Elize Parker-omnibus. Elize Parker
Читать онлайн книгу.vreemdeling van Suiderstrand is toe Max Alexander, eienaar van die Waenhuiskrans Hotel en voorsitter van die Toristo Hotelgroep. Hy het Jackie na haar gestuur! Sy is seker daarvan. Sy kyk na Jackie se veelbetekenende blik wat van haar na Max flits en weet haar raaiskoot is in die kol. Geen wonder Jackie het so nou en dan iets oor hom laat val nie. ’n Goeie beplanner en simpatiek teenoor sy personeel. Ongetroud en nonchalant in verhoudings, maar tog ’n warm en meelewende vriend, het Jackie gesê.
Wat het hy vir Jackie vertel? Wat dink Jackie is daar tussen hulle? Sy draai weg van Max en die res van die groep. Sy gaan met bewende hande voort om die gordyne terug te bind.
Max glimlag teer. Hy dink terug aan hoe sy gelyk het die oggend toe hulle ontmoet het. Sy lyk na ’n nuwe mens met haar kort hare in ’n bobstyl, noupassende jeans en ’n saggeblomde hemp. Maar haar oë is steeds vol ontnugtering.
Veel later, na ’n direksievergadering, word Adri na Jackie se kantoor ontbied om Max Alexander te spreek. Toe sy die deur agter haar toetrek, staan hy verwelkomend agter die lessenaar op.
Adri trek onmiddellik weg. “Ek kan nie lank bly nie. Ek het ’n duisend dinge om te doen. Hoekom het jy my nie gesê of laat weet jy is die eienaar van die hotel nie? Ek voel so dom … so kinderagtig dat ek nie die kloutjie by die oor gebring het nie. Die vervlakste Jackie het nooit iets laat blyk nie! Ek het vas geglo ek het die aanstelling op sterkte van my werk vir welaf plaasvroue in die distrik gekry. Ek kon my nooit voorstel dat jy … wel, my geluksgodjie sou wees nie.”
“Daar was niks om te laat blyk nie. Jy het ’n geleentheid nodig gehad om jouself te bewys. Ek het Jackie gevra om jou op te spoor en sy is ’n regte bloedhond. Sy het ondersoek ingestel na jou werk en jy het die aanstelling op meriete gekry.”
“Ek weet nie hoe ek jou kan bedank nie. Jy het my weer vertroue in myself en my vermoëns gegee.”
“Ek weet hoe … kom gee asseblief my hotel by die warmbronne dieselfde behandeling. Toe, wat sê jy?”
“Dink jy nie jy moet iemand anders vra nie? Waenhuiskrans is een ding. Dis ver en afgeleë. Maar die warmbronne …”
Sy oë vernou terwyl hy haar dophou. “Jy het die span, die talent en boonop is jou fabriek om die draai. Ek het niks meer nodig nie.”
“Dankie vir die aanbod. Ek sal daaroor nadink.”
Hy glimlag, sy een mondhoek skuins opgetrek. “Stap jy nog op Suiderstrand?”
“Lanklaas daarvoor kans gekry. Ek moet loop …” prewel sy. “Ek sal jou aanbod oorweeg en jou laat weet wat my antwoord is.”
Sy stap vinnig by die deur uit en probeer vir die res van die dag nie aan Max Alexander dink nie.
Geen man sal weer in die pad van haar drome staan nie.
16
Bykans ’n jaar na Max se werksaanbod klim Adri om middernag moeg in die verlate swembad van die Toristo Hotel Bergsig. Die enigste bewegings op die water is die rimpelings om haar egalige kruipslaghale. Hierdie laataandswemsessies is die grootste pluspunt van die afgelope maande se harde werk om die warmwaterbronhotel ’n nuwe voorkoms te gee. Hierna gaan sy soos gewoonlik inkruip en goed uitrus. Sy het vanaand ’n lewensbelangrike afspraak met Max.
Die eienaar van ’n kwilt- en materiaalwinkel in een van Kaapstad se spogwinkelsentrums het na ’n naweek in Hotel Toristo Waenhuiskrans haar fabriek in L’Agulhas besoek en verskeie bestellings geplaas. Hulle het sommer van die eerste dag af goed klaargekom en Adri het gereeld persoonlik vir haar bestellings deurgeneem. Nou is sy ’n aandeel in die winkel aangebied.
’n Kwilt-cum-materiaalwinkel – nie die vertrekpunt wat sy vir haar besigheid in gedagte gehad het nie. Tog, ’n goeie begin vir haar eerste interieurwinkel. Moontlik ook die begin van ’n nuwe verhouding met Max. Tot dusver was hulle net goeie vriende. Soms het hy onaangekondig by die fabriek opgedaag. Gewoonlik het hulle oor die fabriek se groei en projekte gesels. Soms het hulle Suiderstrand besoek. Mettertyd het sy hom al hoe meer na Zoetendal genooi. Vanaand ontmoet hulle juis weer by Zoetendal. Hy is genooi om haar mees onlangse voltooide werk te kom besigtig – met goeie rede!
