salige tevredenheid weg. Nelia lê langs hom wakker en verkyk haar aan die maanligskaduwees se spel oor sy lyf. ’n Mosaïek gevoelens vorm ’n deurmekaar patroon in haar gemoed. Met rustelose hande trek sy hom toe.
Aan die aandhemel blink die Bosveldsterre … ’n duisend spieëltjies wat haar gemoedstemminge kaats en geheimsinnig haar toekomslot versteek. Een ding is seker: na vanaand is sy nie meer dieselfde vrou nie.
Sy staan op en rek haar liefdesmoeë liggaam voor die oop venster uit. Die kantgordyne roer in ’n fyn aandbriesie teen haar aan en die sagte materiaal vou om haar. Sy was hopeloos te weerloos teen Peter. Hy maak haar ver te veel volkome vrou om langer op haar hoede teen mans te wees. En dit is gevaarlik.
Na die naweek kuier hulle saam wanneer Peter ook al ’n tydjie kan afknyp. Hulle deel ’n kort Oostenrykse skivakansie en span uit op die Griekse eilande, waar hulle mekaar met ’n onstuitbare liefdeskoors bemin. Toe hy vermoed dat hy die stryd om haar hart begin wen, neem hy haar vir ’n naweek na ’n strandhuis in Plettenbergbaai. Die oggend na hul aankoms slaap hulle laat. Hulle stap eers die middag strandlangs.
Nelia sê nie veel nie. Sy weet hy kort sy werksagenda maande lank al in om haar prioriteit in sy lewe te gee. Hy het haar al verskeie kere gesê sy is soos geen ander vrou wat hy al in sy hart en sy bed toegelaat het nie.
Na ’n lang wandeling gaan sit Peter met sy rug teen ’n rots en laat Nelia op sy skoot lê. Hy buig af en soen haar op haar voorkop. “Trou met my. Sommer hier op Knysna in daardie mooi kerkie in die Bos.”
Nelia rol weg van hom. Sy staan op en stap see-in totdat die branders oor haar kop breek. Hy duik agter haar in en probeer haar inswem. Sy is te vinnig vir hom en hardloop strandlangs voordat hy haar inhaal. Hy probeer haar omhels. Sy hou hom ’n armlengte ver voordat hy sy kop op haar skouers laat rus.
“Ek is jammer ek het so vinnig van jou probeer wegkom. Maar my eerste instink was om te vlug,” sê Nelia.
“Dit is gewoonlik myne ook. Met jou is dit anders. Ons verhouding het die afgelope paar maande so verdiep, ek het gedink dis die regte tyd om jou te vra om te trou.”
“Ek is jammer ek het jou voorstel so ligsinnig afgemaak. Dis net dat … ek het nie gedink jy gaan ernstig raak nie.”
“Ek ook nie. Na twee egskeidings is ek nie juis troumateriaal nie.”
Haar heupe druk teen syne aan. Met een hand knoop hy haar heupdoek los sodat sy in haar bikini voor hom staan. Sy druk hom af teen die warm sand en vly haar sonbruin lyf mildelik teen hom aan. Haar tong druk spelerig in sy oor. Sy is bly sy het nie ja gesê op sy voorstel nie. Sy is nie gereed om toekomsbeloftes te maak nie. Daarvoor het sy te veel loopbaanplanne. Sy wil gou uit die Cosmos Safari Lodge kom en ’n bestuurspos iewers in Peter se groep bekom. Sy wil onmisbaar vir hom word. “As ek jou vra vir ’n ander pos in Cosmos, gaan jy dink ek probeer jou gebruik?”
Peter plaas sy vinger nadenkend op haar lippe. Hy het nie gedink die dag sal aanbreek wanneer iemand ’n huweliksaanbod van hom blatant ignoreer nie. Of dat ’n vrou haar loopbaan bo hom sal verkies nie. Dit is gewoonlik sy rol in ’n verhouding. Na haar aanvanklike versoek het sy hom nog nooit weer vir enige gunste of gawes gevra nie. Hy het skielik die hef in die hand. “Wat het jy in gedagte?”
“Enige bestuurspos in julle grootste internasionale hotel in Johannesburg.” Vir ’n begin. Maar dit hoef hy nie te weet nie.
“Hoe belangrik is dit vir jou?” vra hy.
“Ek soek ’n geleentheid om myself te bewys,” sê sy.
“Onthou, indien jy Johannesburg toe kom, gaan ons saam werk en mekaar meer dikwels sien. Jy gaan dalk soms nie van my hou nie. By die werk is ek meer baas as minnaar. Ek sal jou oor dieselfde kam as die ander moet skeer.”
“Ek kan dit hanteer. Al wat ek wil hê, is die geleentheid. Ek sal nie my hand oorspeel nie.”
“Jy kan maar …” sê hy.
Nelia blaas verlig haar asem uit. Hy sou haar nie die kans gegee het as hy gedink het sy kan dit nie hanteer nie. Of as hy kwaad was oor haar hantering van sy huweliksvoorstel nie. Sy kry sommer dadelik nog meer respek vir Peter. Respek en vervullende minnespel … wie weet, dalk is dit ’n goeie basis om ’n huwelik op te bou.
15
Adri draai weg van die vuurtoring en volg die stofgetrapte grondpaadjie na Suiderstrand. Soos wit linte vlieg strepe seemeeue agter haar aan. Vandag wil sy op hierdie klippestrand duskant L’Agulhas inspirasie put om met haar lewe voort te gaan en waarhede vierkantig in die gesig kyk.
Vir die res van haar lewe sal sy Jade soos ’n lang skaduwee agter haar aansleep. Hoe noem haar aanneemouers haar? Sou Helie ooit haar versoek aan hulle oorgedra het? Sy sal altyd aan haar dink met dié naam wat spontaan by haar opgekom het na haar geboorte. Jade, haar verlore groen edelsteentjie. Gaan sy ooit ontslae raak van die hunkering om haar vas te hou? Toe sy haar afgeteken het, was sy te verward om waarde aan bloedbande te heg. Nou weet sy daar is ’n geheime wysheid in ’n ouer se bloed waarteen niemand kan stry nie.
Hierdie staptog na hulle jeugstrand is soos ’n rituele begrafnis. Sy wil afskeid neem van die self wat saam met Jade verdwyn het. Haar depressie het haar alles in kleurtone van grys laat sien. Nou sien sy weer kleur raak: geelgroen bosse teen die hoogtes, die salmpienk strandsand, ’n katooggrou see. Vir die eerste keer in ’n lang tyd wens sy daar was ’n potlood in haar hand. Dit is immers een van die redes hoekom sy ná haar vrugtelose soektog na L’Agulhas teruggekeer het – omdat Zoetendal die enigste tuiste is waar sy ’n kans het om haarself deur haar kuns te vind.
Indien daar ’n inniger band tussen haar en Nelia was, kon sy troos by haar gaan soek. Sy wens sy het nou langs haar gestap. Sy sou haar vra: Onthou jy nog Suiderstrand was ons Krismisstrand? Maar Nelia stel sekerlik nie in ’n knus strandjie tussen niks en nêrens belang nie. Na sovele eksotiese vakansiehotelle is Suiderstrand in haar oë ’n gehuggie. Sy het soveel te kenne gegee in hulle telefoongesprekke.
Carine is ’n ander saak. Maar hoe sal sy weet? Sy het haar byna twee jaar laas gesien. Hoe lyk sy op tienjarige ouderdom? As sy net ’n onlangse foto van haar kon kry … Emmie is ongenaakbaar daaroor. Toe sy tydens haar soektog na Helie in Kaapstad was, het Emmie haar uit Villa d’Este verjaag voordat sy Carine kon sien.
Sy kyk strandaf. Sy hoop die naderende strandstapper draai by die rotse af. Daar is iets so onvermydelik aan twee vreemdelinge alleen op ’n verlate strand – veral as hulle stadig na mekaar drentel. Tree vir tree bou daar ’n vreemde krag tussen hulle op. Dis asof hulle lewe op dié oomblik ingestem is.
Die wind wieg oor die jaspisgroen see. Seemeeue skarrel voor haar voete uit. Adri kyk opsetlik na die silwerfyn sandpatrone