“Verkoop die skildery aan my? Asseblief?” is Max se eerste woorde toe hy die aand voor die skildery staan.
“Jy hoef nie die skildery te koop nie. Dis jou geskenk! Sommer om dankie te sê vir alles.”
Max kom staan voor haar en sit sy hande op haar skouers. Sy warm hande streel oor haar kaal arms. Vinger vir vinger skuif hy sy vingerpunte nader aan haar skouerkuiltjie. Met sy duime trek hy die lyne van haar skouerbene na. Al langs haar borsbeen soek hy haar polsslag in haar nek. Toe hy dit vind, plaas hy sy lippe vir ’n oomblik daarteen.
Buite verdonker die grys horison tot ’n staalgrys. Die wind sidder om die huis. Die vuurtoring se ligbane soek-soek die donker nag deur na skepe. Adri neem die omgewingsveranderinge bewustelik en onbewustelik waar. Ontspan, maan sy haarself. Dit is makliker gesê as gedaan. Vir die eerste keer sedert Richard se aanrakings, liefkoos ’n man haar weer.
Max voel die spanning aan. Hy laat haar stadig gaan en stap na die skildery. “Ek is bly jy is nie meer so gedrewe nie.”
Min weet hy … dink Adri en sluk hard aan die knop in haar keel. Nou is die oomblik … vra hom! “As ek ’n ooreenkoms met jou aangaan, sal jy my help om ’n winkel in Claremont te koop?” vra sy selfbewus.
“Kan jy geld daaruit maak?” vra Max met ’n opgetrekte wenkbrou. Sy sal nooit ophou om hom te boei nie. Nes hy dink hy verstaan haar, dan kom sy met iets nuuts na vore.
“Nie onmiddellik nie … eers wanneer ek die winkel verander het na ’n interieurwinkel. Voorlopig sal dit egter as ’n goeie wegspringblok dien.”
“Wegspringblok waarvoor?” vra hy verbaas.
“My winkels … daar gaan ’n paar wees. Interieurwinkels met die Fraiings-stempel – vol produkte uit my fabriek, my eie gedrukte Fraiings-materiale en -muurpapier …”
“Hokaai! Een droom op ’n slag. Wanneer kan jy my die winkel gaan wys?”
“Ek sal die naweek vir samesprekings met die huidige eienaar, Janet Abrahams, in Kaapstad wees. Ken jy haar?”
“Ek ken jou. Dis goed genoeg vir my. Hoeveel kapitaal het jy nodig?”
Sy noem die koopsom en kyk versigtig na hom. Hy knik instemmend. “Klink billik. Ek dink ek kan finansiering daarvoor vir jou reël.”
“Hoe gaan ek jou bedank?”
“Maak geld en betaal my terug. Met rente.”
Adri kan aan nog ’n manier dink. Sag soos die duifgrys reën buite, val haar eerste soen skrams teen sy wang. Begeerte vermeng op hul lippe totdat sy met haar tongpunt sy mond oopdwing en sy mondhoeke se klam wande vind. Met ’n kreun trek hy haar nader en soen haar totdat al die vrese tussen hulle verlangens word.
“My fynbosmeisie,” fluister hy.
“My gelukgsgodjie …” fluister sy laggend terug. Sy trek sy kop weer af na haar gesig en soen hom met maande se ingehoue emosies. Die salige gevoel om vasgehou en gesoen te word, laat haar van haarself vergeet. Max se donker hare krul sterk en weerbarstig in haar hande. Sy gevoelvolle lippe op hare is klam en sy hande lok langvergete lyfwaarhede uit. “Kom,” sê Adri en neem hom na die slaapkamer.
Reën druis teen die vensters. Vuurtoringstrale verf die mure met ’n grysgeel kwas. ’n Perfekte palet vir passie.
Max knoop selfversekerd Adri se rok los en laat dit van haar skouers gly. “Jy het sulke mooi skouers.”
Adri se soepel vingers maak sy hemp los. Sy vroetel in sy krullerige borshare. Lank het sy vir dié oomblik gewag wanneer sy gereed is om ’n man weer met volle oorgawe te bemin.
“Bemin jy my nie uit dankbaarheid nie? Oor die winkel en so aan nie?” vra hy. Sy selfvertroue is vir ’n oomblik laag. Haar naakte lyf lyk so jonk en ferm teen syne.